Lekkervurige kaggelstories 1

Liewe Seegogga jy het gevra – nou vertel ek maar:

As enige persoon my aan die einde van 2011, my annus horribilis, sou vertel het dat ek vandag die lekker kaggeltannie van Poloniekwane en Limpopo sou wees, dan het ek  soos ‘n hiëna, my uitasem gelag.

Vroeg in  2012 kom Rots van Limpopo se wilde weste, daar naby die Botswana grens waar hy kunsmis smous, terug en vertel my ons gaan kaggels en braais verkoop. Ek is die duiwel in, want hoe kan hy sommer net so iets by ‘n braaivleisvuur aanvang sonder om met my te konsulteer en te praat? Hoe kan hy nou onse oudaggeld sommer so in 3mm staal omsit! Die aankoop van die kaggel- en braai agentskap het oorname van ‘n vrag voorraad behels.

Jinne, ek het my lewe deur vir ‘n baas en  ‘n begrotingsteiken gewerk. Rots wou aanvanklik dat ons  saam met die vorige eienaar in vennootskap gaan, maar die sou nie deug nie. Voor ek my oë uitvee is ons (lees ek) alleeneienaars. Jinne ek lees en leer soos blits van skoorstene, aspanne, dempers, weerhane, die wat draai en die wat vas is. Ek leer van venturi-plate en staaldikte en gasregulasies.

Ek gil en veg en baklei met verskaffers en ek byt op my tande wanneer kontrakteurs en veral Ingelse-, Indiër-, ryk geërfde Nasionalistiese Afrikanermans en nuwe tenderpreneurs die winkel instap en my soos Koekie Hol, die adminmeisie behandel. Kan nou nog nie glo hoe beterweterig mans kan raak as ‘n vrou bekwaam en geletterd oor braais en kaggels kan  raad gee nie.

Gelukkig het ek hier en daar my strepies verdien met weldeurdagte advies, goeie berekenings en die regte eenheid vir die regte redes. Die arrogantes het gelukkig verdwyn of hulle houding verander en ons reputasie vir uithaler diens, hulpvaardigheid, kundigheid,  en veral nasorg, het soos ‘n lekker vuurtjie versprei.

Ondersteuners en beïndruktes in die boubedryf, ‘n handvol argitekte wie nie hulle boumeesterskap as alfa en omega beskou nie en vele tevrede kliënte se aanbeveling hou nou al vir  amper sewe jaar die deure oop.

Die besluit om meer as een verskaffer se produkte te bemark, was een van die beste besluite ooit.  Dit bring stadsgoete hier na ons geweste, en is die moeite werd. Om te sien hoe verbaas iemand is om mooi en kwaliteit in die nywerheidsgebied van Poloniekwane te kry, en hulle hoef nie Gauteng toe te voeter om iets wat nuut en modern is, vir hulle droomhuis  aan te koop nie.

.Die foto’s hierbo is van my gunsteling kaggels: Die Nero Frame en die vrystaande Umlilo biobrandstofkaggels van Signi Fires, die Bogenan Gogh Slow Combustion dubbelkantige ingeboude kaggel van Heatwave en die lieflike Mary met rooi keramiek teëls van Palazzetti in Italië, en ook die betroubare BOgen Goya met roesrooi getooi van Heatwave se Bogen reeks.

Ek het onlangs my hysbak-toespraak verkort:  Ons maak dit ons besigheid om jou die regte vuur te help aansteek- We make it our business to help you light the right fire

Annerdag vertel ek van noodoproepe en mense wat nie die gebruikersgids en instruksies lees nie….

As jy wil weet hoe om die regte kaggel te kies – my heel eerste blog was daaroor:

https://lekkervurigeaffere.blog/2015/10/30/hoe-kies-ek-die-regte-kaggel-2/

Hoe kies ek die regte kaggel?

Dit is ‘n feit dat die Suid-Afrikaanse elektrisiteitskrisis ‘n aantal jare gaan duur. As teenvoeter  bied ‘n kaggel  die belofte van konstante, snoesige hitte en ‘n  ligbron deur selfs die ysigste koue en  beurtkrag donkerte!

Kaggelkoop is nie perdekoop nie.

Jou kaggel is nie ‘n elektriese apparaat wat met die klik van ‘n skakelaar sy funksie vervul nie. Dit is ‘n langtermynaankoop en deel van jou huishouding en leefstyl.

  • Dit gaan aandag en sorg vereis, maar sal op ‘n koue, donker aand aan die stoutste verwagtinge voldoen, omdat jy moeite gedoen het om die eenheid se funksionering en sy verhouding tot sy omgewing te verstaan .
  • Het die kaggel ‘n waarborg op die herd? Is daar installasie waarborge? Is onderdele en skoorsteenstukke vrylik beskikbaar?

 

Watter kaggel sal die beste by jou dekor en leefstyl pas?

As jy ‘n kaggel benodig wat heeldag op koue dae moet brand, is die stadige ontbranding of houtkaggel die beste keuse. Hierdie tipe kaggels is meer  ekonomies oor lang periodes, maar onthou dit is ‘n permanente installasie en daar is onderhoud aan verbonde.

Vir mense met beperkte ruimtes, professionele persone en stadsbewoners wat kits verhitting vereis of vir wie dit onprakties is om ‘n hout kaggel te installeer, is biobrandstof of gas ‘n ooglopende keuse. Biobrandstof en gaskaggels ’n kleiner hittekapasiteit teenoor groter houtkaggels wat groot areas met gemak verhit.

Daar is verskeie faktore wat die ideale kaggelgrootte vir jou  vertrek bepaal:

  • Estetika
  • Hitte benodig
  • Aantal vensters
  • Plafonne
  • Oop plan en/of dubbel volume
  • Buiten bekostigbaarheid en styl, moet huiseienaars ook die praktiese werking van elke tipe kaggel oorweeg.
  • Kan jy ‘n skoorsteen installeer? Indien nie – word die verskeidenheid kaggel opsies aansienlik kleiner.
  • Die grootte van die vertrek sal ‘n invloed hê op die tipe en grootte kaggel wat jy kies.

Hittekapasiteit

Kaggels se hittekapasiteit word uitgedruk in kilowatt hitte uitset (KW) of kubieke meter (m³). In tipiese Suid-Afrikaanse toestande, kan 1 KW ongeveer 20 kubieke meter verhit.  Hierdie waarde sal verminder in uiterse koue, soos onder vriespunt.

  • Bepaal die volume van die vertrek met die  formule lengte x breedte x hoogte byvoorbeeld: 4m x 5m x 3 m = 60 m³ (kubieke meter).
  • Indien die vertrek ‘n groot oop leef area (sit-, eet- en kuierkamer)is beskou die hele spasie as een vertrek.
  • Voeg 30m³by jou totaal om enige koue lug wat van aangrensende oop spasies na die hittebron sal stroom, te akkommodeer.(Sulke oop spasies is gewoonlik gange, oopplankombuise, ontvangsareas, trappe, dubbel volume dakke, ens.)

Ten slotte

Al het kaggels ten doel om verhitting te verskaf, doen almal dit nie gelykwaardig of op dieselfde wyse nie.

Sommige kaggels is ekonomies bekostigbaar en energie doeltreffend, en ander is makliker en skoner  om te gebruik.

Kies wys.

Sluit aan by ons Facebook familie en bly op hoogte van nuttig inligting en inspirasie:

https://www.facebook.com/heatwavepolokwane

Ander nuttige skakels:

www.lekkerfireplaces.co.za

www.heatwave.co.za

www.beautyfires.co.za

www.italianvibes.co.za