Oor olifante in kamers en rekke wat skiet…

Man, as jy iemand se vooropgestelde verwagtinge die nek inslaan, dit laaik ek kwaai. Veral as jy berug is as ‘n kort van draad helleveeg en die emosionele etiket lankal op jou rug vasgewerk is.

Jy weet dat hy of sy verwag om met ‘n woedende woordevloed die kop gewas gaan word of met snot en trane van teleurstelling begroet gaan word. Hulle klee daardie olifant in die kamer met skreiende kleure, jy kan dit nimmer miskyk.

By die weersiens is jy egter die vriendelikheid en welsprekendheid van self. Ag  man, my binnekant kry lekker. Punt.  Jy los die olifant in die kamer, maak of hy van glas gemaak is, en jy weet die ander ou het al elke haartjie op die olifant se stert getel, weet van die ingroei toonnael op die voorpoot links. Jy gaan aan of daar absoluut niks is nie.

Dit kos hare op die tande om daardie Bybel teks uit te voer, daai ander wang een en ook die een van die hete kole op jou teenstander se hoof. Ek moet hard aan my wangvleise kou en aanmekaar vir kalmte en krag bid en ook om nie my te vreeslik te verlekker nie.

Dis groot dissipline as jy deur genade dit regkry om mense met jou reaksie op seerkry, woede en ongelukkigheid te verras deur met vredigheid  en kalmte van gees die weersiens na ‘n insident te hanteer. Hulle ongemak en ongeloof is tasbaar. Hoe vrediger, hoe lekkerder staan daai olifant en herkou dat die spoeg so spat. Die dissipline is om nie hardop te sê: “Het jou katvis” of “lekker ou blindesambok” nie.

Die kuns is om eenvoudig  aan te beweeg. Te aanvaar dat jy nie die askies sal kry wat jou toekom nie. Die erkenning dat hulle rêrig dom soos grond opgetree het, dat hulle ekheid hulle niks in die sak gebring het nie – verwag dit bloot net nie, dan kan dit jou minder skeel. Dis hulle wat maar verder moet wonder en skigtig wees.

Ek en my varsity kammie klim eendag (dis doer ver terug in 1977) daar by Kerkplein af om plate en seep en so aan by Dions en Clicks te gaan koop. Ek was die vrygees hippie met los rokke en Liewe Jesus plakkies, sy met die donkerbruin romp, geruite bloes en onderrok en netjiese skoeisel.

Dié dag stap ons nog so, toe skiet haar onderrok se rek. Sy struikel effe toe die lap om haar enkels te ruste kom.

“Wat nou,'” vra sy benoud.

“Stap uit hom uit asof dit nie joune is nie, moenie eers terug kyk nie,” antwoord ek so in die stap.

Sy het.

Ons twee het  daardie dag geleer dat as iets breek, is dit maar so. Stap aan.

Daai les help ook baie as jy vergelding wil uitdeel vir onregte. Stap liewer weg. Die ding is gebreek, optel en lap gaan nie help nie.

Waak ook daarteen om die olifant nooit te voer nie – hy verdwyn na so ruk, of verkas saam met die persoon ver weg, uit jou spasie. Jy dink ou koeie uit die sloot stink. Jo, ‘n olifant se klank was moeilik uit.

Onthou om vergifnis vir jou eie sondes te vra. Dis hoe jy jou siel gesond hou. Ek probeer.

Koebaai.

 

 

 

 

Lukraak lekkerte


Ek laaik om so lukraak goed raak te lees of te sien. Soos hierdie mooi van ‘n skilder wie ek nog nie voorheen raakgeloop het nie. Wat ‘n lekker ontdekking!

Die skildery laat my gedagtes oral heen galop:

Ek sien ouer ekke wat vir jonger ekke vertel ons het oukei uitgedraai. Dat kleintyd se seer net groeipyne was…

Dan as weer so kyk, sien ek vriendinne wat saam die pad loop.

Dan weer, my wonderlike verhouding wat ek en my skoonma Biebs gehad het. Ek aan flarde oor my selfmoord-ma, en sy, ma van vier seuns. Ons het saam geloop, en was geseën soos Naomi en Rut.

Dan weer, sien ek my Bab wie se hand styf in myne bly. Soms as ek swaar dae het, lei sy my, dan weer ander dae is ek die leier en sy volg…

Die skildery getiteld ‘Mystical Conversation’ circa1896 praat met my binneste. Die skilder is Odilon Redon.

Ek het hieronder ‘n stuk oor sy werke gespoeg en geplak van die Wikipedia. Die skilder het die wens uitgespreek dat sy werk moes toon dat lig oor donker seëvier.

As ene wat Bloubekruip alewig ‘n ruk aan sy wurgketting moet gee, en dit goed leer doen het, reken ek dis hoekom dié kuns met my praat.

Kyk saam…

Odilon Redon

“Those were the pictures bearing the signature: Odilon Redon. They held, between their gold-edged frames of unpolished pearwood, undreamed-of images: a Merovingian-type head, resting upon a cup; a bearded man, reminiscent both of a Buddhist priest and a public orator, touching an enormous cannon-ball with his finger; a spider with a human face lodged in the centre of its body. Then there were charcoal sketches which delved even deeper into the terrors of fever-ridden dreams. Here, on an enormous die, a melancholy eyelid winked; over there stretched dry and arid landscapes, calcinated plains, heaving and quaking ground, where volcanos erupted into rebellious clouds, under foul and murky skies; sometimes the subjects seemed to have been taken from the nightmarish dreams of science, and hark back to prehistoric times; monstrous flora bloomed on the rocks; everywhere, in among the erratic blocks and glacial mud, were figures whose simian appearance—heavy jawbone, protruding brows, receding forehead, and flattened skull top—recalled the ancestral head, the head of the first Quaternary Period, the head of man when he was still fructivorous and without speech, the contemporary of the mammoth, of the rhinoceros with septate nostrils, and of the giant bear. These drawings defied classification; unheeding, for the most part, of the limitations of painting, they ushered in a very special type of the fantastic, one born of sickness and delirium.”[15]

The art historian Michael Gibson says that Redon began to want his works, even the ones darker in color and subject matter, to portray “the triumph of light over darkness.[16]

Redon described his work as ambiguous and undefinable: “My drawings inspire, and are not to be defined. They place us, as does music, in the ambiguous realm of the undetermined.”[17]

Oor te veel koek en tinktuur…

Baldessari_Tincture2

In die land Misgund gaan dit maar rof. Almal sukkel om kop bo water te hou. Daar is maar soveel koek om te eet, en die bakker se standaarde het so gedaal dat die koek maar al hoe skrapser raak.

Daar bly ‘n gawe man in die land. Hy is so bietjie anders as die deursnit Misgunner. Hy glo dat as jy die hele koek vir jouself hou, gaan een van twee dinge gebeur:

  • Jy gaan te veel koek vreet en dan braak jy as gevolg van jou vraatsug
  • Die koek gaan sleg word omdat jy te lank neem om die koek op te eet

Die man, genaamd Mededeelsaam, het nie omgegee dat klomp Misgunners van die koek waarvan hy die meeste gehou het, ook wou eet nie. Elkeen sou darem nog ‘n billike snytjie eet.

Maar hy het hom misgis met die etos van Misgund. Iemand wil altyd meer as die ander ou hê, maak nie saak wat of wie in die slag bly nie. Maak nie saak dat Mededeelsaam met sy omgee hart menige Misgunner in nood bygestaan het nie. Dit beteken net mooi niks.

Die rasegte Misgunner kan net oor homself kommer. Die Midas apteek was permanent uitverkoop aan “Ek wil allles hê-tinktuur.” Die tinktuur het mense nogal grootkop gemaak. Prins Misgun die Derde was verslaaf hieraan. Hy het vinnig vergeet hoe Mededeelsaam sy snytjie koek met hom gedeel het toe die nood hoog was. Bogger gevolge, te duiwel met die hemp, baadjie, toekomsdrome wat hy  metterwyl ook Mededeelsaam ontneem, wil hy sommer toe op ‘n dag Mededeelsaam se stoel ook hê. **

Mededeelsaam se hart is gebreek, en hy het maar emigreer na binne. So eenkant die vegtery van die mense in sy land gadegeslaan. Eendag sal niks hiervan saak maak nie, het hy homself getroos. Maar sy gesin se honger oë en vrae was bitter wonde om te dra.

Moedeloos sit Mededeelsaam een goeie dag onder ‘n boom en ‘n man kom verby.

“Mededeelsaam, wat sit jy so, het jy nie werk nie?”

“Nee, ek het nie meer werk nie. Prins Misgund die derde het alles by my weggevat. Ek het nie eers meer ‘n stoel nie,” antwoord Mededeelsaam mismoedig.

“Kom ek vertel jou ‘n geheim. Daar is ‘n nuwe land, jy is ‘n geskite kandidaat. Bring jou geliefdes en kom saam met my,” nooi die vreemdeling.

“Moet ek iets pak, daar is nie veel nie?”

“Nee wat, los alles net so hier. Daar is oorvloed van alles wat jy en jou geliefdes nodig sal hê,” vertel die man vir Mededeelsaam.

Tipies, vra Mededeelsaam:”Kyk, hoe gaan dit hier in Misgund, moet ons hulle nie ook vertel nie? Miskien sal die vegtery ophou.”

“Nee wat, hulle is lankal ingelig, maar weier om sonder al hulle besittings saam te kom, los hulle maar,” sê die man met ‘n hartseer trek.

Mededeelsaam en sy gesin vetrek die nag sommer al na die nuwe land.

Gou is hulle gevestig en gelukkig.

Een goeie dag is daar ‘n geraas by die hekke van die nuwe land. Dis Prins Misgund die derde. Hy is verheug om Mededeelsaam te sien: “Mededeelsaam, maak vir my oop! Kyk ek het al jou goed saam met myne gebring, ek wil dit terug gee. Ek wil saam met julle kom bly…”

Mededeelsaam trek sy skouers op: “Ek het nie die heksleutel nie…”

**Dr. Elsje Buchner van die NG Kerk La Rochelle, Oakglen, Belville het raakgepiets met die oordenking en my op die storie se spoor gesit. Vroegoggendgedagte 16 Oktober 2017

 

Kunswerk op die foto: John Baldessari, “Tincture of a Person Who Wants Everything,” Mixed Media, 1996. Courtesy Jancar Gallery.

 

 

 

 

 

 

 

Lê-jou-eier: Ek kan nie rerig nie

 

Hester se lê-jou-eier uitdaging pak ek met ‘n ompad aan.

Ek het as kind van ‘n Ramblin’ man, wie elke twee jaar ‘n kriewel gekry het, gou geleer dat groot tjommies maak lei net tot seer, tranerige vaarwel wanneer ons vir die hoeveelste keer moet trek. Ook is baie skooljare in die koshuis of buite die dorp saam met Oupa en Ouma spandeer. My kringe het altyd klein gebly. As ek die dag vriende maak – dan is dit soos met my brakke – vir laaaank!

My koshuis kamermaat en ek het vir die eerste ses weke op universiteit nie ‘n woord met mekaar gepraat nie. Ek was obsessief kompulsief netjies; sy het ‘n veer gevoel oor bed opmaak. Ek het wasgoedwas gehaat en het elke ses weke met tasse vuil klere trein gevat huistoe. Tot een naweek, toe maak ek kamer skoon en sy was en stryk.

Ons vriendskap is vandag steeds eerlik en opreg en dikker as bloed. Ons weet alles van mekaar en hou nog steeds van mekaar. Daar is ook oral in die land wonderlike vroue wat ek bevoorreg is om te kan sê dat, al sien ons mekaar nie elke dag nie, is elke wedersiens soomloos, asof ons nooit oor tyd en afstand geskei is nie. Ek tel hulle op my een hand.

My  Rots het oor jare  gesorg dat die verhuis uit bekende omgewings darem stop. Ons woon al meer as dertig jaar in die Noorde van ons land. Ons verhuis nogal so nou en dan in die omgewing – dit hou my treklus, wat ek van my pa geërf het, in toom. Hy het egter ook swaar, want as die onrus groot raak , skuif ek meubels.

Maar terug by die eier-lê.

Vir baie jare was ons ‘n deel van ‘n speelgroepie. My man die nar en baasbraaier. Ekke – was die ensiklopedie vir die kinders en te ernstig vir die vroue. Ons was die ouer mense in die groepie. Toe ons eie kind nog skoolgaande was, was die verskille nie so ooglopend nie. Ons is maar gewone mense. Genoeg is ons mee tevrede. Te veel oorweldig ons.

Die speelgroepie se krose raak groot, hulle besighede ook. Ons behoeftes het net te veel begin verskil.  Metterwyl kom jy agter dat jy so liggies na die kant toe geskuif word. Dan skielik kom jy agter die vriendskap is ‘n eenrigtingstraat en net jou spore is daar getrap.

As die pennie val en  jy kliek hier hoort ek nie meer nie, dan is dit nou maar so. Jy laat los. Jy bel minder, jy wys op die nippertjie afsprake af. Tot alles net op ‘n dag verby is. Dis ‘n seer rouproses, en mens kyk maar hard in jou binneste en probeer voor jou eie deur vee. Tot jy eendag besef dis verskille aan waardes en lewensuitkyk wat die einde van jarelange vriendskap meegebring het. Dit was tyd.

Ek persoonlik hou van die seisoene allegorie – daar is vriende vir sekere seisoene, party lank, party kort, party vlak, party sielsgenote. Sommige vreeslike lesse. Rod McKuen skryf en sing so mooi: We had joy we had fun……

Die volgende eier wil ek lê oor die uitsuigers van jou emosies, jou tyd, jou goedheid. Die laat los ek soos ‘n warm patat. Die suurstofdiewe, jammergatte en projekteerders – dieselle. Mense, van familie tot kennisse, met issues en bagasie maak my baie bang.  Ek bly net weg.

Hoekom?  Want my eie goete en goggas het my moeilike geselskap gemaak vir baie jare. Maar ek het my strooi  hanteer en verwerk. Askies gesê waar ek moes. As ek kan, kan ander ook. So my nonsensmeter is gebreek – ek kan nie. Een kans het jy, dan is dit kismet.

Ons is besonder bevoorreg om kinners van ander ouers ook intiem in ons lewe betrokke te hê, en lief te kan hê. Vir hulle leef ons ten voorbeeld en is rasieleiers op elke tree van hulle lewenspad. Ek skryf hier vir elkeen van julle, leer uit my foute.

My honde is die enigste lojale wesens wat ek ken. Ek het ‘n beste vriend in my Rots en ook my eie kind. Dis ‘n voorreg om so spesiale verhouuding met jou eie kind op gelyke vlak en as ewe-mens te kan hê. Luuks.

Kapow! Ek kan nie verder eier-lê nie!

Want vanoggend….

Ons liewe Vader het deur Stephan Joubert se Bybeldagboek vanoggend my lekker geblindesambok oor hoe met suurstofdiewe gemaak moet word.

Rots lees uit Galasiërs 6 DB:

Help mekaar
1My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.
2Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.
3As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie4Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk5Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.
6Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.
7Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.
9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.

 

Sela.

Gaan heen en wees ‘n goeie rasieleier vir die eendjies in jou dam!

Ns. Behalwe dat die Gees ons lei, het jy ook gesonde verstand gekry om te weet wanneer iets vir jou sleg is, selfs vriendskappe. Hier is sobere raad:

https://www.rd.com/advice/relationships/toxic-friends-signs/1/

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

O, f.., hier kom die koekiemonster

Dié relaas is Storieklong  en my Rots se skuld.

Storieklong het met sy vroegoggend bloginskrywing die tuinhekkie vroegdag oopgemaak, en Rots het my die tuinpaadjie af gelei, en nou moet ek die piekerery in my binneste uitskryf…

Rots deel ‘n gesprek met ‘n mede-entrepreneur in dieselle ouderdomsgroep as ons, so terwyl ons werk toe ry.

Hulle gesprek het begin met swak dienslewering op mislikepale vlak, soos kragtoevoer wat masjienerie laat blaas, waterrekeninge wat slegs met konneksies gesorteer kan raak, roekelose wetteloosheid by robotte en op paaie, stront wat innie pad afloop, belasting en so aan ensovoorts.

Die praat vorder tot by die gevoel dat hulle miskien moes bly vasbyt het en eerder hulle ja-baas-nee-baas-lewe tot pensioendag moes kies. Maar ons mede-swaartrekker sê ewe wys “liewer hierdie onsekerheid, as om glad nie te leef nie.”

Kapow.

Hy is reg.

Liewer bang, bedonnerd vir jou eie oorlewing as om nog ‘n ander te moet verryk.

Ding is: die belasting, die swak ekonomie, die politiekery wat so boelierig voel – kry mens op ‘n plek waar jy hartstogtelik wens om of die Lotto te wen of om maar liewer helemlhuiswaarts te keer.

Ek sit so en kou verder aan Storieklong se skrywe en Rots se mededeling en kom af op  die gemmerkoekmannetjie en die koekiemonster se weergawe van “The Scream” van Edvard Munch.

Die grap is nie so grappig nie.

Die f…. koekiemonster loer vir ons almal – ons lewensangs, ons vrese, ons onsekerheid oor klomp dinge. Soveel van ons het goete om te verwerk, te deurwerk. Die koekiemonster is massief en kan ons oorweldig.

Edvard Munch het self oor sy skildery in 1895 soos volg geskryf:

“I was walking down the road with two friends when the sun set; suddenly, the sky turned as red as blood. I stopped and leaned against the fence, feeling unspeakably tired. Tongues of fire and blood stretched over the bluish black fjord. My friends went on walking, while I lagged behind, shivering with fear. Then I heard the enormous infinite scream of nature.” 

Scream Meaning: Meaning of The Scream (1893) Painting by Edvard Munch: Art Analysis

Ek pieker so voort en ons boekevat uit Galasiërs 5  heelweek kom by my op. Ons het gelukkig die Gees wat ons lei, wat vir ons bid as daar nie woorde is nie, as die skreeu geluidloos kom, as ons vergeet ons glo.

Dis al opiaat wat werk, skryf Stephan Joubert.

Ek bid stil om vergifnis oor my lelike byvoeglike naamwoord vir die koekiemonster.

En net so om ‘n kroon op al die simpel aardse denke te sit, lees ek wysheid van Roger Wolsey, progressiewe Christen, predikant en skrywer van die inspirerende “Kissing Fish.”

Ons moet ophou leef as tydelike besoekers hier op die ondermaanse – ons beroof onsself met sulke denke. Ons moet ophou leef asof ons huis elders is, ons moet sielvol binne ons menslywe in die hier en nou leef. Dit klink teenstellend, maar ook nie.

Lees self:

You have heard it said, “We are not humans having a spiritual experience. We are spiritual beings having a human experience.” And, “We are not human beings on a spiritual journey. We are spiritual beings on a human journey.“And, “You don’t have a soul. You are a Soul. You have a body.”*
but I tell you,
“Humans are embodied, spiritual beings who are having an embodied, spiritual experience. That’s what a human experience is. We are human souls. We are human-spiritual beings.
I share this in response to the dualistic – gnosticism that has been so unhelpful over the years. We seem to like/need to think of ourselves as primarily “spiritual” beings who are only accidentally and temporarily earthlings.
… Such views, while no doubt well intended (they do seem to be a morale boost), have resulted in humans thinking that “our real home is in heaven” and thus, we can disregard the earth, abuse its resources, loathe the material world; and even oppress certain fellow humans, and minimize our physicality.
I think Christians are at our best when we focus on salvation/wholeness here and now and not think of ourselves as “just passing through.” We’re incarnate (“enfleshed”) – our bodies are essential to us – and that’s a good thing.  Our spiritual experiences are natural. We experience Spirit as natural beings (enfleshed spiritual beings/souls) can and do.
What do you think? – and by you I mean the beautifully strong, vulnerable, perfectly imperfect embodied spiritual human being who you are.
(* – commonly, but falsely, attributed to CS Lewis. He would never have said that.)
xx – Roger
Rev. Roger Wolsey is an ordained United Methodist pastor who directs the Wesley Foundation at the University of Colorado at Boulder, and is author of Kissing Fish: christianity for people who don’t like christianity
Read more at http://www.patheos.com/blogs/rogerwolsey/2016/03/were-not-just-passing-through/#B6IdX7zDm3lYMeHl.99

Spiritbody

 

So binne die konteks verstaan ek as ons kwaad en bang en moedeloos raak. Dis deel van die belewenis as mens-siele hier in ons lywe, aardgebonde, smagtend na ons Vaderhuis.

Dis oukei as die koekiemonster jou laat skrik, gil net in die regte rigting.

Ons Vader luister en wag met oop arms, altyd.

 

 

 

Wat is jou superkrag? Ek leer nog

My superkrag is hoogs aanpasbaar en plooibaar, en word slegs deur lesse aan eie bas  verwerf.

Oor die jare het ek geleer om ‘n verskeidenheid weergawes van myself vir verskillende mense te wees.  Kalmte in krisisse is aan die voorpunt en dan dat ek, gegewe wat die krisis is, ook dié deskundige is: die dokter, die apteker, die dierekundige, en so aan.

Ek is ook klaarblyklik die mens wat alles vir almal om my gelyk maak. Ek mag weet van geldnood, ek mag weet van hartseer. Ek kan vertaalwerk doen, ek kan krom briewe regskryf, ek kon selfs op ‘n stadium goue eiers lê. Hase uit hoede trek – daai krag

My superkrag het baie aantrekkingskrag gehad. Baie mense het my bewonder.  Dit was asof ek koning Midas was. Die organisasie waarvoor ek gebedel het was beïndruk – hulle het ‘n goue pen vir my gegee. Pfft. Tot ek onderhandel het om flexi-ure te werk. Daai kaait het nie gevlieg nie, en ek is huistoe. Eenkant op die plaas gaan sit en net na my huismense en my honde omgesien.

Die fêns het verdwyn. Ek kry so nou en dan ‘n oproep omdat iemand na al die jare nog onthou ek speak both tales deliciously, onthou ek kon professioneel bedel. Maar ek trek nie meet daai kleedjie aan nie. Hy is motgevreet.

Die wat my superkrag nou benut is ‘n handvol. ‘n Groepie werkloses wat 190 monde daagliks volhou. Dit is goed en lekker. Hulle groei en gedy, omdat hulle self die groot werk doen.  Ek is net rasieleier is en die donateur hou van wat ons regkry.

Ek is ook rasieleier vir my Rots en my Bab, en Mielie en Jurels en Boeta and MM. Ek skreeu my hart uit op die kantlyn van hulle lewe. Baklei soms bietjie ook.En ek is ook die kwaai ma van die kinders van ander ma’s wat vir ons werk.

Ek weet alles – word as Google gebruik deur my mense

Ek alleen mag die toiletrol vervang, die tandepasta vervang, die suikerpot hervul, die nuwe bottel melk in die yskas sit…

Net ek kan hondegemors in die huis opvee.

Dan is daar klomp ander onnoembare takies wat net ek kan doen – naels, hare….jy weet.

O ja, ek ek kan goed my moer strip – dis epies. Ek werk hard om die een te laat gaan.

Mag die (super)krag met jou wees. Ewigheid en daarna. (May the force be with you. Infinity and beyond)

Hehe…die eintlike superkrag is dat ek lekker stories kan spin! En ek vat lank om te leer.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-JouEier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-JouEier: Reëls (2017-08-22) en Lê-JouEier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

Lê jou eier: Waarvoor is ek bang

FB_IMG_1506881124051

In my middel dertigs, het ek ewe hans vir iemand vertel ek het genoeg in my kort leeftyd beleef, net doodgaan lê voor! Bwahaha. Ek dink die hemel het geskater vir my voor-op-die-wageit!

Daar is mense wat my arrogant of selfs hardgebak ervaar. Die ding is, ek het van die grootste traumas binne sewe jaar ervaar. Daaroor gaan ek nie derms uitryg nie.

Eers het ek gedink dis oor ek een voet voor die ander sit en doen wat gedoen moet word, omdat ek maar die mouoprol, praktiese tipe is, dat ek oorleef het. Watwou, dit het niks met my vermoëns te make gehad  nie, dit was pure genade. Dis my groot les in vreesloosheid.

Ek is nie bang vir al die geskuur en poleerdery wat mens beleef nie. Want sien – God se genade is 24/7 ewig en altyd daar. Onveranderlik in ons gisters, in ons vandag en reeds in ons mores! Daar is “moenie bang wees nie” vir al 365 dae van die jaar in die Bybel opgeteken. Daai genade is genoeg.

Maar ‘n mens hou nooit op leer nie. Jy leer en leer totdat jy, deur die lewe blink gepoleer, anderkant uitkom. Hopelik beter as toe jy begin het. Ag, hoe lekker ek praat myself nou moed in.

Kom wêreld!

Hehe. Ek gaan nou moet bieg: Natuurlik is daar goed wat my bangmaak.  Mos maar mens.

Ek is bang vir my reaksies. Bang hoe ek reageer, en dan die gevolge van my reaksie, want al probeer ek hoe hard, my emosies is baie jonk, iewers daar tussen agtien en een-en-twintig vasgehak. Dis harde werk, ek moet dikwels omdraai en askies sê. Ek moet baie vergifnis vir die Here vra, want ek kan blitsig en bitsig wees. My Achilles hiel. Ek sukkel om tot tien te tel….

O ja, en slange, ek is grilbang vir slange. Daai koue kil oge en gesplete tong. Ek is bang vir regte slange en slangmense.

Dis dit.

Oor en uit.

NS.

Ek loop die vanoggend raak

“Courage is a love affair with the Unknown.” – Osho

Kunswerk: Odilon Redon

__________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

 

 

 

Lê-jou-eier: Gee my vir ‘n boom, asseblief

 

Tombstone-Digital-Stamps-plain

Niks – want ek is nie daar nie. Ek is huistoe, by my Pa.

My lyf, wel dis ‘n ander storie.

My gesin sal na my heengaan ‘n briefie aan die testament kry, wat so lui:

“My liefstes

As julle hierdie lees, is ek vooruit huistoe. Onthou net, niks begrafnis- en grafdramas nie. Ons het mos saam genoeg aan ontsteltenis beleef rondom doodgaanwense wat nie volvoer is nie.

Die lyf waarin ek hier op aarde in geleef het moet julle veras, of verys. Ek het gehoor mens kan nou ‘n liggaam laat verys* en verkrummel.  Of liewer, Kry een van daai boom “pods”*, en ‘n boom wat by Great Expectations sal aard. Een wat sterk sal staan en skadu op ‘n  warm Karoo somerdag sal maak om koelte en skuiling te bied. Of as julle nie lus is nie, maak ‘n gaatjie met die grondboor by die peperboom in Great Expectations se werf, en gooi my as daarin. Bemesting vir die skaduboom. En as die kaktus so mooi blom, onthou.

20170317_082045

Ek sal dan kan, soos ek in my liefhê vir julle, en julle vir my, skuiling teen die wêreld se aanslae en die lewe se seer gebied het, vir die boom voed om stilte en skadu te bied vir iedereen wat teen sy stam kom leun of kom sit.

Onthou my as die een wat die klein dinge met groot liefde gedoen het. Die botter op elke hoekie van die brood gesmeer. Nee, onthou soos julle wil, of nie.

Leef julle lewe voluit, daai strepie tussen begin en einde, hy tel.  Onthou net: as die begin begin, begin die einde.

Liefde altyd

Rina-ryni-ma-ena-edna-mother-sharofski

NS. Ek was altyd lief dat ek nooit deur julle op my noemnaam genoem is nie. Vele rolle in ‘n vol lewe. Ja, toe, ek wou net vir oulaas my sê inkry. Hehe.

Na- naskrif (Amper vergeet ek)

Burial pod of Capsula Mundi coffin

biodegradable-burial-pod-memory-forest-capsula-mundi-3

biodegradable-burial-pod-memory-forest-capsula-mundi-8

Ek sou  egter verkies om in my Karootuin, ‘n boom te word. Sê nou net my buurboom en ek baklei oor ‘n sonkolletjie…..

Bevriesing tot bemesting

 

So – veras of verys, die uitkoms is dieselfde.

Stof tot stof, as tot as, deel van die siklus van lewe en dood.

Gee my vir ‘n boom  groot asseblief.

In ons Karootuin, asseblief.

____________________________________________________________________________________________

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

Oor eie skoenveters en geloof

 

21314571_1106631052800857_7383305013899024090_n

Ek kyk die Boekklub. Mal oor die reeks. Die toneel onlangs waar twee jongmense koffie drink en hulle seer met mekaar deel, laat Gemoedsbekak se laai in die onthouboks oopvlieg.

Die gemoedsbekakking het my lewe deur so wegkruip, wegkruip, net so waar ek nie mooi kon sien nie, agter my aangesleep en nader gekruip. “Sy is ‘n boekwurm, sy is bederf, sy is….” Soveel maniere om my te beskryf.  Niemand het gesien hoe skeiding van van my ouers en koshuis toe, stadig diep binne my die bekruiper help om sy lê kom kry nie. Ek ook nie. Ek het maar so Hushpuppy hanghond gesig, en is maar ernstig van geaardheid, so die swaar in my borskas het ek metterwyl gewoond geraak.

Met my pa se skielike dood, ons drie vroumense se oppak om weg te trek terug na ons wortels, my weggaan uit Ouma se huis Tukkies toe,  my ma se tweede huwelik, my afstudeer aan my graad, ma se selfmoord, my Sus nog op skool, my eerste huwelik, my wegtrek van my familie, die daaropvolgende egkskeiding – die vorteks waarin ek  my bevind het, was kragtig en alles in sewe jaar geprop. Tyd vir jammerkry en bedruk voel was daar nie. Oorlewing. Een voet voor die ander. Meganies deur elke dag. Konstant in veg modus, vlug kan jy nie.

Saam in die seer gat wat my ouers se dood gelos het, wikkel ou Gemoedsbekak sy donker lyf nog lekkerder in die middel van my wese in. Knus maak hy en Seer elke hoekie van my borskas vol. Ek voel nou nog daardie onrus van hulle skommelry in my binnekant. Ek leer swaar sug, jy weet, daai sug wat as hy op die grond val, sal gras nooit weer daar groei nie. So erg.

Ek skrik my boeglam toe Rots my lewe instap. Ek moes meestal maar self sorg, en hier kom hy, en is lief vir my en my donker binnekant. Ek en Gemoedsbekak skrik ons in Denmar in. Daar, met terapie en Prozac, leer ek dat jy kan oorleef as jy wil. Gemoedsbekak mag nie lêplek in my binneste kry nie. Ek kry hom weer so half sluipend agter my, maar sy asem bly blaas agter in my nek, net so waar ek hom nie kan bykom nie.

Ek ervaar egter ‘n ander monster. Afstomping. Die Prozac het van my ‘n plastiekmens gemaak. Niks het my gepla nie. Daar was nie hartseer of vreugde nie. Ek het gepraat soos ‘n mens, gelyk soos ‘n mens, maar daar binne was niks. As ek vandag terugkyk, weet ek nie hoe my man en kind met my saamgeleef het nie.

In werk het ek ongelooflik presteer. My arme liefies moes maar oorleef en saamleef. Dit was asof iets my permanent gedryf het. Ek moes die beste wees, moes alles in oortreffende trap regkry. In die middel van die gehol na niks, besluit ek om die Prozac te los. Sjoe, wat ‘n fout. Ek  beland in die hospitaal vir drie dae. Ek word aan die slaap gehou. Psigiater toe, lank preek oor hoe mens nie net goed los nie. Die tweede vorteks suig vir my tot in my murg uit.

Ek bedank my werk, en gaan sit by die huis. Nie dat ons dit kan bekostig nie. Stadig maar seker lap ek my hart en gemoed reg. Ek probeer wel een oggend onder die stort staan met my mond wawyd oop, miskien versuip ek so. Ja, wel. Jy mag maar lag soos ons almal vir Griet gelag het toe sy haar kop in die oond druk en die kokkerot daar kry. Dit was so ‘n oomblik.

In al hierdie chaos was daar vir my konstantes. My gesin en my kinderlike geloof. Hierdie is nie hoe ek veronderstel was om te wees nie. Dis nie wat my lewe moet wees nie. Ek het medikasie as ‘n hulpmiddel gesien, en besef daar moet binne my ‘n rede vir leef wees. Daar is binnewerk wat net ek kon doen. Ek het besef uit die gat kom ek slegs uit as ek myself aan my eie skoenveters ophys -moeilik, maar met ‘n helse lot wilskrag, sal jy kan!

En so, moedig veg ek voort. Bereik weer sukses. My liefies oorleef met ‘n reuse liefhê geduld. Tot my middeljare en my dierbare skoonmoeder se heengaan die derde vorteks ontketen.

Ek gooi alles wat ek het in my ma se versorging. Ry haar op en af, toe sy bitterlik siek word, en die koors haar ylend en in die war het, belowe ek vir haar, nes Rut vir Noami belowe het: “Waar jy gaan, sal ek saam gaan”.  My arme gesin en die skonies – broers en susters – kry nie asemhaalkans nie. Ek bestuur ma se probleme en siekte soos ‘n masjien. En toe sy dood is, sit ek met niks, en ‘n eksistensiële krisis.

Om dinge verder te kompliseer oorleef ons ‘n bye aanval net-net. Ek kom agter dat ek weer in ‘n konstante veg- of vlug staat verkeer. My maag is hol, my kopvel tintel. Ek is moerig verby. My gesin paai, en troos en raas.

Ek land befoeterd-betraand by die psigiater. Sy is moedeloos en bestel ‘n toets – ja, daai een wat ek julle al van vertel het wat by ongevalle toegedien moet word ingeval die kortisol jou ‘n hartaanval gee. Ek het daar die lekkerste slaap geslaap en die storm het met die hulp van Serdep oor tyd bedaar. Maar weer, daai selfwerk, alleen, net jy en God, dis daai werk wat die storms werklik laat bedaar.

Vandag kyk ek terug en my bek hang oop. Daar lê die antwoord – binnewerk, sielewerk. Die besef dat jy in die vorteks geplaas word om verder te groei. Jy word geboetseer, geslyp, geskaaf, geskuur. Tot een oggend waar jy stil wag vir die son wat saggies oor die kim kom loer, en die hemel oesterskulp ligpienk en oranje en blou kom inkleur, en God jou so binne in jou hart die koesterendste drukkie gee. Die warmte van leef en dankbaar en vol ootmoed.

Lewensreise is vol opdraand en afdraand. Sommiges kan jy nie veel beplanning doen nie. Hulle gebeur, en jy moet gaan. Die lewe is so. Ons moet maar stap. In vertroue en geloof.

Glo jy is uniek, hier om ‘n rede. Om ‘n verskil te maak en ook te leer van jouself. Dat jou siel saak maak tot in ewigheid.  En as jy nou ‘n pilletjie nodig het, of terapie, dit maak nie saak nie. Dieselfde Skepper wat jou bedraad het, en jou hare op jou kop ken, Hy het ook daai slim dokter of medisynemaker net so lief. Dink so daaraan en vat al die hulp wat jy kan kry.

Onthou ook net dis jou gemoedsbekak – jy en hy moet ook leer saamleef.  As julle so saam loop hou tog styf aan God se Vaderhand vas. Hy sal jou teen daai skoenveter uit die gat help en Gemoedsbekak op sy plek sit. Hy  is goed so.

 

 

 

 

 

Gee en ontvang: Ek is aan gee se kant

Om te gee is beter as ontvang.

Die vrae maal in my kop rond:

Die gewer se motiewe is altyd onder verdenking, of is dit?

Is die ontvanger so bly oor die ontvang as wat die gewer oor gee is?

As jy gee, wil jy noodwendig iets in ruil terug hê?

Gee jy in opregtheid, omdat dit lekker/goed/reg/mooi is? Of gee jy om erkenning te kry.

Hier lê die knoop. As jy gee om erkenning te kry, is jou gee maar vreeslik soos die Fariseër wat biddend op die straathoek staan sodat almal kan sien watter goeie outjie hy dan nou is.

Ek hou van gee. Ek hou van die beginsel: die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie. My gee word nie aan die groot klok gehang nie. My gee is baie spontaan. Maar ek moet nou vir die eier-lê relaas vertel.

By die supermark, oorkant die parkering sit vyf manne kop onderstebo teen die muur. Hulle is nie vanoggend op ‘n bakkie gelaai vir dagloonwerk nie. Ek doen my huishouding se weekaankope. Laai vyf brode, vyf blikkies vis, vyf melke en ‘n handvol piesangs ook in die mandjie. Dis minder as 200 rand – maar dit maak vyf mae vol. Vyf van hulle en ‘n kans om vir swaarkry in sy oë te kyk en te sê: “Mag God jou seën.” Om in daardie oomblik ‘n mens raak te sien. Jy verander nie hulle lewens nie, maar jy wys darem omgee in die ou harde wêreld. Die Here is in daardie oomblikke.

Of die karwag by die tandarts met die droë hoes en verslete baadjie en stukkende skoene. Hy is al lank daar, maar lyk al slegter en slegter. Rots se ou tekkies, wolsokkies en braaivleisbaadjie en warm serp en pet wat in die kas lê en vrot, verander my karwag se winterdae. Hy het ‘n kans op oorlewing. “Mag God jou seën,” kom terug na my. Ons albei se oë vol trane. Want God is daar saam met ons.

Aardse goed is lekker en gerieflik, maar ek het nog altyd die denke gehuldig dat niks rêrig ons s’n is nie. Alles op die aarde behoort aan God, ons Skepper. Ek dink ons word penningmeester gemaak van dit wat God vir ons bedoel. Bestuurders van Sy goed, Sy  geld.  Dis nou maar ekke. Daar word  van ons verwag om goed so te bestuur dat ons na ons geliefdes kan kyk, en ook die weduwees en wese en die armes en die siekes.

So gee, gee, gee…dis goed so. Moet niks in ruil verwag of wil hê nie. Daar lê die grootste beloning. Gee met jou hele menswees, hart en siel. Gee met ‘n glimlag, met liefde en medemenslikheid, met omgee. Dis wat jy daaruit kry, en die kleinbekeer lekker warm in jou binneste.

Nou, die taai kant van die toffie is ontvang. Die ou lewe maak mens maar sku as jy soveel keer die mooi woorde, die goeie bedoelinge en die “ek belowe” geglo het, en dan tot jou spyt agterkom jy het ‘n belofte of kompliment ontvang en aangeneem, maar dit eindelik net mangelliefde was.  Jy het gekry omdat daar wederkerige gee van jou terug verwag word. Dis ‘n ontnugtering, en ek dink dis hoekom baie van ons maar liefs die rug keer op ontvang…dis dikwels ‘n bitter pil om te sluk.

So ek is maar meer aan gee se kant. Ontvang van elke Janrap en sy maat het te veel kere ‘n eie-agenda wat met seerkry gepaardgaan.

Ek ontvang met oop arms my Rots en Bab se liefhê, en Koda brak se oopbek uitbundige liefde, en die Yorkies se “kyk ek het ‘n muis vir jou gevang”-liefde, as wat ek vir daai “ek is so lief vir jou, jy is so oulik, sal jy vir my…”-ontvang val.

Noem my afsydig, ek noem dit duif-versigtig, reeds voorheen beleef en mooi geleer. Daar is wysgeërs wat sê gee en ontvang is een en dieselfde. So wanneer ek gee, ontvang ek ook.  Dis seker waar, maar vir daai ontvang met bymotiewe, dink ek moet mens maar pasop.

Ek stem nogal saam met Ram Das:

quote-the-giving-and-receiving-is-the-tricky-thing-it-s-not-the-gift-it-s-what-the-heart-says-ram-dass-129-28-96

 

Kekkel, kekkel, die eier is gelê.

NS.

~Wash your spirit clean~

Give away the things you don’t need Let it all go and you’ll soon see And you’ll wash your spirit clean Wash your spirit clean Go and pray upon a mountain Go and pray beside the ocean And you’ll wash your spirit clean Wash Your spirit clean Be grateful for the struggle Be thankful for the lessons And you’ll wash your spirit clean Wash your spirit clean Give away the things you don’t need Let it all go and you’ll soon see And you’ll wash your spirit clean.

– Walela

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.