Tata Toto

toto1

Toto 2011

toto

Toto

Jou naam kom van ‘n Latynse woord wat volledig (“whole”) beteken en spruit uit die keffertjie van die beroemde “Wizard of Oz”-fliek. Daar is gespekuleer dat die fliek se Toto en Dorothy die fisiese en geestelike in die mensdom simboliseer het. Die arme hondjie wat Toto in die fliek gespeel is was nie geliefd nie, Salmon Rushdie het in sy boek oor die fliek bely in “I couldn’t stand Toto. I still can’t.” Toto is “that yapping hairpiece of a creature, that meddlesome rug!”

Dankie tog jy het net jou naam met die brakkie in gemeen! Jy wat op my voete saam met jou boetie, Oscar, slaap terwyl ek skrywe. Jy wat onder die beddegoed bly lê en ek verplig is om die bed bo-oor jou op te maak, jy wat my nie eens los om alleen badkamer toe te gaan nie. ‘n Ewige teenwoordigheid met net liefde in jou kraalogies.

Die afgelope tien jaar kry jy en jou boetie Oscar ons by die hek. Laf en vrolik. Elke middag hol Oscar voor die kar uit en jy duik windmaker die beddings in. Op soek na daai muis of voëltjie om te kan vang. Spoghans Toto.

Vir tien jaar, week in en uit sonder enige voorval was dit jou ritueel en ons verwagting. As ons stop en die deur gaan oop sou jy in die kar klouter en natbek soene uitdeel en dan wag dat ons afpak en die kar finaal intrek – jy ry saam tot in die motorhuis.

Vir wat moes jy altyd op die jag uit wees? Waarom moes daar gistermiddag wragtig na al die jare ‘n voëltjie uit die bedding opvlieg en jy agterna, onder die bakkie se wiele in?

Ag my stinkasempie, ek is so jammer. Wat ‘n ongeluk. Jy by deurhaal verby seergekry en ons harte vol hoekom en seer.

Ek troos my dat jy voluit vrolik geleef het tot daardie oomblik. Ek is jammer dat jou seer so groot was dat ons die veearts vir genade vir jou moes vra.

Gaan hol lekker en vry daar by die vir-altyd-tuin. Blaf liefdegroete vir Rufus, Seuntjie, Cindy, Mandy, Frikkie, Waaksaam. Julle het ons lewens ryk gemaak.

Jou mensma

Ek huil vandag oor jou Biebs

Nokia Erna 142

Dis vandag ses jaar Biebs. Ses jaar gelede het ek jou by jou mooi huisie in Bosveldpark kom oplaai. Viets uitgevat in jou mooi ligpienk langbroekpak en pêrels om die nek en aan die ore, jou lippe ligpienk en die grys haredos mooi en blink. Jy het self jou huis gesluit, rustig in ons vuurwa geklim, kierie opgevou en ons pepermente en kaasstrooitjies vir my, het jy tussen die sitplekke uitgepak. Selfvoldaan jou hande op jou skoot gevou en vir my so skuins gekyk. “Kom ons ry.”

Ai my liefste Biebs, ek wens ons het die rit nie gemaak nie. Dit was 28 November 2011. Ons het gery dat die slim dokters wat jou met jou slukprobleme gehelp het, ‘n eksperimentele stent kon verwyder. Min het ons geweet dat alles, van die sekonde dat jy uit jou huis gestap het, die laaste van ‘n string dinge sou wees.

Jy sou nooit weer huistoe kom nie, jy sou nie Kersfees en Nuwejaar saam met ons wees nie.  Dis miskien goed so, want ons het alles voluit gedoen, ek en jy. Half het nie gewerk nie. Dit sou jou ondergang beteken het om ‘n halwe lewe te lei.

Ek onthou soos gister hoe jy moedig probeer eet het. Hoe jy rustig verklee het in die dagsaal, want ons is mos nou-nou klaar. Ek onthou die verslaenheid en seer toe die dokters kom sê hulle kan die stent nie verwyder nie, hy is vasgegroei. Onverklaarbaar. (Maar Biebs, jy het miskien vermoed…daar was verdunde peroksied in jou yskas, maar ek kan nie bewys dat dit die vinnige vergroeiing en verstrengel van jou slukdermwandvlies in die stent in veroorsaak het nie.)

Die vriendelike dokter het sy chirurgvriend aan ons voorgestel. “Tannie, ons sal moet opereer. Ek kan nie sê dit gaan ‘n sukses wees nie. Daar kan drastiese gevolge wees.” Biebs, jy het kalm vir hom gekyk, en toestemming gegee om te probeer red wat te redde is. Kersfees lê voor en daar is planne.

Ek is ewig dankbaar dat ek jou in die rolstoel vir jou laaste koppie tee geneem het, dat jy die Beeld rustig geblaai het en dat ons om die hospitaal gaan stap het, en jy vir oulaas my plantkennis probeer uitbrei het.

Ag Biebs, al die laastes tablo gereeld as ek so na jou verlang.

Toe die gordelroos jou daardie Februarie van 2011 platslaan en jy ylend van die koors nie weet wie ek is nie, en my met jou ma verwar, het ek jou belowe ek sal jou nie versaak nie. Naomi en Rut het Rots vir ons gespot. Skoonma en skoondogter was ons lankal nie meer nie. Jy het my langer geken as my geboortema!

Daar het die laastes begin – Ma-dag, verjaardag saam met jou kroos, jou suster se verjaardag. Ag sal ek daardie rit vergeet. Ons is skaars op die pad toe jy so naar word, en ek baklei en wil omdraai. Hoe koppig jy was en hoe ons ‘n halfuur langs die pad gesit het, albei gewip en jy my dreig dat jy een van die seuns sal bel om jou te vat as ek nie gaan nie. Hoe ons maar net voor Pretoria-Noord lipstiek opgekikker het en met stywenekkies die kuier gaan kuier of niks makeer.

Ek mis jou spesiale liefde – oral in die koskaste en yskaste was daar lekkerte vir al jou seuns, kleinkinders en jou skoondogters. Jy het geweet wat elkeen se kinderhart verbly. Ek sal nooit die tuppertjie met die gestoofde perskes voor regs in die yskas vergeet nie. Jy het so goed geweet ek skaai so in die verbygaan ene!

Ek mis om saam met jou op die stoep tee te drink, om saam met jou oor ‘n boek te gesels. Deksels, ek mis tot ons koppe stamp.

Ek luister musiek en sweer jy en Maxie sit op die dak en saam luister. Dit maak my hart warm.

Dis vandag wat die engele jou kom haal het. Ek onthou toe jy my die aand voor jy weg is gevra het om Psalm 23 vir jou te lees, hoe jy jou wang vir my gehou het en toe vir my gewys het ek moet gaan slaap.

Vanoggend sesuur is dit ses jaar gelede en hoor ek weer die selfoon lui, hoor hoe die suster sê ek moet gou maak. Maar jy was reeds weg Biebs. Hulle het my vertel jy wou nie dat ons in die nag gepla word nie.

Immer met jou kinders se beste belange besig, self na jou dood:

“Liewe kinders en kleinkinders. Die heel belangrikste ek kan julle almal nie genoeg bedank vir julle liefde, hulp, bedagsaamheid en ondersteuning na Pappa se dood nie. Sonder julle kinders se by-stand sou ek nie kon staande bly en aangaan nie. Ek sê net elke dag dankie vir ons Hemelse Vader vir al die onverdiende gunste en gawes wat ek kan geniet. Baie liefde Mamma, Ouma Biebs.”

(Brief aan haar testament vasgeheg en reeds in 2004 geskryf.)

Met al jou kinders gaan dit goed. Ouboet het amper by jou uitgekom, ‘n dom bestuurder het ‘n u-draai gemaak…maar jy weet hy herstel goed. Jou kleinkinders is almal hard aan die woeker en werk, jou agterkleinkinders is die fraaiste en ek reken ons het ‘n sportster in ons midde.

Ek mis jou vreeslik vandag. My oë se krane is gebreek.

Nokia Erna 161.jpg

 

Meer as ‘n swart t-hemp dra is nodig

Nou wat hierna volg, gaan my seker ‘n klomp aanhangers en vriende kos. As mens moet, dan moet jy.

Blogland en Vuisboek is vol swart plakkers. Ons moet nou swart dra om ons boere teen plaasmoorde te help en ook om dit te voorkom. Ek het nooit geweet hoe plakkers en t-hemde sulke goed voorkom nie.

Onthou jy daardie foto van daardie kind wat sit, hopeloos van hongerte uitgeteer, en die aasvoël wat sit en wag dat die kind moet doodgaan – kitskos. Julle ken mos daai foto? Of nie:

The vulture and the little girl(The vulture and the little girl is a noted photograph by Kevin Carter which was sold to and appeared (for the first time) in The New York Times on 26 March 1993. It is a photograph of a frail famine-stricken girl collapsed in the foreground with a vulture eyeing her from nearby. She was reported to be attempting to reach a United Nations feeding center in Ayod, South Sudan sometime in March 1993)

Verbeel jou iewers in ‘n regeringsagterkamer is ‘n langtermynplan bewimpel wat soos volg lyk: Ons is nou die arme so arm as moontlik. Hoe hongerder almal raak, hoe minder is lewens werd. Ons raak ontslae van hordes mense deur hongersnood te bewerkstellig en waterbronne nie te versorg nie. Dan kan ons land in die nabye toekoms heel moontlik soos iets uit Deon Meyer se Koors lyk, of soos die foto.

Sê nou, in hierdie dae van korrupsie, magbeheptheid en anargie, die langtermynspel van ons regering se gierigaards is, om soos in tye van ouds tydens die Ierse Aartappel hongersnood en ook die Bengaalse Rys hongersnood (hulle is dood van honger terwyl hulle rys moes oes), kos en water min genoeg te maak om van ‘n grootte gros van die bevolking – lees die armstes van die armes – ontslae te raak. Rykes en rykdom bly versorg agter heinings en beskut deur veiligheidswagt en die massas in landelike gebiede sit en vergaan van die honger. ‘n Oorlog oor honger en waterskaarste. Dit maak my bang en ek dink nie dit is die raamwerk vir ‘n distopiese roman wat ek beskryf nie. Eendag is nou-nou.

Dit is maklik om oortuig te wees van ‘n sinistere plan met die moorde oral. Destabilisering van die landbou beteken mense gaan honger raak in die toekoms. Minder, duurder kos ons voorland. Oor die onbekwame bestuur van hulpbronne, veral water, wil ek nie eers uitwy nie. Maar ek weet darem nie – kan sulke bose planne gesmee word as al wat op die agenda selfverryking en eiebelang is? Het hulle tyd om sulke goed uit te dink?

Die warrel denke begin toe gister met ‘n betraande Vuisboek video van ‘n vriend van die vermoorde Klapmuts boer. Al dra jy net ‘n swart t-hemp, pleit die stukkende man. Ek sluk swaar aan die knop in my keel, en deel sy dankbaarheid om ‘n nuwe dag saam met geliefdes te geniet. Die Jordaan gesin van Klapmuts sal egter nooit weer die voorreg hê nie.

Oral is foto’s van die verslae seun wat sy ma omhels, die bloedige gang. Ons almal kyk – nes die bleddie bloeddorstige Romeine. My binneste brand rooi van ergerlikheid. Hier op ons buurdorp is ‘n 81-jarige vrou gister in haar aftreeoord woonstel vermoor. ‘n Jong 21-jarige wildsplaasbestuurder is koelbloedig afgemaai.

Ek weet ons voel oorweldig. Maar wragtig wat gaan ‘n t-hemp verskil maak? Ons moet kers opsteek by die vryheidsvegters van weleer – hulle het in massa die land tot stilstand gebring. Nie Miljoene op ‘n keer nie, wel groepe oral.

As elke Landbou-unie se lede elke dorp se hoofstraat betrek saam met dorpsmense en strate vol parkeer en al die tannies en kinders trek dan ook swart t-hemde aan en toi-toi en op elke dorp word ‘n memorandum aan die plaaslike polisiehoof oorhandig, en ons raas en lawaai vir so ruk daarna en gee hulle dan ‘n redelike kans om ‘n plan te maak, en as hulle nie iets doen nie, dan maak ons almal weer so. Ons moet petisie, ons moet saam staan. Ons moet saam….ons moet….saam. Maar ons weet nie hoe nie. (Lees naskrif hieronder ivm Maandag 30 Oktober se swart t-hemde…..)

Dis ‘n toekomsvisie van die onmoontlike soort. Ons ken nie van saam staan nie. Sosiale media is soos ‘n sus-jou-gewete-beeldpoets-pleistertjie vir jouself, om ander te wys jy gee om. ‘n Swart t-hemp gaan nie hierdie distopiese toekomsblik verhoed of omkeer nie. Vuisboek profiele en t-hemde om bewussyn te skep, daai vlieër se stert is af. Hy sal nimmer vlieg. Om smse en whatsapps rond te stuur – hou net die netwerke ryk, dit gaan nie een lewe red nie. Fokkit, rol liewer jou moue op en reël ‘n toi-toi of massavergadering. Gaan skreeu op die burgemeester of iets.

Oor bid wil ek nie praat nie, oor hulp van buite….pffft! Oukei, ek sal kalmeer. Kom ons luister eerder na die stemme van rede.

Ons moet eerder saam met Susan Coetzer so maak: “Daarom plaas ek my hande op my hart en vra ek Hom om my steeds ‘n sagte hart van vlees te gee om oral waar ek gaan nuwe vriendskappe te probeer inisieer oor die gapings. Om brue van hoop te bou. Om Sy Naam ontwil. As jy nie ‘n standvastige leier met integriteit ken nie, word jy dan een in jou klein invloedsfeer. Elke bietjie lig help. Ons het baie meer goddelike leiers nodig om saam ‘n nuwe hart vir hierdie land te vorm.”

Ook stem ek met hierdie saam: “What is really required is people willing to stand up for what they know to be right, backed up by evidence, and more importantly, a sense of right and wrong. People willing to go into their communities (luckily, South Africans tend to be social people) and stand up for the individual. I can make no guarantees that we will ever achieve true freedom here but I know for a fact that if we all stand on the sidelines waiting for someone to do the work for us, the battle is already lost. So, stand up for liberty, in your workplaces, your social circles and your schools. The information is out there, particularly, I’ve found FEE useful for getting ideas about the effects of government policy on economic liberties, the Mises Institute is my go-to for public domain digital material on classical liberalism and liberty, and the FMF is where you can get detailed discussions on issues of liberty in the SA context.” – Mpiyakhe Dhlamini

Daar is reeds in Graaff-Reinet ‘n aksie aan die gang om ons slapende polisie wakker te skud…maar dis een gemeenskap.

https://www.graaffreinetadvertiser.com/News/Article/General/concerned-residents-hand-over-petition-20171025

NS. Kersie op die skuinskoek van stukkende Suid-Afrika – ‘n Whatsapp boodskap doen die rondte dat “Miskien het hy dit uit onkunde gedoen, maar ons moenie vir die swart t-hemp man luister nie! Dis Halloween op 31 Oktober – die swart t-hemp ding gaan ons almal duiwelsaanbidders maak. F.. my pienk. Rêrig? Ernstig?

Luister maar na ander stemme – en kry daai blink gedagte wat ons nou drasties kortkom om werklik iets in ons mooi land te laat verander….

Fado

fado

Ek het vandag ‘n eina hart. My gemoed is seer. Wens ek was Portugees. Dan kon ek ‘n fado sing.

‘n Fado deur ‘n man gesing is gewoonlik oor die swarigheid van die lewe, die stand van politiek, sy verlore liefde. Ek sal maar soos een aantrek om ook so te kan sing. (Ek het hoeka eerder saam met die seuns alt nader aan tenoor gesing in sangklas)

Ek sal so diep van binne my siel die seer ophaal, en elke letter sal met trane en bloed bedruip wees. Want net so min as die Portugese sanger met sy hartseer sy wêreld kan verander, net so min kan ek verander aan dit wat my so beswaard laat voel.

Die wete dat die vieslik, verbale raasbekke na links en na regs in Suid-Afrika regkry dat die meetse van ons alweer soos skape wat vir die wolf skrik, op ‘n bondel gejaag word en ineen krimp van angstigheid en kommer – dit maak my binnekant swaar en seer. Die wete dat ‘n toebek is ‘n heelbek, maak my seerkwaad.

Rêrig, ek wil nie so leef nie.

Weet nie van jou nie.

Ek skryf dan maar ‘n Afrikaanse fado.

Wat sal jou gelukkig maak?

Jy is so kwaad

Jy bly so aanhoudend ontevrede

Elke dag is daar nuwe rede vir jou woede

en alles, alles begin en eindig by my.

My ligte vel

My on-Afrika herkoms

Ek het nie gevra om hier te land nie

Ek verstaan net so min soos jy

Vertel vir my

Wat wil jy van my hê

Suid-Afrika – wat wil jy van my hê?

Wat is die antwoord.

As ek voor jou kom staan – wat is die antwoord wat jy sal gee?

Dit maak so seer – want ek weet

jy weet ook nie.

Kolonialisme

Kapitalisme

Afrikanisme

Snobisme

Sinisme

Watter isme, watter isme?

Waarom is jy nie lief vir my

Wat moet ek gee, wat moet ek doen

Dat hierdie seer einde kry?

Nee, ou Lekkervurig, dié  klink soos ‘n Jermiade… luister eerder die  onverstaanbare Fado Da Saudade – Sielslied van verlange:

 

Die vrou fado net so snikkend mooi…..

 

“Although taking many forms, as it is sung differently in Porto, Coimbra and Lisbon, the Fado is, by self-earned right, the very expression of the Portuguese soul.

In Lisbon and Porto we can find the sung Fado (Fado Cantado) in the oldest parts of the city, in the taverns or Fado houses. They are small, old, with cold walls, decorated with the symbols of this form of song in these two cities: the black shawl and the portuguese guitar.

The man that sings Fado usually does it in a black suit. He sings his love affairs, his city, the miseries of life, criticizes society and the politicians. He often talks about the bullfighting’s, the horses, the old days and the people already dead, and talks, almost every time, of “saudade” (longing).

But where did the word Fado came from? It came from the Latin fatum, which means fate, the inexorable destiny that nothing can change. That is why Fado is usually so melancholic, so sad: as it sings that part of destiny that was opposite to the wishes of its owner. The woman sings always in black, with a mournful voice, and usually with a shawl on her shoulders. She sings the love and death: the death from the loss of love, the love lost to death…

This way of singing shows, in a certain way, the spirit of the Portuguese people: the believe in destiny as something that overwhelms them and to which they can’t escape, the domination of the soul and heart over reason, that leads to acts of passion and despair, and reveal such a black and beautiful sorrow.”

Lees meer hier:

http://www.lisbon-guide.info/about/fado

https://en.wikipedia.org/wiki/Fado