Klein dingetjies met groot liefde

‘n Vrou moet doen wat ‘n vrou moet doen. Feëland se feng shui werk nie, iets makeer. Rots is ongelukkig, ek is seer van nerf. Bab en Mielie wil gillend die winkel uit,  en die vlaktes inhol oor hulle grootmense se iesegrimmigheid .

Na aanleiding van my hoogs emosionele reaksie gister op drukkies en liefde teenoor my betoon, besluit ek, hierdie monsters in my en my geliefde se binnestes gaan met klein-dingetjies-gedoen-met-groot-liefde, beveg word.

Ek begin sommer al gisteraand met die hernude fokus. Rots voel knieserig en snotterig, ek dokter met Corenza C en Norflex vir sy nek pyn. Sien, die koue weer laat die nek met die fusieprostese knies. Ag, ek is simpel om nie te onthou nie, my rug maak al vir twee jaar dieselfde.

Rots het blykbaar toe ook sy eie strategie. Knies en al word ons bederf met boontjiekoekies en picana steak in die gietysterpan.  Die vrede sprei saam met die Goya kaggel se hitte deur die huis. Die honde hou op grom, ons ook.

Nogal ‘n kouewater op die gevreet oomblik, né. Klein jakkalsies moet altyd dopgehou en verjaag word, anders verander hulle gou in monsters wat alles om hulle verwoes.

Vanoggend moet Rots en ons kaggelmanne vroeg en ver ry om ‘n kaggel te gaan diens en ook by ‘n oord waar ons kaggels installeer het, die personeel gaan touwys maak om die eenhede ordentlik te gebruik. (Julle kan nie glo wat mense met ‘n kaggel kan aanvang nie!)

Terwyl hy gaan stort, hol ek kombuis toe. Rots vrek oor padkosbroodjies – katjiebotter met stroop en Bovril. Ek staan en smeer die margarien op die snytjies brood, rustig tot elke hoekie ook ‘n smeersel het.

Net soos my pa my soveel jare gelede geleer het: “Botter al vier hoeke van die snytjie brood, my kind. Dis hoe jy liefde wys.” Dis al meer as veertig jaar, maar ek onthou daardie oomblik saam met my pa in die kombuis soos gister. Die grootheid en die eenvoud het my bygebly. Dit glip net so partykeer terug in die onthouboks pleks om op my hart se elke-dag-nodig rak te bly!

Behalwe die liedfebroodjie, skryf ek vir hom ‘n liefienota. Dis tradisie wat onderbreek is sedert Oktober verlede jaar. Sy stywenekkie-episode en daaropvolgende operasie en lang herstel, die onderbreking. Sjoe, ek sal mal word as bykans ‘n halwe jaar nie my elke dag soos ek daarvan hou kan bedryf nie!

Lekker val die skille van my oë af, en besef ek hoekom ek so kort-kort soos die dinges in die drinkwater voel nie. Waar sal my man dan nou heen met sy frustrasie en seer?

Hoe lekker toe hy my netnou bel en sê die broodjies was lekker en die briefie, dankie vir die briefie.

 

Hemelse drukkies en ‘n mandjie

20180516_081413Die atmosfeer in my feëverhaal is ietwat bewolk en mistig sedert gisteroggend. Soveel so, dat Rots en Bab en ek so bietjie stywenekkie met mekaar is. Tot die honde grom vir mekaar.

Ja, die dinges spat en breek soms in sprokiesland los, glo my. Dis maar net ‘n adres van gewone mense hier op die ondermaanse en net die stukkie van die spieël wat dikwels gewys word.

Ek is besonder sensitief omdat ek nie kan glo dat die geliefde vrou van Sondag wat troetelbederf pedi en voetgemaseer die naweek in is en sulke wollerige pantoffels vir ma-dag uit haar pakkie gehaal het, Dinsdag die drol in die paleis se drinkwater is nie. Maar nou ja, ons bly nie in die hemel nie, ons reis soontoe.

Met ‘n nerfdungeit nog in die lug, na daar weer onder gebed ons swak voorbeeld, sonder bespreking van wat die swak voorbeeld veroorsaak het, vergifnis voor gevra is, begin hierdie Woensdag. Ek kan nie. Vergewe my. Wat ek die graagste sal wil hê is dat ons uitpraat sodat ons nooit weer hierdie “underlying issue” hoef te sorteer nie. So die rit per Legend om ekonomie te gaan pleeg is maar stil.

So kom ons by die Lekkerwinkel aan, ek druk die paniekknoppie in plaas van die alarm. Ons is skaars oop, of die eerste vrag kunsmis word gelewer, daar is vragte te laai, kaggels om te gaan herstel (onthou laat ek eendag vir julle wys hoe om nie met ‘n kaggel te werk nie). Dis bedrywig.

Op die kamera-monitor sien ek vir Regina, ons straatkioskvrou van oorkant die pad, by die hek. Vetkoek-Regina wat haar Checkerstrollie, met haar potte en panne en gasbottel en skottels en meel, by ons bêre en water by ons tap. Regina wat die ontvanger is van al ons “ek-is-klaar-met-die” klere en skoene kry. Wat vir die eerste keer ‘n bra dra, omdat sy kom vra het. Sy het ‘n plastieksak in haar hand.

Die telefoon lui, en ek gaan met my werk aan. Regina oombliklik uit my kop. My ander kind, Bessie wat vir ons kantoor skoonhou en sorg dat ek nie mal word van koffiekoppies in kantore en leë toiletrolle in die badkamers nie, kom sê om die kantoordeur se hoek, iemand wil my sien.

Ek kyk op. Regina, met haar blink gesig, met rook van vanoggend se opstaanvuur soos parfuum wat kleef, staan met die einste plastieksak voor my.

“Happy mother’s day,” en haal die handgemaakte mandjie uit die sak.  Ek gaan aan die snik, en sy kom gee my die grootste liefhê druk. Ek sit in trane lank na sy weg is, sit en kyk hoe sy die trollie hek uit, oor die pad stoot om in die koue onder haar handgemaakte kiosk loop vetkoek bak om te sorg vir kos op haar tafel.

20180516_081407

Bessie kom kantoor in. “Jy is mooi, moenie huil nie,” en sy hou my styf vas. Jinne, kyk net hoe word ek met liefhê omvou.

My selfoon biep, ‘n Whatsapp bid-vriendin stuur ‘n video. Luister gerus. Hy is onderaan die inskrywing.

My bekaf Rots kom in en sien die mandjie. “‘n Moedersdag persent,” sê ek. Hy kyk my so skuins aan en buk af en gee my die drukkie wat ek al gisteroggend wou gehad het.

‘n Aangetroude tante met wie ek nie baie kontak het nie, maar van die min mense is wat my kleintyd saam met my beleef het, en weet dat my bynaam Rina is, stuur ‘n omgee SMS.

Soos Amore van Tjailatyd so gereeld sê: “Toe-val-Lig.”

Die son breek deur die mis wat Poloniekwane en my hart omweef het.

Die warmte klop kleinbekeer hier in my binneste. Ons Here se liefde leef in en deur mense. Dis daar, en al sien mense om jou nie al jou seer en versugtinge raak nie, Hy hoor die onhoorbare en sien die onsienbare. Sy liefde ken geen perke nie.

Here, dankie, dat U liefde in Regina en my heen en weer vloei. Dankie dat U liefde tussen my en Bessie vloei. Dankie dat hulle my ma noem. En dankie dat U liefde vir Rots en Bab en my ook ewig hou, selfs wanneeer ons nie baie van mekaar hou nie.  Dankie dat U my kom wys ons dun jammer-vir-myselfgeite moet wyk, daar is net tyd en plek vir oopbek-en loshande liefde.  Dankie vir whatsapp en smse waar ek besef, dis U, dis U!

My Bybelvers van die dag het nou net op die selfoon arriveer:

15“En dan die saad wat in die goeie grond geval het … Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.”

Skryf-safari: Skryf ‘n feeverhaal : ‘n Gewone lewe se sprokie

k6p7Qc

Daar was eendag ‘n dogtertjie. Sy was almal se hart se punt en sy was baie lief vir lees. Sommer gou was dit nie meer nodig vir haar Pappa en Mamma om vir haar stories te lees nie. Sy het dit vreeslik geniet om laat, lank na almal in die huis reeds geslaap het, sklempies met die flits onder die kombers te lees en dan die volgend oggend vaak-vaak deurgaan.

Haar wêreld was veilig en geborge en selfs haar oujongnooi groottante was lief. Sy het niks kortgekom nie. Na so paar jaar as enigste kind, is daar ‘n baba sussie gebore. Die wêreld het skielik nie net meer om Oudste se sit en staan gewentel nie. In haar hartjie het sulke klein krakies begin vorm. Een se naam was jaloesie, die ander alleenheid. Die baba-sussie was baie sieklik en Mamma en kleintjie moes dikwels weg na die hospitaal. Dan is Oudste maar na ouma of peetma se huis verpak.

Op sesjarig ouderdom het nog ‘n nuwe krakie het in Oudste se hart gevorm. Verwerping. Sien, Oudste moes koshuis toe. ‘n Bang kindjie in die koue koshuis, te klein om self haar bed op te maak, slegte kos en ‘n hartjie ineengekrimp van verlange na haar mamma en ouma en peetma se huise.  Die vreemdheid het gewyk en oudste het gou aan die koshuislewe gewoond geraak. Daar was darem ‘n biblioteek by die skool, kinderkrans en maats van haar eie ouderdom.

Maar Oudste se pappa was ‘n swerwer. Soos die jare verbygegaan het, het Oudste geleer om nie te innig vriendskappe te smee nie. Afskeid elke kort-kort was net te seer. Hulle het bykans elke tweede jaar na ‘n nuwe plek verhuis.

Toe Oudste in matriek is, gaan haar pappa dood. Haar mamma se hart is gebreek en sterf kort daarna. Sy het gedink die wêreld is ‘n wrede plek en haar hart toegeskulp, soveel so dat mense haar as hovaardig beskou het.

‘n Gladdegiel het haar egter verlei en na ‘n kortdstondige huwelik wat om al die verkeerde redes voltrek is, het Oudste alleen en gekneus weer haar staning in die wêreld probeer maak. Op haar eie.

Tot een goeie dag, waar sy maar met haar elke dag se bestaan besig was, verskyn hy! Haar siel se maat. Haar beste vriend. En die beloftes in die Bybel word vir haar waar.

”…soos die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, sal hulle een vlees wees. (Genesis 2:24, en herhaal in Matt 19:5; Mark 10:8; Efes 5:31) 

En Prediker:“Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk, 10want as hulle val, sal die een sy maat optel, maar wee die een wat alleen is wanneer hy val, want daar is niemand om hom op te tel nie. 11Meer nog, as twee bymekaar slaap, sal hulle warm kry, maar hoe kan een alleen warm wees? 12As een te sterk is vir hom, sal twee hom weerstaan en ’n driedubbele tou word nie gou gebreek nie.”

Gou is daar ‘n troue en ‘n paar jaar later word die fraaiste dogtertjie gebore.

Die einde

Naskrif:

Oudste en haar Rots en haar Bab leef al lank en gelukkig saam. Die tyd vir Bab se sprokie is nou aan’t kome.

Oudste kan vir Bab verseker dat sprokies nie altyd vlot verloop nie, maar as mens bly glo, kan die sprokie jou verras.   Jy kry nie nooodwendig die sprokieseinde wat jy wil hê of waaroor jy droom nie, maar dikwels is dit nie ‘n slegte ding nie.

Wat Oudste ook weet is dat geluk kan kom en gaan. In oomblikke, oogwinke kan alles verander.  Ware geluk lê egter nie in oomblikke nie. Nee, ware geluk ontstaan uit herhaaldelike keuses wat jou in jou leeftyd maak. 

Lees hoe mooi skrywe Stephanie Dowrick: “Happiness can come in a single moment. And in a single moment it can go again. But a single moment does not create it. Happiness is created through countless choices made and then made again throughout a lifetime. You are its host as well as its guest. You give it form, shape, individuality, texture, tone. And what it allows you to give can change your world. Happiness can be stillness. But it isn’t still. It wraps, enchants, heals, consoles, soothes, delights, calms, inspires and connects. It is on your face and in your body. It is in your life and being.”

 Oudste is steeds passievol oor lees en woorde. Bab ook. Wat ‘n seën.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Bromme-ry

32169681_2107997605894216_2519142294997696512_n

Soggens voor Boekevat, lees Rots en ek albei die Beeld-oppie-tablette met brakke wat stoei vir aandag en hulle happie beskuit.  Dan reis ons soggens en saans so halfuur te Legend werk toe en terug. Ons is plaaspendelaars, as jy wil.

Hierdie saamweestyd gee ons kans om saam te pieker oor die nuus van die dag.  Ons noem ons rit in die Legend ons bromme-ry, ons “growlery.”

So bromme-ry ons vanoggend:

 Twee kante van die munt – Interessant dat in die VSA meestal swart minderhede verdruk, gemarginaliseer deur die lewe gaan.  Hier aan die Suidpunt van Afrika is dit toenemend ‘n wit minderheid wat voos verskreeu en verguis en verdag gemaak word.  Ironies is dat die meerderheid in Suid-Afrika identifiseer met hulle Amerikaanse eweknieë. Oi, die struggle is verby! Tyd om die bogger-ops te erken en brue te bou. Max du Preez sien dit ook so, uiteindelik is ons en hy op een bladsy. Hy kan partykeer mens vies maak, maar nie die keer nie. Kom ons maak paaie en damme reg, kom ons verbeter gesondheidsorg en opvoeding, doen iets omttrent werkloosheid.

 Padlangs- Kan ons met Outsurance reël dat elke dorp puntsmanne kry? Ons spietkops is nêrens te sien nie, onlangs is dertien van hulle arresteer. Korrupsie, jy weet. Die wetteloosheid moet einde kry. Hier in Poloniekwane mag jy selfs uit die derde baan regs of links deur ‘n kruising bliksem, jy sit net jou flikkerlig aan en dan mag jy.  En slegs draai bane, wtf…defensief bestuur is al raad. Groen ligte beteken tel eers tot tien, want iemand met meer ryregte as jy gaan nog eers deur die kruising teen die rooi jy moet stop se vermaning oor gejaag kom. Die duiwel jaag mense hier in ons geweste iets vreeslik.

Nuussoekerig – Afriforum, hou op om soos die Kardashians nuusopskrifte van spookasem te skep! Flippit man. Los Grace en Dudu en kom ons maak kleuterskole oop, skep werk.  Of los dit en word ‘n politieke party sodat julle saam met die slapers kan kef in die komedie wat ons parlement is

Sjarrap – Mooi so Prez C! Sjarrup was nou miskien bietjie kras, maar jy het gewys jy is nie JZ wat maar gaan sit het tot Steenhuysen en Juju en kie klaar geskreeu het nie. Jy het goed om te sê en daar is goed aan die verander – Krygkor en Eskom en so aan. Dit voel soos die lig  van jou “New Dawn” en nie die soustrein se naderende lig aan die einde van ons donkertydtonnel. Skaam die boelies om nie hulle gedrag te verander nie.  Nadat jy jou sê gesê het, en jintelman wat jy is – het jy later aksies gesê.

Rugbytrots – Wat van ons het ‘n trotse Afrikaner rugbyspan soos Nieu-Seeland ‘n trots Maorispan het? Dit sal dan ons rugbypassie tot erfenisaardigheid verhef en dan kan die kwota issue tog assefokkiblieftog begrawe word en al die kindertjies saamspeel soos hulle wil of nie. En flippit, waar is die Indiëroutjie in ons Bafana span – ek vra net?

Jy hoef nie saam te stem nie, dis maar net ons bromme-ry gedagtes.
Groetnis tot later liewe b(l)oggers.Hehe.

 

As-jy lesse op ‘n Maandag

 

14433174_10154541449277905_8192391096028952651_n

Dit was een van daardie chaotiese dae, nee wag , dis Maandag van ‘n vol week.  Blogger Una het haar dag gekanselleer. Ek kon nie. Tussen die hoelaboela en wikkel kom die vier interessante goete hieronder so oor my rekenaarskerm aangesweef.

Nogal motiverend. Ek laaik. En toe dink ek “there, but for the grace of God, go I.”  Nie meer nie, beslis nie meer nie.

Die foto hierbo is myne – my pols met die komma-punt, omdat my lewe vol tweede kanse uit genade is. Goed het gebeur, maar my nie uitgewis of tot stilstand soos ‘n punt gebring nie. Nee, meer dikwels laat asemhaal, soos ‘n kommapunt, want nog meer volg.

Die woorde:”Chariti de theo eimi ho eimi – by the undeserving grace of God, I am what I am.”  – Paulus se wyse woorde. (Oor die armband sal ek annerdag vertel)

Kyk nou die lesse oor die eter gekomen:

  1. As jy weer dink jy het ‘n gemors van jou lewe gemaak….

31948089_10160159242400447_8264073460452425728_n

2. As jy dink jou lewensstorie in nikswerd….

wp-1525623035408461099103.jpg

3. As jy wil inpas/aanpas/skik/minder outentiek as jouself probeer wees…..

31947668_10156258512207567_8572152035825156096_o

4. As jy onpas/uitpas/mispas voel….

31960708_1727353524013396_3896718115630743552_n

 

 

Besnor om ‘n verskil te maak.

IMG-20180505-WA0047.jpg

Wiele 500, Grincourt, The Grind, Koffie Zero, Men-o-pause Mafia, Meelbestrooide Sjefs, Romeine in togas, Martelize Brink, Jak de Priester en sy hoenderboer klavier- begeleier, ‘n horde elegant geklede vroue, gegeurde jenewer, lekker kos en heerlike roomys.

Hiedie ry woorde met ek snoer om te vertel van ‘n heerlike herfsoggend ‘n baie goeie saak terwille. Die Wiele 500 projek het gister hulle sesde Dames Tee by Grincourt, buite Polokwane aangebied.

Onder ‘n Reuse markiestent se dak, tussen bosvelddoringbone op ‘n grastapyt het hordes vriendinne om keurig gedekte tafels saamgetrek. Soos alle ander jare is daar ‘n tema. Vanjaar Suurlemoene en Olywe, eg Italiaans.

Die spyskaart reflekteer die tema van geurige filet, slaai, tuisgebakte rolletjies, geurige hoender. Die dekor op elke tafel ‘n houtkratjie met suurlemoene, loof en Sally Williams Nougat. Want saam met die lewe se suur, ook iets soet. Rina en Andre van Grincourt en hulle span, is ‘n skat hier in ons Polokwane. Lieflike plek, oulike mense wat hulle passie uitleef en hulle liefhê wys in elke detail.

Die sameroeper Michelle Engelbrecht,vertel dat mense graag sê:”If life hands you lemons, make lemonade.” Sy reken dat die mense wat baat by die Wiele 500, die wat deur siekte of ongeluk verlam gelaat is, haar anders geleer het:”If life hands you lemons, throw it back and say: ” I don’t want this, and if I find the manager, I”ll burn his house down.” Ons gee luide applous.

Die lieflike, talentvolle Martelize Brink – joernalis, radio omroeper, sjef en resepteboekskrywer, en Mathys Roets, supersanger, is van die gesigte van Wiele 500. Hulle maak seker rolstoelgebonde mense van alle ouderdomme ‘n stoel na behoefte ontvang. Gister is ‘n jong man toegerus met ‘n wedloopfiets.

Ek sit met ‘n knop in my keel toe Martelize sê dat ons so maklik kla. Sy haat haar sterk bo arms. Die jong vrou wat as kind net een oggend wakker geword het en nooit weer kon loop nie. Ek bly oortuig dat hierdie mense, groter lewe as ons wat regop rondloop. Volronde groot lewens.

Dis hoekom ek hierdie projek saam met vriendinne ondersteun. Elke jaar. Die projek bied ons geleentheid om ‘n oggend saam met die mense wat baat by die projek te spandeer. Ons sien en beleef wat ons skenking en etekaartjie vermag. Ons word bedank en kan elke keer verryk en dankbaar daar weggaan.

Maar ons gaan traag weg, want dis lekker onder daardie markiestent. Martelize leer ons pasta maak, ons drink Turkish Delight jenewer, lag vir mekaar se kostuums, sing saam net Jak de Priester en sy hoenderboer klavierspeler.

Kyk hier:

https://mobile.twitter.com/MartelizeBrink/status/992775304740470786

Wat sal ‘n mens sê van hom. ‘n Talentvolle sanger en woordkunstenaar. Ons jil vir Sally Williams, hy lag en vermaak ons met Reenboog oor Suid-Afrika, en ‘n lied wat menige pa vir sy dogter se vryer sal wil speel. ‘n Veelsydige, talentvolle, spontane mens

Ag, wat ‘n lieflike onthou was dit vir my en nege liefiemense. Ons bende was daar as die Men-O-Pause Mafia. Gestreep en met swart pette, rooi serpe, swart oë en bloedrooi lipstiek en snorre. Neffens ons tafel was die oggend se besgekleede tafel. Tien sjefs, met meelbestrooide gesigte en al. Bravo!

Daar is baie gelag, en geskerts, maar elke vrou het elke keer as ons met mekaar oogkontak gehad het, een groot porsie medemenslike omgee gestraal. Ons was hier saam om ‘n verskil te maak. Jy kon dit voel. Die liefde en omgee by elke tafel van tien.

NS. Het koffie zero by The Grinder bestel. Dis my weergawe van swart en bitter koffie. Die barista met sy lang hare en snor lag. “Dis nou oorspronklik.” So flirterig terg middeljarige ek: “Mens is nooit te oud om iets nuut te leer nie.” Klink amper hygromanerig. Ek wens so in my enigheid die Towerinne van blogland kon saam met my om die tafel kom sit. Miskien volgende keer.