Die onthouboks se slot is alweer los…

052

Ons het in 1987 na die Noord-Transvaal verhuis. Ek was so ontsteld, dat ek vir twee weke, dis ‘n rekord, nie ‘n woord met my ega gepraat het nie. Rerig.

Sien, dit was die dae van die bevrydingstryd, toe landmyne geplant is en daar nog oorlog gevoer is teen al die kleure gevare. My baba was pas ’n jaar oud.

Ons het saam die omgewing van Pietersburg tydens ons heuningmaan beleef. Ons dierbare vriende het vir ons twee drie nagte in die spoggerige Magoebaskloof Hotel se Wittebrood-suite bespreek vir ‘n troupresent. Dit was mistig en reënerig en ons het bokkoors gekry en toe besluit om Pietersburg toe te ry. Ek onthou soos gister die ent pad net na Moira van die ZCC kerk , verby die Universiteit van die Noorde, verlate en vaal.

“As jy my ooit hierheen bring, los ek jou.” Net so vertel ek vir Rots. Dis lelik, dis vuil, dis vaal.

Waha. Bak die lewe my die poets van die eeu.

Drie jaar later, aanvaar Rots ‘n pionierspos by ‘n kunsmismaatskappy. Daai waar jy die enigste ou noord van Pretoria is wat bemark. As joernalis was ek diep bewus van wat op ons landsgrense aangaan, waar daar mense onder polisie en weermag bewaking hulle dagtake moet hanteer.

Ek het ook self gesien wat gebeur as ‘n bom afgaan en jy is in die pad, na ‘n bom by Bethal se landdroskantore geplant is en dit afgegaan het voor die planter weg kon kom. Bloed en vleis en rande net waar jy kyk….grusaam.

Dis nou waarheen my Rots ons wil bring. Ek was tot in stilswye moerig. Hy  gaan maar aan met reëlings. Kry sy nuwe wit Toyota Cressida (met lugversorging), ek met my Golfie met 4×4 x120 verkoeling. (Vier oop vensters en minimum spoed 120km per uur)

Ons ry ‘n paar uur na die verhuisingswa. Vreemde paaie. Bethal, Middelburg, Loskopdam, Groblersdal, Marble Hall, Roedtan. By Zebediela Sitrus draai ons skielik regs af. Die son brand genadelooos en ek is dankbaar dat my Bab saam met haar Pappa in die lugversorgde Cressida reis.  Daar is ‘n damwal so links van die afdraai. Gompies dam, vertel die bord.

A, water. Net die kyk daarna behoort ons koeler  te laat voel, dink ek by myselwers. Toe die pad draai hang my mond oop. Ek begin bitterlik te huil. Dis so droog die dam het afgebrand!

Daar is nie ‘n druppel water te sien nie. ‘n Onlangse veldbrand het die riete vernietig. ‘n Afgebrande dam. My skouer is prikkelrig seer deur die ruit verbrand. Ek huil snot en trane oorlat ek onseker voel oor die toekoms. Gaan ek een van die dae ‘n weduwee wees oor my man daar waar daar terroriste bedrywig is gaan moet werk? My maag knoop oor al die negatiewe gevoelens.

Na so paar kilometer kry ek myself gekalmeer. Ek is mos ‘n sterk baba. Die oorsprong van my naam mos Iers en beteken deursettingsvermoë, en buitendien het ek al in sewe jaar baie erger dinge as ‘n lelike omgewing en droogtes oorleef.

Die huurhuis is aan die eindpunt van die dorp. Tweede laaste huis in Suidstraat op die hoek van Websterstraat.  Aan die oorkant van die straat staan bosveldbome en miershope in gelid. Die eienaar van die huis is nêrens te kry nie. Onthou, daar is nie selfone nie, jy ry poskantoor toe om te bel. Ons kry haar seun in die hande. Sy is uitstedig, hy wis nie waar die sleutels is nie. Ons breek ‘n ruit om die huis oop te kry.

Ons burger in, en die eerste oggend wat Rots om 04H00 met sy toebroodjies en fles koffie my soengroet, gaan sit ek met die pistool en ‘n flits in die gang by my baba se kamerdeur. Daar is nie diefwering of veiligheidsdeure nie. Ag, ek kan nou nog voel hoe benoud ek was. Dan die lang dag se gewag vir Rots om 20h00 tuis te kom.

As daar ‘n kunsmisbestelling is, moet ons sak en pak, baba en al afry poskantoor toe. Daar by die tiekieboks staan hy met ‘n flits en die bestelboek en lees dit vir die streeksekretaresse by haar huis in Pretoria. Sy het dan die volgende dag die wiele aan die rol gesit om die bestelling gelewer te kry. (Dit neem drie maande voor ons ‘n telefoon in die huis kry. ‘n Faksmasjien ook. Sjoe, ons was tegnologies die wêrled om ons vooruit, sommer so!)

Ons is pas ‘n week op die dorp, toe kry Bab mangelontsteking. (Sy was maar twee maande oud toe die onnodige goed begin lol het.) Ons kry nie haar koors gebreek nie. Ons ken niemand nie, en jaag met haar ongevalle toe. Met ons kind en mediese lêer in die hand strompel ons verward die hospitaal in. Dis ysig koud.

Ons Hoëveldse huisdokter het vir ‘n Pieterburgse kollega ‘n briefie geskryf. Die suster bel die man. “Het hulle kontant by hulle?” Ons het nie, die dokter sal dan nie uitkom nie. Ek onthou van my oudste tante wat by ‘n dokter werk. Die suster glimlag. A, Dr P. Hy is sout van die aarde.

Sout van die aarde daag op en gou is hulle met nat lakens en waaiers en drippe besig om my siek-siek kleuter te help. Dis ‘n lang nag. Dr P kom met antibiotika wat hy uit die apteek gaan haal het. Kyk nou mooi na haar, en as sy gesond is haal ons die peste uit. Ons het nooit eers ‘n rekening gekry nie. Dis dertig jaar later, as ek daai anner  dokter in die straat sien word ek naar.

My eerste uittog sonder my kind, net om brood te gaan koop is nie sonder insident nie. Toe ek tuis kom, sit Rachel met die bebloede kleintjie op die agterdeur se trappie. Ek gil, sy wys toemaar. Die ergste is verby. Hule het wegkruiper om die meubels gespeel en Bab het teen die vloeromlysting geval met haar bekkie, en net onder haar onderlip deurgebyt. Gelukkig het ek slim hegpleisters by my tante gekry.  Bab loop vandag nog met die letseltjie.

Baai tot ander keer. Ek het die slot toegekry.

NS. Oor my kindjie se mangelmagie, my joernalistiek, en sy kunsmissmousery, het Rots ons soos gesin volg aan nuwe kennise voorgestel: My kind maak dit, my vrou praat dit en ek verkoop dit! Hehe.

 

Sewentig jaar later

Die George Clark man se programme op BBC Lifestyle hou Rots en ekke baie van. Nie net oor die projekte wat mense in ‘Amazing Spaces’ aanpak interessant is nie, maar oor die algemene aard en passie van die man self.  Argitek, skrywer, aanbieder en mensch.

Gisteraand  is episode nege van reeks ses op ons betaal-vir-herhaal-skottelkanaal gebeeldsend. Entoesiasties vertel George van die wonderlike vonds wat ‘n bejaarde vrou gemaak het toe sy haar pa se huis na sy afsterwe opgeruim het.

Haar oorlede vader was ‘n Engelse soldaat en het vir drie jaar die wrede Japanese interneringskampe gedurende WOII oorleef.

‘n Klein notaboek is tussen sy besittings gevind. Die inhoud – ‘n plan vir ‘n droom karavaan. Daarbinne is, in verstommende detail, ‘n indeks, teorie, sketste, voorstelle vir dekor en selfs ‘n begroting, opgeteken!

Ons monde het oopgehang. In die fynste detail en in kleur, is tegniese tekeninge en dekor idees opgeteken. Met aanskou van die inhoud, het die ‘Amazing Spaces’-span besluit om die man se droom aan te pak, sy familie ter wille en om hom te eer.

Die uiteinde van die projek het die vrou, die ‘Amazing Spaces’-span én ons in snot en trane gehad. George Clark en Will Hardie het Jan Fursier  gehelp om ‘n droom te verwesenlik.

Jan het so ewe toestemming gevra om aan die karavaan te raak, asof sy gedink het dis ‘n droom. Ook die verstomming om dit wat sy op papier aanskou het, nou in lewensgrootte en -werklikheid te sien. Dit het ons oge laat oorvloei.

Daar is vertel dat die gevangenis onder haglike omstandighede en wreedheid moes oorleef. Hulle moes enige aktiwiteit streng geheim hou, en is vir die kleinste oortreding wreed gestraf. Die foto’s van die uitgeteerde mense was hartverskeurend om te sien. Meestal moes hulle op ‘n koppie rys per dag oorleef. Ek het my verbeel dat die notaboek met die droom karavaan se planne, vir hom ‘n ongelooflike ontsnapping aan die wreedheid om hom, gewees het.

Ek het my ook verbeel hy het baie tevrede op die koekige karavaan se dak gesit en kyk hoe sy kind, haar kinders en die se kinders oor die veld na die droom wat werklikheid geword het te kom kyk. ‘n Geskenk en nalatenskap sewentig jaar later.

Ag, ek pink sommer weer ‘n lekkerkry traan. Ek gaan sommer nou daai resepteboeke en briewe van my voormense weer deurwerk – groot geskenke oor jare heen lê oral vergete.

As jy tyd het, maak tee en kyk:

http://www.channel4.com/programmes/george-clarkes-amazing-spaces/on-demand/62967-009 (benodig Flashplayer)

 

Vir Swartjie

Liewe Swartjie

Jy is al amper nege maande kwaad en niks wat ek doen of sê gaan dit klaarblyklik verander nie. Voor ek dan my aanpas by ons nuwe verwyderde verhouding wil ek eers onthou. Ek skryf  ook via my Blog vir jou, want miskien leer ons twee se onmin iemand anders om nie dieselfde fout te begaan nie.

Hierdie foto’s hierbo is geneem toe ons na Pappa se dood baie van die skool se prestasiebekers huistoe gebring het. Die verwarring en seer is op ons albei se gesiggies te bespeur. Dit was 1976.

Maar kom ons tree nog terug, daar in die sestigs, toe jy deel van my lewe geword het.

Jy is drie jaar en agt maande jonger as ek. Ek is ‘n baby-boomer en jy is die volgende generasie.

Toe ek skool toe is, koshuis toe, het jy by Mamma-hulle agter gebly. My wêreld het daar verander – ek het ‘n langnaweek- en vakansie sussie vir jou geword. Dit was Graad Een.

Ek hoop jy onthou hoe ek vir jou Bybel-stories moes lees. Daar was een aand, ek dink ons het van Josef se mooi kleed gelees, toe jy gang af gestorm het en eers met die swart mamaba onder die telefoontafeltjie gesels het, en toe vir Pa-hulle in die sitkamer gaan vertel het. Pa-hulle het groot geskrik, en die poging om die slang by te kom het al Mamma se African Violets op die stoep in die slag laat bly!

In  my Standerd Een jaar was ons as gesin saam op Komatipoort. Ek wonder of jy weet hoe naby aan dood jy was toe jy malaria gekry het? Hoe jy van koors gegil het dat ek jou wil doodmaak, en ek bang in die gang gebid het toe die dokter vir Mamma vertel jy gaan dit nie maak nie, en hoe die tannie gekom het met branspirituslappe en jou koors gebreek het.

Kan jy onthou toe jy pa se sigaretstompies op jou hurke gesit en rook het? Dit was by vriende se huis, en pa het vir een of ander rede stompies by die venster waar hy gesit het, uitgeskiet. Ma het jou op heterdaad betrap, en ek was in die spervuur oor ek nie gesê het wat jy aanvang nie.

Kan jy onthou toe ons fietse gekry het vir Kersfees en Mamma op my fiets vooruit gery het en ek op jou fiets agterna, eers wankelend en toe redelik gebalanseerd, maar toe vergeet ek om te draai en foeter in die haak-en-steekboom in. Die merke van daai dorings is nou nog op my kneukels te sien!

In Standerd Twee is ek terug koshuis toe.  Ons het weer in Swaziland gaan bly. Kan jy onthou hoe ek vir jou moes wegjaag oor jy kwaad was vir my geterg, en bo-oor die sementtrap by een huis gevlieg het en bo-op die afgesnyde bloekombome beland het en my knieë neerf-af geval het? Daar is nou nog ‘n Afrika-kaart onder my knie ingekerf.

Onthou jy ons Barbie-pophuis en al hulle mooi klere en skoene? Othou jy ons sandput? Hoe ons slae gekry het omdat ons saam met die bediende in haar kamer op ons hurke om die pappot  saam met haar bolletjies gemaak het en deur die lekker marog getrek het. Ma was baie vies dat ons gereken het haar kos was nie so lekker nie!

In Standerd Drie  sou ek nie meer alleen koshuis toe nie. Jy moes skool toe gaan, en ons moes Nelspruit toe ry om jou lang swart vlegsel af te sny. Want hoe sal ons nou in die koshuis jou oë sjinees getrek kry soos Ma en Ouma?  Flippit, Ma en jy en ek het getjank toe die haarkapper daai sker aan die bokant van jou vlegsel insteek. Het jy dit nog – die vlegsel?

En toe jou mooi kort kapsel net mooi lyk, hoor ons, ons gaan nie terug koshuis toe nie. Ons het Witrivier toe getrek en jy kon uit die huis skool begin.

Ek onthou hoe ek jou beny het omdat jy in Augustus verjaar. Hoe ek jou en die maatjies dopgehou het en jy kerse doodblaas. Ek het nooit so ‘n verjaardagpartytjie gekry nie, ek verjaar op Oujaar, daar was ander dinge om te doen.  Maar ons was lekker stout saam

Onthou jy ons pak slae oor ek jou leer swaai het aan die handoekreëling? Of toe jou wou weet hoe gooi mens op, en ek vertel jy druk net jou vinger in jou keël. Ons het daardie aand lettertjiesop gehad. Na jou braaksessie in die bad, het ons binne in die ABC-gesit!

Toe ons Goedgeloof toe trek en op Pelgrimsrus skoolgaan, kan jy onthou hoe die bestuurder, dink sy naam was Jackson, ons leer bussie bestuur het? Kan jy ook die swem in die dokter se swembad onthou en die kleilatspeel in die donga?  Kan jy die dag onthou toe jy moeg fietsgery was en ek jou geterg het dat die bobbejane ons gaan kom vang. Jou fiets se voorwielbuffer het my bokant my knie tot op die been oopgekap, en hoe ons altwee wit van die skrik huistoe is en ek pakslae gekry het oor ek gejok het oor hoe ek seergekry het, om jou bas te red?

Toe ons die eerste keer polestriën in die hande kry en jy teen waarsku in ‘n stuk op die donkie vir ons warmwater se vuurwarm blad neergegooi het, en ‘n stuk soos springmielies jou teen jou been getref het en vir jou liederlik gebrand het.

Dan is daar jou karretjies – die mooi tas wat Pappa vir jou gebou het. Daar was niemand wat ‘n versameling soos jy gehad het nie. Die seuntjies was groen. Ek onthou daai terras wat Pa agter die huis vir ons met klip en sement uitgemessel het, sodat daar paadjies was vir die karretjies!

Ag, en ons dagdrome in die boomhuis in die bloekomboom. Ons het darem groot speletjies kon speel. Die ou kar waarmee ons klomp kinders in die plantasie kon rondry. Daai dag wat die brandstof opgeraak het, en ons die bonnet vir vyf kilometer swoegend gedra het, omdat hy maklik verwyder kon word. Vergeet die battery en ander onderdele. Simpel kinder-redenasies wat ons goed laat sweet het!

Die swem in die kristalhelder poele – eie swembaddens oral op die plaas. Die soek vir paddastoele en al die dagdrome op die digte mat van die denneplantasievloer.  As jy so op jou rug lê en die son speld so deur die takke – magies. Die reuk van plantasies laat my vandag nog ons kindertyd onthou.

Hier het ons ook amper jou vir ‘n tweede keer verloor aan skarlakenkoors. Ag jy was so siek en swak. Ons het rou eier en vanilla met ‘n druppertjie in jou seer mondjie afgedrup, en jy het van pyn gehuil. Ag, een dag vra jy vir Mamma frikadelle – sy gaan maak vir jou en kom kamer toe, en jy kyk so met jou pap ogies: “Mamma, ek kan net ruik, ek kan nie sluk nie.” Hoe Mamma buite gaan huil het en ek en Pappa nie kon eet nie. Jy het ons baie laat skrik, veral ook as die asma jou blou om die mond gelaat het.

Kan jy onthou hoe jy vir Pa moedeloos gehad het in die Wimpy in Natal iewers. Hy het vooraf ons vertel van hamburgers en melkskommel en roomys en sjokoladesous.  Toe ons daardie oggend vroeg stop vir ontbyt het jy met jou pienktrui kierts op jou knieë op die rooi bankie gesit. Almal bestel koffie en ‘n broodjie, en jy: Roomys en sjokoldaesous. Pa was naderhand boos, en het jou badkamer toe gevat. Verniet. Jy hou voet by stuk. ‘n Ou tannie het haar vir pa vererg, hom goed ingesê en jy het op die ou einde jou roomys brekfis gekry!

Onthou jy ek is weer koshuis toe op Sabie vir twee jaar omdat ek moes hoërskool toe? Hoe bly ons was toe ons hoor Pa wil terug Swaziland toe, en ons kan by Oupa en Ouma op Kempstone bly!

Die ou oranje Fordjie en Ouma en ons twee, elke oggend en middag heen en weer. Hoe ons vir Tanna bewonder het met haar mini-minirokke. Hoe sy en Alan ons skou toe gevat het in ons Duffel jasse?

Hoe histeries ma was oor  die witmuis wat in ons skoenekas gebly het!

Die Vrydagaand flieks en danse by die “very English Social Club” in Piggs Peak. Onthou jy toe ons in die motor-ongeluk was – daardie oggend is my voet nog in gips gesit, en na die blikkieskos op ons koppe geval het, ek van die harsingskudding nie kon onthou nie.

Onthou hoe het ons getjank om Ouma en Oupa te los en saam met ma-hulle Kokstad toe te trek. Kan jy onthou hoe ons daar in die motorhuis vir ure gesit en papierpoppe teken en self klere ontwerp?

Daai dag wat die voordeurruite in duisend stukke gespat het omdat ek jou weer eens geterg het tot jy my met ‘n mes agternagesit het. Ek moes deur ‘n venster klim om weg te kom. Jy agterna. Toe ek die voordeur in jou gesig toeklap, en jy die deur skop en die ruite tuimel. JO, ek dink daai was my laaste pak slae – dit was Standerd Nege.

Kan jy onthou jy het my een aand met die bord op my gottabeetjie geslaan en my bord kos wat ma pas ingeskep het, het die kombuisvloer vol gespat. Ja, ons was maar moedswillig met mekaar ook. Maar ai, ons het avonture gehad.

En toe kom haal die dood kort agtermekaar ons ouers.

Ja my Sussie, jy was ook daar toe Pa dood is, ons was ook saam toe ma dood is. Ons het saam opgepak toe Oom Piet sorg oor jou afteken. Ek om ‘n huis vir ons te maak, en jy koshuis toe vir die eerste keer in jou lewe. Dit was ‘n onlekker tyd in ons twee se lewe, maar ons is daardeur. Blapse en foute en al. Ek was daar  toe jy en jou man begin uitgaan. Julle is uit my poging tot ‘n huis getroud.

Toe trek  ek weg, en van toe af is dit maar ‘n laslapverhouding. Jy tussen jou skoonmense vir die afgelope 37 jaar en ek tussen myne. Honderde kilometer uit mekaar.

Ek moes my aanvanklike huweliksfout oorleef.  Goddank vir Rots, vir wie ek 33 jaar gelede opdrag gegee het om my op te pas. Dié doen hy steeds met groot liefde. Julle het ‘n lewe uitgekap en vandag ouers van drie yslike manne. Rots en ek ouers van onse Bab.

Ek gaan die interessante en avontuurgevulde grootword jare met my swartkop sussie onthou vir wat dit is – goed en vol. Ek sal elke dag vir jou en jou manne bid, en ek sal vir jou lief wees – altyd. Ek is bly julle het ‘n mooi huis, goeie inkomste en dat julle almal gesond is.

Ek gaan nie derms uitryg oor ons huidige nie-bestaande verhouding nie. Ons het maar almal foute.  Jy moet maar op jou tyd jou woede hanteer en asseblief ophou om te oordeel. Dit kom nie vir een van ons toe nie. My gebed is dat ons nie eendag by grafte moet staan en krokodiltrane huil oor spyt nie.

Onthou die whatsappboodskap: Die Here gaan nie die ou vir wie jy kwaad is met ‘n slaanding bykom nie. Die Here sal nie namens jou so intree nie. Dis ons werk om mekaar te vergewe. Gaan dink mooi en trek peil oor wat werklik fout is.

Ek het vanoggend die piouterfeëtjie met haar blou vlerkies op my spieëltafel gevryf – ek bid jy het die virtuele drukkie gevoel. Ek hoop die pienk enetjie staan nog op jou spieëlkas.

Baie liefde

Jou Ousus, Rina.

 

 

 

 

 

 

Liewe Pa

dad

Op ‘n Vrydagaand bykans 41 jaar gelede is my pa op 42-jarige leeftyd in die middel van ‘n lagbui, aan ‘n hartaanval dood. Ek het by sy voete gesit en ons gesin het TV gekyk. Nadia Komanecji het nog so oor die perd gespring (Olimpiese spele 1976).

Behalwe dat ek graag, nou jare later na al die gemis en hartseer, ook soos hy die ewigheid wil in as ek kon kies, is daar lewensgeskenke wat hy in ons kort verhouding – ek was maar 16 – aan my gegee het. Daarom skryf ek vandag op Vadersdag vir hom:

Liewe Pa,

Dankie vir my erfenis.

Oor self: “Wees trots op wie jy is. Ons is nie ryk nie, ons het net ons goeie naam, daarom wees ‘n mens met integriteit, wees eerlik, wees lojaal. Laat jou ja, ja beteken en jou nee, nee”. Dankie Pa – dit het my net goed te staan gekom.

Oor werk:”Werk hard en doen altyd jou bes, dan sal niemand jou baas wees nie, al betaal iemand jou. Onthou die lewe is soos leer klim, weer en weer. Oral begin jy onder en klim tot bo, sportjie vir sportjie. Onthou net daar is meer as een leer”. Hehe, Pa, die het my ‘n moeilike werknemer, maar ‘n projekgerigde vasbyter gemaak. En dankie Pa, ons entrepreneur vir ‘n lewe omdat ons kan aanpas en leerklim.

Oor ons naaste en ander mense en kulture:” Doen goed waar jy kan, met wat jy kan. Respekteer waar ander vandaan kom. Plaas jou in hulle skoene. Leer van ander kulture.” Dankie Pa – die resep het altyd gewerk, en help my oorleef in ons Nuwe Suid-Afrika.

Oor lees, en kennis: My pa (en ma en ouma)het my leer lees voor skool – o, die wêrelde wat hulle daardeur vir my ontsluit het… Dankie Pappa-julle, dankie! Ek is belese en berese!

Oor verhoudings en seks:”Wees die groen papaja op die mark – jy sal iemand baie gelukkig maak.” Pa, ek het hier effe gestruikel, maar toe ek weer probeer het ek my sielemaat, lewensmaat, beste maat gekry – ons is 33 jaar getroud, en jy het ‘n kleindogter wat jou so trots sal maak.

Oor die lewe: ” Jou pad is soos ‘n wandeling op die strand, jou spore diep in die nat sand. Maar weet die gety kom in en wis dit uit. So loop met oorleg, so dat jy toe oë agteruit in jou uitgewiste tree kan terugstap.” Ek is dankbaar dat integriteit in my ingegrein is.

Oor geloof: Al het jy nie self gekerk nie, dankie vir saam bid, Bybelverse leer en my King James Kinderbybel op ses. Ek is steeds so lief vir ons Vader, Seun en Heilige Gees.

Dankie dat jy en Malat my die vreugde van gee geleer het. Om ‘n verskil sonder lawaai te maak in iemand anders se lewe is my monument aan julle voorbeeld.

Ek ontmoet jou daar by die Ewige woning wanneer dit so bestem is. Sê groete en liefde vir Malat ook. Ek is nie meer kwaad vir haar nie, net jammer. Ek het mooi probeer na my Sussie kyk na julle weg is en haar lewe saam met haar man en seuns is goed en mooi. Jy sou mal oor jou skoonseuns en kleinkinders (drie seuns van China en een meisiekind van my) gewees het.

Ek is in hierdie lewe nou al 18 jaar ouer as jy. Die wêreld draai nog om sy as, die seisoene kom en gaan. Ek is steeds betotterd oor die maan. Elke volmaan sal jy my buite kry, starend. Ek onthou hoe jy saam met my ‘n dikke plakboek gemaak het oor die maanlanding. Hoe ons daardie aand op die grasperk gelê het met die verkyker, nogal, want sê nou net Neil Armstrong waai vir ons.

Die Nieu-Seelandse Maoris speel nog steeds verwoed rugby. Onthou jy hoe ons die plakboek oor hulle gemaak het, en ek so mal oor Brian Williams was en jy my gewaarsku het om dit vir myself te hou, want hy is nie Europees nie? Pa sal nou so lekker lag oor mense se pretensie – al wat leef en beef is ge-Maori tattoe, en kleur maak al minder saak, al wil mense dit nie glo nie. ‘n Swart rugbyspeler het gister sy haters se bekke toegespeel. Ons Springbokke het gister mooi gemaak teen die Franse.

Wens Pa kon hoor hoe mooi die Drakensbergse Seunskoor die Volkslied gesing het. Onthou Pa hoe ons daar die Transkei al by die skool Nkosi SikeleliAfrika saam en die Stem gesing het, dies nou een lied vir ons hinkepinke land.

Ek het so baie om te vertel, maar ek wil nie die brief ‘n relaas maak nie.

Ek laaik om meer lewenservaring as jy te hê, maar ek laaik meer dat jy my ryk laat erf het en dat selfs in my ouer word, jou stem nog luid in my ore is, en ek deur jou beïnvloed, my pad deur hierdie aardse lewe loop.

Jy het nie hierdie skrywer leer ken nie. Maar ek weet ons sou ure oor sy wyshede kon gesels. Ek los dan hierdie daar buite vir jou:

“Long since, the desert wind wiped away our footprints 

in the sand. But at every second of my existence, 

I remember what happened, and you still walk 

in my dreams and in my reality. 

Thank you for having crossed my path.” ~Paulo Coelho

Liefde, Jou Oudste

NS. Luister net

Bevrore ertjies

bevrore ertjies

Rots en ek is op die aanloopbaan van oudword. ‘n Nuwe era in ons lewens het aangebreek. Ons is skielik die ouer mense in ons kring.

Ons besef dat ons die houers van die geskiedenis aan vergete geslagte is. Maar die laslap kombers van ons voorgeslagte se lewens aanmekaar geweef is yl en motgevreet. Die jongklomp gaan hulle eie gang en ons spandeer baie tyd alleen saam. Ons twee en die brakke.

Ons het aan sy kant van die familie nog net ‘n kinderlose tante as verbintenis tussen ons en die vorige geslagte.  Aan my kant, ‘n bejaarde eie tante en -oom wat hulle weergawes vir hulle self hou, en dan ander familielede wie hulle eie weergawes bo ander familie s’n verkies. C’est la vie.

Ons onthou van stories van waar ons vandaan kom is yl, die stiksel kom los op plekke, en ‘n paar blokke het al weggeval. Ons onthou is dan ook maar tipies menslik selektief en subjektief.

Maar ek wil nie vandag oor voorgeskiedenis en families griffel nie.

Ek wil vertel van bevrore ertjies, en hoe ons nie ouer word wil hanteer nie.

Ons het nie een nie, maar twee keer met bevrore ertjies te doen gekry. Albei aan my skoonouers se kant van ons saamgestelde familie. Een vrou was ons geliefde Biebs se grasieuse, eksentrieke suster. Die ander ‘n elegante skoonsuster.

Kort na ons Frida Kahlo tante weduwee geword het, het my dienende Martha skoonma, in haar rooi Gholf die pad Pretoria aangepak het om haar suster by te staan. Sy kuier ‘n week of wat, en kort na haar terugkeer bel sy oudergewoonte Sondagaand net na Carte Blanche ( Altyd net as die fliek begin, in die dae voor PVR). Rots antwoord, Biebs doen verslag oor die hele familie – sy was die gom wat ons almal aanmekaar verbind het.

Ek lei af dat sy omgekrap voel, en ek hoor Rots iets van bevrore ertjies sê. Na die oproep, en die fliek vergete, vertel hy dat ons tante sommer ‘n handvol bevrore ertjies uit die vrieskas gryp en dit as ‘n ete beskou! Dis mos kos, reken die nuwe weduwee, en daar is nie skottelgoed of moeite nie. In elk geval is sy alleen, hoekom sal sy moeite doen?

Ons sit en herkou aan die nuus. Biebs is al jare alleen. Sy maak elke dag kos – vleis, rys, groente. Daar is hordes Tupperbakkies met enkelporsie groente, vleis, sop in haar vries- en yskas. Sy bak en kook en op tagtig het sy nog vir die mense in die ouetehuis help kos maak! Niks te veel moeite nie. Voluit. Daar was mense twintig jaar haar junior in die ouetehuis!

Ons koop ‘n huis in Graaff-Reinet en wil vir Biebs gaan wys. Haar seën op ons Karoo-droom was vir ons aller-belangrik. Ons oornag op Bloemfontein, sodat sy haar aangetroude skoonsuster kan sien.

Ons bly in die oulikste gastehuis, met ‘n braaiplek. Die Bloemfonteiners kom kuier by ons. Dis ‘n heerlike onthou-kuier, tot dié weduwee-tante vertel hoe sy haat om haar kombuis vuil te maak net vir haarself. Sy eet sommer ertjies uit die vrieskas, dan bly alles netjies.  Biebs is sommer op die plek omge-ellie. Dis nie hoe jy na jouself kyk nie!

Dis toe net daar dat ons begin dink aan wat ons gaan doen as ons ouer word.

Beslis nie bevrore ertjies nie! Ons twee maak doelbewus moeite om lekker en interessante kos te maak. Al is net net ons twee, en ons belowe mekaar plegtig dat wie ook al alleen sou moet bly, ons Biebs se voorbeeld sal volg.

Nie die sitkamer ‘n wagkamer vir die ewigheid maak nie. Nie gaan sit en van ons lewe ‘n afwagting maak vir die dag van ons hereniging met ons voormense nie.

Nee, saam of alleen: ons gaan die kombuis vuilmaak, in die sitkamer lag en daar buite lewe en nie ophou droom nie. Pyne skete en alles wat met ouer word gepaard gaan, ons gaan die pad voluit loop.

Ons eet Eisbein vanmiddag.

Adelaide se “Sheet cake”

20170415_110153

Dit is Paasnaweek 2017 se Saterdag. Rots en ek hou vrottiedag.

Ja, ek sit nog in my pajamas hier en skryf. Ons het flink opgevlieg en self vrieskas skoongemaak, want dié lyk soos ‘n rooilighuis op ‘n Saterdagoggend.  Jy weet, lekker deurmekaar en oes.

Ons het brekfispap met lewer en niertjies vir laatoggendete geniet. Vir ons vyf brakkekinners bederf met pap en Montego-sous. Ons almal se magies span so styf om die lyf. Dit het weer begin reën, na gister se 40mm.

Ek is dankbaar bly vir so baie seëninge, en wil vir my Rots verras. Iets buite my geaardheid doen. Ek wil koek bak. Dis raar, glo my.

Die resepboek val oop by Adelaide se sheetcake.

Kom ek vertel:

My skoonmoeder, Biebs, was ‘n flukse, flinke, vietse vrou. Uit haar twee hande is liefde in borde kos, fyngebak, koekies, beskuit en nog baie meer opgedis.

Sy het elke kind se voorkeure geken. Tot haar skoondogters. Daar was niks lekkerder om skelm met ‘n eetlepel die bak gestoofde perskes in die yskas te beroof nie. Asof sy nooit geweet het ek doen dit nie.

Vir die een boet is daar altyd Dirkie kondensmelk in die yskasdeur. Vir die ander, biltong en droëwors in die broodblik. Vir ander witkoek.

My skoonma vang my met Bab se vierde verjaardag uit. Sy kry die kitskoekmengsel se boks in die asblik.

“Skaam jou,” verwyt sy my, die beroepsvrou skoondogter. Ek stotter en lag maar, en sê Bab kon Nommer13 by die tuisnywerheid se koek gekry het. Ek het darem eiers geklits, en gemeng en die oond aangesit.

Die boksiekoek word ‘n groot spottery. Sy giggel en praat van sheetcake wat ek bak.  “Ma, jy praat lelik met daai vroom mond”, spot ek terug.

 

 

Nie lank na Bab se verjaardag, kom kuier Biebs weer vir ons. Sy bring vir my ‘n resep – Adelaide se sheetcake.

Ek was gewip. Het hom net so in my resepboek geplak. Nooit gebak nie.

Dis nou jare later lê die resep voor my oop, en my skoonma is al vyf jaar nie meer by ons nie.

Ek mis haar, my skoonma. Ons twee het aan mekaar geskuur tot ons mekaar se “ek het jou”-plekke mooi gemaak pas het.

My skoonma, my ma. Ek is lief vir haar. Sal altyd wees. Sy het my veel langer as my eie ma geken. Sy het my hakieshart verstaan.

Biebs, die sheetcake resep werk mooi. Jou seuntjie laat weet die kinners op WhatsApp dat die antie sheetcake bak, en dit reën en reën. Is dit jy wat lag dat die hemel so oorloop? Lief jou.

NS. Die resep werk so goed soos Biebs gesê het. Een smeriger lekker is by die skakel te vind:

http://thepioneerwoman.com/cooking/the_best_chocol/

DSC_0202

 

 

Getoor

getoor

Vandag is my hartedief MM al ‘n hele week oud.

Vir nege lange maande het ons saam met haar mamma, pappa en boetie, opgewonde vir haar gewag. Ons het so baie met haar gepraat, van haar gepraat en vertel hoe ons haar gaan bederf.

Verlede Donderdag kom MM met tien tone en tien vingers en die langste bene vir so kleine mensie, ons lewens binne.

Omdat my eie kind nog enkellopend is, kom ons nie gereeld  in aanraking met swangerskap se vordering en gevolge op ‘n daaglikse basis nie. Ouma- en Oupaskap is, met ons lang-afwesige skoonseun, nie deel van ons huidige bestaan nie.

So, toe ons kind se boesemvriende weer swanger raak, was ons in ekstase.

Ons het die sonars saam beleef, ons het moedertjie se “garage-paai”-verslawing geniet, om nie van die lus vir brood, brood en nogmaals brood te praat nie! Ons het baie gelag en gehuil oor al die op en af wat die twee kinders,  met boetie wat sopas een geword het, beleef. Hoe hulle ‘n groter huis moes koop, hoe daar vir MM se koms beplan word.

So het ons elke dag saam gestap. Ons moes onsself beteuel om nie inbreuk op die pop se eie oumas en oupas se plek in die ry, te maak nie!

Maandag jaag Rots en ek so tussen werk gou om te gaan inloer. Om MM te ontmoet.

Onbeskryflike vreugde en liefde en tederheid spoel oor my. Ek het laas so gevoel toe my eie kindjie die eerste keer in my arms gesit is.

Ek is getoor, MM. Ek weet ons gaan die grootste maats wees. Jou Oumas en Oupas sal dit maar moet aanvaar, jou Mamma en Pappa ook.

Toe ek jou so in die oë kyk, toe weet ek jy is ook vir my gestuur. Jy weet dit ook. Jy het my getoor.

 

Net nie ‘n feëverhaal nie

“Vertel my ‘n storie, asseblief.” My kind kyk my vol verwagting aan. “’n Regte storie, van ons mense, waar ons vandaan kom.”

Ons sit op die stoep in die wintersonnetjie, heuningbostee in die hand,‘n onthoukissie vol foto’s op die tafeltjie tussen ons.

“Nou maar goed. Ek begin by die begin wat ek ken. ‘n Storie van een ouma en twee oupas. Ouma en Oupa Oorlog het vier kinders gehad. Saam met Oupa Willewragtag, kom nog twee kinders die familie binne. Altesaam vier meisiekinders en twee seuns – my ouma se kinders, my ma en ooms en tantes.”

“Ek leer Oupa Oorlog nooit ken nie, net sy legende. Die storie gaan so: Oupa Oorlog was ‘n aantreklike donkerkopman met ’n Clarke Gable-kuiltjie in sy ken. In sy weermaguniform met die keps so skuins op sy kop het sy direkte kyk jou deur die spaarkamer gevolg. Sy portret het teen die muur gehang, saam met ander mense wat ek ook nooit geken het nie, my pa se ouers, en so aan.”

Ek teug aan die tee en haal sy mooi foto uit die kissie. Sussa lag. “Amper soos Pappa se naamgenoot en sy vrou!”

Ons het die antieke portret geërf, en die stugge egpaar  hang in ‘n hoekie van die ekstra kamer, daar waar ons min kom.

“Net, so!”

Sy staar intens na die foto. “Wat nog?”

“ Daar is aan ons vertel dat Oupa Oorlog  ‘n brawe soldaat vir ons land was en dat hy in Noord Afrika gevange geneem is. In die kamp het hy van stukkende vliegtuigvoorruite die mooiste harte gemaak, elk met ‘n springbokkop uit ‘n  muntstuk gekerf, daarin vasgesmelt. Dit was hangertjies vir sy vrou en dogters – my ma en haar ousus. Wat hy vir sy twee seuns gemaak het, het ek nooit gehoor nie.

“In die tyd na die oorlog, toe Oupa veilig terug op tuisbodem is,  loop hy  in Pretoria se strate – in volle uniform. Op daardie dag was die militêre polisie op soek na ‘n droster. Klaarblyklik my bloedoupa se doppelganger.

‘Halt!’

“My oupa wis nie dis vir hom wat daar halt geskreeu word nie, en hy stap rustig aan op pad na sy vrou en kinders. Die jongste seuntjie maar ses maande oud.

‘Halt!’

‘Halt!’

“‘n Skoot klap. Oupa val vooroor op die sypaadjie toe die koeël hom in die rug tref. Toe die polisie naderstorm en sy identiteitpapiere sien, kom hulle gou agter hulle het die verkeerde ou probeer stop.

“Oupa beswyk aan sy wond en kry op Naboomspruit ‘n eervolle begrafnis, met ‘n weermag kopstuk. Ek het ‘n foto daarvan hier iewers.”

Ek krap rond en haal die foto van die grafsteen na ‘n gesoek, onder uit die pakkie foto’s.

“Mamma, dis hartseer.” My kind se oë is betraan.

“Regte stories is, my kind. Dit werk nie soos feëverhale nie. Wil jy nog hoor?”

Sy druk my arm saggies. “Asseblief, Mamma.”

Ek skuif reg op my stoel. “So bly my mooi, lang, mollige ouma agter met ‘n baba op die heup en drie grootoogkindertjies aan haar rokspante. Tragies en sleg in die tye na die oorlog. Ouma gaan bly by haar ma, ons Ouma Groot. Meer van haar later in haar eie storie.

“Die familie is nie links nie, die weduwee moet trou en ‘n jaar later, word sy aan ‘n oujongkêrel voorgestel. Vaalblou oë, gitswart Brylcreme kuif en Clarke Gable snorretjie. Hy is agter-agter-vêrlangse familie. Darem nie bloedskanderig naby nie.”

Sussa  lag. “Dankie tog!” Sy weet al van die bye en blomme.

“Nietemin, hulle trou. Gou het  hulle twee dogtertjies. Ouma en Oupa moet hard werk om die huishouding  met ses kinders se pot aan die kook te hou.  Hulle vestig, toe die kinders groter raak op ‘n bosboustasie, in die berge rondom Barberton.”

Ek blaai deur die pak foto’s. “Kyk hier is hulle almal.”

Dit is ‘n mooi foto van die saamgestelde gesin in die Uniegebou se tuin. My ma staan knus langs Oupa Willewragtag. Langs hom, soos Lady Di met die kleuter, staan Ouma met die jongste dogtertjie op haar heup, en neffens haar Tannie Ousus. Voor, met hulle armpies gevou, staan die twee seuntjies, albei met Oupa Oorlog se kuiltjies in die ken by hulle ander kleinsussie

“Mamma, dis ‘n mooi kiekie. Hulle lyk hoopvol en gelukkig.” Sussa vee so oor die foto met haar wysvinger. Asof sy wil uitreik na haar voormense.

Ons sit doodstil.

Die storie vir vandag is klaar.

NS.As  hulle op die foto  maar geweet het:  Ousus sou nie eerste trou nie, maar sy sou drie keer trou. My ma sou nie veertig sien nie. Sy het selfdood gekies, want sy kon my pa se dood nie oorleef nie. Hulle het eerste getrou.

Elke liewe een op die foto het sy of haar eie storie.n Familiesage met baie saamwees, liefde, jaloesie, nyd en struweling. Die hele kaboedel. Net mense wat sukkel om te bestaan! Almal ‘n storie om te vertel.

Hierdie is ons storie uit my perspektief. As een van die ander die storie sou vertel, sal daar sekerlik ander weergawes van dieselfde scenario wees. Dis maar die wese van die mens, so selektief en subjektief soos mens se eie onthou jou toelaat.

Vergeef my as ek tonnelvisie het.