Uitryg gedagtes

 

33040853_2113470922228992_3217013414752681984_n

Die skets het my aan die pieker oor al die nare en seer goed in soveel Suid-Afrikaners se binneste. Ons  nodig almal ‘n goeie uitryg.

Dis nie net hartseer en verdriet wat ons uit ons gestelle moet kry nie. Dis rassisme na alle kante toe, dis onvergewenisgesindheid, haat, seer, woede, vooroordeel en aannames.

Ek lees onlangs ook die brief op die Vuisboek raak:  “We must go back to the basics of humanity that demand that we do not hurt others. And that is what we must inculcate in our children.We must teach them love, compassion, empathy and respect. The last thing we need is polarisation. We have a moral obligation to fix all this by getting together as humans.”    – Mpho Mabala by e-mail Sowetan 17 May 2018

Mpho se stem is ook my stem. Maar ek dink dit is nie net  kinders wat liefde, empatie en respek moet aanller nie. Die jeug, die middeljariges, die mense van Suid-Afrika deur die bank het kopskuiwe nodig.

Hoe verskriklik die arrogansie van die studentemoordenaar wat obsene tekens in die hof gooi nie -gevoelloos vir die lewe wat hy geneem het en argeloos jeens die mense wat ‘n geliefde verloor het. Dat daai Griek in Port Elizabeth en die Indiër hier in Poloniekwane nie eens besorg lyk en nie skroom om letterlik met moord te probeer wegkom nie. Hulle is seker net soos die monster van Mooinooi oortuig dat daar vanweë onkapabelheid ‘n fout deir die polisie gemaak sal word en dat die deur na vryheid nie agter hulle sal toeklap nie.

Ek het verlede week oopbek gekyk na ‘n selfoonopname van ‘n dubbele transitoroooftog aan die Rand. Flippit, so ewe hurk van die diewens op straathoeke om die vasgekeerde geldwaens. Motoriste draai vervaard weg, die waens ontplof en metaal skiet deur die lug. Gou is ‘n span besog om geld in wegkommotors te laai. Die uitkyk met hulle groot gewere drentel na ‘n silwer sportmotor, oor en uit.

Respek en agting vir die gereg, die verkeersman, die hof, die vlag van ons land, vir mekaar. Dit ontbreek geheel en al.

Omkopery vier hoogty. Jy word gestop en as jy nie wil omkoop nie, kan jy perdalks gefoeter word tot jy van plan verander.

Ontevrede oor ander werk het en jy nie – ag gaan blokkeer ‘n hoofweg en steek vragmotors aan die brand. Dreig die bestuurder mer die dood. Dra die inhoud van die lorrie weg voor jy brandstig.

Hou nie van die politiek wat ‘n ander ou bedryf nie. Brand sy huis af, skiet hom dood. Geen probleem.

En dan is daar Ashwin.

Dié storm dun van nerf van die Supersportstel af, in die middel van ‘n lewende uitsending. Ek verstom my dat ‘n handvol  Twitter gebruikers in Suid-Afrika die juts, jurie en laksman is, alvorens daar ordentlik ondersoek ingestel is. Tot die Minister van Sport en die DA leier het reeds besluit hulle ken alle kante van die saak. Ek is so verbaas soos die Supersportvrou, Motshidisi Mohono! Ek lees oral rond, en die een storie wat net een keer geopper is,van binnebronne wat vertel dat agbare Ashwin ook maar geraamtetjies in die kas het as dit by sy professionele gedrag kom…

‘n Mede-blogger, Chantelle het vir die man ‘n brief geskryf. Ek dink ons almal kan dit ter harte neem. Gaan lees:

https://wordpress.com/read/feeds/21765254/posts/1863485129

Ek bid ons almal leer om reg te kies en in my hart hou ek  styf vas an Harry en Meghan se vurige predikant se boodskap, want ek wil doelbewus en feitelik lewe en die hoop beskaam nooit.

 

 

 

 

Daily Prompt: Infect

via Daily Prompt: Infect

I am crying for my country, South Africa. The Rainbow dream died with Madiba. The New Dawn of Prez Cyril R is super-infected with a malignancy of the cancerous kind. We are dying here.The name of the disease is zumastatcapturiscorruptis. It is endemic to South Africa.

Symptoms of the disease: People are fed racist rhethoric. Land is grabbed, cash in transit heists is a thing. Wife-killing too. Corruption is rife. Policemen and farmers and political opponents are killed, schools are burnt down. There are no services to speak of. At the municipality, at the post office, at the hospital, in rural areas there is such a lack of any standards of service, people are numbed by nothingness. The list of symptoms goes on, and on, and on…

Our minister of police Bheki Cele got it it wrong yesterday: “The Theme “Safety of Women, Children and vulnerable group is the brighter future of South Africa”This inhuman scourge is fiercely eating the moral fibre in our society and is belittling the dignity of Inzalabantu yezwe kanye nabantwana bethu. The time to say never again is Now! Mr President the police are taking the Thuma Mina call to the streets of South Africa to Bring down the scourge of crimes against women and children and vulnerable group of our society! Sonke Sithi Ngeke! Sobe! Phinde!”

What rubbish. Just words. Don’t placate us. Do something. Protect us. Arrest the thieving and corrupt in our parliament, your police force, our municipalities. Severe action is required.

Today as I write here, a cash in transit heist took place. A gang of guntoting bastards stopped traffic, blew up two cash vans, carried the loot to luxury SUV’s and all witnesses could do is video it on their cellphones. Shots ringing, cars scattering away from the scene, witnesses shouting: “Holy shit. Motherf…..”

Well yes, holy shit, cry. The beloved country is on life support and there is no antidote for zumastatcapturiscorruptis. Serious life-saving surgery is needed. The true antidote for the infection coursing through every fibre of our society is a government that delivers, and love for this country, respect for all people and above all empathy.

Bromme-ry

32169681_2107997605894216_2519142294997696512_n

Soggens voor Boekevat, lees Rots en ek albei die Beeld-oppie-tablette met brakke wat stoei vir aandag en hulle happie beskuit.  Dan reis ons soggens en saans so halfuur te Legend werk toe en terug. Ons is plaaspendelaars, as jy wil.

Hierdie saamweestyd gee ons kans om saam te pieker oor die nuus van die dag.  Ons noem ons rit in die Legend ons bromme-ry, ons “growlery.”

So bromme-ry ons vanoggend:

 Twee kante van die munt – Interessant dat in die VSA meestal swart minderhede verdruk, gemarginaliseer deur die lewe gaan.  Hier aan die Suidpunt van Afrika is dit toenemend ‘n wit minderheid wat voos verskreeu en verguis en verdag gemaak word.  Ironies is dat die meerderheid in Suid-Afrika identifiseer met hulle Amerikaanse eweknieë. Oi, die struggle is verby! Tyd om die bogger-ops te erken en brue te bou. Max du Preez sien dit ook so, uiteindelik is ons en hy op een bladsy. Hy kan partykeer mens vies maak, maar nie die keer nie. Kom ons maak paaie en damme reg, kom ons verbeter gesondheidsorg en opvoeding, doen iets omttrent werkloosheid.

 Padlangs- Kan ons met Outsurance reël dat elke dorp puntsmanne kry? Ons spietkops is nêrens te sien nie, onlangs is dertien van hulle arresteer. Korrupsie, jy weet. Die wetteloosheid moet einde kry. Hier in Poloniekwane mag jy selfs uit die derde baan regs of links deur ‘n kruising bliksem, jy sit net jou flikkerlig aan en dan mag jy.  En slegs draai bane, wtf…defensief bestuur is al raad. Groen ligte beteken tel eers tot tien, want iemand met meer ryregte as jy gaan nog eers deur die kruising teen die rooi jy moet stop se vermaning oor gejaag kom. Die duiwel jaag mense hier in ons geweste iets vreeslik.

Nuussoekerig – Afriforum, hou op om soos die Kardashians nuusopskrifte van spookasem te skep! Flippit man. Los Grace en Dudu en kom ons maak kleuterskole oop, skep werk.  Of los dit en word ‘n politieke party sodat julle saam met die slapers kan kef in die komedie wat ons parlement is

Sjarrap – Mooi so Prez C! Sjarrup was nou miskien bietjie kras, maar jy het gewys jy is nie JZ wat maar gaan sit het tot Steenhuysen en Juju en kie klaar geskreeu het nie. Jy het goed om te sê en daar is goed aan die verander – Krygkor en Eskom en so aan. Dit voel soos die lig  van jou “New Dawn” en nie die soustrein se naderende lig aan die einde van ons donkertydtonnel. Skaam die boelies om nie hulle gedrag te verander nie.  Nadat jy jou sê gesê het, en jintelman wat jy is – het jy later aksies gesê.

Rugbytrots – Wat van ons het ‘n trotse Afrikaner rugbyspan soos Nieu-Seeland ‘n trots Maorispan het? Dit sal dan ons rugbypassie tot erfenisaardigheid verhef en dan kan die kwota issue tog assefokkiblieftog begrawe word en al die kindertjies saamspeel soos hulle wil of nie. En flippit, waar is die Indiëroutjie in ons Bafana span – ek vra net?

Jy hoef nie saam te stem nie, dis maar net ons bromme-ry gedagtes.
Groetnis tot later liewe b(l)oggers.Hehe.

 

Ons het jou en jou gesin gefaal

Lanklaas het ‘n foto my so ontstem. My sprakeloos gelaat.

Deur blou lug omraam op ‘n plakkershut se dak, ‘n polisieman desperaat grypend, en ‘n volwasse man in rubberstewels wat sy babadogtertjie aan haar voetjie, koppie weerloos na onder, deur die lug slinger.

Afgryslik

Dierlik

Woedend

Ondenkbaar.

In die foto is ons land vasgevang.

Weerlose arm mense, veral ons kinders word letterlik vir die wolwe gegooi. Hulle word die felste getref deur die onvermoë van ons verkose regering om na sy land en mense om te sien.

Ons polisie se onvermoë om te keer dat vroue en kinders, weerlose grysaards en armes van alle geslagte, daagliks verwoes en vertrap word.

Ons regeringsdepartemente wat vanweë korrupsie en staatskaping, niks doen om basiese behoeftes – ‘n dak oor jou kop, water, opvoeding – aan ons land se weerloses te bied nie.

Ons politici wat hierdie einste weerloses se koppe vol retoriek prop. Ja Juju en Andile, ek wys die vinger na julle. Julle was saam met die pa op die dak.

Ons kerke en nie-regeringsorganisasies. Ons wat in die naam van Christus kamtig daagliks Samaritane is. Ek wys vinger na julle wat basaars hou, afdakke vir karre bou op die parkeerterrein sodat gemeentelede nie na die diens in warm gebakte voertuie hoef te klim nie, in plaas van sopkombuise reël vir armes. Julle wat reken ‘n t- hemp sal kanker of vigs voorkom. Julle was saam op die dak.

Ek, en jy liewe leser, wat daagliks blameer en vinger wys, maar nie daadwerklik ons gewoontes en denke verander om van hierdie ‘n beter plek vir almal te maak nie. Ons was saam op die dak.

Ja, Suid-Afrika, ons het die ouers in hierdie situasie geplaas. Hulle plak want behuising is landwyd tot vyftien jaar agter. Die lys van onvermoë om die weerloses in ons land se lot te verander sal ons tot ewigheid besig hou. Liewe heimat, jy was op daardie dak.

Die pragtige kleuter, sekerlik ook nie haar ouers se enigste nie is fraai aangetrek. Denimbroekie, spierwit kousies en ‘n rooi hempie met wit kolletjies of is dit hartjies? Netjies en versorg. Sou sy haar pappa se hart se punt wees?

Die gereg daag op om hulle huis, hulle veilige hawe, af te breek. Hulle huis is toe op bybelse sand gebou. Die nood na beskutting so hoog dat hulle noodgedwonge die wet oortree. Die daaglikse geveg om oorlewing so aanhoudend, dat hulle, en duisende soos hulle, wetteloos moet seker maak dat self en geliefdes en ‘n handvol wêreldsgoed teen elemente – die natuur en menslike onheil- beskerm word.

Ek is ontsteld dat die pa besluit het om sy kosbare kindjie die die lug in te slinger. Tog wonder ek of die desperate man, met sy vrou wat hom aanhits om die kind as kollateraal te gebruik om hulle huis te red, nie soos Abraham met die mes in sy hand, opgekyk het vir ‘n wonderwerk nie. Desperaat vir uitkoms, maar vir dié pa was daar nie ‘n offerram nie. Want genade in Suid-Afrika is yl gesaai. Daar was nie uitkoms nie…en die ondenkbare gebeur.

Dankie Vader, daardie polisieman se hande was oop en sy arms sterk. Here, ek bid dat die ou kleine lyfie veilig en geborge sal wees. Maar Here, ek wil ook daardie pappa en mamma voor U voete kom neersit. U het lankal ons mensfoute vergewe. Gee hulle genade. Ek bid dat U ook ons, ons land, sy mense en leiers sal vergewe. Want dis ons, ons het hierdie gesin gefaal. Ons keer nie by die stembus, op die straathoek, by die werk, dat mense hulle kinders wil offer ter wille van oorlewing nie. Ek huil en smeek om U almagtige hulp en leiding. Amen.

My hartjie kots

heat

My binneste lek alweer deur my oë buitentoe en soos my een kind van ‘n ander mamma so mooi sê: my hartjie kots. My brein fok heeltemal links. Dit voel of ek deur ‘n bus getrap is. Hierdie land maak my siel seer.

Winnie Mandela is dood. Al wat meeste Vuisboekers van haar onthou is die vuurhoutjies en buitebande en Stompie se dood.

Niemand maar niemand wat haar die hel toewens besef wat hulle sê nie. Jy wat hier lees, weet jy van haar vernedering aan ons voormense se hande – hoe sy vir maande, naak, sonder middelle in eensame aanhouding aangehou is. Gestroop aan haar menswees. Ek ween oor ek self in stiksienige onkunde gespot het met die sigaretsmoorder in my asbak. Het dit ‘n winnie genoem, want winnies maak stompies dood.

Here, vergewe my dat ek nagelaat het om my van feite te vergewis. Dat hierdie vrou stukkend maar nie verdelg anderkant uitgekom het, dat sy wel ‘n ma en ouma en groot ouma vol deernis was, dat sy haar skandes en skades en sondes deurleef het en alles ten spyt vir baie vroue moed gegee het om swaar te oorleef. Dat sy vir vroueregte staning help maak het. Omstrede ja, maar is een van ons wat haar dinge wil toesnou sonder fout of smet? Nee, ou katta.

Ons sal hand diep in ons wit en swart bevlekte hartjies moet steek en besef wat ons verlede aan mense gedoen het, en waarom dit vandag nog ‘n impak op ons lewe hier aan die Suide van Afrika het.

Ek snik ook sedert Maandag oor kgopela (gee want ek verdien dit) en armoede en leë beloftes van politici. Dit is hierdie grondredes dat mense soos malmokke die N3 by Mooirivier Plaza onbegaanbaar gemaak het. Dat mense soos redelose zombies op soek na bloed, ‘n vragmotorbestuurder (100% Suid-Afrikaanse burger en iemand wat al 22 jaar die werk doen), byna lewend in die vragmotor verkool het. Ek ys vir die dierlikheid en sonderlinge fiksasie dat hulle werk ontneem word oor swaarvoertuigeienaars ‘uitlanders’ in diens neem en ‘hulle’ werkgeleenthede ontneem.

Soos seerowers van ouds is vragmotors beklouter en van hulle vragte beroof. Asof dit nie genoeg was nie, moet die vragmotors en waens aan die brand gesteek word, en asof dit nie genoeg is nie, word ‘n hardwerkende man se lewe bedreig.

Maandagaand kom die skokkende nuus uit Burgersfort aan die ooste van onse Limpopo. Besetenes, en die nuus bevestig dit nou dat hulle ontevrede is dat plaaslike mense nie by die myn in diens geneem word nie, het ‘n bus met mynwerkers gepetrolbom – vier mans en twee vroue is lewend verbrand, talle ander erg beseer. Here, help ons.

My nuutste vriend CT staan voor my en vra: ” Tannie, waarom haat ons mekaar so?”

“Weet jy, haat kom sommer so maklik uit ‘n kotsende hart. Liefhê verg baie energie, dit verg nadenkendheid, dit verg energie. Dis hoekom – dis makliker om aan haat vas te hou,” sê ek, en ons albei se oë skiet vol trane.

CT is sommer kwaad. “Tannie, ek wil nie ander man se grond vat nie. Ek gaan nie vir sy mense werk skep nie. Ek het my eie om voor te sorg.”

Sy woorde slaat my amper onderstebo. Waaroor dan die grondgrypery van die politici? Hy vertel my hoe sy beste en meeste hulp en ondersteuning as opkomende boer kom van jong Afrikaner mede-boere.

“Huh? Moet ek my ore glo? Ek dag ons is sulke bliksems.”

“Nee, Tannie, laat ek jou vertel, julle” – en hy wys na my wit vel – “is meer Afrika as die Ingelse. Julle is net so verwoes soos ons. Die Engelse…Rhodes se mense, hulle het lelike goed hier met ons almal laat gebeur.”

Ag, as CT en ekke maar saam kon aan bewind kom. Ten minste kyk ons mekaar in die oë en praat, al troos ons mekaar net.

Ek hoor ook gister uit ‘n ander bron ‘n interessante stukkie inligting. Die stam aan wie die eens luisterryke Sapekoe teeplantasie daar in die berge bokant Tzaneen, oorgegee is, is vort terug Pongola toe waar hulle ‘n ander suksesvolle boerdery bedryf. Die teeplantasie is moer toe, en 850 mense werkloos.

Terwyl ek hier sit en skryf, kom Regina, ons plaaslike straatkioskeienaar, die Lekker winkel se werf in gesukkel. Lankal is ek nie meer kwaad oor sy haar onwettige struktuur oorkant my besigheid opgerig het nie. Die vetkoek wat sy maak is smullekker. Ons het vir haar bêreplek vir haar trollie met haar kookmiddelle gemaak, sy gebruik ons badkamer en tap by ons water. Ons klomp vroumense se kerkbasaarklere, die is nou hare. Maak ons ‘n verskil? Hel, ja. Gaan sy keer as die woedende massa eendag hier straat af kom, ek weet nie. Maar dit maak nie saak nie…

Ek reken baie Suid-Afrikaners ly aan PTSD, dis die dat niks normaal voel nie.

O, ja en ek is kwaad vir Rots. Hy het vanoggend weer paternalisties-nasionalisties teenoor my opgetree. Kyk waar het daai benadering ons in Suid-Afrika laat beland.

Ag-nee man, ek is jou vennoot en lewensmaat, nie net ‘n mamma vir jou kind, gesellin, onderdaan en mindermens nie! Dan moes jy maar liewer met iemand uit jou en my ma se geslag getrou het. Pfft.

My hartjie kots minder. My binneste lek nie meer kwaad nie, dit lek seer. Ek gaan ‘n kers brand vanaand. Miskien voel my siel minder genkneus. Hoop jy maak ook so voor jy reageer, want

“…. if God is prepared to be the least of us, among those most scorned, who are we to believe we are better than others?” – Charlene Smith

‘n Geblaf

‘n Storie:

Daar was eendag ‘n minuatuur doberman.Hy het op ‘n werf onder die Afrikason saam met Leer, Werk en Wet gebly. Hulle eienaars was gierigaards en wou baie rykdom en beskerming hê, maar wou nie baie onkoste aangaan nie. Geld in die bank, jy weet.

Nou , Leer, Werk en Wet se base was traag om die drie groot brakke te voer. Het vir hulle halfmaskos op straathoeke gekoop in plaas van ordentlike kos, soos Montego Karoo Adult. Die drie kon met die swak dieet net nie die mas opkom nie.

Die eienaars het die drie weggesteek en met hulle kleine keffertjie op die arm rondgeloop want hy het so min nodig gehad om aan die lewe te bly. Die brakkie het eers tjoepstil en bewend in die base se arms bly sit, want dit was ver grond toe as hy sou val. Die eienaars het baie aandag gelok met die klein brakkie op die arm.

As gevolg van bederf het hy al hoe meer eiesinnig en aggressief geraak en naderhand so te kere gegaan dat selfs die base nie meer geweet het wat om met die klits te maak nie. Wilder as die dierteuin tekere gegaan.

Die drie groot honde het maer en uitgeteer eenkant gelê, en niks beteken nie. Die eienaars is maklik oorweldig deur plunderaars – hulle het geen verweer gehad nie. En wat van keffertjie, vra jy? Toe die hordes op die huis afstorm, het hy onder die naaste bedpoot gaan wegkruip – goed vir niks. Sela.

My relaas:

Ken jy daai gemiddeldes kurwe? Die een van 25% links 50% in die middel en 25 % regs, daai kurwe werk oral. Ook in politiek.

Ek raak verlam dat mense aan links wie nie eens 10% stemme op hulle kandidate kon trek nie, soveel media aandag kry dat hulle bemagtig word om rassisitese, fascistiese drek uit te spoeg en publisiteit gewaarborg word. Flippit.

So ook aan die regterkant is mense van my velkleur wat my onder ‘n klip wil laat kruip sodat ek liewer ‘n regte rock spider is. Daar is ‘n spreekwoord:”Beware of the verbose few” – pasop vir die lawaaierige minderheid.

So pas lees ek ‘n artikel van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se 2017 navorsing. Die narratief en lawaai rondom ras in ons land is onder die loep geplaas.

Die IRA studie onthul dat 72% Suid-Afrikaners en 77% swartmense NOG NOOIT RASSIME DIREK OP HULSELF GEMIK, ervaar het nie! Daarby reken 63% van respondente dat rasseverhoudinge sedert 1994 verbeter het.

Oorweldigend is dat respondente aangedui het dat werkskepping(35%), verbeterde onderwys (27%) en misdaadbekamping (26%) prioriteite vir Suid Afrika behoort te wees. DIe bevegting van rassisme is deur 5% repondente en slegs 4% swartmense gelys.

So waarom die vreeslike gehamer op ras en “kom ons sit die wit ouens op hulle plek”? Dis maar om tekortkominge weg te steek. Die brakke wat kos moet kry, ly honger want die base vreet al die geld op en wil nie saam met almal werk om die plekkie onder die son te maak werk nie.

Die eenvoudige antwoord volgens die studie, is dat onse goewerment in 24 jaar op verskeie vlakke klaaglik misluk het. Die rassisme en wit bevoorregting skreeuery is die ideale dekmantel om mislukkings soos armoede en ongelykheid te versteek.

Herverdeling van rykdom pleks van ekonomiese groei en bemagtiging het net hekkies in die pad van ons land se vooruitgang geplaas, meen Anthea Jeffery, hoof van beleidnavorsing by die IRA.

Hekkies soos:

  1. Swak ekonomiese groei (1% ipv 6% wat werkskepping verseker);
  2. Swak skole (78% graad 4 leerlinge kan nie lees nie);
  3. Universiteite waar net 20% studente grade voltooi);
  4. Werkloosheid en drakoniese arbeidswetgewing wat daarin slaag om werskepping te stuit en ongeskoolde werkers te benadeel;
  5. Nie-bestaande maatskaplike steun (tot 70% swart kinders het geen of min steun van albei ouers);
  6. Regstellende ekonomiese bemagtiging (lees:bevoorregting) van ‘n elite ten koste van die massas in armoede;
  7. Patetiese staats- en munisipaledienste wat nie eens basiese onderhoud kan verseker nie;
  8. ‘n Wurggreep op entrepreneurs – van belasting tot arbeidswette, ensovoorts.

Ten spyte van die belemmeringe, daar op voetsoolvlak, waar die meerderheid mense mekaar daagliks in die oë kyk, gaan dit beter tussen rasse as wat uitbasuin word, sê die instituut vir rasseaangeleenthede.

Die verslag maan ook dat die aanhoudende dis-alles-die-witman-se-skuld-vuur aanblaas van die Juju’s en BLF’s se drognuus maak dat die brille waarmee gewone Suid-Afrikaners na mekaar kyk, maar gekrap en uit fokus raak. Dit sal ‘n kwade dag wees as ons nie die rasse-brilletjies afgehaal kry nie.

Gelukkig meen Jeffrey die deursnit Suid-Afrikaner beskik oor ‘n goeie dosis kommin-sense! Ons kan darom bly hoop dat ons pêl Cyril se nuwe dagbreek vir ons hier aan die suidpunt van Afrika sal aanbreek. Dat dit nie ‘n veldbrand op die horison is, en ons eers probeer keer wanneer dit vuur van die weghol soort is nie.

Ook dat hy sal weet wat om met bedorwe stoepkakkertjies te doen, en vir die groot honde die regte kos sal koop. Sela.

Verander jou deuntjie assefokkieblieftog

losed-ears-with-fingers

 

Liewe Juju Malema

Rerig, ek reken jy het te min pak slae gekry as kind. My bloeddruk bliksem die hoogtes is as jy so tekere gaan. Kan jy nie ‘n nuwe deuntjie kry om te sing nie, of is jou rol in CR se bewind maar dieselle as as toe jy die hofnar en lawaaimaker was om ons aandag van die ware toedrag van sake te trek tydens ons Zumafikasie? Ek het so spesmaas jou kontrak is verleng, want ons skaakspelende president het asemhaal spasie nodig, en nou word jy op ons losgelaat. Juju maak vir Witjie bang.

Vertel my – jy en jou volgers wat so wil skiet…gaan julle vir die wat gaan oorbly sorg – vir werk, vir sekuriteit. As jy my skiet, sal jy my personeel en hulle families bly help, of gaan jy  my mense laat loop sodat jou eie kan baat? Waar sal my mense heengaan? Wat gaan van hulle word. Gaan jy help met kosgeld, busgeld, skoolgeld, boorgate, bakstene. Want sien dis wat ons doen. Ons help om beter lewens vir die in ons lewe te skep. Alles by die boek. Ons betaal en betaal en betaal. Ons kla nie. Ons dreig nie om mense uit die weg te ruim nie.

So weet jy hoe stukkend is my hart dat jy, na jou mosie, so gebokspring het en suggesties gemaak het en die media en ander het niks hieroor te sê gehad nie!

Hitler het ook so gemaak….of is dit net ek wat so voel?

Juju ek wil jou aan iemand voorstel wat Hitler oorleef het. Haar naam is Edith Eger.

As ek haar so luister en haar storie lees, besef ek dat jy en ek, en almal in hierdie land van ons, oor onsself sal moet kom. Ons wederkerige afkeer en bitterheid en fok, ja ons haat vir mekaar, maak van ons posduiwe, al om ‘n gat. Daar is geen oplossing in ou koeie ophaal nie, daar is geen oplosssing in wraak en weerwraak nie. Wrokke vlam net haat aan.

“It is too easy to make a prison out of our pain, out of the past. At best, revenge is useless. It can’t alter what was done to us, it can’t erase the wrongs we’ve suffered, it can’t bring back the dead. At worst, revenge perpetuates the cycle of hate. It keeps the hate circling on and on. When we seek revenge, even non-violent revenge, we are revolving, not evolving.” – The Choice: Embrace the possible” Edith Eger

Ek gaan jou en jou soort liewer in vrede laat, en elke dag op voetsoolvlak waar ek my lewe leef, en mense van alle kleure en oortuigings wat my pad kruis, met waardigheid en respek behandel, selfs vir jou as dit sou gebeur.  Want sien, jy kan my wêreld verander, my goed vat, my van regte ontneem, maar ou Juju, my hart en my siel, die is myne en hoe ek kies om my omstandighede te hanteer help my om te groei as mens. Ek laaik wat Edith Eger se Mamma vir haar geleer het.

Lees gerus haar boek, dis verniet: http://a.co/gbDt9qR

Miskien verander jou deuntjie. Ek vra assefokkieblieftog. Ons land het ware oplossings nodig, nie verdagmaking en haat en wraak nie.

Groetnis

 

Oggendgesprek

Vanoggend trek ek die Legend vurig vinnig uit die motorhuis. Ek is laat en dis 40km te perd om in die stat te gaan besigheid pleeg.

Dit het oornag 34mm gereën. Rots se nek is ekstra seer, die Schnauzer-boeties, Milo en Ringo en stoute Koda-Koos blerts in die kombuis, bejaarde Oscar die Yorkie weier om langs Rots uit die bed op te staan.

Die grondpad is 1.9km seepgladde modder. Gelukkig is dit al wat ek moet trotseer, tik ek op my dankabaarheidlysie af. Toe ek by die t-aansluiting op die ou N1 kom, staan ‘n vrou onder ‘n helderblou sambreel en ryloop. Die reën begin harder val. Ek stop en laai haar op. “More Mies,” groet sy. Die bakkie se kajuit ruik soos rooswater en Dawn lyfroom.  Ek groet terug en babbel oor die weer. “I don’t understand,” val sy my Afrikaanse relaas in die rede.

Haar naam is Marlene, ons gesels op Engels verder oor padveiligheid.  ‘n Taxi het pas oor dubbelsperstrepe by ‘n klomp voertuie verbygejaag. “Eish, they treat us like cattle,” sê Marlene. Ons gesels oor respek en sy vra my hoe lank ek motor bestuur. Al meer as veertig jaar. “Jo,” is al wat sy sê.

“My husband is looking for work,” kom die stelling. Ek vermoed sy aanvaar ons het ‘n plaas – die bakkie, die modder en algemene rigting waaruit ons paaie gekruis het.

“‘Skuus Marlene, ons bly op dierbare vriende se familieplaas, hulle is reeds in hulle aftreehuis in die veiligheidsoord. Ons boer nie. Ons werk in die stat.”

Ek  deel my hoop dat President Ramaphosa en onse regering tog ‘n plan sal maak, dat meer mense werk kry en regverdig behandel word. Ek kan net help met ‘n geleentheid om veilig by haar werkplek te kom.

“I hope he makes right,” sê Marlene.

Ek ook, suster, ek ook.

Sy vaar uit teenoor Zuma en veral Nkosasana Dlamini Zuma – wat nie met poletiek wil verder nie, maar net nou die dag het sy vir President wou staan. “She is a funny one,” kom dit links van my. Ek vertel vir my passasier van “The President’s Keepers” en Dlamini Zuma en die sigaret mafia.

“Mies, those illegal cigarettes. They are bad. I sold them and the police caught me with 20 boxes. I was sentenced for 13 years! 13 years. But I did it for my family, what could I do? How must we live? What must we eat?”

Ek sit met my bek vol tande. Wat sê ek nou? Het sy al 13 gesit?

“No, when parole was given to everybody but murderers and rapists, I was freed. I could not believe! But now I  clean houses. Those cigarettes are bad,” en sy stop die gesprek net daar.

Ek stop naby die taxihalte en sy hou R8 na my uit. Vir die rit. Ek sê nee dankie. Sy glimlag met haar mieliepit tande en blink oë.

“Siyabonga” – dankie.

Hamba kahle, Marlene. God seën jou.

Here, dankie dat ek Marlene kon beleef vanoggend. Dat ek kon hoor wat armoede en werkloosheid ‘n mens kan noop om te doen, selfs misdaad oorweeg. Dat ek vir haar taxigeld kon spaar. Ek het haar meer nodig gehad as sy vir my. Here vergewe my wanneer ek ongelukkig is oor klein, onbenullighede en klippies in my skoen.

 

iceberg words.JPG

Hierdie woorde hierbo gaan oor Afrikaans en die taal, maar dit is ook van toepassing op ons land en die pad waarop die nuwe president ons lei.

Die Iceberg foto, is een van my gelukkies wat my kameralens vasgevang het.

Baai tot later

Stuur my, Here al is die uitdaging groot

Vroegoggend verby geslaap vir die eerste keer in weke. Lekkerste lekker om na 07h00 wakker te word. Rots lê en blokraai, en Bab en die stoute brakke stoei in haar kamer vir die beste lêplek op haar bed. Maak koffie, pak die gedroogde beskuit weg, gaan gee vir die voëls hulle kossies. Stil tevrede Sondagoggend op Waterval.

Die Sondagkoerant is afgelaai op die tablet en met ‘n stomende beker boeretroos, swart en bitter (niks met persoonlike voorkeure of my gemoed te doen nie, wel so van my bababottel afgespeen) gaan lê ek behaaglik op die oorblywende kussings agteroor. (Glos: Sedert Rots se stywenekkie proses, is hy die baas van alle kussings in ons kamer.)

Ek lees oor CR, die gesoekte Guptas, JZ se Nkandla wat maar R660 per maand kos, moorde, en so aan en so voorts.

Ek vind die EverydayZulu ou, Melusi  Thsabalala,  se onderhoud met Hanlie Retief verfrissend, en ek gaan laaik sommer sy blad. Wens iemand wil Everyday Sepedi, TshiVenda en Tsonga hier by ons trag.  Hy sê vir Hanlie sy blad op die Vuisboek is uit frustrasie dat inheemse tale op radio afgeskeep word of gruwelig vermink word, begin. Ag hy praat so na my hart. Die Radio sonder G se afrikaanseklingels steek my dwars in die krop, so ek kan my net indink hoe Zoeloe en Sepedi en al die ander verkrag word omdat almal dink Google translate is die ware vertaler. Pffft. Google maak ons lui.

Melusi vertel dat hy geleer het dat mense van positiwiteit hou – alle mense. Dis toe dat ‘n “Lion-vuurhoutjie het in sy kop gevlam” het, en hy het besef:”Hou op om jou te bekommer oor wat jy nie het nie en gee wat jy hét.” Ag so bek moet jêm kry.

Sy blad het ‘n verassing ingehou – mense het nie op die platform kom taal leer nie,  die daaglikse nuwe woord het ‘n gesprekforum geword. Alle mense. Soveel so dat hy wat Melusi is homself betig het omdat: ” Jy het jou voorgeneem het om oop te wees vir alle rasse, geslagte en ouderdomme, neh. Aanvaar hulle as vriende.” Dis nou na sy blad van  100 na 700 en nou 1000e gegroei het. Daar is trolle, en hy het aanvanklik so vinnig as wat hy vriende aanvaar het, net so vinnig mense afgegooi. Nou na maande, was daar slegs vier mense wat hy genoop gevoel het om te verwyder van die blad.

Melusi praat waarhede oor vooroordele en veronderstellings – gaan lees self. Soos Melusi, self bely, hy het sy eie Damaskus-oomblikke op hierdie reis. Laat dit so wees vir ons almal, bid ek vanoggend met die koerant in my hand.

Ek gaan kuier op Melusi’s Everyday Zulu blad. Vandag se woord is “thuma” – om gestuur te word. President Ramaphosa het Vrydagaand ook uit Bra Hugh Masekela se lied Thuma Mina aangehaal: Thuma mina – stuur my. Ek bid verder, dat ons almal hierdie gesindheid sal openbaar. Die Melusi’s, die Kose, die Susanne, die hele lot van ons.

Ja, kan jy glo hoe ons land se narratief byna oornag aaan die verander is…

En toe blaai ek verder. In die Rapport Weekliks is ‘n dubbelblad: “Die val van ‘n fout” en ek is sommer kwaad. Die uitleg pla my. Links is Steve Hofmeyr en regs Antjie Krog. Dit moes andersom uitgelê word. Want meer retories en regs, kan ou Steve nie wees nie. Aweh, Stefaans “haal jou mgabe af en lilizela”- drink ‘n positiewiteitspilletjie en blaas af.

Antjie Krog se liberalisme is ook nie almal te koppie tee nie, maar waar woorde skryf sy:” … dis nie net wit mense wat oor die afgrond gekyk het nie, ook ander mense het: En gesien dat ‘n korrupte staatshoof noodlottig is vir enige drome en groei… Wit mense sal moet gee, baie gee en ek dink die meeste van ons moet met oorgawe gee as ‘n besielende, knap staatshoof planne voorlê wat almal insluit met die oog op verbeterde lewensomstandighede…Met ons almal se verskuifde perspektiewe is die land nog nooit so reg om sy en haar kant te bring om Suid-Afrika sigbaar ten goede vir almal te verander nie. Maar soos die taxiegaurdjie in my straat skreeu: “Move people. Jirre, julle moet move!””

Ek en my gesin move al geruime tyd en trag doelbewus om die wat baie swaarder as ons in hierdie land oorleef, se hand te vat en te help waar ons kan. Ons werkers se huise word verbeter.  Die Drop In Centre se boorgat word beveilig. Middagetes wat in my kombuis berei word, is in die yskas by die werk vir ons span, want hulle moet soggens al 04h30 in die pad val om betyds by die werk te wees en saans 19h00 kom hulle tuis. wie sal vir hulle deur die dag kry, as ons dit nie doen nie? Ek deel hierdie nie om te spog dat ons gesin so oulik is nie. Ons het net lankal besef dat ons in ons gezuma-de staat, nie veel kon verander aan die groot prentjie nie. Politieks is maar ‘n stadige, raserige dier. Ons het eenvoudig na ons onmiddelike omgewing gekyk en besluit, doelbewus, om ons tiendes te bestee waar ons die wit van swaarkry mense se oë kon sien.

En Vrydag – daar staan Cyril, ons president en hy sê thuma mina – stuur my, en vir derduisende Suid-Afrikaners vlam hoop weer op. Kom ons stimela – werk om ‘n gedeelde visie te soek, al  kos dit opoffering.

In  Esgiël 16 lees ek vanoggend: ‘“Eendag gaan Ek die lot van Sodom en haar dogters en Samaria en haar dogters verander. Dan sal Ek jou ook weer oprig. Jou ouer suster is Samaria wat saam met haar dogters noord van jou geleef het. En jou jonger suster is Sodom wat saam met haar dogters suid van jou geleef het. Jy het nie sommer maar net gesondig soos hulle nie. Nee, dit was nie genoeg vir jou nie. Binne ’n kort rukkie het jy hulle ver oortref! So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Sodom en haar dogters het nooit gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. Sodom en haar dogters se sonde was dat hulle trots was en te veel kos gehad het en glad nie vir ander omgegee het nie. Hulle het nie arm en behoeftige mense gehelp nie. Hulle was trots en het afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle uitgeroei, soos jy gesien het.’ ESEGIËL 16:46-50,53

Here, wil U ons genadig wees en ons nederig en aanneemlik maak in u oë. Help ons om nie onbedag teenoor ander se seer en woede dinge sê en doen nie. Help ons om die mense te wees wat U hart bly maak. Ek dra ons land en sy mense aan U op en vra dat U elke dag ons sal lei om ons selfsug, eie-geregtigheid en trots in ons sakke sal steek, die moue sal oprog. Thuma mina, stuur my Here. Amen.

Ook onthou ek wysheid ala Voltaire van Evelyn Beatrice Hall

quote-i-disapprove-of-what-you-say-but-i-will-defend-to-the-death-your-right-to-say-it-n-b-evelyn-beatrice-hall-96-54-08

Meneer die President

 

cr

Wat ‘n week was dit nie. Die Hiëna en sy trawante het ons tot op die mespunt geneem en met sy laaste minagtende stotteringe net weer gewys hy voel vere vir ons land en die mense. En u, het  stil en waardig u beurt afgewag. Ek kan my indink hoe gesprekke met die vreeslike mens moes wees. Nee, eintlik kan ek nie.  U het ‘n hoë hekkie naby ‘n afgrond vir ons met lof oorgeseil. Dankie dat u gister ‘n eed gesweer het om ons Konstitusie te respekteer en ons te lei na ‘n splinternuwe visie.

Ek lees iewers dat ons land nou volwasse is, die dat ons nie soos ons noordelike bure die strate ingevlieg het om aan ons blydskap oor JZ sy paai vat en waai, uiting te gee nie.

“I actually believed every word CR said at the inaguaration, I felt proud and I felt respect for the first time,” vertel ‘n geagte kliënt vir my. Ek wit en middeljarig, hy swart en nog met jeug aan sy kant. Ek se Sela, ja. Dis mos nou volwasse om so oor verandering te praat.

Kyk Meneer President, u gaan nou nie vir my skielik ‘n ANC lid maak nie, maar wraggies jy  het met jou impromptu (of is dit fyn beplande) verskynings aan die draf in Seepunt vroeg gisteroggend en toe, net na u inhuldinging in die wandelgange van die V&A Watefront met die grootste, ontspanne oopbek smaail en ‘n vonkel in jou oog – vir ons gewys jy is in ons midde.

Ek lees in die Daily Maverick artikel deur Judith February  hoe mooi  beskryf sy hoe ons in Suid-Afrika dit alte dikwels regkry om net so voor ons die afgrond aftuimel, op ‘n mespunt weg van tragedie, om sake om te keer. So het ons weer Vaaltyndag om 10h00 ons tweede kans gekry. Om weg te breek uit die wurggreep van JZ se koninkryk van Zupta, om nee te sê vir korrupsie, nepotisme, verdagmakery en rasse-wrywing.

Moet my ook nie verkeerd verstaan nie, Meneer President, ek besef u is nie die Goeie Feë nie. Jy het allermins ‘n towerstaffie waarmee alles wat ons land aan gebrek ly, net weggetoor gaan word. Nee, ons moet na jou waardige houding kyk en dit as ons tweedekans-voorbeeld gebruik. Ons moet mekaar in die oë leer kyk en vir mekaar respekteer. Ons moet aanhou om fluit te blaas oor onreg, misdaad en onderduimsheid. Ons moet dit wat JZ se bewind ons leer doen het, volhou. Ons moet nie ‘n oomblik verslap nie.

Jacques PAuw en kie moet aanhou skryf en loer en vertel “kyk hier, hoor hier, loer daar.”  Ons moet aktiviste word – almal van ons. Ons moet aanhou om te protesteer, tot U die kabinet skoongemaak het en die polisie en die Valke en SARS en die Onderwys en die Eskom en die Koeberg en die SAUK almal kry funksioneer soos hulle moet. Ons is u rasieleiers. Steek luilakke en bloedsuiers in die pad, of beter sluit hulle toe en gooi die tronkstleutels weg!Ons sal soos South Africa First Forum se Rod Solomons en Vytjie Mentor ons leer om nie stil te bly nie.

Suid-Afrika moet hierdie tweede kans met alles aangryp. Daar lê vir ons baie genade in tweede kanse. Ons God is immers ‘n tweedekansgewer, Hy boer met genade, en dis  ons jong volwasse land se mense se plig om nou bakhand vir dié oes uit God se hand te staan en mekaar terwille van wonders te laat gebeur.

Liewe President, onder u leierskap:

  • Mag ons nooit weer sien hoe ‘n finasiesminister op sy tablet sit en Candy Crush Saga speel nie.
  • Mag ons nooit meet verkeersbeamptes sien wat by venters inbuk om ‘n geldjie oor die palm gevryf te word nie
  • Mag ou Pothole Slaggate as minister van paaie sy gat sien
  • Mag dit gebeur dat ons land se mense besef geen boere- geen kos beteken
  • Mag  ons weer ‘n polisie-en weermag hê wat respek afdwing
  • Mag alle gelukspakkie lisensiehouers van ons paaie verdwyn
  • Mag ons besef Liewe Meneer Ramaphosa,  dat u en ons almal net mense is en voete van klei sal hê, maar saam sterk kan staan en saam hierdie bult uitkom, om dit wat die afgelope nege jaar so liederlik skeefgeloop het tot op die been oop te kloof en die vrot sweer van korrupsie en eie-belang uitwis.

Ek en my huis bid vir jou, jou gesin, die kabinet wat jy vir ons gaan skoonmaak en vir ons mooi land se tweede-tweedkans. Jou smaail sê ek mag maar hoop.

 

Fan

Ek dink die oompie in Leeann Liebenberg se foto is jou grootste fên, maar ek reken hy som ons hoop, verligting en vreugde op. Kudos vir u om ‘n uur of wat na u inhuldiging as ons vyfde president, gaan rondstap het. Ek hoop u bly so tussen en naby ons.

Groetnis

Lekkervurig