Photo by Pixabay on Pexels.com

‘Laat los en laat die Heer,’ het Ouma Stompie altyd gesê.

Dit beteken nie vergeet, oordink of ignoreer nie.

Dis nie wen of verloor nie.

Laat los is nie opgee of ingee nie.

Dit  is nie stywenekkiegeit, beneukgeit of moedswilligheid nie.

Dit het niks met meewarigheid of disrespek te make nie.

Plek vir jaloesie, woede en spyt is daar nie in laat gaan nie.

Laat gaan is vergifnis, maar boweal self-vergifnis.

Om nie met trauma snellers te reageer nie.

Om stil te bly en met deernis en empatie vir ander spasie te maak.

Laat gaan is om te kies om nie in verskrik en seer vas te val nie.

Om te laat gaan is om te besef seer, spyt, skaam, kwaad, woede, verwerping en al daai monsters van negatiwiteit is soos ‘n onderrok met ‘n verskiete rek wat om jou enkels bondel. Jou keer om te loop. Laat gaan help jou om daaruit te tree en nie terug te kyk nie.

Laat gaan help dat jy vorentoe tree, met vryheid en veerkrag.

Laat gaan is om die goeie te behou, die slegte en seer te oorkom en dan veerkragtig vorentoe te beweeg.

Dit is om die moed te hê om te weet verandering is konstant en dan moed en krag bymekaar te skraap om liewer aan die beweeg te bly.

Laat gaan is ʼn groei kans om die jy wat  opgesluit is te ontgin en te ontsluit.

Dit is om dankbaar elke lag en traan oomblik te onthou en as groei kans te omarm.

Laat gaan laat jou waardeer  wat jy gehad het,  vul jou met dankbaarheid vir wat jou nou in die oomblik het en om uit te sien na wat binnekort weer oor jou pad sal kom.

Om oopkop en hoopvol die toekoms pad te loop.

Laat gaan stel jou vry.

Lat los want God is reeds oral waar jy was en is en gaan wees.

Dankie my liefste Ouma Stomp dat ons lewenslank die wysheid uit jou hart met ons kan dra. Ons moet net onthou om dit te leef.

“Laat los en laat die Heer” – Stefina Anna Catharina Maritz