Oor gille en spookasem

1606923_10152345023602905_546526081_n

Vuisboek herinner my dat ek op 31 Maart 2014 hierdie beroemde skildery met my maats gedeel het. Scream van Edvard Munch

Ek lees die volgende daaroor raak: “Essentially this famous picture is autobiographical, an expressionistic construction based on Munch’s actual experience of a scream piercing through nature while on a walk, after his two companions, seen in the background, had left him. Fitting the fact that the sound must have been heard at a time when his mind was in an abnormal state, Munch renders it in a style which if pushed to extremes can destroy human integrity.”

Ons kon nie anders as om vanoggend so te staan en gil na wat in die middernagtelike ure met ons land gebeur het nie. Met ‘n hiëna-lag en minagting het ons prez Suid-Afrika weer op haar knieë.

April Gekke-dag het ons nie nodig nie. Ons president het die grootste poets op ons almal getrek. Welkom in die piesangrepubliek waar korrupsie en mag hoogty vier. Waar die armes arm gehou word en die belastingbetalende middelklas gyselaars van gierigheid is.

Iemand het lank terug, pas na die ANC ontban is, vir my vertel dat daar vir JZ opgepas moet word. Hy het as leier van  Umkhonto weSizwe (MK) die reputasie gehad dat hy jou in die oë kyk asof hy jou pel is, dan is die mes al lankal in jou rug.

Ons land bloei sedert JZ en Shabir se mannewales, na Nkandla, en na ons ge-Van Rooyen is al meer en meer.  Die nag van die langmesse is toe nie wat Siener van Rensburg voorspel het nie…

JZ se messtekery is veelvoudig, vlymskerp en vernietigend aanhoudend.

Daar is amper niks oor nie.

Wat gaan dit vat dat almal, ja, almal hande vat, oor politiek, ras, klas, kultuur en saam opruk na regeringsgebou en raas en skreeu: “Bedank, gaan weg, gaan bly in Guptaland!”

Pravin Gordhan en Jonas het flussies op die trappe van Tesourie Suid-Afrikaners aangesê om aktiviste en vegters vir ons land en demokrasie te word.  Dink net as dit in die parlement kan begin – as almal die mosie van wantroue steun…

Dink net, as ons almal Maandag oral in Suid-Afrika, na die naaste regeringsstruktuur opruk – al is die SARS kantoor of binnelandse sake, of die Premier se kantoor, of die Uniegeboue, die Parlement in Kaapstad. As almal Maandag oral gaan toi-toi – saam, as Suid-Afrikaners.

Ons land, konstitusie en demokrasie ter wille.

Wat ‘n wonderlike dag sal dit nie wees nie.

Maar dis net spookasemdrome – ons weet nie hoe om aktiviste te wees nie.

Ons weet nie van saamstaan nie.

En wie wag op die kantlyn om ons huidige nagmerrie te vervang?

Woordloos kom die gil. Dis tyd, net soos dié  jong man sing…

Sharky Maré

 Rots ry vanoggend dorp toe om ons apteek te gaan afdank. Sy voorskrif het vir die derde keer onvolledig by hom uitgekom. Sy skouers hang, want as ons eers Vrydagmiddag by die plaashek ingedraai het, kry jy ons moeilik voor Maandag daar uit.

In ‘n poging om te keer dat hy minder beskaaf optree, en uit kommer dat hy perdalks in ‘n op-die-ingewing-van-die-oomblik insident beland, en dit oor bloeddrukpille, gee ek ‘n inkopielysie.

“Koop sommer vir ons ‘n plant vir die groot blou pot, toe.” Die mooi pot lyk verwese sonder plante wat in sy ronding groei. In my hart wens ek vir ‘n vrolike, geel hibiskus.  Maar ek sê niks.

Ek bak beskuit en wag vir Rots se terugkeer van sy sending. Twee uur later hardloop ons brakkebende keffend motorhuis toe. Rots is terug. Ek sug van verligting.

Hy kom om die hoek. Geel hibuskus in die hand!

“Die apteker leef nog,” rapporteer my man so ewe.

“Ek is dankbaar. Hoe het jy geweet ek wil ‘n geel hibiskus hê?”

“Ons is miskien maar na 33 jaar in mekaar se koppe,” kom die pittige antwoord.

Toe ons die plant sy staning gaan gee, grou Rots ‘n paar spoelklippe los.Seker vorige plantsessies se reste. Op die een klip is daar iets geskryf.

Ons lag toe ons lees:’Sharky Maré’.Dis ons meisiekind se troetelklip wat sy as hoërskool groentjie moes ronddra! Net verlede week het sy haar een-en-dertigste verjaardag gevier. Soveel jare lê Sharky al vergete.

Hy is so gedoop want Bab het die Natalse rugbyspan destyds ondersteun, tot sy agter gekom het dis veiliger om die Bloubulle hier in ons geweste te steun.

Ons doop toe summier die nuwe plant Sharkey Maré. Maandag gaan soek ons ‘n nuwe apteek.

Onrekonstrueerbaar

Ek het nie woorde nie.

 “Fuck white tears”, “Kill whites”, “Africa for Africans” , “Gemors”, “Barbare”, “Moordenaars”.

Die Op-die-ingewing-van-die-oomblik-insident in die soortnamige eetplek, waar twee ouers slaags geraak het, het ons stukkende land weer aan vitrioel spoel en gal braak. 

My middeljarige gemoed pieker en tob.

Vanoggend kom daar ‘n woord op my Ingelse-leer-woord skakel:

unreconstructed Audio pronunciation

 
adjective | un-ree-kun-STRUK-tud  

 

Definition

:

not reconciled to political, economic, or social change; also : holding stubbornly to a particular belief, view, place, or style


“Did You Know? The reorganization and reestablishment of the seceded states in the Union after the American Civil War is referred to as the Reconstruction. The earliest known use of unreconstructed is by a writer for the Boston, Massachusetts, publication The Liberator, who in 1865 used it to describe Southerners who were not reconciled to the outcome of the War and the changes enacted during the Reconstruction. The word immediately caught on and has been used to refer to intransigent or dyed-in-the-wool partisans ever since. The word is also used outside of political and social contexts, as when a person is described as “an unreconstructed rocker” or “an unreconstructed romantic.”

Dit slaan my op my solar plexus. In die middel van my menswees. Die woord beskryf ons, die mense van ons sonskynland!  

In Suid-Afrika word miljoene gewone mense vasgevang midde in die spervuur van die konings van misgund se agendas. Nie een van hulle dink aan Madiba se Ghandi-Dalai Lama-visie nie. Geld en mag is al wat tel.

Miljoene arm- en middelklasmense – belastingbetalende, broodlyn oorlewendes-  sit soos hase in kopligte en laat toe dat ‘n verbale minderheid gil en skreeu en twak kwytraak. Hulle kry reg dat rede vergaan, dat ons mekaar nie eens op sigwaarde ‘n kans gee nie. Hulle kom met moord, diefstal en korrupsie weg. 

Hulle speel met ons onrekonstrueerbaarheid. Hou ons vasgevang om nie te kan rekonstrueer aan onsself en ons samelewing nie.

Ja, ek is nie seker dis ‘n HAT-woord nie, maar miskien moet ons ondersoek instel, en ‘n term vind wat ons inersie om tot aksie oor te gaan te omskryf. Sodat ons kan saam baklei. Sodat ons almal, met dieselfde siekte gediagnoseer, saam kan laat gaan aan genetiese, en dikwels mitiese, vooroordele.  Ons is rekonstruktueerbaar, as ons saam staan. 

Ons almal het vermoë om ou denke te laat gaan, om oor te gee aan ons lotsbestemming. Om vrede te maak met ons naaste. Want ons almal maak saak.

 Al elf- landstaliges, wat hier aan die suidpunt van Afrika saamgegooi is, kan saamwerk. 

Kolonialisme, sosialisme, kapitalisme, vuil politieke speletjies, ten spyt.

 Dink net as die verslae massa hande vat, en soos die anti-paswet vroue van destyds, saam opruk na die Unie-geboue en sê genoeg is genoeg. 

Rekonstrueerbaar.

Here, help ons.

As woorde nie reg ryg nie

Party dae as woorde nie reg wil ryg nie, sit ek terug en laat my inspireer deur ander se perfekte woordsnoere, en ek fokus ook nie op skryfwerk nie, maar deur my kameralens.

Ek kiek graag mooi goed met my geliefde Canon Kamera met sy Sigma-zoemlens.Die veld, die blou lug, mooi blomme van naby, maak my hart warm klop en laat my oog wondere sien.

Portretstudies en mense in aksie is nie ‘n fotografie-gunsteling nie.  Dis nou nie dat ek nie van mense hou nie, dis net nie my fotografie voorkeur nie.

Hier is  eie-fotoskeppings met ander se wyse woorde wat my vol energie maak en lus om kleurvolle woordsnoere in hulle hordes op bladsye te laat uitrol.

 

This slideshow requires JavaScript.

Witbroodjieskaam

Ag julle kan maar weet. 

‘n Skielike bui reën tussen Graaff-Reinet  en Jansenville, more, sal my skuld wees.  

Dis al jare, dat die huistoe rit maar stil is, want voor die eerste draai in die pad buite Graaff-Reinet, afhangende of ons via Middleburg en Colesberg koersvat met die N1 Noord en self ry, óf met die huurkar terug reis Port Elizabeth toe om terug te Limpopo toe te vlieg, sien ek niks nie. Ek tjank. My siel skop teë, my hart breek. 

Ek los ‘n heel ander mens agter in die hoefyster van die Sondagsrivier, in my geliefde Graaff-Reinet. Ek hou van myself by ons Karoo adres.  Dié vrou is vrolik, ontspanne.  

Sy het nie die obsessiewe behoefte om met niks besig te bly nie. Sy lag en gesels, sy lees, sy dink. Sy skryf want dis lekker.Sy hou nie van terug gaan na die harde ons-moet-oorleef-wêreld daar ver Noord nie.

Maar ek is nie eerlik met myself nie. 

Daar ver in die Limpopo, is ek net so bevoorreg. Ek maak ‘n billike lewe met my gesin. Daar is geliefde vriende, wat my al jare ken en nog steeds vir my hakieshart omgee. 

My honde bly daar saam met ons in ‘n lieflike huis op dierbare vriende se plaas. Ons kan daar bly, want hulle is nou in hulle aftree huis in die stad. 


Skaam kry ek nou. Ek besef hoe bederf ek is met seëninge.  

Bestevriend ega, pragtige engelkinddogter en interessante werk.

Ek het lewende en verwesenlikbare drome.  
Soveel  om na uit te sien. 

Regte witbroodjie.

Ek gaan my bes doen om die Karoovrou  more op die vliegtuig te kry tot in Limpopo. Ek skuld my liefiemense dit.

Miskien kiesa dit more net so bietjie tussen Graaff-Reinet  en Jansenville.

Groot verwagting 2

Gister het ek vertel hoe ons eiendom in Graaff-Reinet gekoop het. Die adres het ‘n woonhuis en motorhuiswoonstel. Ons noem hulle Longreach en Outback. Dis ver van ons Limpopo adres waar ons brood en botter verdien, en dis die pragtige dorp in die Australiese Outback, se skuld dat ons hier ons harte verloor het.
Langs ons huis, wat ons na restourasie sedertdien verhuur,  staan die fraaiste Viktoriaanse kothuisie.  Vuilpienkstaandak met ‘n ronde solderluggat en hout broekielace. Storieboek en kinderlik mooi. 

Ek het altyd so die mooie huisie, met sy museumwapentjie trots by die voordeur, bewonder.

‘n Kleine vroutjie het  meer as sestig jaar daar gewoon. Die tannie is toe al die tyd my niggie se skoonsuster se ouma! Die kleindogter woon ook in Polokwane. Mense wat ons ken. Die wêrled is klein.

Ons buurvrou in die Karoo is so klompie jare gelede oorlede. Die huisie is te koop, hoor ons.Op die ingewing van die oomblik besluit Rots ons gaan ‘n bod op die plek in sit.  

Ons eerste bod is onsuksesvol en ons berus daarby.  Maande later is die huis steeds nie verkoop nie. Rots bie weer. Baie minder as die eerste keer. Weer troef iemand ons. Ons besluit dis nou maar so. 

Ons omskep die woonstel, Outback, in ‘n vakansieplekkie vir ons en liefiemense.Die tannie se kleinkind se man laat weet ons nog ‘n paar maande later, dat die huisie nog steeds nie verkoop is nie. Rots besluit om ‘n lawwe  aanbod in te sit. Wragtie,ons kry toe vir Great Expectations met ons laaste bod.

Toevalligheid.  Nooit. Ons storie hier in die Camdeboo word vir ons geskryf en ons stap dit met groot geloof uit.

 Die proses om op een plek ‘n bestaan te maak, en duisend kilometer ver aan ‘n droom te werk is nie altyd lekker nie. Ons bou soos ons kan, en tyd stap aan.

 Ons is nou by teëls uitsoek, besluite te neem oor optooigoed en tuinbeplanning. ‘Eendag trek ons in’ word nou tasbaar. 

 Die wind ruis deur die peperboom, mense stap met hulle honde om die park neffens ons, kinders ry wipplank en ek sit op Outback se stoep en skrywe en droom. Want ek mag en Great Expectations wag.

 

Groot verwagting 1

In Longreach, Australië se hoofstraat met ‘n mooi middelman, omsoom deur leivore en parallel parkering, beleef my Rots en ek, ‘n oomblik van waarheid. ‘n Hier-sal-ek-kan-wortelskiet-gevoel oorwelding ons. 

“As ons ooit in Suid-Afrika ‘n kwart hiervan beleef, koop ons dáár ons huis,” sê my man.

Een jaar later onderweg na Kaapstad, draai ons by Colesberg links van die dooilike N1 af. Die ent van Colesberg,  Beaufort Wes en Laingsburg moor my siel en Rots is gelukkig baie lief vir afdraaipaaie.

Ons kom teen middagete Graaff-Reinet  binne. Die gastehuis is te oulik, houtvloere,  koel binne kamers, en ‘n lekker stoep met ‘n braaihoekie.  Ons is skaars uitgepak toe die stapel pamflette ons oog vang. 

Genade, mens sal besig bly in die geskiedkundige dorp. Ons lees van 200 museumstatusgeboue,  fossiele, kunsskatte,  die Vallei van Verlatenheid en, en, en. Ons kyk vir mekaar.

Is dit ‘n Longreach-moment?

Sonsaktyd, met yskoue bier in die koelsak, ry ons dorp uit en berg op om die Vallei van Verlatenheid te gaan beleef. Rots, hoogtevreserig, hou styf aan die stuurwiel vas en kyk net reg voor hom in die pad.

Op en op reis ons, en skielik lê Graaff-Reinet, ingehoefyster deur die Sondagsrivier. My hart klim by my keel uit, my siel kry vlerke. ‘n Arend sweef saam.  

Ek stap alleen  die steilte uit om ‘n ewigheid ver te kyk. Rots hou ‘n skilpad  by die parkering geselskap. Die wind waai my kuif deurmekaar. Die arend sweef voor my verby. 

Ek voel hoe my Skepper  sê:”Welkom, my kind.”  Hy vryf met die wind my hare deurmekaar.

Van daardie oomblik, is ons Graaff-Reinet  getoor. Om ‘n uitroepteken by die ervaring te sit, kry ons ‘n jong koedoe-ooi langs die pad.  “Hoekom het julle so lank gevat om te kom,” vra sy sonder vrees.  Ek hoor haar asemhaal,. Ek neem ‘n foto van haar met die mik-en-druk, voordat sy  wei-wei wegstap. 

Ons ry terug dorp toe. Ons weet hier kom ‘n ding. Ons gaan huis koop. Longreach, wat is jou Graaff-Reinet  adres? 

Die naguiltjies roep

Saterdagaand.

Die kiewiete raas hulle kleintjies nes toe.

Die kransswaeltjies kweel op die stoep hulle nuwelinge tot rus.

Manlief kyk rugby – Skotte teen Engeland.

Die swembad pomp loop sy laaste halfuur.

Dan kom die stilte.

Die naguiltjies begin roep, terwyl die volmaan sy pad oor die naghemel begin loop: “Dear God, deliver us. Liewe Here, behoed ons.”

Daar word vertel dat die Engelse in die Boere-oorloë die gebed saans opgesê het saam met die naguiltjies, want bedags is op hulle teiken geskiet.Dis toe hulle nog rooi-uniforms met wit helms gedra het.(Toe hulle die tweede keer kom was hulle in kakie-uniform.)

Hierdie seisoen hoor ek die uiltjies veels te veel. Hulle is oral om ons huis. In die kamp waar die mooie Njalas loop, in die veld, agter die stoor. ‘n Koor, heelnag.

Hulle is simpel weerlose goed. Lief vir die middel van die stofpad waar vanmiddag se son nog in die warm stoffies broei. Dan gaan sit hulle daar, in die middel van die plaaspad. As jy vanaand laat huistoe kom, vlieg ene dikwels te laat op, en dan is dit kismet.

Ons is ook so dom. Sit elkeen alleen op ons hopies warm sand, ons eilandjies. Alleen.

Hulle roep wat ons harte nie meer wil vra nie.

Ons land brand. Vlamme van haat en misgunning.

In die nuus vandag:

Daar is ‘n maand-oue baba weg na wat soos ‘n kaping lyk.

‘n Nuut gebore baba met die naelstring en plasenta nog  om haar gevind, weggegooi.

‘n Vrou is wreed aangerand met ‘n elektriese boor, nog een in haar huis oorval.

‘n Man is ten aanskoue van sy elf-jarige dogtertjie in ‘n padwoede insident met ‘n mes doodgesteek.

‘n Kleurlingboer kan nie sy huurgrond koop nie.(Die Landbouweekblad sê hy is swart…)

Die regering leef in ontkenning.  Die gevolge van korrupte verryking uit mense wat staatstoelae ontvang, rys op die horison. 1 April gaan veel meer as Gekkedag wees as miljoene mense nie hul geld ontvang nie.

Ons sit in die stof op ‘n tydbom. Elkeen alleen.

“Dear God, deliver us. Liewe Here, behoed ons,” sing die naguiltjies.

Liewe liefde land!

Vanmore is daar ‘n helse gezoem in my kop, en hart. Vurig spoegerig voel ek behoefte aan mondspoel.

En dit begin alles by die liefde.

Ja, daai liefde wat onse Lievenheer ons van leer.

Ek lees ‘n mediteerstuk oor wat groter is – evangelisasie of aanbidding. Nee, ou kinta, nie een van die twee is groter nie, vertel die skrywer my. Die liefde, daai een wat saam met geloof en hoop gaan, daai liefde is die grootste.

Die Boodskap se vertaling van Efesiérs 3:14-17 bevestig dit verder luid vir my.

Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur Sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om  geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op die liefde. Deur ander mense met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het.”

Ware liefde is groter as evangelisasie en aanbidding, laasgenoemde twee vloei natuurlik uit liefde soos God ons opdrag gee om uit te leef.

Ons moet ons opdrag uitleef, naamlik om in geloof, hoop en liefde, die ewigdurende en onvoorwaardelike soort, ons naaste te dien na Jesus se voorbeeld.

Nou verstik ek vreeslik van verstomming hoe balk-in-die-oog daar alweer oral onder mekaar ingeklim word oor plaasmoorde, korrupsie, grondonteiening, politiek, kerk, huwelikke, vriendskappe.

Daar is op Vuisboek en ander mediaplatforms massas met menings. Massas wat slegsê, beledig, laster, vloek, haat.

Ek verstom my vir NG- en ander-kerkers, wat in jare nog nie saamstem oor apartheid se onreg nie, wat nie eensgesind oor gays standpunt wil inneem nie, kerke wat met leë banke en geen ware uitreik, hulle geboue nie met ander wil deel nie, nie die armes op die straathoek ‘n korsie brood sal gee nie.

Húlle klim op die hoogtes en skree met gebalde vuiste oor die omie met die hoed en Bybel in die hand, waag om mense van alle kleure en geure en oortuigings roep om saam te kom bid.

My magtig, hy kan mos maak soos hy in sy hart glo hy dien vir God. Omdat dit nie soos jy lyk, of soos jy dink nie, maak dit nie noodwendig verkeerd nie. Enige aksie is beter as niks doen en skreeu.

Ons is nie een Moses of Elia nie – ons kan nie roem ons is God se vriende met ons dubbele standaarde en oordeel nie. Dankie tog, Sy liefde vir ons is groter as enige foute wat ons kan droom om te begaan.

God het ons almal uniek lief. Hy het ons almal immers lank voor ons onder ons ma se hart begin lewe het, beplan met onvoorwaardelike liefde!

So, Oom Angus – roep gerus die mense saam om op 22 April hulle saam met jou te verootmoedig voor God. Ek is oortuig dit sal God se hart bly maak om 1 miljoen Suid-Afrikaners bymekaar te sien. Hoeveel te meer as 44 Miljoen dit doen – die sluise van God se genade sal verseker op Sy tyd oor ons oopgaan!

Al die dominees, pastore, priesters, ouderlinge, diakens, susters en broers, gelowiges en ongelowiges – gaan asseblief en maak so gou as moontlik ‘n afspraak met jouself en ‘n spieël.

Wees eerlik met jouself oor die daadwerklike verskil wat jy maak om dinge in ons seer, sukkelende land te verander.

Om God se liefde in aksie te wees.

Om die enigste refleksie van Jesus te wees wat iemand miskien ooit sal sien.

Bêre jou leunstoelkritiek , egoïstiese sielsalwing en Pontius Pilatus handewassery  – asof niks met jou te make het nie. Rol jou  ontwerpermoue op en doen iets.

Reik uit na jou huiswerker en tuinier. Weet jy van hulle gesinne, hulle huise. Was jy al in hulle huis? Het jy al saam met hulle huistoe gereis, of soggens vieruur opgestaan sonder kos om agtuur by jou hek en agterdeur in te stap?

Het jy al brood en melk gekoop vir die vier manne wat moedeloos oorkant die inkopeisentrum se parkering sit. Niemand het hulle vir dagwerk kom oplaai nie?

Het jy al jou ekstra baadjie vir die karwag, bewend van die koue, gegee.

Sê jy mooi vir die werksoeker jy het nie werk nie. Sê jy vir hom  sterkte en God seën jou?

Ja, kyk in daai spieël.

Skaam jou.

Ek hou gereeld so vergadering met die spieël.

Ek kom sleg tweede.

Die Vader weet.

Lees weer Efesiërs 3: 14-17

Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur Sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om  geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op die liefde. Deur ander mense met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het.”

Eish. Kan jy dink as al daai veroordelende massas Efesiërs se man staan en liefde uitleef!

Sjoe, die hemel gebeur sommer dadelik op aarde…

sunset

Foto: Erna Maré – Sonsondergang oor Ysterberg, Polokwane 2014