Menopouselappie. Die volle verhaal.

Om perspektief te bied op my lukrake verwysings na my menopouselappie, moet ek eers ‘n voorstorie vertel.

Rots het, toe ons besluit om vir botter of vir wors voor kerk en kring trou aan mekaar te beloof, hardop gewens vir ‘n dogtertjie, want sien hy kom uit ‘n huis van vier orrelpypie boeties. Twee jaar na ons troue kom die Bab ons lewe binne. Ek was baie bly vir die fraaie, nuuskierige en bekkige mensie, en het so eenkant gehoop om ‘n ou seuntjie ook in hierdie kring in te bring. Die hoop het beskaam.

Laat 1990’s beleef ek fisiese trauma.Endometriose is gediagnoseer, en die ginekeloog verduidelik die gevolge. Daar word besluit op ‘n historektomie, gedeeltelik. Want ek is pas veertig, te vroeg vir hittegloede en snorbaarde… Een ou eierstokkie sal hormone ter wille daar iewers in my binneste gelos word. Ag siestog. Ek het nogal jammer vir die halfmas in my lyf gevoel. So eenkant en net vir my oorlewing vorentoe.

Ek was op ‘n besige plek in my lewe. My werk as ‘n NRO bestuurder en amptelike bedelaar vir ‘n goeie saak amper meer as ‘n kind in my lewe. Ek onthou hoe, tydens my herstel, toe ek opdrag gege is om lam in my elmboë te bly, die telefoon nooit ophou lui het nie, en ek by die rekenaar gesit het om begrotings te laat klop, tot my gesin se ontsteltenis. My kollegas het ook nie ‘n ruiker gestuur nie, maar sulke gevogeltes in keramiek… gelukkig was dit nie kaktusse nie. Hehe. Die goete sit op die uitstalkas in my eetkamer. Ek is maar so onthouerig.

Na ses weke, gaan ek vir die opvolg ondersoek. Die dokter kyk en um en ah. Hy praat nie baie nie. Ek ook nie. Hy skryf so op die voorskrifpapier en stoot sy resep so oor die lessenaar. Premarin, hormoonaanvulling.

Ek sit so stil verstom vir ‘n eeulange sekonde. “Wanneer is daar toetse gedoen vir die nodigheid vir die aanvulling,” vra ek.

“Wat bedoel jy,” sê die arts.

“Weet jy hoe word die pille gemaak,” vra ek vererg. Net die vorige week het ek op die Teevee gesien hoe perdmerries in state van aborsie gehou word om die perfekte hormoonvervanging te maak.

“Nee dokter, ek het dan ‘n eierstok om die goed aan die gang te hou…”

Dit is soos daai oomblik in die Wilde Weste wanneer die twee ouens so na hulle gewere reik. Hy jaag my uit die spreekkamer en vertel my of ek weet hoe lank hy studeer het.

Ek, ek vra hom of hy baas van my lyf en gewete is. “En dokter, jy lyk vreeslik soos jou werk,” snou ek hom toe met die uitstap. Die voorskrif bly lê op die lessenaar.

Ek neem ‘n wilsbesluit dat as my kaalvoet oor die Drakensberge voorsate sonder hulp deur oorgsngsjare kon oorleef, ek geneties ook toegerus is om die pad te loop.

Vir ‘n aantal jare leef ek skotvry. Verander van werk, terug joernalistiek toe. En toe. Ek word gekontrakteer om vir die einste organisasie van die gevogeltes, ‘n reuse projek te loods. Ek spring oop bek en handvry in die uitdaging. Die swetery slaan net daar toe. En die gloede.

Praktiese ek koop by Mr. Price gesighanddoekies. Dit word my handelsmerk. Daar waar ek 300 ouditere toespreek en die gloede my nek laat rooipienk uitslaan en koue sweet my kuif aftap en langs my slape afloop, druk ek met ‘n glimlag die waterse af en praat aan. My kollegas en teikengehore raak my en die handdoekies gewoond. My handelsmerk. Ek grap maar oor my verleentheid, en niemand gaan dood nie.

Buiten my eie sweet afvee, werk my handdoekies hard. Dep bloed na ‘n kind val, vee trane af. Red die dominee tydens ‘n nagmerrie bye aanval. Soms pas die lappie by my klerestyl. 😉 Ek verloor my cerise lappie by Innibos, 2017. Wie ookal haar gekry het, mag sy vreugde en troos gee.

Die swetery bedaar, en my lappies word stil in die kas gebere. Tot ek so paar weke gelede met die varkweergawe van 2018 se griep platgetrek word. Ek het sedertdien nagswete soos nog nooit nie. My lappie ‘n skrale troos terwyl A.A. Vogel se nagsweetkruieraat inskop.

Dis die dat ek gister met boekvat so vinnig my lappie byderhand gehad het om my mond toe te stop sodat ek kan luister.

Soos ek hier sit en griffel, hang my lappie oor my skouer.

Fluit, fluit my storie is uit.

‘n Varkerige, grieperige storie

In my kombuis, so as jy deurstap eetkamer toe, hang ‘n afdruk van ‘n 1858 plakkaat van ‘n pryswennende vark. In my huis is dit nou ekke, die vark in die lekkerbly verhaal, wat raas oor uitstallings, hondepote op die matte, kussings op die vloer en so aan en so aan.

Daar is egter nou ‘n nuwe vark in die storie.

Rots en Bab en ekke en Elisa en Bessie en Mielie en Kokol is die afgelope weke deur die 2018 griep platgetrek. Ons huisdokter diagnoseer die een met bolugweginfeksie, daai een met sensitiewe longe, en die uwe met varkgriep. Ag, ja.

Ons almal praat met so laer stemtoon, neuse toe, loop met pap lywe en grade van koors. Elkeen kry sy dae in die bed, sop en liefde en simpatie. Dis hoe ons rol.

Dokter het vir elkeen sy eie antibiotika, asempompie en hoesstroop. Trap ons uit oor selfmedikasie, en die tannie by ontvangs hou na elke besoek ewe liefies die rekening vir die besoek en moetie. Rooi lippies rooibostee getrek, en jy weet, jy stap nie uit voor jy nie vir Geduld oorhandig het om deur die heen-en-weermasjien gesleep en aan balans verminder word nie.

Net toe ek reken die ergste is verby, begin ek Maandagaand bibber en kramp en naar. Die troon en Ouma se koos en slopemmer, wat meestal naby staan om ons te herinner om dankbaar te wees vir spoeltoilette en riolering, word my geselskap.

Genade, ek kwyl en braak en blaas en…..dis te vreeslik. Sê maar soos die ou lugverfrisser tv-advertensie van jare gelede, “ons is gawe mense, net jammer van die reuke….”

Dis drie dae later en ‘n uitgewaste asvaal weergawe van vurige ekke is hier aan die griffel. Die mediese uitslag, dis maar die griep. Oink.

Dankie Una dat jy kontak maak. Vanoggend rapporteer en pieker ek dat “my ingewande gemoedsbekakking het, letterlik. Ek het krag vir niks, en nog minder is iets vir my oulik of inspirerend. My lyf en skryf is ontwater. Met iets sinvol sal ek later kom speel in Blogland.” Vir dierbare Una is my afwesigheid soos ‘n koeistal. ‘n Ware gemis.

Vanoggend doen betroubare Elsabé Brits in Beeld verslag dat vanjaar se griep nie varkgriep is nie, dis net erg. Ek lê ylend en lam. Is daar weer medisynesmouse wat nuwe produkte bemark en teikens te haal het, en die gevolg dat ons net vol goed geprop word? Is die griep en variteite wat gediagnoseer word maar deel van die seisoen se begrotings? Ek wonder maar net, dis seker die koors. Maar die apteker het ook vertel dat hulle nog nie eers verlede jaar se gogga verstaan nie. As dit so is, daan is medisyne ook maar raai-raai-riepa. O my vy, ek is besig om te verander in ‘n daar-is-‘n-sameswering varkie.

Soos die ou mense gesê het: As jy griep kry, klim in die bed vir drie dae en daarna dokter jy vir sewe dae of ‘n week simptome…dis die vark in die verhaal. Ek gaan nou ‘n gemmertjie drink en hoop vir die beste. Groetnis.