Hou links verby

Ek lees flussies die volgende raak:”Min mense gee werklik om, die res is net agies.” Dis harde, waar woorde. Die geveinsde belangstelling as daar ‘n storie is, ken baie  van ons alte goed.

Egskeiding, dood, siekte, skade, affairs, geweld, ongelukke, jou lotto meevaller en veral Ta Rapie se erfgeld laat vergete mense blitsig jou nommer onthou en skielik weer in jou handel en wandel belangstel.  Langverlore kennise is skielik in kontak. Familie met wie jy ‘n eon gelede laas gesels het, onthou skielik hoe om jou in die hande te kry.

Ek het ook al  self aan eie bas ervaar hoe, as jy met ‘n projek of in ‘n beroep presteer, daar twee goed gebeur en agies van verskillende foramaat tree na vore.

  • Eerstens is daar mense wat soos ‘n mot na ‘n kers, jou naby wil wees. Jou sukses laat hulle goed voel. Jaag enigsins aan of tree uit die kollig, dan is die mense ook terug in die skadus. Weg. Jy dink jy kan op mense reken, dan staan jy maar bedremmeld eenkant op jou eie. Vra maar die beroemdes wat soos Icarus neergeslaan het…
  • Tweede ding wat gebeur is die besef dat hoë bome lekker koel wind kan vang. Dis lekker daar bo, maar ai toggie net jammer van die aanhoudende, brandende, louwarm gepie grondlangs. Rerig irriterend, daais wat net misgun, wat nie self die moed het om voor te loop en te lei nie. Hulle wat jou nie rerig eers ken nie, maar beter weet. Pffft.

In alle geval, mens word gelukkig met tyd wys en versigtig.  Die min mense wat werklik tel is immers kwaliteitmense en lief vir jou al weet hulle alles van jou. Vrinne en familie met wie jy soos ‘n klein Gideonsbende die lewe op die ondermaanse deurtrap.

Agies hou links verby.

Vir my handvol liefiemense – ek laaik julle kwaai, dankie. Julle is pasgemaak vir my.

27173975_1659769564045736_6310413155767720424_o

 

 

 

Bogger die brug

26907123_10156279225881165_4570918290025142762_n

“Bou ‘n brug. Kom daar oor.”

Van die kakste raad wat ek al gekry het. Ek stem volmondig saam met Brené Brown. Ons is wat ons oorkom en ervaar. Daai ewige verwerk van die of daai slegte ervaring, en dan die vergeet daarvan, maak mens net meer broos en breekbaar. Nee man, al ons ervaringe – goed of sleg is deel van ons mondering. Dis die nerfaf dele op die knieg en geskifte kraag wat wys ons het gewaag om te lewe.

Ek hanteer enigeiets wat soos verwerping lyk of voel baie sleg. As Rots afkeurend begin moet en moenie, dan fok my brein links. Ek verloor my dun lagie opgevoede vernis soos blits. Kry so skaam oor die foutlyn.

Nou hy wat my Rots is is so rukkie gelede gesteel deur ‘n pyn in die nek. Die aanhoudende seer het hom van sy persoonlikheid – wat nogal sag van geaardheid is – beroof. In sy plek is ‘n bytende, redelose, vies ou. Ek weet nou hoe mense na 33 jaar hulle paai vat en waai. Die man wat ek liefhet is weg, en die nuwe ou en ek byt en blaf en knor. Tot die honde gee pad. Ons hantering van sy herstelproses is om die minste te sê ‘n fiasko, ‘n weghol bogger-op.  Daar is min medisyne wat help. Eetlepels geduld is nêrens te kry nie. Die apteker skud net sy kop. Dis nie in pille te kry nie.

Dis toe die bou ‘n brug raad weer oor my pad kom. Pffft.

Dank genade ek lees wonderlike goed raak. Onder andere dat al die mooiste tapiserieë maar oes lyk as jy hulle omdraai. Die afwerk en knope die is vernuftig aan die keersy weggebêre.  Ook is die treffendste weefsels, die met swart omlyning en skaduwee. As jy naby staan – sien jy die swart en gebrokenheid so maklik raak. Staan bietjie terug – dan sien jy hoe vol kleur en aksent jou prent goddelik geweef is.

Huidiglik is daar ‘n groot stuk skadu in my prentjie. Dis nie lekker nie, maar ek weet: weldra kom daar vrolike helder kleure aan die beurt. Sonskyn en skadu – dis die lewe. Ek gaan soos die laksman se prooi, my mooiste lied bly sing, al is dit eina.  Liewer soos die sonneblom my kop na die son draai en soos die Eet, Bid en Liefhê vrou, die uitnodiging aanvaar om uit die skadu te stap, na die vol sonskyn. As ek nie so maak nie, wen die skadu, en dis heeltemal ononderhandelbaar. Skadu en seer en skaafsels, die maak die sonskyn en goeie in my lewe net beter.

Ek gaan nie ‘n brug bou nie – ek gaan inspring en swem. Kom wat wil. En een van die dae is my eie manlief terug. Die stywenekgeit net ‘n proses wat ook sal verby.

Sela.

Tata Toto

toto1

Toto 2011

toto

Toto

Jou naam kom van ‘n Latynse woord wat volledig (“whole”) beteken en spruit uit die keffertjie van die beroemde “Wizard of Oz”-fliek. Daar is gespekuleer dat die fliek se Toto en Dorothy die fisiese en geestelike in die mensdom simboliseer het. Die arme hondjie wat Toto in die fliek gespeel is was nie geliefd nie, Salmon Rushdie het in sy boek oor die fliek bely in “I couldn’t stand Toto. I still can’t.” Toto is “that yapping hairpiece of a creature, that meddlesome rug!”

Dankie tog jy het net jou naam met die brakkie in gemeen! Jy wat op my voete saam met jou boetie, Oscar, slaap terwyl ek skrywe. Jy wat onder die beddegoed bly lê en ek verplig is om die bed bo-oor jou op te maak, jy wat my nie eens los om alleen badkamer toe te gaan nie. ‘n Ewige teenwoordigheid met net liefde in jou kraalogies.

Die afgelope tien jaar kry jy en jou boetie Oscar ons by die hek. Laf en vrolik. Elke middag hol Oscar voor die kar uit en jy duik windmaker die beddings in. Op soek na daai muis of voëltjie om te kan vang. Spoghans Toto.

Vir tien jaar, week in en uit sonder enige voorval was dit jou ritueel en ons verwagting. As ons stop en die deur gaan oop sou jy in die kar klouter en natbek soene uitdeel en dan wag dat ons afpak en die kar finaal intrek – jy ry saam tot in die motorhuis.

Vir wat moes jy altyd op die jag uit wees? Waarom moes daar gistermiddag wragtig na al die jare ‘n voëltjie uit die bedding opvlieg en jy agterna, onder die bakkie se wiele in?

Ag my stinkasempie, ek is so jammer. Wat ‘n ongeluk. Jy by deurhaal verby seergekry en ons harte vol hoekom en seer.

Ek troos my dat jy voluit vrolik geleef het tot daardie oomblik. Ek is jammer dat jou seer so groot was dat ons die veearts vir genade vir jou moes vra.

Gaan hol lekker en vry daar by die vir-altyd-tuin. Blaf liefdegroete vir Rufus, Seuntjie, Cindy, Mandy, Frikkie, Waaksaam. Julle het ons lewens ryk gemaak.

Jou mensma

Oppie stoep en innie tuin hoor ek Carpe Manana

Swallows 2108

My stoep is die afgelope paar jaar die broei adres van twee streepkransswaeltjie-gesinne. Hulle het elkeen ‘n nes, een al jare oud, die ander nou twee jaar. Die neste weerskante van waar ek graag sit en lees en mymer.

angry baby

Die outjies is al gewoond aan my en vlieg so laag oor my kop dat ek dit kan voel. Elke paartjie kom ingevlieg, die een paar land op die latwerk wat die hondehok en braaigoed uit my sig hou, en en die ander paar op die kerskandelare. So ewe kontant sit hulle en kwetter en kweel te mooi.

feeder

Die seisoen se kleintjies is gister die eerste keer uit die neste om te gaan vlieg. Ag watter asemsknakkende oomblikke het ek beleef toe die babas terug in die nes moes kom!

Daar is ‘n spesiale aanloop om by die neste in te kom en twee babas, moeg gevlieg en met veels te min spoed het op die keiserskroon geland,  dan teen die tuinhekkie. Hulle het so laag kom sit dat ek net kon bid het dat die hondekinders wegbly (wat darem gebeur het) Ag, julle moes hoor en sien hoe pa en ma Swawel praat en wys wat die kleintjies moet doen!

Ek het na binne gebid en gejuig en aangemoedig vir ‘n vale. Met groot geduld het die rakkers dit darem reggekry. Weet nie wie was meer verlig, ek of die ouers, nie!

landed.JPG

Dan is daar die kwikkies. Hulle domein is die palm by die swembad en daar is niks wat hulle daaglikse roetine vresteur nie. Heeldag marsjeer die twee om die swembad, dan op die plaveisel, ander kere op die grasperk.

kwik

Namiddag as die Kreepy sy kruip doen, sal hulle om die beurt so ewe op die bewende pyp klim. Laat my dink aan daai oefeninge wat jou so laat rittel en beef en skud. Sal nie weet wat vir die kleine lyfies so lekker is om die ritueel daagliks te voltooi nie!

021

Dan is daar die krans- en ander tuinduiwe en die mossies en die vinke en die wewers. Moenie vergeet van die juweelmooi suikerbekkies nie! Ag ek verkyk en verluister my.

O ja daar is ook tiptolle, glasogies, muisvoëls, kwêvoëls, patryse, hadida, uile snags en partye dae ‘n opportunistiese arend.

Ons het met groot lawaai die indringers mynas tot in die veld verjaag. My potdeksels is behoorlik geduikklop met staallepels, maar dis die moeite werd. Die ander tuinvoëls vlieg nie eens weg as ons raas nie! Ek sweer hulle weet dis hulle ter wille van dat ons so tekere gaan.

neshuismoles

Die bosveldvisvanger en sy maat regeer op die oomblik die agtertuin en wee jou as jy hulle terrein betree. Erger as die kiewtmammas in die veld gaan hulle tekere!

bird5

O en die lysters – gelvektes en die oranjebekke, hulle hop ook hier rond en sing darem ook alte mooi.

lyster2

Die voëls in ons tuine, singend uit volle bors en niks gekommer oor wat hule sal eet of drink nie, ek dink hulle vertel elke dag ons moet nie net Carpe Diem (Gryp vandag) nie , ons moet Carpe Manana(gryp more)!

carpe manana

 

 

Nuwe maan

Vader, Seun en Heilige Gees. In die begin was daar niks en U het gesê daar moet lig wees. Here ons kan net bakhand en leëhand staan. Hoe kan ons U liefde en grootheid peil? Dankie vir die nuwe jaar en super maan.