Hangvlerk hoop

Die kransduif vlerk wat so teen die skuur se muur gedrapeer lê, trek verlede Saterdagmiddag my oog toe ek uitstap om liefie-kuiermense te verwelkom. Ek klap hande en raas, en wonder of die man rus. Geen beweging nie, niks. Sondagoggend gaan kyk ek, en daar hang die vlerk nog.

Klaar gevlieg, moeg geploeg. Net so.

vlerk2

‘n Kransduif kan meer as 10 jaar oud word. Was hy oud, was hy jonk, is hy aangeval?

Ek weet nie.

Die duif het op sy geliefde staalbalk , wat instaan vir sy natuurlike habitat, kom sit vir die laaste keer. En nou, totdat die natuur met sy oorblyfsels sy gang gegaan het, hang sy vlerk daar.

Die afgelope maand is ons land geruk deur grusame, afskuwelike moorde en plaasaanvalle. Ontvoerings, mense is gemartel, ‘n vrou in Polokwane se oë is uitgesteek, ‘n ander vrou is doodgeslaan, ander mense is uit karre gesmyt. Kinders is wees gelaat, werkers nou werkloos.

Die regering is arrogant stil.

Sosiale media gons.

Mense is ontstemd.

Oproepe vir saamstaan klink oral op.

Rassisme, woede, haat, seer en vrees vier hoogty.

Wie is volgende, wat is volgende?

Hoe beveilig jy jou geliefdes?

My geliefdes strek wyer as net my huismense. In ons kringetjie is ons werkers al soos gesinslede. Hulle noem ons ma en pa. Ons sit kinders deur skool, ons sink boorgate, help huise bou. Ons geliefdes en hulle geliefdes is meer as 100 mense.

My huisvrou kom sit nou die oggend ‘n blik Doom en die bofbalkolf langs my bed neer.

“En nou”, vra ek.

“As julle doodgaan, wat word van ons? Onthou om die groot hond in die kombuis by jou deur te laat slaap”.

Koue ys loop teen my rug af.

Ons bly op ‘n plaas.

Sy kyk my so. “Ma, die skelms voel niks. Hulle het laas week ‘n vrou van Bergnek in haar HOP-huis aangeval en met haar strykyster gebrand op soek na geld.”

“Het sy geld gehad?”

“Ek weet nie. Hulle het gehoor haar man het ‘n groot begrafnispolis gehad en dat sy nou ryk is…”

Here, help ons.

Danksy mense van ons streek wat aan die KFC Add Hope projek deelneem, werk ons gesin saam met ‘n Drop In Centre, waar weerlose kinders elke dag heen stroom vir hulp en kos.

Dis sentrums het jare gelede in arm, hoofsaaklik swart  woonbuurte en gelei deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, ontstaan om voedsel na weerlose kinders te versprei. Weeskinders wat ouerloos deur die lewe moet kom want VIGS het sy maai werk gedoen.

Oor jare heen het korrupsie en wanbestuur dié voeding projekte tot stilstand gebring, maar die nood wat dit moes aanspreek het nie verdwyn nie. Inteendeel, dit vererger. Daar is al hoe meer kinders aan hoof van huishoudings. Ouer boeties en sussies wat na kleiner sibbe moet kyk, want daar is geen grootmense in hulle familie oor nie.

Hulle is baie soos die kinders en mense wat op moordplase, en in moordhuise wees gelaat word.

Waar ons betrokke is, kry 190 kinders elke dag ‘n gekookte ete. Dikwels die enigste kos in 24-uur. Hier sien jy swaarkry en seer.

Jy kom ook haat teë. Hoe is dit moontlik dat ‘n sesjarige vir jou kan toesnou ‘white bitch’? Wie blaas die vlam so aan dat dit selfs by kinders moontlik is, wonder jy.

Tot jy by die braaivleisvuur staan en ‘n sesjarige luister hoe sy oom van swart barbare praat.

Daar is nie hoop nie.

Die ras ding is  al geneties dink ek.

Maar ek wil nie so moedeloos voel nie, en kinders vra nie om te wees waar hulle is nie. Daar is honderde sulke sentrums. Meer as een vir elke gemeente in elke dorp – dink net wat uitreik sal bereik. As almal se kringe uitbrei en uitreik.

Die kransduif se oorgawe gooi weer ‘n skadu oor my gemoed. Want ons ken nie van saamstaan en saamwerk nie.

Gaan die goed wat individue doen ‘n verskil maak as ‘n Nyaope bedwelmde wreedaard wat net aan homself verantwoording doen en dink jy het ‘n geldboom wat jy elke oggend skud, jou spasie betree met die doel om te vat wat joune is. Ook nie net jou goed en geld nie, maar ook dikwels jou lewe, want dit beteken vir hom niks?

My huisdokter poog op die oomblik met min sukses om my bloeddruk in toom te kry. Ek is dronk en duiselig van die een na die ander medikasie. ‘n Hele maand se eksperiment moet voltooi word, om net te vind die moetie is te sterk of te lig.  Vergeefs aan’t poog om te keer dat ek een of ander toeval kry. Hy sit my nou die dag so en kyk, en vertel hoe hy ‘n verkragting slagoffer van ‘n plaasaanval by ongevalle moes help.

Hy vertel dat sy haar aanvallers gevra het hoekom.

“Omdat ons kan,” was hulle antwoord.

Hierdie inligting maak nie my medikasie effektief nie. Ek dink almal in ons land het post traumatiese stres sindroom en bloeddruk pille maak dit nie reg of weg nie.

Ek wil deesdae heel dikwels ook soos die kransduif in my hoekie gaan sit en wegraak, my arm so eenkant laat hang, soos sy vlerk teen die skuur se muur.

Kapot, weg, klaar.

Nou hoor ek vanoggend Mighty Oom Angus het ‘n oproep om ons almal op te roep tot verootmoediging voor God, aanvaar. Hy het vanoggend op die Vuisboek gesê hy het ‘n boodskap uit Ester gekry.

‘Dis tyd’ en as ons dit nie doen nie, sal die Here ander gebruik om Sy werk te doen.

Ek gaan myself mond-tot-mond asemhaling gee en my sitplek verlaat, my lam gemoed verkwik  en saam met Oom Angus op my knieë gaan en op die Here vertrou dat die dooie kransduif van my hoop, ‘n spierwit Geesvervulde Vredesduif sal word.

Olyftakkie en al.

Kom wat wil.

Enduit.

Kom jy saam?

Wat het jy in jou hand?

watisinjouhand

Ek is weer effe afferig, lusteloos. Rots sien my gemoed en ek mag kluisenaar. Dis stil by die winkel en daar is gelukkig twee pragtige vroue wat elke dag die plek help oophou.

Ek sit vir ure vir die rekenaarskerm en kyk, en kyk en kyk. Luister na die voëltjies se gekwetter, hoor die honde wat blaf. Ek loop deur die huis, uit stoep toe, gaan maak koffie. Bloubekruip loop so sleep,sleep agterna.Ons albei doelbewus aandagafleibaar.

Ek lees bietjie, lê bietjie, gaan sit weer voor die rekenaar. Dis tyd wat verbygaan en nie terugkom nie, besef ek.

Eers troos David Whyte my:  “Beginning is difficult, and our procrastination is a fine, ever-present measure of our reluctance in taking that first close-in, courageous step to reclaiming our happiness. Perhaps, because taking a new step always leads to a kind of radical internal simplification, where, suddenly, very large parts of us, parts of us we have kept gainfully employed for years, parts of us still rehearsing the old complicated story, are suddenly out of a job.” *

Vanoggend jaag Elisa my uit die bed.

“Dis net na sewe,” brom ek.

“Assamblief,” sy kreukel haar neus en glimlag. “Ek wil die bed skoon oortrek.”

Ek brom dat ek nog nie eers koffie gedrink het nie, nog nie eers boekegevat het nie…gryp my koffiebeker en Bybel en strompel studeerkamer toe.

Die dagstuk gaan oor God se finale adres. Dat Hy Alfa en Omega is, Skepper en Voleinder. Dat Hy, God self, weer gaan kom en alles nuut en ewig gaan maak. Dit is nou vir dié wat aanhou oorwin (Op21:7).

Aanhou oorwin.

Aanhou oorwin.

My hart klop tjoklits. Ek word elke dag vergewe vir swakheid, vermorsing. Ek moet net aanhou probeer.

Ag Here, dankie!

Nog is het einde niet.

Ek slurp aan my koffie en blaai deur die Facebook. ‘n Skryfblad wat ek besoek vir bemoediging en inspirasie sê: Vat die boek naaste aan jou, gaan na bladsy 55. Die tweede sin is jou skryfmotivering vir vandag.

Die naaste boek aan my is die Bybel wat ek flussies gelees het.

Ek blaai na Bl 55.

Eksodus 4:2: “Toe vra die Here vir hom:”Wat het jy daar in jou hand?”

Die gedeelte gaan oor Moses wat teëgestribbel het oor die taak wat God hom opgelê het. In sy hand was ‘n herderstok. God laat Moses die stok op die grond gooi, dit word ‘n slang. Dit word ‘n kragtige wapen wat die Farao oortuig om die Istrealiete te laat gaan. Die einste stok kloof  die Rooisee oop. Die Here rus Moses toe en geen protes keer dat hy sy taak opneem nie.  Groot staan Moses met sy herderstok in ons Bybelgeskiedenis as voorbeeld. Hy besoek selfs vir Jesus saam met Elia.

Ons is nie geloofshelde nie. Net gewone mense, wat elke dag die beste wat ons kan, poog. Wel, ek is. Een dag op-en-wakker, die ander slepend. Maar die son kom op, die son gaan onder, en daar is weer ‘n nuwe dag.

Die wat aanhou oorwin.

Ek het ‘n potlood in my hand en ‘n rekenaarsleutelbord voor my.

Here, lei my waar U wil.

*(‘BEGINNING’ From CONSOLATIONS:The Solace, Nourishment and Underlying Meaning of Everyday Words © 2015 David Whyte and Many Rivers Press.Besoek http://www.davidwhyte.com of kyk op sy Facebookblad. Die man skryf raak.)