Oor olifante in kamers en rekke wat skiet…

Man, as jy iemand se vooropgestelde verwagtinge die nek inslaan, dit laaik ek kwaai. Veral as jy berug is as ‘n kort van draad helleveeg en die emosionele etiket lankal op jou rug vasgewerk is.

Jy weet dat hy of sy verwag om met ‘n woedende woordevloed die kop gewas gaan word of met snot en trane van teleurstelling begroet gaan word. Hulle klee daardie olifant in die kamer met skreiende kleure, jy kan dit nimmer miskyk.

By die weersiens is jy egter die vriendelikheid en welsprekendheid van self. Ag  man, my binnekant kry lekker. Punt.  Jy los die olifant in die kamer, maak of hy van glas gemaak is, en jy weet die ander ou het al elke haartjie op die olifant se stert getel, weet van die ingroei toonnael op die voorpoot links. Jy gaan aan of daar absoluut niks is nie.

Dit kos hare op die tande om daardie Bybel teks uit te voer, daai ander wang een en ook die een van die hete kole op jou teenstander se hoof. Ek moet hard aan my wangvleise kou en aanmekaar vir kalmte en krag bid en ook om nie my te vreeslik te verlekker nie.

Dis groot dissipline as jy deur genade dit regkry om mense met jou reaksie op seerkry, woede en ongelukkigheid te verras deur met vredigheid  en kalmte van gees die weersiens na ‘n insident te hanteer. Hulle ongemak en ongeloof is tasbaar. Hoe vrediger, hoe lekkerder staan daai olifant en herkou dat die spoeg so spat. Die dissipline is om nie hardop te sê: “Het jou katvis” of “lekker ou blindesambok” nie.

Die kuns is om eenvoudig  aan te beweeg. Te aanvaar dat jy nie die askies sal kry wat jou toekom nie. Die erkenning dat hulle rêrig dom soos grond opgetree het, dat hulle ekheid hulle niks in die sak gebring het nie – verwag dit bloot net nie, dan kan dit jou minder skeel. Dis hulle wat maar verder moet wonder en skigtig wees.

Ek en my varsity kammie klim eendag (dis doer ver terug in 1977) daar by Kerkplein af om plate en seep en so aan by Dions en Clicks te gaan koop. Ek was die vrygees hippie met los rokke en Liewe Jesus plakkies, sy met die donkerbruin romp, geruite bloes en onderrok en netjiese skoeisel.

Dié dag stap ons nog so, toe skiet haar onderrok se rek. Sy struikel effe toe die lap om haar enkels te ruste kom.

“Wat nou,'” vra sy benoud.

“Stap uit hom uit asof dit nie joune is nie, moenie eers terug kyk nie,” antwoord ek so in die stap.

Sy het.

Ons twee het  daardie dag geleer dat as iets breek, is dit maar so. Stap aan.

Daai les help ook baie as jy vergelding wil uitdeel vir onregte. Stap liewer weg. Die ding is gebreek, optel en lap gaan nie help nie.

Waak ook daarteen om die olifant nooit te voer nie – hy verdwyn na so ruk, of verkas saam met die persoon ver weg, uit jou spasie. Jy dink ou koeie uit die sloot stink. Jo, ‘n olifant se klank was moeilik uit.

Onthou om vergifnis vir jou eie sondes te vra. Dis hoe jy jou siel gesond hou. Ek probeer.

Koebaai.

 

 

 

 

Oor te veel koek en tinktuur…

Baldessari_Tincture2

In die land Misgund gaan dit maar rof. Almal sukkel om kop bo water te hou. Daar is maar soveel koek om te eet, en die bakker se standaarde het so gedaal dat die koek maar al hoe skrapser raak.

Daar bly ‘n gawe man in die land. Hy is so bietjie anders as die deursnit Misgunner. Hy glo dat as jy die hele koek vir jouself hou, gaan een van twee dinge gebeur:

  • Jy gaan te veel koek vreet en dan braak jy as gevolg van jou vraatsug
  • Die koek gaan sleg word omdat jy te lank neem om die koek op te eet

Die man, genaamd Mededeelsaam, het nie omgegee dat klomp Misgunners van die koek waarvan hy die meeste gehou het, ook wou eet nie. Elkeen sou darem nog ‘n billike snytjie eet.

Maar hy het hom misgis met die etos van Misgund. Iemand wil altyd meer as die ander ou hê, maak nie saak wat of wie in die slag bly nie. Maak nie saak dat Mededeelsaam met sy omgee hart menige Misgunner in nood bygestaan het nie. Dit beteken net mooi niks.

Die rasegte Misgunner kan net oor homself kommer. Die Midas apteek was permanent uitverkoop aan “Ek wil allles hê-tinktuur.” Die tinktuur het mense nogal grootkop gemaak. Prins Misgun die Derde was verslaaf hieraan. Hy het vinnig vergeet hoe Mededeelsaam sy snytjie koek met hom gedeel het toe die nood hoog was. Bogger gevolge, te duiwel met die hemp, baadjie, toekomsdrome wat hy  metterwyl ook Mededeelsaam ontneem, wil hy sommer toe op ‘n dag Mededeelsaam se stoel ook hê. **

Mededeelsaam se hart is gebreek, en hy het maar emigreer na binne. So eenkant die vegtery van die mense in sy land gadegeslaan. Eendag sal niks hiervan saak maak nie, het hy homself getroos. Maar sy gesin se honger oë en vrae was bitter wonde om te dra.

Moedeloos sit Mededeelsaam een goeie dag onder ‘n boom en ‘n man kom verby.

“Mededeelsaam, wat sit jy so, het jy nie werk nie?”

“Nee, ek het nie meer werk nie. Prins Misgund die derde het alles by my weggevat. Ek het nie eers meer ‘n stoel nie,” antwoord Mededeelsaam mismoedig.

“Kom ek vertel jou ‘n geheim. Daar is ‘n nuwe land, jy is ‘n geskite kandidaat. Bring jou geliefdes en kom saam met my,” nooi die vreemdeling.

“Moet ek iets pak, daar is nie veel nie?”

“Nee wat, los alles net so hier. Daar is oorvloed van alles wat jy en jou geliefdes nodig sal hê,” vertel die man vir Mededeelsaam.

Tipies, vra Mededeelsaam:”Kyk, hoe gaan dit hier in Misgund, moet ons hulle nie ook vertel nie? Miskien sal die vegtery ophou.”

“Nee wat, hulle is lankal ingelig, maar weier om sonder al hulle besittings saam te kom, los hulle maar,” sê die man met ‘n hartseer trek.

Mededeelsaam en sy gesin vetrek die nag sommer al na die nuwe land.

Gou is hulle gevestig en gelukkig.

Een goeie dag is daar ‘n geraas by die hekke van die nuwe land. Dis Prins Misgund die derde. Hy is verheug om Mededeelsaam te sien: “Mededeelsaam, maak vir my oop! Kyk ek het al jou goed saam met myne gebring, ek wil dit terug gee. Ek wil saam met julle kom bly…”

Mededeelsaam trek sy skouers op: “Ek het nie die heksleutel nie…”

**Dr. Elsje Buchner van die NG Kerk La Rochelle, Oakglen, Belville het raakgepiets met die oordenking en my op die storie se spoor gesit. Vroegoggendgedagte 16 Oktober 2017

 

Kunswerk op die foto: John Baldessari, “Tincture of a Person Who Wants Everything,” Mixed Media, 1996. Courtesy Jancar Gallery.

 

 

 

 

 

 

 

Lê-jou-eier: Ek kan nie rerig nie

 

Hester se lê-jou-eier uitdaging pak ek met ‘n ompad aan.

Ek het as kind van ‘n Ramblin’ man, wie elke twee jaar ‘n kriewel gekry het, gou geleer dat groot tjommies maak lei net tot seer, tranerige vaarwel wanneer ons vir die hoeveelste keer moet trek. Ook is baie skooljare in die koshuis of buite die dorp saam met Oupa en Ouma spandeer. My kringe het altyd klein gebly. As ek die dag vriende maak – dan is dit soos met my brakke – vir laaaank!

My koshuis kamermaat en ek het vir die eerste ses weke op universiteit nie ‘n woord met mekaar gepraat nie. Ek was obsessief kompulsief netjies; sy het ‘n veer gevoel oor bed opmaak. Ek het wasgoedwas gehaat en het elke ses weke met tasse vuil klere trein gevat huistoe. Tot een naweek, toe maak ek kamer skoon en sy was en stryk.

Ons vriendskap is vandag steeds eerlik en opreg en dikker as bloed. Ons weet alles van mekaar en hou nog steeds van mekaar. Daar is ook oral in die land wonderlike vroue wat ek bevoorreg is om te kan sê dat, al sien ons mekaar nie elke dag nie, is elke wedersiens soomloos, asof ons nooit oor tyd en afstand geskei is nie. Ek tel hulle op my een hand.

My  Rots het oor jare  gesorg dat die verhuis uit bekende omgewings darem stop. Ons woon al meer as dertig jaar in die Noorde van ons land. Ons verhuis nogal so nou en dan in die omgewing – dit hou my treklus, wat ek van my pa geërf het, in toom. Hy het egter ook swaar, want as die onrus groot raak , skuif ek meubels.

Maar terug by die eier-lê.

Vir baie jare was ons ‘n deel van ‘n speelgroepie. My man die nar en baasbraaier. Ekke – was die ensiklopedie vir die kinders en te ernstig vir die vroue. Ons was die ouer mense in die groepie. Toe ons eie kind nog skoolgaande was, was die verskille nie so ooglopend nie. Ons is maar gewone mense. Genoeg is ons mee tevrede. Te veel oorweldig ons.

Die speelgroepie se krose raak groot, hulle besighede ook. Ons behoeftes het net te veel begin verskil.  Metterwyl kom jy agter dat jy so liggies na die kant toe geskuif word. Dan skielik kom jy agter die vriendskap is ‘n eenrigtingstraat en net jou spore is daar getrap.

As die pennie val en  jy kliek hier hoort ek nie meer nie, dan is dit nou maar so. Jy laat los. Jy bel minder, jy wys op die nippertjie afsprake af. Tot alles net op ‘n dag verby is. Dis ‘n seer rouproses, en mens kyk maar hard in jou binneste en probeer voor jou eie deur vee. Tot jy eendag besef dis verskille aan waardes en lewensuitkyk wat die einde van jarelange vriendskap meegebring het. Dit was tyd.

Ek persoonlik hou van die seisoene allegorie – daar is vriende vir sekere seisoene, party lank, party kort, party vlak, party sielsgenote. Sommige vreeslike lesse. Rod McKuen skryf en sing so mooi: We had joy we had fun……

Die volgende eier wil ek lê oor die uitsuigers van jou emosies, jou tyd, jou goedheid. Die laat los ek soos ‘n warm patat. Die suurstofdiewe, jammergatte en projekteerders – dieselle. Mense, van familie tot kennisse, met issues en bagasie maak my baie bang.  Ek bly net weg.

Hoekom?  Want my eie goete en goggas het my moeilike geselskap gemaak vir baie jare. Maar ek het my strooi  hanteer en verwerk. Askies gesê waar ek moes. As ek kan, kan ander ook. So my nonsensmeter is gebreek – ek kan nie. Een kans het jy, dan is dit kismet.

Ons is besonder bevoorreg om kinners van ander ouers ook intiem in ons lewe betrokke te hê, en lief te kan hê. Vir hulle leef ons ten voorbeeld en is rasieleiers op elke tree van hulle lewenspad. Ek skryf hier vir elkeen van julle, leer uit my foute.

My honde is die enigste lojale wesens wat ek ken. Ek het ‘n beste vriend in my Rots en ook my eie kind. Dis ‘n voorreg om so spesiale verhouuding met jou eie kind op gelyke vlak en as ewe-mens te kan hê. Luuks.

Kapow! Ek kan nie verder eier-lê nie!

Want vanoggend….

Ons liewe Vader het deur Stephan Joubert se Bybeldagboek vanoggend my lekker geblindesambok oor hoe met suurstofdiewe gemaak moet word.

Rots lees uit Galasiërs 6 DB:

Help mekaar
1My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.
2Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.
3As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie4Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk5Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.
6Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.
7Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.
9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.

 

Sela.

Gaan heen en wees ‘n goeie rasieleier vir die eendjies in jou dam!

Ns. Behalwe dat die Gees ons lei, het jy ook gesonde verstand gekry om te weet wanneer iets vir jou sleg is, selfs vriendskappe. Hier is sobere raad:

https://www.rd.com/advice/relationships/toxic-friends-signs/1/

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Foonjakkery- dis ‘n (on)ding

 

 

Foonjakkery – die praktyk om jou metgesel of metgeselle te ignoreer om aandag te gee aan jou selfoon of ander mobiele toestel.

(Tele)FOON  + (af)JAKKERY

 

Oukei – dis ‘n eiewoord, kry julle ‘n beter een of vertel my wat is die Afrikaans hiervoor:

 

Image result for phubbing meaning
phubbing  – the practice of ignoring one’s companion or companions in order to pay attention to one’s phone or other mobile device.
  1. “phubbing is just one symptom of our increasing reliance on mobile phones and the Internet.”

 

Lê-jou-eier: Gee my vir ‘n boom, asseblief

 

Tombstone-Digital-Stamps-plain

Niks – want ek is nie daar nie. Ek is huistoe, by my Pa.

My lyf, wel dis ‘n ander storie.

My gesin sal na my heengaan ‘n briefie aan die testament kry, wat so lui:

“My liefstes

As julle hierdie lees, is ek vooruit huistoe. Onthou net, niks begrafnis- en grafdramas nie. Ons het mos saam genoeg aan ontsteltenis beleef rondom doodgaanwense wat nie volvoer is nie.

Die lyf waarin ek hier op aarde in geleef het moet julle veras, of verys. Ek het gehoor mens kan nou ‘n liggaam laat verys* en verkrummel.  Of liewer, Kry een van daai boom “pods”*, en ‘n boom wat by Great Expectations sal aard. Een wat sterk sal staan en skadu op ‘n  warm Karoo somerdag sal maak om koelte en skuiling te bied. Of as julle nie lus is nie, maak ‘n gaatjie met die grondboor by die peperboom in Great Expectations se werf, en gooi my as daarin. Bemesting vir die skaduboom. En as die kaktus so mooi blom, onthou.

20170317_082045

Ek sal dan kan, soos ek in my liefhê vir julle, en julle vir my, skuiling teen die wêreld se aanslae en die lewe se seer gebied het, vir die boom voed om stilte en skadu te bied vir iedereen wat teen sy stam kom leun of kom sit.

Onthou my as die een wat die klein dinge met groot liefde gedoen het. Die botter op elke hoekie van die brood gesmeer. Nee, onthou soos julle wil, of nie.

Leef julle lewe voluit, daai strepie tussen begin en einde, hy tel.  Onthou net: as die begin begin, begin die einde.

Liefde altyd

Rina-ryni-ma-ena-edna-mother-sharofski

NS. Ek was altyd lief dat ek nooit deur julle op my noemnaam genoem is nie. Vele rolle in ‘n vol lewe. Ja, toe, ek wou net vir oulaas my sê inkry. Hehe.

Na- naskrif (Amper vergeet ek)

Burial pod of Capsula Mundi coffin

biodegradable-burial-pod-memory-forest-capsula-mundi-3

biodegradable-burial-pod-memory-forest-capsula-mundi-8

Ek sou  egter verkies om in my Karootuin, ‘n boom te word. Sê nou net my buurboom en ek baklei oor ‘n sonkolletjie…..

Bevriesing tot bemesting

 

So – veras of verys, die uitkoms is dieselfde.

Stof tot stof, as tot as, deel van die siklus van lewe en dood.

Gee my vir ‘n boom  groot asseblief.

In ons Karootuin, asseblief.

____________________________________________________________________________________________

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

My Rots en ekke en Bab

Vroeg in Maart 1984, lekker bruingebrand en uitgerus na ‘n vakansie op Plettenbergbaai,  gaan help ek my in-die-diepsee-ingegooi maats om te keer dat gholfdagspelers se dors in ‘n muitery ontaard. Bethal se Gholfklub se Woensdae-wedstryde is altyd goed bygewoon.

Dis al skemer to die noodoproep kom. Die plek is vol parkeer, en nodeloos moet ek op ‘n donkerige plek naby die begraafplaasmuur stop. My twak is geboek toe so olierige omie ook daar parkeer. Van daai wie se woorde so taai stroperig is, dat jy wil dettolbad. Ek stryk aan en gaan vinnig binne. Die kroeg is kant to wal vol gesels en kuier.

Ek word dadelik op kroegdiens geplaas. Ag toggie, waar ek ‘n bestelling neem, glip Oom Olie in, ek raak maar lekker geirriteerd met sy aandag. Op die ingewing van die oomblik betrek ek ‘n bebaarde outjie wat heel rustig in ‘n hoek by die toonbank sit en kuier met ‘n ewe-kakiegeklede vriend. Ek buk so oor die toonbank en sê vir hom ons twee is ‘n item, en hy moet ‘seblief Oom Olie op sy plek sit. Hy is verstom, maar maak toe soos ek vra.

Lang storie se kort weergawe ons is 4 Augustus 1984 op ‘n koel winterdsdag getroud. Arm soos kerkmuise – ons moes sy Cortina Big Six verkoop om die troue te bekostig – ek wees en hy met ‘n weduwee-ma. Sy eerste probeerslag en my tweede aan getroud wees.

Hier op die vooraand van ons drie-en-dertigste herdenking is ek dankbaar vir daardie oomblik, maar ook die laaste keer, dat Rots vir my geluister het!(Grappie)

Daar was maer jare, daar was vet jare. Daar is soms swaar aan die sewe sakke sout geëet, en vandag pluk ons die vrugte van die jare saam!

Ons blokraai en legkaart, hou epiese Scrabble toernooie. Ons bid saam, ons huil saam oor programme op die TV wat ns ontroer – Amazing Spaces, Blue Bloods, het ons net verlede week aan die grens gehad. Ons droom van ons dag wanneer ons die Karoohuisie meer permanent sal betrek, daar ver in Graaff-Reinet.

Ons kamer ruik saans na Vicks en Moov – sy skouer, my rug. Ons hare is witter, daar is plooie waar ons nie plekke het nie, maar ai, as daai oge so oor die bril vir my kyk en hy vertel my dat ek mooi lyk, of lekker ruik…

Mekaar se beste maats, enigste geliefdes en met die bordjie by die agterdeur wat sê ons is die honde ter wille nog saam, hehe. Ons huwelik se grootste seën is ons pragtige dogter. ‘n Besondere jong vrou wat maak dat ons gereeld hemde se knope moet vervang, want ons harte bars van trots. ‘n Geskenk uit die hemel. Sy dra ons en verryk ons lewe op soveel maniere. Ons Bab. (Die skoonseun moet nou maar asseblief begin aankom, dan is ons prentjie voltooi. Hy is klaarblyklik iewers elders besig, ‘n tydsame ou lyk dit vir my.)

19221795_10154692580448339_5490299014399012965_o

Ons lewe saam is goed. Ons is twee helftes van daardie een wat God belowe jy sal word, plus een. Rots en Ekke en Bab.

Ek bid so:

Dankie Here, dat U my tweede kans op ‘n lewensmaat in my beste omvorm het. Dankie vir die man wat die pa van my pragtige kind is. Dankie dat ons twee saam met U ‘n drie-dubbele tou geweef het wat net U sal skei. Dankie dat ons saam U kan dien, dat ons saam vir die in ons onmiddelike kring – ons kind, ons kinners van ander mammas, ons personeel, en ook die wat dit soveel swaarder as ons het – kan steun en help met dit wat U vir ons bestem het om te bestuur in hierdie lewe. Dankie dat ons elke dag saam kan leef en ‘n bestaan kan maak. Ons is dankbaar vir U teenwoordigheid in ons lewe. Amen.

 

 

 

 

Lekkervurig Innibos 2

Saterdag 8 Junie 2017.

Innibos Dag 2.

Ons word vrolik wakker. Een van my emmerskoplysie goed word vandag voltrek. Fiela se kind tot die mag drie!

Daar was eers die boek (1985), toe die fliek (1988) en nou die oppie planke weergawe (2017)!  (Dit is ook in 1999 as die Afrikaanse boek van die eeu aangewys – maar julle weet dit seker.)

My hart klop tjoklits toe ons weer in ry A, so links voor by die verhoog, sitplekke inneem. Langs M sit ‘n jong egpaar van Cullinan, met die fraaiste baba-dogtertjie. Ou siel het die kleine kind, sy sluk ons in met haat vriendelike sagte bruin ogies. ‘n Stukkie van my kommer en bid die baba sal die drie ure sonder huil deurmaak.

Langs my sit ‘n fris jongvrou met kort funky hare en boheemse klere, haar liefie is donker en lank. Hulle lag en gesels te lekker. Kom van Phalaborwa. Hulle oor die kleurgrens heen onsigbaar, want dis in Afrikaans wat daar geklets word. Hulle terg mekaar oor wie kry wanneer hulle sin oor toneelstukke en feesterrein kuiers. Hy kyk Fiela en Koöperasiestories saam met haar, en sy gaan saam Theuns Jordaan en kie kyk. Hy vertel hoe baie hy van Koos Doep hou, en dat Refentse nie te sleg is nie, maar Theuns Jordaan, dis die held.

Verfrissend is hulle gesleskap tot die ligte in die saal flikker. Die gordyn trek oop. Mistigheid spoel oor die verhoog,  en skielik is ons in Daleen Matthee se wêreld – die Knysnabosse op die verhoog, innibos.

Ek kan nie beskryf behalwe om te sê dat Daleen Mathee beslis saam met die engele tevrede op die saal se dak kom sit het, en stil tevrede geglimlag het oor hierdie produksie. Dit was om die boek weer vas te hou en die storie te sien transformeer uit die bladsye van die boek in drie-dimensionele glorie op die verhoog!

Die teks van Dalene Matthee is in die laat tagtigs aanvanklik verwerk deur Suzanne van Wijk. Vir hierdie verhoogproduksie is die teks herverwerk deur Frans Swart. Puik, puik.

Die stelkleding was eenvoudig, maar eenvoudig fantasties. Jy het saam met Fiela die pad dopgehou, saam met Lukas en Nina vir die grootvoete weggekruip. Jy het die armoede en woede van Elias van Rooyen beleef.

Die toneel waar klein Lukas verdwyn was hoendervleisend. Stikdonkerte met die lampliggies en die geroep na die kind.  Die konfrontasie tussen  Lukas/Benjamin en Elias het my na my asem laat snak. Snot en trane saam met Fiela Koemoeti gehuil.

Uit jou maag vir lawwe klein Nina gelag en geskater wanneer een deur Fiela ingesê word. My hart het van vooraf gebreek toe Lukas/Benjamin uitkreet:  “Wie is ek!”

Ag, die drie ure het gevlieg, en toe die laaste sin geprat is, het ons in die gehoor nie anders kon as om staande die akteurs toe te juig nie!

Die baba het soos ‘n klein engel al om die beurt op ons almal se skote gesit asof sy saam gekyk het en die storie verstaan het!

Die lang vertoning het uiteraard ‘n kilometerlange badkamertou tot gevolg gehad. Ons het maar gaan sonde pleeg – kode vir ‘n rokie maak. Toe die toue wyk en ons, ons draai wil gaan loop, sien ons die hele Fiela-span rustig in die sonnetjie sit en wag op hulle vervoer.

Hulle verwelkom ons in hulle kringetjie toe ons vra of hulle die program vir ons sal teken. Die Mamma en Pappa van Cullinan is ook daar. Sal Shaleen opmerk dat sy die kleine mense in die gehoor raakgesien het, en verbaas en dankbaar is dat die pop so soet was deur die hele vertoning! Pappa Cullinan se knope spring amper af van trots. Die kleinding is woerts in Sharleen se arms en die wanggetjies is gou rooi gelipstiek! M het ook ‘n vet drukkie gekry – nou wil sy net drama doen en Shaleen vertel haar sy het nie swot nodig nie. “Ek was ‘n teacher,” haak die ikoon so ewe af. M is in die wolke.

Shaleen Surtie-Riichards, ‘n regte, egte mens en wat jy sien is wat jy kry. Ek kan net sê: Respek! Dié is ‘n wonderlike mens en geseënd is ons om haar te kon beleef.

Vian Singleton het hom uitstekend van sy taak gekwyt as die jong Lukas.Benjamin, en ek verstout my om te sê Phillru van Achterbergh is gebore om die volwasse Lukas/Benjamin te vertolk. (‘Skuus Dawid Minnaar). Borrelende laerskoolleerling, Jaime du Toit (hierdie was haar heel eerste rol), het ge-Nina asof sy dit nog altyd doen! Ag, en Johny Klein as Selling Komoetie…maar meer oor hom later.

Ek gaan nou stop…anders gaan ek net aanhou en aanhou en aanhou. Wil ook net deel, tydens pouse druk die jong vrou van Phalaborwa saggies aan my arm. “Tannie moet Sophia Mentz probeer te siene kry.”

Sophia, Sophia. Daar is ‘n ander Sophia in my lewe – sy het een oggend ‘n paar jaar gelede haar verskyning tussen wapperende lakens gemaak. Dis my storie se hoofkarakter en wie se lief en leed ek vir arme Janie Skryfskool mee frustreer. Sophia het vir so ruk verdwyn, maar ek kan vertel sy klop weer hier aan my hart en wikkel my vingers oor die QWERTY van my rekenaar. Dankie Fiela en Phalaborwa.

Word vervolg….

Lees meer oor die akteurs en die toneelstuk en gaan bespreek jou kaartjie as die opvoering naby jou op die planke gebring word!

Bewapen teen emosionele terrorisme

scapegoat“Ek weet nie hoekom ek so moet suffer nie.” Ons almal Ta Stienie soms. Nare goed gebeur met ons almal. Mense stel teleur, die onheil tref jou. Dis die lewe op die ondermaanse.

Meestal kom mens daaroor en gaan aan, probeer weer. Kies om liewer diep asem te haal, jou gesig na die son te draai met die vaste vertroue dat God reeds saam én voor jou deur die moeilike tyd stap.

Ander rol om en word meegesleur deur omstandighede. Of verdedig huleself, maar op die negatiewe gedeelte van die verdedigingsmeganismeskaal, deur issues te projekteer en alles en almal die vark in die verhaal te maak. Diegene wie in ‘n staat van gewroegdheid, te nagekomenheid, eie-ekkerige geregtigheid leef. Die grootste hartseer met die mens wat so swaar deur die lewe gaan, is dat hulle ander se lewens hel op aarde maak. Deur te kies om die slagoffer te wees, deur te kies dat jy reg is en duisend ander is verkeerd, jy sit jou op vir ‘n helse lot pyn en dan is jy meestal die een met die fout.

Attitude is a choice. Happiness is a choice. Optimism is a choice. Kindness is a choice. Giving is a choice. Respect is a choice. Whatever choice you make makes you. Choose wisely.”
– David of Vermont 

Wat die heel ergste is, is wanneer sulke jammergatte hulle die reg toe eien om aanspraak op onskuldige mense se lewens te maak. Gif is al wat versprei word. O wee, en as so teemkous jou in die visier het, is daar niks behalwe grense en groot afstand wat jou red nie. Skoonouers en skoonkinders, broers en susters, moeders en kinders se verhoudings word aan flarde geskeur.

Ek is bewus van  ‘n paar sulke situasies rondom my. Ai, as die mense net kan sien wat hulle gedrag tot gevolg het. Soveel seer en pyn en verwarring.

Op soek na antwoorde lees ek op en e-pos ‘n dominee-vriend om sy mening te hoor. Hier is wat ek vind:

Emosionele terrorisme moet glad nie geduld word nie. Indien iemand nie ophou nie, kry hulp van buite. Laat ‘n berader ‘n vergadering tussen jou en die terroris beredder. Dis die veiligste. As daar nie ‘n getuie vir jou teenwoordig is nie, is aanhoudende boelie jou voorland.

Net omdat ons mense vergewe, beteken dit nie ‘n emosionele afbreker kry lisensie om van meet af met ou gedrag voort te gaan nie. Vergifnis gaan hand aan hand met ‘n streep wat getrek moet word. Die oue is verby en iets nuut is in die plek van ou dinge. Die teisteraar mag nie voortgaan of toegelaat word om met hulle vernietiging van ander se lewens voort te gaan nie.

Dit is van uiterste belang dat paartjies en gesinne saam teen emosionele terroriste optree. Maak nie saak wie se ma of pa of broer of suster, vriend of vriendin die oortreder is nie. “Jy praat nie verder so met my of my geliefdes nie. Jy vra respek, ek verdien dieselfde.”

Almal moet konsensus hê en bemagtig voel om vir die terroris te kan sê: “Hierdie besoek of gesprek is nou klaar.” Dit moet volg met ferm optrede – wys die persoon die deur, eindig die gesprek, verander die onderwerp of as jy by hulle tuis is, verlaat die perseel.

Die emosionele terroris is immer aan die wegkruip agter persoonlike ervarings, dikwels uit hulle kinderdae. Die slim omies sê jy laat die persoon die derms uitryg, en al wat jy dan so persoon toevoeg is: “Ek is jammer oor jou slegte ervarings, niemand verdien om so behandel te word nie. Dis waarom jy dit nie verder op ons huis en gesin gaan uithaal nie. Die geskiedenis van onreg kan nie herhaal word nie, dis nie hier welkom nie.” Die kenners waarsku ook dat daar geen onderhandeling moet wees nie. Moenie skietgee nie.

Scape_Goat_Blame_Game

Hoe swaar dit ookal is, as die gedrag sou aanhou, se ‘n domineevriend vir my, is die beste  vir jou en jou gesin om  fisiese- en kontak afstand tussen julle en die terroris te skep, tot die boodskap begryp word, die afbrekende en mishandelende gedrag gestaak word en ‘n nuwe verhouding op respek en liefde gebou kan word. Sodra ou koeie uit die sloot klim, herhaal tot genees of stap weg vir julle eie behoud, ander gaan die stank jou oorweldig. Ek sit en dink aan die Engelse woord ‘scapegoat’ – sondebok.  Dis die enetjie wat die emosionele terroris so graag blameer vir hulle eie laakbare gedrag.

Terwyl ek so skrywe, kom my Dictionary App se woord van die dag op:

Scapegrace –  “One who has escaped the grace of God.”

Sjoe – emosionele terroriste en alle mense moet waak om nie hieraan skuldig te raak nie!

Dink net om aan God se genade te ontsnap, of dit mis te loop omdat jy geen genade teenoor ander betoon nie.

JO!

NS.
Ek baie geput uit die onderstaande artikel, en ek is op my knieë gedwing om askies te sê oor ek maar ver tekortskiet en ook vir genade vir die wat seer het en seer maak:

Vir Swartjie

Liewe Swartjie

Jy is al amper nege maande kwaad en niks wat ek doen of sê gaan dit klaarblyklik verander nie. Voor ek dan my aanpas by ons nuwe verwyderde verhouding wil ek eers onthou. Ek skryf  ook via my Blog vir jou, want miskien leer ons twee se onmin iemand anders om nie dieselfde fout te begaan nie.

Hierdie foto’s hierbo is geneem toe ons na Pappa se dood baie van die skool se prestasiebekers huistoe gebring het. Die verwarring en seer is op ons albei se gesiggies te bespeur. Dit was 1976.

Maar kom ons tree nog terug, daar in die sestigs, toe jy deel van my lewe geword het.

Jy is drie jaar en agt maande jonger as ek. Ek is ‘n baby-boomer en jy is die volgende generasie.

Toe ek skool toe is, koshuis toe, het jy by Mamma-hulle agter gebly. My wêreld het daar verander – ek het ‘n langnaweek- en vakansie sussie vir jou geword. Dit was Graad Een.

Ek hoop jy onthou hoe ek vir jou Bybel-stories moes lees. Daar was een aand, ek dink ons het van Josef se mooi kleed gelees, toe jy gang af gestorm het en eers met die swart mamaba onder die telefoontafeltjie gesels het, en toe vir Pa-hulle in die sitkamer gaan vertel het. Pa-hulle het groot geskrik, en die poging om die slang by te kom het al Mamma se African Violets op die stoep in die slag laat bly!

In  my Standerd Een jaar was ons as gesin saam op Komatipoort. Ek wonder of jy weet hoe naby aan dood jy was toe jy malaria gekry het? Hoe jy van koors gegil het dat ek jou wil doodmaak, en ek bang in die gang gebid het toe die dokter vir Mamma vertel jy gaan dit nie maak nie, en hoe die tannie gekom het met branspirituslappe en jou koors gebreek het.

Kan jy onthou toe jy pa se sigaretstompies op jou hurke gesit en rook het? Dit was by vriende se huis, en pa het vir een of ander rede stompies by die venster waar hy gesit het, uitgeskiet. Ma het jou op heterdaad betrap, en ek was in die spervuur oor ek nie gesê het wat jy aanvang nie.

Kan jy onthou toe ons fietse gekry het vir Kersfees en Mamma op my fiets vooruit gery het en ek op jou fiets agterna, eers wankelend en toe redelik gebalanseerd, maar toe vergeet ek om te draai en foeter in die haak-en-steekboom in. Die merke van daai dorings is nou nog op my kneukels te sien!

In Standerd Twee is ek terug koshuis toe.  Ons het weer in Swaziland gaan bly. Kan jy onthou hoe ek vir jou moes wegjaag oor jy kwaad was vir my geterg, en bo-oor die sementtrap by een huis gevlieg het en bo-op die afgesnyde bloekombome beland het en my knieë neerf-af geval het? Daar is nou nog ‘n Afrika-kaart onder my knie ingekerf.

Onthou jy ons Barbie-pophuis en al hulle mooi klere en skoene? Othou jy ons sandput? Hoe ons slae gekry het omdat ons saam met die bediende in haar kamer op ons hurke om die pappot  saam met haar bolletjies gemaak het en deur die lekker marog getrek het. Ma was baie vies dat ons gereken het haar kos was nie so lekker nie!

In Standerd Drie  sou ek nie meer alleen koshuis toe nie. Jy moes skool toe gaan, en ons moes Nelspruit toe ry om jou lang swart vlegsel af te sny. Want hoe sal ons nou in die koshuis jou oë sjinees getrek kry soos Ma en Ouma?  Flippit, Ma en jy en ek het getjank toe die haarkapper daai sker aan die bokant van jou vlegsel insteek. Het jy dit nog – die vlegsel?

En toe jou mooi kort kapsel net mooi lyk, hoor ons, ons gaan nie terug koshuis toe nie. Ons het Witrivier toe getrek en jy kon uit die huis skool begin.

Ek onthou hoe ek jou beny het omdat jy in Augustus verjaar. Hoe ek jou en die maatjies dopgehou het en jy kerse doodblaas. Ek het nooit so ‘n verjaardagpartytjie gekry nie, ek verjaar op Oujaar, daar was ander dinge om te doen.  Maar ons was lekker stout saam

Onthou jy ons pak slae oor ek jou leer swaai het aan die handoekreëling? Of toe jou wou weet hoe gooi mens op, en ek vertel jy druk net jou vinger in jou keël. Ons het daardie aand lettertjiesop gehad. Na jou braaksessie in die bad, het ons binne in die ABC-gesit!

Toe ons Goedgeloof toe trek en op Pelgrimsrus skoolgaan, kan jy onthou hoe die bestuurder, dink sy naam was Jackson, ons leer bussie bestuur het? Kan jy ook die swem in die dokter se swembad onthou en die kleilatspeel in die donga?  Kan jy die dag onthou toe jy moeg fietsgery was en ek jou geterg het dat die bobbejane ons gaan kom vang. Jou fiets se voorwielbuffer het my bokant my knie tot op die been oopgekap, en hoe ons altwee wit van die skrik huistoe is en ek pakslae gekry het oor ek gejok het oor hoe ek seergekry het, om jou bas te red?

Toe ons die eerste keer polestriën in die hande kry en jy teen waarsku in ‘n stuk op die donkie vir ons warmwater se vuurwarm blad neergegooi het, en ‘n stuk soos springmielies jou teen jou been getref het en vir jou liederlik gebrand het.

Dan is daar jou karretjies – die mooi tas wat Pappa vir jou gebou het. Daar was niemand wat ‘n versameling soos jy gehad het nie. Die seuntjies was groen. Ek onthou daai terras wat Pa agter die huis vir ons met klip en sement uitgemessel het, sodat daar paadjies was vir die karretjies!

Ag, en ons dagdrome in die boomhuis in die bloekomboom. Ons het darem groot speletjies kon speel. Die ou kar waarmee ons klomp kinders in die plantasie kon rondry. Daai dag wat die brandstof opgeraak het, en ons die bonnet vir vyf kilometer swoegend gedra het, omdat hy maklik verwyder kon word. Vergeet die battery en ander onderdele. Simpel kinder-redenasies wat ons goed laat sweet het!

Die swem in die kristalhelder poele – eie swembaddens oral op die plaas. Die soek vir paddastoele en al die dagdrome op die digte mat van die denneplantasievloer.  As jy so op jou rug lê en die son speld so deur die takke – magies. Die reuk van plantasies laat my vandag nog ons kindertyd onthou.

Hier het ons ook amper jou vir ‘n tweede keer verloor aan skarlakenkoors. Ag jy was so siek en swak. Ons het rou eier en vanilla met ‘n druppertjie in jou seer mondjie afgedrup, en jy het van pyn gehuil. Ag, een dag vra jy vir Mamma frikadelle – sy gaan maak vir jou en kom kamer toe, en jy kyk so met jou pap ogies: “Mamma, ek kan net ruik, ek kan nie sluk nie.” Hoe Mamma buite gaan huil het en ek en Pappa nie kon eet nie. Jy het ons baie laat skrik, veral ook as die asma jou blou om die mond gelaat het.

Kan jy onthou hoe jy vir Pa moedeloos gehad het in die Wimpy in Natal iewers. Hy het vooraf ons vertel van hamburgers en melkskommel en roomys en sjokoladesous.  Toe ons daardie oggend vroeg stop vir ontbyt het jy met jou pienktrui kierts op jou knieë op die rooi bankie gesit. Almal bestel koffie en ‘n broodjie, en jy: Roomys en sjokoldaesous. Pa was naderhand boos, en het jou badkamer toe gevat. Verniet. Jy hou voet by stuk. ‘n Ou tannie het haar vir pa vererg, hom goed ingesê en jy het op die ou einde jou roomys brekfis gekry!

Onthou jy ek is weer koshuis toe op Sabie vir twee jaar omdat ek moes hoërskool toe? Hoe bly ons was toe ons hoor Pa wil terug Swaziland toe, en ons kan by Oupa en Ouma op Kempstone bly!

Die ou oranje Fordjie en Ouma en ons twee, elke oggend en middag heen en weer. Hoe ons vir Tanna bewonder het met haar mini-minirokke. Hoe sy en Alan ons skou toe gevat het in ons Duffel jasse?

Hoe histeries ma was oor  die witmuis wat in ons skoenekas gebly het!

Die Vrydagaand flieks en danse by die “very English Social Club” in Piggs Peak. Onthou jy toe ons in die motor-ongeluk was – daardie oggend is my voet nog in gips gesit, en na die blikkieskos op ons koppe geval het, ek van die harsingskudding nie kon onthou nie.

Onthou hoe het ons getjank om Ouma en Oupa te los en saam met ma-hulle Kokstad toe te trek. Kan jy onthou hoe ons daar in die motorhuis vir ure gesit en papierpoppe teken en self klere ontwerp?

Daai dag wat die voordeurruite in duisend stukke gespat het omdat ek jou weer eens geterg het tot jy my met ‘n mes agternagesit het. Ek moes deur ‘n venster klim om weg te kom. Jy agterna. Toe ek die voordeur in jou gesig toeklap, en jy die deur skop en die ruite tuimel. JO, ek dink daai was my laaste pak slae – dit was Standerd Nege.

Kan jy onthou jy het my een aand met die bord op my gottabeetjie geslaan en my bord kos wat ma pas ingeskep het, het die kombuisvloer vol gespat. Ja, ons was maar moedswillig met mekaar ook. Maar ai, ons het avonture gehad.

En toe kom haal die dood kort agtermekaar ons ouers.

Ja my Sussie, jy was ook daar toe Pa dood is, ons was ook saam toe ma dood is. Ons het saam opgepak toe Oom Piet sorg oor jou afteken. Ek om ‘n huis vir ons te maak, en jy koshuis toe vir die eerste keer in jou lewe. Dit was ‘n onlekker tyd in ons twee se lewe, maar ons is daardeur. Blapse en foute en al. Ek was daar  toe jy en jou man begin uitgaan. Julle is uit my poging tot ‘n huis getroud.

Toe trek  ek weg, en van toe af is dit maar ‘n laslapverhouding. Jy tussen jou skoonmense vir die afgelope 37 jaar en ek tussen myne. Honderde kilometer uit mekaar.

Ek moes my aanvanklike huweliksfout oorleef.  Goddank vir Rots, vir wie ek 33 jaar gelede opdrag gegee het om my op te pas. Dié doen hy steeds met groot liefde. Julle het ‘n lewe uitgekap en vandag ouers van drie yslike manne. Rots en ek ouers van onse Bab.

Ek gaan die interessante en avontuurgevulde grootword jare met my swartkop sussie onthou vir wat dit is – goed en vol. Ek sal elke dag vir jou en jou manne bid, en ek sal vir jou lief wees – altyd. Ek is bly julle het ‘n mooi huis, goeie inkomste en dat julle almal gesond is.

Ek gaan nie derms uitryg oor ons huidige nie-bestaande verhouding nie. Ons het maar almal foute.  Jy moet maar op jou tyd jou woede hanteer en asseblief ophou om te oordeel. Dit kom nie vir een van ons toe nie. My gebed is dat ons nie eendag by grafte moet staan en krokodiltrane huil oor spyt nie.

Onthou die whatsappboodskap: Die Here gaan nie die ou vir wie jy kwaad is met ‘n slaanding bykom nie. Die Here sal nie namens jou so intree nie. Dis ons werk om mekaar te vergewe. Gaan dink mooi en trek peil oor wat werklik fout is.

Ek het vanoggend die piouterfeëtjie met haar blou vlerkies op my spieëltafel gevryf – ek bid jy het die virtuele drukkie gevoel. Ek hoop die pienk enetjie staan nog op jou spieëlkas.

Baie liefde

Jou Ousus, Rina.

 

 

 

 

 

 

Liewe Pa

dad

Op ‘n Vrydagaand bykans 41 jaar gelede is my pa op 42-jarige leeftyd in die middel van ‘n lagbui, aan ‘n hartaanval dood. Ek het by sy voete gesit en ons gesin het TV gekyk. Nadia Komanecji het nog so oor die perd gespring (Olimpiese spele 1976).

Behalwe dat ek graag, nou jare later na al die gemis en hartseer, ook soos hy die ewigheid wil in as ek kon kies, is daar lewensgeskenke wat hy in ons kort verhouding – ek was maar 16 – aan my gegee het. Daarom skryf ek vandag op Vadersdag vir hom:

Liewe Pa,

Dankie vir my erfenis.

Oor self: “Wees trots op wie jy is. Ons is nie ryk nie, ons het net ons goeie naam, daarom wees ‘n mens met integriteit, wees eerlik, wees lojaal. Laat jou ja, ja beteken en jou nee, nee”. Dankie Pa – dit het my net goed te staan gekom.

Oor werk:”Werk hard en doen altyd jou bes, dan sal niemand jou baas wees nie, al betaal iemand jou. Onthou die lewe is soos leer klim, weer en weer. Oral begin jy onder en klim tot bo, sportjie vir sportjie. Onthou net daar is meer as een leer”. Hehe, Pa, die het my ‘n moeilike werknemer, maar ‘n projekgerigde vasbyter gemaak. En dankie Pa, ons entrepreneur vir ‘n lewe omdat ons kan aanpas en leerklim.

Oor ons naaste en ander mense en kulture:” Doen goed waar jy kan, met wat jy kan. Respekteer waar ander vandaan kom. Plaas jou in hulle skoene. Leer van ander kulture.” Dankie Pa – die resep het altyd gewerk, en help my oorleef in ons Nuwe Suid-Afrika.

Oor lees, en kennis: My pa (en ma en ouma)het my leer lees voor skool – o, die wêrelde wat hulle daardeur vir my ontsluit het… Dankie Pappa-julle, dankie! Ek is belese en berese!

Oor verhoudings en seks:”Wees die groen papaja op die mark – jy sal iemand baie gelukkig maak.” Pa, ek het hier effe gestruikel, maar toe ek weer probeer het ek my sielemaat, lewensmaat, beste maat gekry – ons is 33 jaar getroud, en jy het ‘n kleindogter wat jou so trots sal maak.

Oor die lewe: ” Jou pad is soos ‘n wandeling op die strand, jou spore diep in die nat sand. Maar weet die gety kom in en wis dit uit. So loop met oorleg, so dat jy toe oë agteruit in jou uitgewiste tree kan terugstap.” Ek is dankbaar dat integriteit in my ingegrein is.

Oor geloof: Al het jy nie self gekerk nie, dankie vir saam bid, Bybelverse leer en my King James Kinderbybel op ses. Ek is steeds so lief vir ons Vader, Seun en Heilige Gees.

Dankie dat jy en Malat my die vreugde van gee geleer het. Om ‘n verskil sonder lawaai te maak in iemand anders se lewe is my monument aan julle voorbeeld.

Ek ontmoet jou daar by die Ewige woning wanneer dit so bestem is. Sê groete en liefde vir Malat ook. Ek is nie meer kwaad vir haar nie, net jammer. Ek het mooi probeer na my Sussie kyk na julle weg is en haar lewe saam met haar man en seuns is goed en mooi. Jy sou mal oor jou skoonseuns en kleinkinders (drie seuns van China en een meisiekind van my) gewees het.

Ek is in hierdie lewe nou al 18 jaar ouer as jy. Die wêreld draai nog om sy as, die seisoene kom en gaan. Ek is steeds betotterd oor die maan. Elke volmaan sal jy my buite kry, starend. Ek onthou hoe jy saam met my ‘n dikke plakboek gemaak het oor die maanlanding. Hoe ons daardie aand op die grasperk gelê het met die verkyker, nogal, want sê nou net Neil Armstrong waai vir ons.

Die Nieu-Seelandse Maoris speel nog steeds verwoed rugby. Onthou jy hoe ons die plakboek oor hulle gemaak het, en ek so mal oor Brian Williams was en jy my gewaarsku het om dit vir myself te hou, want hy is nie Europees nie? Pa sal nou so lekker lag oor mense se pretensie – al wat leef en beef is ge-Maori tattoe, en kleur maak al minder saak, al wil mense dit nie glo nie. ‘n Swart rugbyspeler het gister sy haters se bekke toegespeel. Ons Springbokke het gister mooi gemaak teen die Franse.

Wens Pa kon hoor hoe mooi die Drakensbergse Seunskoor die Volkslied gesing het. Onthou Pa hoe ons daar die Transkei al by die skool Nkosi SikeleliAfrika saam en die Stem gesing het, dies nou een lied vir ons hinkepinke land.

Ek het so baie om te vertel, maar ek wil nie die brief ‘n relaas maak nie.

Ek laaik om meer lewenservaring as jy te hê, maar ek laaik meer dat jy my ryk laat erf het en dat selfs in my ouer word, jou stem nog luid in my ore is, en ek deur jou beïnvloed, my pad deur hierdie aardse lewe loop.

Jy het nie hierdie skrywer leer ken nie. Maar ek weet ons sou ure oor sy wyshede kon gesels. Ek los dan hierdie daar buite vir jou:

“Long since, the desert wind wiped away our footprints 

in the sand. But at every second of my existence, 

I remember what happened, and you still walk 

in my dreams and in my reality. 

Thank you for having crossed my path.” ~Paulo Coelho

Liefde, Jou Oudste

NS. Luister net