Lê-Jou-Eier Bloguitdaging: Kaleidoskoop Hoofstuk 2 Keuses

R200

Nou hou jy op met jou gegrens. Dink, dink.

Die woorde maal deur Nellie se kop waar sy in die pad sit en snik.

Dis frustrerend dat die verdomde bakkie twee kilometer van Petrusburg gaan staan en ‘n pap wiel kry. Dis byna sononder. Nellie wil nie dat iemand haar hier kry nie.

Wat het ek gedink om die reuse tas op wiele te gaps,  ek sal moet kyk of hier iets anders is om my klere in te pak.

Sy ruk die bakkie se deur oop, trek die sitplek vorentoe en begin vervaard daar rondkrap. Ou koerante, onoopgemaakte pos, en wag, daar is ‘n toksak. Sy kan haar verskoning vir ‘n klerekas daarin oprol. Dan kan die tas en sy ingevoerde inhoud ook sommer net daar bly. Van diefstal wil Nellie nie nou aangekla word nie. Sy moet hier weg, dis die doelwit.

Flippit, wat gaan sy met R500 vermag. ‘n Buskaartjie tot in Bloemfontein? Die gedagtes fladder rond terwyl sy die toksak uitskud.

Drie styfgerolde bondels tuimel grondwaarts. Fok. Dis rolle R200 note so groot soos ‘n man se vuis! Sy lek oor haar droë lippe loer rond of iemand haar en die vonds dophou. Vinnig buk sy om die geld op te tel.

Wie s’n sou dit wees? Wegsteekgeld van Oom Ezra, of Chris s’n? Miskien weet hulle nie eens hiervan nie! Nellie se hart klop vinnig. Sy moet nou hier wegkom.

Sy pluk die duur leertas oop en gooi Tant Krissie se Franse kant ondergoedjies en parfuum eenkant. Rol haar t-hemde en denims en onderklere vinnig op en prop dit in die sak. Dit kan oor haar skouer haak, en twee kilometer draf sy blitsig af.

Sy was darem die Senior landloopkampioen van die distrik Petrusburg. As sy gou maak, kan sy by die busterminus uitkom. Die is elke dag tot 19h00 oop en die daaglikse bus na Bloemfontein vertek kort na sluitingstyd.

Gou draf Nellie die ent dorp toe. Sy voel beter – al het sy die bakkie “geleen”, so ook die tas en onderklere – sal dit darem by die oorspronklike eienaars uitkom.

Sy draai van die teerpad by Kampstraat in, verby #LekkerKuier-gastehuis. ‘n Hond blaf net agter die heining en Nellie skrik. Sy draf met Pretoriusstraat op tot by die Poskantoor op die hoek by Mulderstraat.

Met haar groente- en eiergeld koop sy ‘n eenrigtingkaartjie. Sy besluit sy sal op Bloemfontein haar opsies verder oorweeg. Verder busry of vlieg. Die drie rolle note veilig onder in die toksak. Sy sal dit tel wanneer sy ‘n ordentlike oornagplek gekry het. Wat ‘n gelukskoot!

Sy sit met haar kop agteroorgeleun teen die sagte kopstut van die bussitplek. Haar arms styf om die sak gevou.

Vir jou laat ek nie een oomblik uit my sig nie, dink Nellie. Gou is die dorp se ligte klein flonkerings in die truspieël wat so skuins voor haar sigbaar is.

Die net meer as 80km na Bloemfontein snel verby en gou stop die bus by die Terminus in Parkstraat. Sy klim versigtig uit die bus, en kyk om haar rond. ‘n Minibus wat Airport aandui staan so entjie weg. Sy sien ‘n paar mense drentel soontoe, en besluit net daar sy gaan saam.

Dis net na 21h00 toe die taxi so entjie van Bram Fisher lughawe by die Road Lodge stop. ‘n Moegheid wat met pure verligting te make het, spoel oor Nellie. ‘n Bad, ‘n bed en veral privaatheid om die geld te tel, in die vooruitsig.

In die hotel se ontvangs, draai Nellie vinnig links om na die badkamers te gaan. Sy kan immers nie geld van die rol note daar ten aanskoue van almal by die ontvangstoonbank aftel nie!

Vinnig tel sy R1000 af en maak seker al drie rolle lê diep in die sak tussen haar klere. Sy bespreek in as Suné Davel, en handig die kontant vir die verblyf en ontbyt oor. Niemand vra haar identiteitsdokument nie.

In haar kamer gekom, gooi sy die inhoud van die toksak uit. Sy sit die geld onder die kopkussings van die groot dubbelbed. Eers bad en opvars, dan geld tel. Nee, eers kos bestel, dan die res.

Sy bel ontvangs en hulle lig haar in dat sy van ‘n buiteaflweringsdiens gebruik kan maak om kos te bestel, en daar is verversings in die yskas, waarvoor sy more-oggend kan betaal. Sy pluk die botteltjie wyn en ‘n pakkie Lays skyfies uit die yskasduer. Dit sal haar moet deursien tot die volgende oggend.

Na sy gaan stort het skink sy die wyn in die enigste drinkglas en gaan sit kruisbeen voor die kussings op die bed. Sy steek haar hand onder die kussing en haal die drie rolle note uit. Die rekkies word versigtig afgehaal en die note lê opgekrul om haar rond. Sy begin tel en pak die hopies van R2 000 om haar neer. Sy tel R59 000. So dit was R60 000 voor sy verblyfgeld uitgetel het.

Wie sou dit weggesteek het en hoekom. Is dit oomkoopgeld, wegsteek geld, wonder Nellie. Sy glimlag – dis wegloopgeld vir haar. Depsgeld. Die voorstorie wil sy nie van weet nie. ‘n Nuwe lewe gaan begin. Dis al.

Sy tel R9000 uit en sit dit in haar verslete beursie wat nou net kleingeld in het, bêre die rolle weer in die sak. Sy sal voorentoe meer spaarsaam moet wees. Vanaand se lekker veilig en skoon slaap en more se vliegtuig rit is vir haar ‘n belegging in die res van haar lewe.

Sy wens sy kon sommer haar naam verander na Suné Davel, die lugredery sal egter haar identiteitsdokument vereis. Nellie Visagie sal sy vir eers bly.

Vroegoggend skrik Nellie vervaard wakker. Half vreemd, tot sy onthou. Die pad na vryheid wink.

Gou is sy op en reg om lughawe toe te vertrek. Sy moet die eerste vlug waar ookal heen haal. Die hotel se pendelbussie is leeg so vroegoggend. Sy sit alleen agter en kyk hoe die son oor die winterveld opkom en wonder waarheen is die eerste vlug en hoe laat.

Nellie stap die terminaal binne en kyk na die vlugskedule. Haar hart klop in haaar keel to sy die Kulula toonbank nader. Daar is om 9h30 ‘n vlug na Kimberly en om 11h00 ‘n vlug na OR Tambo. Sy doen navraag. Daar is plek op albei. Kimberly is heeltemal te naby voel sy en die kaartjie is duurder as OR Tambo. So, dis Gauteng, Johannesburg, ‘n eenrigting kaartjie, haar vlug na vryheid.

Dis nog vroeg en Nellie besluit om by Bram Fischer Mugg’nBean te gaan ontbyt eet, ‘n bederf met bodemlose koffie. Sy koop ‘n koerant en sit en lees terwyl sy vir haar kos wag.

‘n Bekende stem trek haar aandag. Ag,fok. Dis Chris Viljee. Die Chris Viljee van Brakput, Petrusburg. Daar waar sy vandaan gevlug het. Daar waar sy die geld in die toksak gekry het. Hy praat luid, bombasties soos hy is, op sy selfoon. Almal staar na hom, en hy is onbewus dat sy gesprek ten aanhoor van almal om hom is.

Nellie duik agter die koerant in. Hoe nou gemaak om uit sy pad te bly. Sy luister na die gesprek wat na haar aangesweef kom.

“Die vliegtuig vertrek eers om 11h00 na OR Tambo. Ek sien jou later.”

Nellie se hart klop in haar keel. Sy bid woordeloos dat hy tog nie by die restaurant inloop nie. Verlig sien sy hoe hy op sy hempsak klap. Seker op soek na ‘n sigaret dink sy. Hy stap buitetoe.

Nellie vlieg uit haar stoel op en hol na die Kulula toonbank.

“Kan ek asseblief my kaartjie ruil vir ‘n vlug na Kimberley?”

U kan, daar is nog plek. U sal net moet inbetaal.”

Nellie glimlag styf en haal haar beursie uit.

Dis 09h00 en die hekke gaan oop sodat passasiers aanboord van die Kimberley vlug kan stap. Toe sy so halfpad oor die teer is, verbeel sy haar dat iemand na haar roep.

Sal sy omkyk of aanstryk? Keuses. Keuses.

________________________________________________________________________________________

Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.

InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

The post Bloguitdaging Kaleidoskoop – Die Laaste Strooi appeared first on Dis Ekke.

Skryf-safari: Skryf ‘n feeverhaal : ‘n Gewone lewe se sprokie

k6p7Qc

Daar was eendag ‘n dogtertjie. Sy was almal se hart se punt en sy was baie lief vir lees. Sommer gou was dit nie meer nodig vir haar Pappa en Mamma om vir haar stories te lees nie. Sy het dit vreeslik geniet om laat, lank na almal in die huis reeds geslaap het, sklempies met die flits onder die kombers te lees en dan die volgend oggend vaak-vaak deurgaan.

Haar wêreld was veilig en geborge en selfs haar oujongnooi groottante was lief. Sy het niks kortgekom nie. Na so paar jaar as enigste kind, is daar ‘n baba sussie gebore. Die wêreld het skielik nie net meer om Oudste se sit en staan gewentel nie. In haar hartjie het sulke klein krakies begin vorm. Een se naam was jaloesie, die ander alleenheid. Die baba-sussie was baie sieklik en Mamma en kleintjie moes dikwels weg na die hospitaal. Dan is Oudste maar na ouma of peetma se huis verpak.

Op sesjarig ouderdom het nog ‘n nuwe krakie het in Oudste se hart gevorm. Verwerping. Sien, Oudste moes koshuis toe. ‘n Bang kindjie in die koue koshuis, te klein om self haar bed op te maak, slegte kos en ‘n hartjie ineengekrimp van verlange na haar mamma en ouma en peetma se huise.  Die vreemdheid het gewyk en oudste het gou aan die koshuislewe gewoond geraak. Daar was darem ‘n biblioteek by die skool, kinderkrans en maats van haar eie ouderdom.

Maar Oudste se pappa was ‘n swerwer. Soos die jare verbygegaan het, het Oudste geleer om nie te innig vriendskappe te smee nie. Afskeid elke kort-kort was net te seer. Hulle het bykans elke tweede jaar na ‘n nuwe plek verhuis.

Toe Oudste in matriek is, gaan haar pappa dood. Haar mamma se hart is gebreek en sterf kort daarna. Sy het gedink die wêreld is ‘n wrede plek en haar hart toegeskulp, soveel so dat mense haar as hovaardig beskou het.

‘n Gladdegiel het haar egter verlei en na ‘n kortdstondige huwelik wat om al die verkeerde redes voltrek is, het Oudste alleen en gekneus weer haar staning in die wêreld probeer maak. Op haar eie.

Tot een goeie dag, waar sy maar met haar elke dag se bestaan besig was, verskyn hy! Haar siel se maat. Haar beste vriend. En die beloftes in die Bybel word vir haar waar.

”…soos die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, sal hulle een vlees wees. (Genesis 2:24, en herhaal in Matt 19:5; Mark 10:8; Efes 5:31) 

En Prediker:“Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk, 10want as hulle val, sal die een sy maat optel, maar wee die een wat alleen is wanneer hy val, want daar is niemand om hom op te tel nie. 11Meer nog, as twee bymekaar slaap, sal hulle warm kry, maar hoe kan een alleen warm wees? 12As een te sterk is vir hom, sal twee hom weerstaan en ’n driedubbele tou word nie gou gebreek nie.”

Gou is daar ‘n troue en ‘n paar jaar later word die fraaiste dogtertjie gebore.

Die einde

Naskrif:

Oudste en haar Rots en haar Bab leef al lank en gelukkig saam. Die tyd vir Bab se sprokie is nou aan’t kome.

Oudste kan vir Bab verseker dat sprokies nie altyd vlot verloop nie, maar as mens bly glo, kan die sprokie jou verras.   Jy kry nie nooodwendig die sprokieseinde wat jy wil hê of waaroor jy droom nie, maar dikwels is dit nie ‘n slegte ding nie.

Wat Oudste ook weet is dat geluk kan kom en gaan. In oomblikke, oogwinke kan alles verander.  Ware geluk lê egter nie in oomblikke nie. Nee, ware geluk ontstaan uit herhaaldelike keuses wat jou in jou leeftyd maak. 

Lees hoe mooi skrywe Stephanie Dowrick: “Happiness can come in a single moment. And in a single moment it can go again. But a single moment does not create it. Happiness is created through countless choices made and then made again throughout a lifetime. You are its host as well as its guest. You give it form, shape, individuality, texture, tone. And what it allows you to give can change your world. Happiness can be stillness. But it isn’t still. It wraps, enchants, heals, consoles, soothes, delights, calms, inspires and connects. It is on your face and in your body. It is in your life and being.”

 Oudste is steeds passievol oor lees en woorde. Bab ook. Wat ‘n seën.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Skryf-Safari….Trek jou stapskoene aan.

Veel berese Una se skryf-safari uitnodiging vra my om ‘n kronkelpaadjie die woud in te loop. Liewe Una, ek kan nie. My pad foeter links weg, ongebaan. Want ek is moeg van hierdie wêreld se reëls en rigting. Ek wil wegdraai. Daar waar ek kan asemhaal en volkome my siel te wees, sonder verpligting of vrees. Dis daar waar ek kan dink en droom en waar woorde magies in snoere ryg. Robert Frost vertel mooi.

Die plek waar ek ‘n holte vir my voet kry het baie boeke. Boeke waarbinne ek kan reis en reis. My kan verwonder hoe elke skryfsel uniek glinster soos geen juweel wat jy jou kan verbeel, onbevange. En miskien, kry ek my woordsnoere ook ingeryg, sodat ‘n ander woordsoeker weer sy plek deur my kan kry.

Coenie de Villiers verwoord die plek waarna my staptog lei tog so mooi:

Daar’s ‘n plek wat ek van weet
sonder sorge sonder pyn sonder leed
die pad daarheen is ongekaart
die reis daarheen is sonder vaart
en daar is rusplek langs die pad
die son se geel word jou sambreel
op jou reis tot waar die pad se vurk verdeel
die een se slingerspoor word dof
waar dit wegloop in die stof
maar die ander lei tot hier
want hier sal jy vind dat jy
steeds deur die oë van ‘n kind
die lewenspel speel
granate van onskuld kan deel
om weer vir ‘n oomblik
die kennis van kwaad te ontken
om weer te kan glo wat jy het in ‘n gawe van bo
daar’s ‘n winterlose oord
waar ‘n mens nog steeds die ure ongestoord
op die telraam van die tyd
sonder spyt of klein verwyt
soos seisoene af kan tel
knip jou deur se grendel dig
sluit jou vensters en jou luike teen die lig
pak jou drome vir die reis
jou hart sal jou die kronkels wys
om ongeskonde hier te kom
want hier sal jy vind dat jy
steeds deur die oë van ‘n kind
die lewenspel speel
granate van onskuld kan deel
om weer vir ‘n oomblik
die kennis van kwaad te ontken
om weer te kan glo wat jy het in ‘n gawe van bo
‘n gawe van bo
‘n gawe van bo

Hierdie week se uitdaging word aangebied deur travel460 van die blog Bali Drome.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=778471

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Lê-Jou-Eier: Skryf-Safari Skryf die storie klaar stem asseblief nou, en dankie

WomanAloneWithSuitcase1Nou  begin hierdie uitdaging se stemmery en sluit inskrywings. Vergun my as gasblogger om dankie te sê vir Hester Dis Ekke wat met elke Lê-Jou-Eier uitdaging ons klomp b(l)oggers se breine gebuig het en ons inkbloed laat bruis het. Griet ons het tot twee e-boeke, ‘n bende genaamd die Towerinne en vir Abrie en vir Klong. Hoe bevoorreg is ons nie.

My aandeel in ons skryf-safari was om ‘n halfklaarstorie voor te lê. Want my eerste poging se einde was lui, onafgerond. Onpubliseerbaar. Danksy mede-bloggers se deelname is daar nou Tannie Frannie, Kameel, Toortsie, Una, Hester, Lewies en Lekkervurig-ekke is daar nou sewe wonderlike weergawes van Betyds.

Elke storie weerspieël sekerlik belewenisse en waarnemings van elkeen van ons. Dit was my gewaarwording met elke oorlees van Betyds. Dankie dat julle saamlees en saam skryf.

STEM NOU 

Die stemmery is nou oop sodat Betyds se gewildste weergawe aangewys kan word en daai spogregte al is wat gewen kan word.

InLinkz gaan die stemmery vir ons elektronies hanteer. Hier is hoe die stemmery werk

  1. Vanaf 12:00 Woensdag 2 Mei 2018 , kan jy op Inlinkz gaan stem vir die Betyds waarvan jy die meeste hou. Lesers kry net 24 uur om te stem, vanaf 12:00 Woensdag tot 12:00 Donderdag. Elke leser met ‘n unieke IP adres kry drie stemme. Die “stemlokaal” (😜) is oop vir almal wat die blogs lees, nie net vir die deelnemers nie; maak dus seker dat vriende en familie kennis dra van die kompetisie – bemark en wen stemme! STEM SO: Op die thumbnail van die inskrywing waarvoor jy wil stem, sal daar ‘n grys hartjie wys. Om te stem, klik op die hartjie, wat dan sal rooi word. Stem net een keer per inskrywing, maar onthou jy het drie stemme, wat beteken jy kan vir drie inskrywings stem. Ek is seker InLinkz sal jou toelaat om vir jou eie inskrywing te stem. Belangrik: Let daarop dat elke IP adres net drie stemme mag uitbring.
  2. Op Donderdag, 3 Mei 2018 na 12:00 wanneer die kompetisie gesluit het, sal die drie inskrywings wat die meeste stemme gekry het deur InLinkz vertoon word – julle sal die aantal stemme vir elkeen van daardie drie inskrywings onder die thumbnails kan sien
  3. Gaan stem  hier     http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

 

 

 

 

Lê-Jou-Eier: Skryf-Safari Skryf die storie klaar

WomanAloneWithSuitcase1

Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien…

****

Mevrou Minnaar. Saar, Saar!”

Iemand roep na haar, sy hoor ‘n aanhoudende gebiep . Wat gaan aan? Skielik skyn ‘n lig in haar oë.

“Waar is ek? My kop is seer. Braam?”

Stadig lig newels om haar, en sy sien Braampie en Dr Hans hier by haar. Braampie hou haar hande in syne vas.

“Mamma is terug”, sy stem skor en oë vol trane.

“Moos, waar is Moos?” Saar se oë flits deur die vertrek.

Braampie klem haar hande stywer vas.

“Ma, onthou jy nie? Moos is al jare oorlede.”

“Nee man, ek en Moos was op die donkie kar onder die doringboom. Toe kom jou pa….”

Sy raak vir ‘n oomblik stil en skielik kom die nagmerrie herinneringe terug. Sy en Braam was in die groentetuin toe drie jong seuns uit die veld aangestap kom.

“Ons soek werk,” vra hulle.

Toe Braam verduidelik daar is niks, stamp die een met die krapmerke oor sy wange hom ru teen die grond.

Braam gil: “Saartjie hardloop!”

Saar vlieg om en so vinnig as wat haar middeljarige knieë kan, hardloop sy kombuisdeur toe. “Here, is dit hoe die laaste oomblikke voel?”

Sy hoor twee skote klap. Angs stoot in haar keel op. Hulle vang haar net voor die veiligheidshek.

“Waar is die geld!” Houe reën op haar neer. Haar kop stamp hard teen die gangmuur. ‘n Yster kloof haar voorkop oop. Sy kry nie asem nie. Iemand wurg haar. Hulle skop en skel. “Praat, jou teef. Vandag vrek jy!” Saar voel die bloed in haar ore pols. “Here, laat dit net stop.”

Sy onthou van die paniekknoppie in haar broeksak. Net voor die swart newels haar toevou, kry sy die knoppie gedruk.

Die onthou maak haar beangs, sy kry skaars die woorde uit:”Waar is jou pa, waar is my man? Hulle het hom geskiet. Ek onthou,” Saar se mond is kurkdroog en haar oë is vraend op haar seun gerig.

“Hy lê in intensief, Mamma, ons was net betyds. Een skoot is deur sy skouer en die ander het sy bo-been getref. Hy het baie bloed verloor. As Ma nie daai panieknoppie gedruk het nie….ek wil nie eens dink nie. Ek was by die boonste dam toe die selfoon lui. Die sekerheidsmaatskappy kon Ma nie in die hande kry na hulle die panieksein ontvang het nie. Dit was die langste rit in my lewe. Om julle so stukkend en seergemaak daar op die werf te kry. Ek gaan lank sukkel om dit uit my kop te kry. Die belhamels is net buite die buurplaas se ingang aangekeer. Het so ewe die pad afgedrentel om nie aandag te trek nie, een het pa se leerbaadjie aangehad…Ma, jy was vir drie dae weg.”

Saar maak hom stil. “Ek was nie weg nie, my kind. Ek was op pad weg, toe keer Moos vir my. Net betyds.”

 

______________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).