Om ouerloos te lewe

1976

Op ‘n koel wintersmiddag kom my pa tuis met wonderlike nuus van bevordering, ‘n beter inkomste en ’n lieflike nuwe woonplek. Opgewonde klim ons in die boksie Peugeot en ry na die nuwe adres.

Ek onthou die blokkieshoutvloere, groot venters, en die stoep met die pers bougainvillea. My ma, en so by so ons almal, se opgewondenheid is aansteeklik. Laggend en geselsend ry ons huis toe.

Die toekoms lyk so rooskleurig.

Ter viering skink my pa oudergewoonte sy skemerdrankie – vodka en water. Ons almal beplan ewe hard aan die nuwe woonplek en toekoms.

My pa stuur vir my en Swartjie, my kleinsus,om nog ‘n drankie vir hom te skink. Omdat jy nie die vodka in die water kan sien nie, trek ons hom ‘n streep. Ons skink net water en ewe vroom gaan sit ons in die sitkamer. Ek sit op die mat, langs die poef, by sy roquefortkaas voete.

Dis Olimpiese Spele-hoogtepunte op die telvisie. Nadia Comăneci van Roemenië tuimel na wêreldroem. My pa vat ‘n slukkie van sy drankie. “Jou klein blikskottel,” sê hy laggend aan my sussie, “jy het net water ingegooi!”

Ons lag, en ek hoor ’n vreemde geroggel skuins agter my.

My ma gil.

Ek kyk om en sien my pa se blou gelaat.

Ek sien ook die straal piepie teen sy been afloop…en ek weet niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.

1979

My sussie en ek sit in my kamer en plate luister. Ek is pas tuis na my finale jaar op universiteit. Ek het plate wat sy nog nie gehoor het nie. Sy is met skooleksamen besig en neem ‘n breuk.

“Kom kyk wat het jou ma aangevang,” gil my stiefpa in die gang af. Ons vlieg op en hardloop deur na die anderkant van die huis, waar my ma en die nuwe man se kamer is.

Eers sien ons niks, tot hy stom in die middel van die kamer bly staan en wys na haar kant van die bed. Sy lê uitgestrek op die koningsblou mat. Karmoesyn-rooi bloed poel om haar kop. Daar is ‘n wond aan haar regterslaap. Rooi borrels lug syfer by haar mond uit.

Dit is onwerklik.

Bel die ambulans…bel die polisie… bel Ouma. Ek kan nie onthou wie wat gedoen het nie…. ek kan nie onthou hoe lank ons drie gewag het nie.

Die ambulansmanne dra haar op ‘n draagbaar deur die huis – by die voordeur haak haar geliefde goudgeel sunfilter gordyne aan die draagbaar vas, amper asof hulle wil keer dat sy uit die huis geneem word. Asof hulle weet dat sy nooit weer sal terugkom nie…

Post-1979

’n Mens se wêreld verander drasties met die verlies aan ’n ouer, en erger nog aan albei ouers binne kort bestek. Erger nog as jy jonk is. Jou verlede, jou geskiedenis, jou  gevoel van verbintenis – alles is verlore. Die buffer tussen jou en die dood is verwyder.

Ons is van die dak oor ons koppe gestroop – twee keer.

Toe Pa dood is en ons moes verhuis uit die saagmeulhuis, die huis waarin ons vir die eerste keer sedert ons kleintyd weer as ‘n gesinseenheid saam gewoon het. Die skok en seer is getemper deur ‘n steunstelsel – familie en die gemeenskap. Pa se dood het darem skokbrekers ingehad.

Die tweede keer was toe Ma haarself geskiet het.

Na ons ma se dood, was daar geen plek in die wêreld waar ons meer kinders kon wees nie.

Ons ouerhuis en ouers was weg.  Die alleenheid was dadelik sigbaar, ons was net te geskok om dit te sien. Ons eie mense was so onbeholpe om ons te hanteer. Hulle eie skok en seer ook te veel vir hulle.

My ouers se dood het vir baie lank ’n plek aan my binnekant uitgehol – ’n bodemlose gat wat nooit gevul kon word nie. Dit is hoe verlies aan ouers en ‘n ouerhuis voel.

‘n Mens word ‘n emosionele oppotter – vat wat jy kan, so gou as jy kan, of jy dit nodig het of nie, want more is dit weg. Verhoudings, eet, geldmors, alkoholisme, oorprestasie, opgaar– alles pogings om jouself ouerliefde te gee. Skewe maniere om sorg te ervaar. Plaasvervangers vir liefde.

Hoe verander mens dit?

Hou op om  jouself van buite na binne genees in plaas van andersom. Jy maak jouself heel. Jy lê goed af. Die enigste plek is by God, in geloof en die wete dat Hy lank voor ons storie, die storie reeds geskryf het.

Verstaan dat kompulsiwiteit maar desperaatheid op emosionele vlak is. Te veel drank, te veel eet. Leer breek met gewoontes om die leegheid te vul met verkeerde maniere om vir jouself liefde te gee.

Vroue sonder ouers oorpresteer dikwels op verskeie vlakke om lof van vreemdelinge te kry, want daar is nie familie wat dit vir hulle doen nie. Hou op om te dink dat prestasies onthou word. Ek was ‘n voorbok oorpresteerder. Dis ‘n gejaag na wind, en jy boet op ander lewenservaring in – tyd saam met jou kind, jou huwelik en  vriendskappe.

Ek het ook gelees dat ons as gevolg van ons dubbele verlies, ouerloos, net aan onsself verantwoording begin doen het. Veg of vlug. Vlug, waarheen? Om te veg vir oorlewing is die pad. Jy word ‘n rissiepit, skreeuend en vuiste reg om enigiets en enigeen aan te vat en plat te vee wat na ’n bedreiging lyk.

‘n Mens verloor ook jou ingebore intuïsie om die regte besluite te neem.  Die regte ding om te doen word tersyde gestel vir wat ook al as sekuriteit en liefde aangesien word. Dit lei tot oordeelsfoute en duur lesse. Gelukkig word mens ouer, en wyser.

2017

Die waterskeiding ervarings in my lewensstorie is vasgevang in ’n knip van die oog, ’n sekonde. Dit was nou net so, nou is dit anders. Hoe jy voel, wat jy doen, hoe jy dink, wat jy sien is vir ewig verander.

Steenkool het egter nodig om tot die uiterste gelouter te word voor die diamant verskyn.

Op ‘n dag weet jy wie jy is.

Oor tyd getemper deur jou oomblikke en lesse.

Besig om jou lewe te deurleef.

Jy in die groot wye wêreld – uniek en outentiek.

Erica Jongh dig so mooi vir haar kleinsus hieroor.

 For Claudia, Against Narrowness

Erica Jongh

Narrowing life because of the fears,

narrowing it between the dust motes,

narrowing the pink baby

between the green-limbed monsters,

& the drooling idiots,

& the ghosts of the Thalidomide infants,

narrowing hope,

always narrowing hope.

 

Mother sits on one shoulder hissing:

Life is dangerous.

Father sits on the other sighing:

Lucky you.

Grandmother, grandfather, big sister:

You’ll die if you leave us,

you’ll die if you ever leave us.

 

Sweetheart, baby sister,

you’ll die anyway

& so will I.

Even if you walk the wide greensward,

even if you

& your beautiful big belly

embrace the world of men & trees,

even if you moan with pleasure,

& smoke the sweet grass

& feast on strawberries in bed,

you’ll die anyway–

wide or narrow,

you’re going to die.

 

As long as you’re at it,

die wide.

Follow your belly to the green pasture.

Lie down in the sun’s dapple.

Life is not as dangerous

as mother said.

It is more dangerous,

more wide.

Ek Is se kind

EK IS stuur Sy Seun om ons met EK IS te versoen.

Nou is ek EK IS  s’n.

Daarom  kan ‘as jy’ maar vlieg.

Ek is EK IS se kind.

EK IS beloof ek is tot alles in staat omdat Hy my krag gee

EK IS vergewe my en ek is vry, onverdiend, genadiglik.

EK IS het my geskape lank voor tyd en het my onvoorwaardelik lief.

Luister en hoor!

EK IS sê nooit ‘as jy’ nie.

Wanneer jy  ‘as jy’ hoor, hardloop vêr weg.

‘As jy’ is slu, hy hardloop dikwels saam.

Vlieg om en sê: ‘As jy’, gaan weg, wyk.

Ek is EK IS se kind en gered deur Sy geliefde Seun.

Daarom steur ek my nie aan ‘as jy’ se voorwaardelike lewe of opsies nie.

Ek hoef nie, want ek is uniek, enig en onvoorwaardelik geliefd net soos ek is deur

die Ewige,

die Alomteenwoordige,

die enigste God,

EK IS.

Amen

 ©Erna Maré 2016

14445160_10154538291042905_5733884814226163121_o

Blomme vir die see

Die laaste dag van ons seevakansie breek aan. Ons pak traag ons voertuig en laai twee leë waterbottels op die agtersitplek. Ons gaan vir oulaas op die strand stap en vir ons liewe Elisa seewater skep, sy het ons laat belowe.

Ons ry ‘n ent deur die mooi buurt met sy seeuitsig wonings, die een se stoep mooier as die vorige en deur die ruigtes, sien jy die branders breek en ruik jy die see. Ons stop by die hoofstrand, dis winderig en betreklik stil. Teen ‘n grasbedekte skuinste met skewe sementtrappe af, en ons is op die strand. Daar is ‘n rotsrif regs voor en ons stap soontoe. Loop al langs die branders se spoellyn en trap maar suutjies. Oral lê bloublasies uitgespoel. Dis hoekom dit so stil is.

‘n Regte mannetjieswind waai ons kuiwe in vreemde style en ons hemde staan bol-  soos seile reg om die groot blou in te vaar. Ons lag te lekker en proe die soutsproei. Almal uitgerus en vrolik. Ons klouter teen die rotse op om by ‘n poel uit te kom en die waterkanne vol te maak.  Gou eers  tuur oor die water en kyk hoe die branders uitspattig teen die rotse breek en seeskuim hoog die lug in spat voor dit op die rotse om ons neerreën.

Ons klouter traag af, en volg Rots wat strompelend met 10 liter seewater aanstap kar toe. Die rit Noord wag op ons. Sy spore op die sand is diep ingeprent. Die son gooi mooi skadu en ek en die kameralens is doenig om die oëverblindery vas te lê.

Ek mis amper die fyn blonde vrou met die bos rooi angeliere wat by ons verbystap, daar na die rotse waar ons nou net saam gelag het. Sy lyk geslote, in haar eie gedagtegang en emosies vas, oë op die rotse en die see gefokus.

afskeid-3

Sy stap oor die nat  sand, al  waar die golwe sopas ons spore uitgewis het , tot by die rotse. Ek kyk hoe sy, blomme in die een hand, wankelrig klouter tot aan die voorpunt van die rotse. Daar waar die golwe teen pletter en seesproei verdiepings hoog die lug inskiet en water maal.

Skynbaar vreesloos, staan sy op die gladde rotse, enkeldiep in die malende, spattende water. Sy gooi die rooi blomme een vir een die see in, die wind bring hulle voor haar voete terug en die see neem haar offer aan. Ek hou my asem op. Dit lyk of sy ook self enige oomblik  meegesleur sal word.

afskeid-2

Wie sou sy so kom gedenk?

‘n Seun wie verongeluk het?

‘n Man, wie se gunsteling visvangplek dit was, en dit nooit weer kon besoek nie?

‘n Dogter wat hier die see ingespring het?

Ons sal nooit weet nie. My hart breek in medelye vir onbekende redes, en ook die o-so  bekende seer en verlange.

Die simboliek om ‘n geliefde te gedenk kan ons verstaan. Was die aksie vervul met bitter, soet, opstandigheid of berusting? Ons sal nie weet nie.

In elke rouproses is die fases ‘n rol van eindelose golwe wat op ‘n mens afspoel, jy moet deur elkeen, totdat jy almal leer ken – woede, vrees, angs, ontkenning, aanvaarding, berusting en vrede met die nuwe bestaan sonder jou liefmens.

Die golwe kom nie in volgorde nie. Die gety is ook nie altyd stormsterk nie, party dae soos tyd aangaan, kom klop hulle saggies om jou voete. Dan raak jy gerus. Op ‘n dag kom spoel hulle jou onverwags  sommer onderstebo.  Nie een mens ervaar dit dieselfde nie.

‘n Mens moet deur sulke dae beur en dit beleef. Jouself kans gee om die emosies te deurleef, die storm uit te woed.

Om die emosies te misken en die golwe te onderdruk is gevaarlik. Dit spoel maalklippe van  seer en onthou binnetoe. Dis naderhand jou borskas vol, en jy verdrink van binne. Dit neem jou op ‘n reis wat net om en om en om in jou woed. Tot mal word toe. Dit beroof jou in-die-lewe geliefdes van jou. Dan wil ek nie eens praat hoe jou eie groei en menswees  uitgehol word nie.

Tot op ‘n dag  wanneer golwe van verlang en wonder hoekom,  jou weer oorspoel en jy hulle laat los. Die onthouklippe uit die maalkolk met sout-sout trane laat uitspoel.  Dit is  ‘n groot storm, maar jy oorleef. Dan skielik word dit stil, en jy weet jy gaan leef. Nie die oorspronklike jy nie, maar ‘n nuwe weergawe. Die een wat weet hoe om storms te kan trotseer.

Wanneer die waters  van seer en gister  skielik opslaan soos ‘n blou,blou storm, en die soutsproei jou  oë laat brand en jou  byna omslaan, onthou dat dit sal verbygaan.

Staan vas soos ‘n geel sonneblom en draai jou kop na die son, ‘n offer in die sekere wete dat die gety gaan draai, die storm gaan wyk, en kalmte en rus sal sag oor jou spoel.

Leef met jou eina saam, dit is deel van jou, en onthou deur blomme in die see te gooi.

afskeid-1

Bloubekruipwysheid

Vroeg in 1990 kry ek gemoedsbekakking.

Van die jy-moet-Denmar-toe-soort.

My arme man en kind kyk soekend na die afwesige weergawe van my. Hulle oë vra waar is ons besige, hardlopende, laggende geliefde?

Ek wil ook weet, en ek wil ook nie weet nie.

Ek word een Saterdagoggend in Maart by die inrigting afgelaai. My gesin kan nie verder as ontvangs kom nie. Hulle groet en die suster aan diens maak my leêr oop.

My Rots het alles ingevul.

Die mediesefonds het reeds my verblyf goedgekeur.

Die huisdokter het al reeds laat weet dat die graad van bekakking erg is.

Ek wonder of hy vertel het dat ek sommer van die huis af weggery in die middel van die nag. Hulle het my eers twee dae later opgespoor. Ek het my man gebel en hom en ‘n vriend onder ‘n bloekomboom in die Long Tompas ingewag. So ewe.

Gevlug en omgedraai. Dankie tog vir omdraai.

Ek word na ‘n sesbedkamer geneem. Vier paar oë kyk belangeloos op as ek my tas neersit by die bed – wat vir die volgende weke my hawe sou word. My kamermaats, sielsiekgenote.

Ek is nog besig om uit te pak, toe ek kom haal word. “Jou dokter wil jou sien.”

Hulle vat nie nonsens nie. Ek stap ‘n lang gang af, uit in die sonskyn en deur ‘n tuin met ‘n reuse Jakarandaboom wat sy skadu kol-kol oor die grasperk gooi. Die mooi ontglip my.

Die dokter is rustig, en hy gesels, en trek vraag vir vraag goed uit my uit.

Na baie ure en dae praat ek naderhand self.

Die Prozac het so na tien dae ingeskop, en ek het verlore slaap ingehaal.

My gelukkige kinderjare, my pa se hartaanval, my ma se selfmoord, my egskeiding, my loopbaan, my huwelik met my Rots en my pragtige dogtertjie – alles word op die tafel tussen ons uitgepak.

Wat jaag my in hierdie swart donker grot in?

Wat maak dat ek van die lig wegdraai?

Wat, wat?

Die dokter skryf een middag op my notaboek, onder my inkopielysie (Watte en Pienk Pears aanrol), wat ek die naweek vir Rots wil gee:

“The moving Finger writes,

And having writ, moves on –

Not all your piety, nor wit

shall lure it back to cancel half a line” – Rubayat

Op ‘n rare middag uit, gaan soek ek en my vriendin, Gouwsblom, Exclusive Books deur. Die dun bundel is die Rubaiyat of Omar Khayyam.

Met ons volgende afspraak stoot ek die pers sagtebandboek oor die dokter se tafel. “Ek het dit gekry,” vertel ek trots.  Die dokter skryf voor in: “We are not what we think we are, but what we think, we are! – Onbekend.”

Die bundel is al donkieoor gelees, sy rug al voos van blaai en blaai en lees en lees. Woorde waaran ek vashou wanneer die blouhond met die gisters wat verby is aangehardloop kom en my nooi om om te draai en te kyk. Dan kan ek braaf vir hom vertel: “‘Skuus Bloubekruip, daai is als verby, en ek kan niks doen om dit te verander nie. Waai nou maar. Voertsek.”

Ek loop die lewenspad met die brak, Bloubekruip, immer agter my aan. Baie dae is ek net bewus van hom, soms sien ek sy skaduwee. My gesin weet waarom ek soms skielik alleen by die huis wil bly, weggekeer van alles en die son. Daai tye sit hy stip vir my en kyk en lok my uit.

Dan maak ek tee en sit op die stoep en lees op die erdeplaat teen die muur:“The Moving Finger writes; and having writ, Moves on: nor all thy Piety, nor Wit shall lure it back to cancel half a Line. Nor  all thy Tears wash out a Word of it.”

Bloubekruip draai dan dikbek om en wyk uit na ‘n donker hoekie.  Ek hoor die visvanger roep, en ek voel die son op my tone en kyk hoe die Barbertonse madeliefies met hulle koppe na die son hulle geel en rooi en pienk uitsing. En ek weet ek sal aangaan.

Dis in my lewensritme ingebou, en ek het geleer om dit te aanvaar. My geliefdes leef saam met my en die spook van ou Bloubekruip en al sy wat-asse en gisters. Hulle is lief vir my nes ek is, en ek vir hulle.

Die nuwerwetse gemoedsbekakkingmoetie werk gelukkig baie beter as daardie jare se afstomper van emosies. Bloubekruip hou nie hiervan nie en is meestal net ‘n glimmer.

Ek voel so jammer vir die sielkundige wat my aan Omar Khayyam se dertiendeeeuse wysheid en Prozac en terapie voorgestel het.

Hy het ‘n paar jaar gelede selfmoord gepleeg.

14444932_10154541445467905_5144705730716738687_o

Oogwink oomblikke

Dit was ‘n rustige oggend in Oktober. Vol sonskyn en belofte. Die bloedrooi papawers skyn broos deursigtig en bewe liggies in die bries. Die harige stamme soos een wat hoendervlies kry. Bye zoem besig. ‘n Voorteken wat ek miskyk.

“Wat ‘n mooi foto sal dit nie wees nie,” dink ek by myself en hardloop om my kamera te gaan haal.

Kort voor lank lê ek plat op my maag. Die vars gesnyde gras ruik soos oopgesnyde waatlemoen. Ek stel die kamera en lens op makro. My hart klop warm en deur die zoemlens spring die bye, goudblink met ragfyn vlerke in superspoed en die broos fyne rooi blomme op hulle groen stele, in fokus. Die sluiter kliek, kliek, kliek. Salig.

“Haai, jy kan nie nou foto’s staan en neem nie. Ons kuiermense is netnou hier,” roep my man uit die kombuis. Traag pak ek op. Die foto’s moet wag tot later.

Ons dominee en familie kom kuier om die plaas se geskiedkundige landmerke te kom besigtig. Dit is ook dominee se skoonpa se 77e verjaardag.

Die plaas, Eersteling, is die plek waar die eerste werkende goudsmeltery in die 1870s in die destydse Transvaal in werking gestel is. Die Eersteling monument, oorblyfsels van die smeltertoring en verskeie skagte, is op die plaas te sien. Ons is bevoorreg om op die besondere plaas te kan woon.

Hier word ook met suurlemoene geboer. Dit is van hier waar mevrou Dominee suurlemoene ontvang, en die heerlike suurlemoenstroop maak wat sy ten bate van die gemeentekoffers verkoop. Sy wou ook graag aan haar ouers die boord  wys.

Ek stap by die agterdeur in om die kamera weg te sit. Die vars gebakte skons en rooibostee vul die huis met daai regte, egte plaaskombuis-reuk. Bloedrooi, stroperige tuisgemaakte aarbeikonfyt glinster soos juwele in die konfytpotjie. My eerste oes se opbrengs. In die kombuisvenster geraam staan die Ysterberg fier teen die blou lug. ‘Rondom Jerusalem staan daar berge…’ kom die psalm se woorde by my op.  Min wetende wat ‘n paar uur later daar vir ons sou wag.

Ons gaste arriveer en na tee, skons, lekker gesels en skerts, klim ons in die bakkie. Ons neem water saam en oudergewoonte hang my menopouselappie oor my skouer. (As daai oond in my binneste aanskakel en die sweet stroom, is die blou handdoekie my beste maat!)

Na ‘n  verposing  by die smeltertoring en ‘n relaas oor die interessante herkoms van die graniet – al die pad van Aberdeen in Skotland – en hoe die Boere in die Anglo- Boereoorlog probeer het om die toring met osse en kettings om te trek omdat dit kwansuis die Engelse help wen het, ry ons rustig deur die boord.

‘n Paar kilometer bokant die boord kom ons aan by die mynskag.  Só klim Dominee, Mevrou, Skoonpa, en ek uit. Ons bewonder die pragtige uitsig oor die gebied. Skoonma het in die voertuig bly sit.

Ons gesels oor die koekepanne en ander toerusting wat net so daar bly lê. Dominee merk op dat dit besonder droog is, en ons lag toe sy skoonpa sê ons moet geduldig wees, Paul Kruger verjaar binnekort en dan sal die reën kom.

Op die ingewing van die oomblik klouter Skoonpa en Mevrou Dominee laggend die skag op. Dominee neem  ‘n foto van die twee daar hoog bo-op die toring, en skreeu skielik dat hulle moet afkom. Daar is bye. Ons almal stol vir ‘n oogwink en adrenalien ruk ons al vier in beweging.

Ek hol bakkie toe en weet hier is groot moeilikheid. Daar zoem reeds bye om my. Ek is allergies vir bysteek. Ek klap met my lappie en spring in die bakkie. Hulle klits my agter in my nek. Skoonma snik histeries.

Dit was angsvolle oomblikke toe die twee vinnig teen die smal leer moes afkom met Dominee wat probeer help, terwyl die swerm briesende bye hulle toesak en aanval, en hulle toe ook nog na die bakkie toe moet hardloop.

Dominee, in ‘n poging om die swerm woedende bye van Mevrou en Skoonpa weg te lok, hardloop van die voertuig af weg en moes noodgedwonge agtergelaat word. Hy moes al sy hardloopvermoë dié dag  inspan! Gelukkig dat ek my lappie vir hom kon gooi!

Ek moet die bakkie in trurat ‘n ent afdraand laat ry voor ek die pad huis toe kon aandurf. In my paniek met die kwaai bye zoemend om ons koppe, kan ek om die dood toe nie die bakkie in viertrek gesit kry nie. Ek bid: “Liewe Jesus, stuur  ‘seblief vir engel Gabriël. Ek het vier mense se lewens in my hande.”

Ek sit die bakkie in eerste rat en trap die brandstofpedaal met mag en mening. Klippers spat soos die wiele tol en dank Vader, ons kom die bult uit. Skuins voor ons hardloop die dominee met bye agterna!

‘n Nagmerrie rit van bykans vyf kilometer oor slote en klippe volg toe Mevrou Dominee se pa erg allergies op die bysteke reageer en sy bewussyn verloor. Sy, haar ma en ek so al met die bestuur, moes ook bye wat in die voertuig beland het, se aanvalle afweer.

Uit noodweer spuit ons onsself en mekaar met die water wat ons saamgeneem het nat. Dit is asof die bye oorgee. Dis nou nog so een of ses wat nog moeilik is. Die oom is doodsbleek langs my, sy kop skud heen en weer as ek oor die waterkere deur die boord jaag.

Ek kon my man per selfoon inlig oor die komende drama en hy het ons  by die huis ingewag met ‘n adrenalieninspuiting (hy self is ook allergies vir bysteek). In sy haas om die bewustelose oom in te spuit, dien hy per abuis ‘n dosis adrenalien vir homself in, en is binne oomblikke self wasbleek en bewend.

Daar is gelukkig ‘n tweede spuit en dié word in die doodsbleek en bewustelose Skoonpa se bobeen toegedien. Genadiglik skrik hy oombliklik wakker, waarna Pieter vir Dominee gaan soek en hom so drie kilometer weg van die aanvalstoneel in die suurlemoenboord kry – ‘n paar bysteke, maar grootliks ongedeerd  met my lappie om sy kop!

Danksy flink reaksie op ‘n noodoproep is daar gou ambulanse en mediese hulp op die plaas.  Ons krap meer as 100 angels uit arme Mevrou Dominee. Skoonpa word aan ‘n hartmonitor gekoppel en ‘n drup word toegedien. Ons kry almal ‘n inspuiting.

Die konvooi van vier ambulanse vertrek met loeiende sirenes hospitaal toe. By ongevalle aangekom en ons almal in ‘n ry in die noodkamer, draai die dokter aan diens om na my en my man: “Julle het die oom se lewe gered. Julle het almal se lewens gered. Julle is helde.”

Mevrou Dominee is erg deur die bye toegetakel maar wonder bo wonder het sy nie allergies gereageer op die oordosis bygif nie. Ek is nou nog verstom dat vier antihistamientablette my allergiese reaksie gestuit het en dink nog steeds daar was genade  betrokke. Ons twee het ‘n hele ruk daarna nog die gevolge van die drama aan ons lywe gevoel. Skoonpa is na ‘n nag in die hospitaal ontslaan. Verder het niemand skade, buiten groot skrik, van die episode oorgehou nie.

Ek weet nie dat ons soseer helde was nie, ek weet wel ‘n klomp dinge het op die regte oomblik gebeur, en dit was nie toevallig nie.  Ek glo dat ons beskerm en versorg was. Adrenalien en skok laat mens kalm deur ‘n krisis kom en die skrik is yslik groot na die tyd. Dit het ook so gebeur. Weke na die tyd bars ek sommer so in trane uit van pure verligting.

Ons verneem ook na die tyd dat die swerm ‘n week voor ons aanval werkers by die skag toegetakel het. Die hitte en droogte, die rede vir hulle aggressie.

Dié 77e verjaardag sal nie gou vergeet word nie, en wat elkeen betrokke was sal onthou, is die besef dat al kan situasies binne ‘n oogwink verander, die Here goed en groot en genadig is.

Die ander groot les wat ons uit die episode geleer het, is dat mens nie rusies onklaar moet laat nie. Die oom en tannie was vies vir mekaar en het so effe dikbekkerig by ons aangekom. Tydens die rit, met die oom bewusteloos neffens my, het ek die heel tyd gehoor hoe die tannie bid en smekend vra dat die oom nie moet doodgaan nie, en hoe sy aan die oom se skouer vashou en net vergifnis vra en prewel hoe jammer sy is.

Ek is opreg bly dat die oom wakker geword het en dat hulle mekaar weer in die oë kon kyk en wat ook al gehaper het, saam met die nagmerrie agter hulle kon sit en hulle lewe geniet.

In my huis maak ons sedertdien moeite om struweling en krapperigheid uit die weg te ruim. Ons doen meer dinge saam, want ons weet nie wanneer ons saamwees sal eindig nie.

NS.Dominee, Mevrou, Skoonpa en Skoonma is regte mense, en hierdie is ‘n ware relaas

Die papawer- en byefoto’s is toe mooi! Kyk maar self.

NS. Dit is met ontstemming dat ek verlede week verneem dat Dominee en Mevrou albei hard teen ernstige siekte moet veg en dat Skoonpa kort na nuwejaar oorlede is. Hy het na die bye se aanval nog ses jaar geleef.

“Dis in tye soos hierdie dat jy besef wat God se genade beteken.  Ons kan aangaan met die lewe,” laat Dominee my per epos weet.

byepapawer2

Net nie ‘n feëverhaal nie

“Vertel my ‘n storie, asseblief.” My kind kyk my vol verwagting aan. “’n Regte storie, van ons mense, waar ons vandaan kom.”

Ons sit op die stoep in die wintersonnetjie, heuningbostee in die hand,‘n onthoukissie vol foto’s op die tafeltjie tussen ons.

“Nou maar goed. Ek begin by die begin wat ek ken. ‘n Storie van een ouma en twee oupas. Ouma en Oupa Oorlog het vier kinders gehad. Saam met Oupa Willewragtag, kom nog twee kinders die familie binne. Altesaam vier meisiekinders en twee seuns – my ouma se kinders, my ma en ooms en tantes.”

“Ek leer Oupa Oorlog nooit ken nie, net sy legende. Die storie gaan so: Oupa Oorlog was ‘n aantreklike donkerkopman met ’n Clarke Gable-kuiltjie in sy ken. In sy weermaguniform met die keps so skuins op sy kop het sy direkte kyk jou deur die spaarkamer gevolg. Sy portret het teen die muur gehang, saam met ander mense wat ek ook nooit geken het nie, my pa se ouers, en so aan.”

Ek teug aan die tee en haal sy mooi foto uit die kissie. Sussa lag. “Amper soos Pappa se naamgenoot en sy vrou!”

Ons het die antieke portret geërf, en die stugge egpaar  hang in ‘n hoekie van die ekstra kamer, daar waar ons min kom.

“Net, so!”

Sy staar intens na die foto. “Wat nog?”

“ Daar is aan ons vertel dat Oupa Oorlog  ‘n brawe soldaat vir ons land was en dat hy in Noord Afrika gevange geneem is. In die kamp het hy van stukkende vliegtuigvoorruite die mooiste harte gemaak, elk met ‘n springbokkop uit ‘n  muntstuk gekerf, daarin vasgesmelt. Dit was hangertjies vir sy vrou en dogters – my ma en haar ousus. Wat hy vir sy twee seuns gemaak het, het ek nooit gehoor nie.

“In die tyd na die oorlog, toe Oupa veilig terug op tuisbodem is,  loop hy  in Pretoria se strate – in volle uniform. Op daardie dag was die militêre polisie op soek na ‘n droster. Klaarblyklik my bloedoupa se doppelganger.

‘Halt!’

“My oupa wis nie dis vir hom wat daar halt geskreeu word nie, en hy stap rustig aan op pad na sy vrou en kinders. Die jongste seuntjie maar ses maande oud.

‘Halt!’

‘Halt!’

“‘n Skoot klap. Oupa val vooroor op die sypaadjie toe die koeël hom in die rug tref. Toe die polisie naderstorm en sy identiteitpapiere sien, kom hulle gou agter hulle het die verkeerde ou probeer stop.

“Oupa beswyk aan sy wond en kry op Naboomspruit ‘n eervolle begrafnis, met ‘n weermag kopstuk. Ek het ‘n foto daarvan hier iewers.”

Ek krap rond en haal die foto van die grafsteen na ‘n gesoek, onder uit die pakkie foto’s.

“Mamma, dis hartseer.” My kind se oë is betraan.

“Regte stories is, my kind. Dit werk nie soos feëverhale nie. Wil jy nog hoor?”

Sy druk my arm saggies. “Asseblief, Mamma.”

Ek skuif reg op my stoel. “So bly my mooi, lang, mollige ouma agter met ‘n baba op die heup en drie grootoogkindertjies aan haar rokspante. Tragies en sleg in die tye na die oorlog. Ouma gaan bly by haar ma, ons Ouma Groot. Meer van haar later in haar eie storie.

“Die familie is nie links nie, die weduwee moet trou en ‘n jaar later, word sy aan ‘n oujongkêrel voorgestel. Vaalblou oë, gitswart Brylcreme kuif en Clarke Gable snorretjie. Hy is agter-agter-vêrlangse familie. Darem nie bloedskanderig naby nie.”

Sussa  lag. “Dankie tog!” Sy weet al van die bye en blomme.

“Nietemin, hulle trou. Gou het  hulle twee dogtertjies. Ouma en Oupa moet hard werk om die huishouding  met ses kinders se pot aan die kook te hou.  Hulle vestig, toe die kinders groter raak op ‘n bosboustasie, in die berge rondom Barberton.”

Ek blaai deur die pak foto’s. “Kyk hier is hulle almal.”

Dit is ‘n mooi foto van die saamgestelde gesin in die Uniegebou se tuin. My ma staan knus langs Oupa Willewragtag. Langs hom, soos Lady Di met die kleuter, staan Ouma met die jongste dogtertjie op haar heup, en neffens haar Tannie Ousus. Voor, met hulle armpies gevou, staan die twee seuntjies, albei met Oupa Oorlog se kuiltjies in die ken by hulle ander kleinsussie

“Mamma, dis ‘n mooi kiekie. Hulle lyk hoopvol en gelukkig.” Sussa vee so oor die foto met haar wysvinger. Asof sy wil uitreik na haar voormense.

Ons sit doodstil.

Die storie vir vandag is klaar.

NS.As  hulle op die foto  maar geweet het:  Ousus sou nie eerste trou nie, maar sy sou drie keer trou. My ma sou nie veertig sien nie. Sy het selfdood gekies, want sy kon my pa se dood nie oorleef nie. Hulle het eerste getrou.

Elke liewe een op die foto het sy of haar eie storie.n Familiesage met baie saamwees, liefde, jaloesie, nyd en struweling. Die hele kaboedel. Net mense wat sukkel om te bestaan! Almal ‘n storie om te vertel.

Hierdie is ons storie uit my perspektief. As een van die ander die storie sou vertel, sal daar sekerlik ander weergawes van dieselfde scenario wees. Dis maar die wese van die mens, so selektief en subjektief soos mens se eie onthou jou toelaat.

Vergeef my as ek tonnelvisie het.