Lê-Jou-Eier: Soetwoordjie-wraak

Onse Hester laat ons hier in Blogland deur hoepels spring. So verskyn haar Lê-Jou-Eier opdrag hierdie week: Kyk mooi na die foto hieronder van die hottentotsgot (bidsprinkaan) genaamd Hot Lady wat aan ‘n soetigheidjie sit en suie. Daar is ‘n ernstige gesprek aan die gang wat ek nou hier gaan aanhaal

Praying Mantis

Mens (selfvoldaan): “Hot Lady, jy het ‘n lekker soettand, nè? Dis ook die enigste rede waarom jy hier by my kom kuier, net agter die jêm aan.”

Hot Lady: “Ja, so ‘n ou jêmpie is lekker, maar dit gee my ook krag vir wat voorlê.”

Mens (bekommerd): “Watter swarigheid voorsien jy dan nou in jou toekoms?”

Hot Lady: “Maar jy weet mos dis hierdie tyd van die jaar wat ek ‘n mannetjie moet aankeer om my eiers te bevrug! Vanaand is die aand wat ek moet sterk wees en al my oorredingskrag moet inspan om ‘n mannetjie te laat sterf tot voordeel van ons nageslag.”

Mens (ongelowig): “Nou hoe op aarde ‘oorreed’ jy ‘n man om te sterf vir ‘n nageslag wat hy nooit eens gaan ken nie?”

Hot Lady: “Maklik. Jy hou hom teer vas en net voordat jy sy koppie begin afkou, fluister jy soetjies in sy oor: Liefling,

(Hier volg my vurige affere verder en onthou om na die video klaar te lees….)

…jy is so sterk en so slim. Jy is my tien-uit-tien. Liefie, kan jy ons toekoms sien. Klomp klein goggabies net soos jy…”

Mens (giggel): Genade, dit klink alte bekend. Smaak my die manlike geslag oor alle spesies heen word maklik verlei!”

Hot Lady (draai haar kop so skuins en kyk Mens aan met haar groot oge): Hierdie een keer per jaar moet ‘n meisie alles uithaal om haar sin te kry, maar vanjaar was ‘n wraaktog op die koop toe. Sien verlede jaar het ek vir my so ‘n spiertier bygehaal. Jong, hy was flink en vurig. Wou net vry en vry. Ek het nie baie truuks nodig gehad nie. Hy was passievol en het soet woorde in my nek gefluister. Ek het gesug en net sag agtertoe gereik en met my voeler so om sy kop gekielie. “A, liefie, jy maak my mal”, het hy uitasem geroep. “Moenie stop nie”.

Mens: Hot Lady jy maak  my bloos…

Hot Lady: Sjuut, moenie onderbreek nie. Die beste kom nog. Sien jy die hakies aan my voelers… dis nie vir die mooi nie. O, nee, dis om beter te kan vasvat. En het ek nie vasgevat nie. Haak, knars, girts. Af is sy kop. Hy het dit nie sien kom nie. Wat ‘n heerlike versnapering, want na die liefdesdaad, het ek nog baie werk om te doen. Soms is daar tot 70 goggabies wat gevoed moet word. ‘n Meisie moet beplan, jy weet.

Maar, ek wil jou eers van die onderbreking vertel, wag, hier is die video…kyk self wat my nuutste eks, Sticks aangevang het. Dit was ‘n lang jaar….

 

Mens: Jinne Hot Lady, so ‘n karnallie, ‘n man pla nie ‘n vrou in kraam nie!

Hot Lady: Glo my Sticks gaan op die ou einde die hoogste prys betaal. Ek moet gaan….

Hot Lady vlieg weg. Die volgende aand kom kuier sy weer oudergewoonte by Mens. Mens is verheug.

Mens: En toe. Was jy suksesvol? Vertel, vertel toe!

Hot Lady: So het ek maar na die misgeboorte heel jaar my plan agtermekaar gekry en vir Sticks op my radar gehou. Toe dit gisteraand daai tyd word, het ek hom nadergelok. Glimlaggies, fladderende oge, jy weet. Man, hy het geval vir die soete stroop in sy ore. Hy kon omtrent nie wag nie. Hy was nie ‘n sleg vryer nie. Lekker fris. Oe, en hy was praterig: “Jy is wonderlik, beeldskoon, jy maak die gogga in my wakker,” het hy aangehou en aangehou. Dan kielie hy so oor my rug. Ek moet bely, dit het warm rillings deur my lyf gestuur. Saamkoer was nie moeilik nie.

Mens (bloos): En toe?

Hot Lady: Man so op die kort draai, toe fluister ek met my voeler so agter sy kop: “Skatlam, onthou jy my? Laas jaar, op die stoep?”

Ek hou so bietjie stywer vas.

Al wat hy kon uitkry was:”O bliksem, dis jy….”

Toe is dit verby… hy het dit nie sien kom nie. Ek het hom goed terug gekry. Wraak kan lekker smaak.

 

 

 

 

         

 

 

 

Foto deur “Jasari”, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Al is dit swaar, juig oorwinning

‘n Mens hoor die soldate nie aankom nie. Skielik een oggend is hulle net daar, spiese kordaat in die lug.

20171027_180235216112416.jpg

Ek verbeel my dat hulle op ‘n koue wintersoggend wakker gemaak word. “Kom manne, as ons nie vandag die mars boontoe begin nie, gaan ons nie die feesvieringe betyds haal nie.So begin die honderde haaklelies in my tuin deur die donkerte beur. Ek hoor hulle sing:

Ek is nie ‘n stap soldaatjie nie, ‘n ry soldaatjie nie, ‘n vlieg soldaatjie nie.

Ek is nie ‘n skiet soldaatjie nie, maar ek is Jesus se soldaatjie, ja meneer.

Ek is Jesus se soldaatjie, ja meneer Ek is Jesus se soldaatjie, ja meneer

Ek is nie ‘n stap soldaatjie nie, ‘n ry soldaatjie nie, ‘n vlieg soldaatjie nie.

Ek is nie ‘n skiet soldaatjie nie, maar ek is Jesus se soldaatjie, ja meneer.

20171027_1801371289571713.jpg

So langsamerhand begin die donkerte wyk. Op ‘n dag in Oktober bars hulle deur. Voëltjies se gekwetter, die blou lug dui aan die reis is verby en ek hoor hoe mooi sing hulle met spiese omhoog: “Ek sien ‘n nuwe hemel kom….”

20171027_180720642999249.jpg

Die fees is naby. Tyd om klere reg te skud en uit te pak. En so kry elke spies ‘n kans om homself keiserlik in pers te tooi. Die fees is asembenemend. Dis oral. Die hoogtepunt as keiserskroon skouer teen skouer staan en ek hoor die lofsang:

Ek sien in my gees die glorie

En die almag van die Heer

Die Allerhoogste wat in liefde

Oor sy Koninkryk regeer

Hy’t belowe aan die einde

Op die wolke kom Hy weer

Hy’s Koning

Hy regeer Loof Hom, prys Hom, halleluja (3x)

Hy’s Koning Hy regeer

Die Here is ons vesting

Wat vir altyd sal bly staan

Hy beskerm elke mens

Wat in geloof na Hom toe gaan

Hy’s ons skuiling,

Hy’s ons wapen,

Hy’t die vyand reeds verslaan

Hy’s die rots wat ewig staan

Loof Hom, prys Hom, halleluja (3x)

Hy’s die rots wat ewig staan

Kom deel nou in ons loflied

Hef jou hande op na bo

Blaas basuine, slaan op dromme

En kom dans voor God se oë

Kom leef in die oorwinning

Van sy Woord waarin ons glo want

Sy Woord sal ewig staan

Loof Hom, prys Hom, halleluja (3x)

Sy Woord sal ewig staan

Maar hierdie jaar is dit al amper November en die soldaatjies het nou eers te voorskyn gekom. Dis droog. Ons land word geruk met ‘n gemiddeld van 52 moorde elke dag en plase is ‘n slagveld. Daar is woede, daar is trane.

Gisteraand het ek op die stoep uitgeloop, en die nuwe laat agapante het saam met my ademloos op die reën gewag. Oornag het dit 10mm gereën. Die veld en diere juig. Ek bid:

Here, dankie dat oorwinningstyd altyd en ewig  met U is. Al het ons seer, en is ons bang en kwaad, U bly ons Koning en U regeer. Saam met die haaklelies/keiserskrone gooi ek my hande op na bo en juig: U is ons Rots en Veilige Plek, U Woord en Liefde is ewig. Wees ons almal genadig Heer. Lei ons na samehorigheid en vrede vir almal in ons land. Amen.

Deurmekaar geverander

Die verspieder kransswawel kom ‘n maand te vroeg by die somertuiste aan. Toe hy in die voorjaar weggevlieg het, was die stoep sy familie se heiligdom. Die honde was bejaard en die nuwe swart brak ‘n peuter wat net wil balspeel en toutrek.

Nou is die weer verkeerd. Die nuwe nessie se bodem het uitgeval, die hoofhuisnes staan vas en knus, soos die afgelope vier jaar.  Die twee bejaarde honde is heen en Koda is ‘n swart reus van oor die veertig kilogram. Vreemder egter, is dat daar reeds oral tekens van nuwe groei is, maar dis nog winter. Die Augustuswinde moet nog kom en al die spinnerakke weg- en die lentereëns inwaai.

Oral in ons tuin is botsels – die jasmyn is oortrek met ligpienk geurige blomknoppies, die boslelies se helder oranje spat deur die vaalgroen blare, die vinke wil begin nes bou.

Moeder Natuur is menoupouse deurmekaar. Dis al verklaring wat ek het. Ek dink sy voel benoud, verward.

Ek kan nog self onthou hoe ek gevoel het niks gaan ooit weer normaal voel nie. Want ek het besluit duisende van my voorgeslagte het sonder moetie die afsterwe aan hormone oorleef, selfs kaalvoet oor die Drakensberge gevoeter.  Wat maak ons moderne vroue so pieperig…dat ‘n pil vir elke skeet gesluk moet word?  So ek het ‘cold turkey’ gemenopouse.

Dit was baie vreesaanjaend vir almal om my. My humeur was ‘n Grieks-Italiaanse affêre met ‘n emosionele ouderdom van so tussen 18 en 20. Blikslaers, ek het menige dag met donkerbrille en ‘n pruik die wêreld aangepak, bang die ou by die slaghuis, dokter, apteek, bank of selfs in die parkeerterrein herken my as die vuurspewende berg van gister!

In hierdie vreeslike fase, word ons deur ‘n swerm bye getakel. Ons oorleef (sien my blogpos https://wordpress.com/post/lekkervurigeaffere.blog/54) oor die ervaring). My humeur bly erg, ek gaan snik by die psigiater. Niks van die gemoedsbekakkingpilletjies werk nie.

Sy begin bloed toets. Die menopouse is byna klaar wys die uitslag. Sy vra verder uit en pieker en dink om ‘n oplossing te kry. Ek vertel haar van die bysteek insident. Sy vertel my daar is ‘n toestand genaamd “adrenal fatigue” en kortisol, en jou byniere en ‘n hele rits goed.

Lang storie kort, ‘n baie unieke toets word bestel en ek moet in ongevalle op ‘n hartmonitor gekoppel lê, ingeval die toets ‘n negatiewe effek het. Hulle spuit jou so elke halfuur met ‘n dosis iets in, kan nie meer onthou nie. Maar voorkoming is beter as genesing. Die vampiere van die bloedbank en die ongevallespan drom saam, die toets is blykbaar uniek. So daar lê ek, proefkonyn, my eie oorlewing ter wille. Ek onthou dat ek gedink het dit lyk soos Greys Anatomy as die groentjies saam met die slim dokter rondtes doen!

Hulle kom spuit my in. Ek wag, hulle kom loer. Niks gebeur nie. Die tyd vir die tweede inspuiting breek aan, my hartklop rustig, my bloedruk glad nie drukkerig nie. Heel die teenoorgestelde wat die toets moet bereik. Kort na die tweede inspuiting raak ek aan die slaap. Hulle kom skud my ‘n uur later wakker. Ek kan nie vertel hoe salig dit was nie.

Die dokter bel my dae later en vertel dat daar ook nie fout met my byniere en kortisol telling is nie. Ek vertel dat ek so lekker voel. Wat ookal ek daardie dag ingespuit is, het ‘n vernuwende eliksir deur my gestel gespoel. Die woede het bedaar, en nou gebeur die Grieke-Italiaanse woede baie minder, maar wel nog in volle tiener-mode (bloos) wanneer dit gebeur. Die slimdoktervrou sê dit het te make met die trauma van my ouers se dood binne drie jaar van mekaar – eish.

Maar ek het die vertel oor Moeder Natuur byster geraak.

Ek dink Moeder Natuur het so genesende inspuiting van ons aardbewoners nodig. Aarbewoners wat omgee wat in die lug, in die riviere en oseane en op land gebeur. Sy moet voel ons het respek, sy is bemind. Dan sal sy minder deurmekaar voel en nie so kwaai word en die seisoene te gaan staan en verander nie.

Ek dink dis wat moet gebeur. Dan kan ons weer op 1 September Lentedag hou, en nie op 1 Augustus nie!

(Foto: http://www.cartoonaday.com/mother-nature-unleashes-her-anger-on-planet-earth/)