Lekkervurig Innibos 2

Saterdag 8 Junie 2017.

Innibos Dag 2.

Ons word vrolik wakker. Een van my emmerskoplysie goed word vandag voltrek. Fiela se kind tot die mag drie!

Daar was eers die boek (1985), toe die fliek (1988) en nou die oppie planke weergawe (2017)!  (Dit is ook in 1999 as die Afrikaanse boek van die eeu aangewys – maar julle weet dit seker.)

My hart klop tjoklits toe ons weer in ry A, so links voor by die verhoog, sitplekke inneem. Langs M sit ‘n jong egpaar van Cullinan, met die fraaiste baba-dogtertjie. Ou siel het die kleine kind, sy sluk ons in met haat vriendelike sagte bruin ogies. ‘n Stukkie van my kommer en bid die baba sal die drie ure sonder huil deurmaak.

Langs my sit ‘n fris jongvrou met kort funky hare en boheemse klere, haar liefie is donker en lank. Hulle lag en gesels te lekker. Kom van Phalaborwa. Hulle oor die kleurgrens heen onsigbaar, want dis in Afrikaans wat daar geklets word. Hulle terg mekaar oor wie kry wanneer hulle sin oor toneelstukke en feesterrein kuiers. Hy kyk Fiela en Koöperasiestories saam met haar, en sy gaan saam Theuns Jordaan en kie kyk. Hy vertel hoe baie hy van Koos Doep hou, en dat Refentse nie te sleg is nie, maar Theuns Jordaan, dis die held.

Verfrissend is hulle gesleskap tot die ligte in die saal flikker. Die gordyn trek oop. Mistigheid spoel oor die verhoog,  en skielik is ons in Daleen Matthee se wêreld – die Knysnabosse op die verhoog, innibos.

Ek kan nie beskryf behalwe om te sê dat Daleen Mathee beslis saam met die engele tevrede op die saal se dak kom sit het, en stil tevrede geglimlag het oor hierdie produksie. Dit was om die boek weer vas te hou en die storie te sien transformeer uit die bladsye van die boek in drie-dimensionele glorie op die verhoog!

Die teks van Dalene Matthee is in die laat tagtigs aanvanklik verwerk deur Suzanne van Wijk. Vir hierdie verhoogproduksie is die teks herverwerk deur Frans Swart. Puik, puik.

Die stelkleding was eenvoudig, maar eenvoudig fantasties. Jy het saam met Fiela die pad dopgehou, saam met Lukas en Nina vir die grootvoete weggekruip. Jy het die armoede en woede van Elias van Rooyen beleef.

Die toneel waar klein Lukas verdwyn was hoendervleisend. Stikdonkerte met die lampliggies en die geroep na die kind.  Die konfrontasie tussen  Lukas/Benjamin en Elias het my na my asem laat snak. Snot en trane saam met Fiela Koemoeti gehuil.

Uit jou maag vir lawwe klein Nina gelag en geskater wanneer een deur Fiela ingesê word. My hart het van vooraf gebreek toe Lukas/Benjamin uitkreet:  “Wie is ek!”

Ag, die drie ure het gevlieg, en toe die laaste sin geprat is, het ons in die gehoor nie anders kon as om staande die akteurs toe te juig nie!

Die baba het soos ‘n klein engel al om die beurt op ons almal se skote gesit asof sy saam gekyk het en die storie verstaan het!

Die lang vertoning het uiteraard ‘n kilometerlange badkamertou tot gevolg gehad. Ons het maar gaan sonde pleeg – kode vir ‘n rokie maak. Toe die toue wyk en ons, ons draai wil gaan loop, sien ons die hele Fiela-span rustig in die sonnetjie sit en wag op hulle vervoer.

Hulle verwelkom ons in hulle kringetjie toe ons vra of hulle die program vir ons sal teken. Die Mamma en Pappa van Cullinan is ook daar. Sal Shaleen opmerk dat sy die kleine mense in die gehoor raakgesien het, en verbaas en dankbaar is dat die pop so soet was deur die hele vertoning! Pappa Cullinan se knope spring amper af van trots. Die kleinding is woerts in Sharleen se arms en die wanggetjies is gou rooi gelipstiek! M het ook ‘n vet drukkie gekry – nou wil sy net drama doen en Shaleen vertel haar sy het nie swot nodig nie. “Ek was ‘n teacher,” haak die ikoon so ewe af. M is in die wolke.

Shaleen Surtie-Riichards, ‘n regte, egte mens en wat jy sien is wat jy kry. Ek kan net sê: Respek! Dié is ‘n wonderlike mens en geseënd is ons om haar te kon beleef.

Vian Singleton het hom uitstekend van sy taak gekwyt as die jong Lukas.Benjamin, en ek verstout my om te sê Phillru van Achterbergh is gebore om die volwasse Lukas/Benjamin te vertolk. (‘Skuus Dawid Minnaar). Borrelende laerskoolleerling, Jaime du Toit (hierdie was haar heel eerste rol), het ge-Nina asof sy dit nog altyd doen! Ag, en Johny Klein as Selling Komoetie…maar meer oor hom later.

Ek gaan nou stop…anders gaan ek net aanhou en aanhou en aanhou. Wil ook net deel, tydens pouse druk die jong vrou van Phalaborwa saggies aan my arm. “Tannie moet Sophia Mentz probeer te siene kry.”

Sophia, Sophia. Daar is ‘n ander Sophia in my lewe – sy het een oggend ‘n paar jaar gelede haar verskyning tussen wapperende lakens gemaak. Dis my storie se hoofkarakter en wie se lief en leed ek vir arme Janie Skryfskool mee frustreer. Sophia het vir so ruk verdwyn, maar ek kan vertel sy klop weer hier aan my hart en wikkel my vingers oor die QWERTY van my rekenaar. Dankie Fiela en Phalaborwa.

Word vervolg….

Lees meer oor die akteurs en die toneelstuk en gaan bespreek jou kaartjie as die opvoering naby jou op die planke gebring word!

Lekkervurig Innibos 1

Innibos_tema2017_sliderOpgewonde vertrek ons verlede Vrydag vroeg uit Polokwane. Stop in Tzaneen vir lekker koffie. Ry verder via die prentjiemooi roete al langs die kronkelvoet van die Drakensberg, Strydomtonnel deur, al met die eskarp verby Drie Rondawels,  Bourke’s Luck, oor die Blyderivier, verby Goedgeloof Plantasie, oor die Treurrivier. Kindertyd herinneringe tafereel deur my gedagtes en my hart klop warm. Ons ry Graskop en Sabie deur.

Mbombela toe.

Innibos toe. In my beursie dubbelkaartjies vir vyf vertonings in ‘n Computicket koevertjie toegevou. My mede-reisiger aan die stuur, my kosbare M.  Geliefde van ons oubroer se seun. Kinders na aan ons harte. M is die een lid van ons familie wat saam met my die teater-, boeke-, woorde-, drama-ding doen. Ons is voëls van enerse vere in meer as een opsig, al verskil ons  baie jare in ouderdom. Ons siele sing dieselfde.

Ons kwetter soos twee kanaries en verwonder ons aan die lowergroen Laeveld, ruig en wulps. Die mooi laning flambojantbome aan die buitewyke van die stad, groet ons met groen takke oorlaai met oranje blomme wat oor die pad sprei, nes flamencodansers se valle.

Ek dink ewe liries die laning is die geboortekanaal na vernuwing van ons moeë Suid-Afrika-het-ons-in-‘n-knelgreep-gemoedere. Onderweg om verfris en herlaai te word deur goeie teater en musiek. Oormaaksessie en verposing tegelyk. My mymer word skerp onderbreek.

“Kyk, sy het nie ‘n broek aan nie,” gil M. Langs die pad staan sowaar ‘n vrou, T-hemp so millimeter te kort om iets aan die verbeelding oor te laat. Hier word beslis nie kuns bedryf nie. Ons skok laat ons skielik nog meer sien. Hier is baie beweging in die ruigte. Oral ‘n vrou met skamele klere, lyf sjokoladebruin en blink. Lippe rooi geverf. Te koop. Skuins agter ‘n padwerkewaentjie is ‘n lae, beige luuksemotor parkeer, transaksie heel moontlik aan die voltrek.

Ons is stil van skok en nader ‘n sirkel.  Wrintiewaar!  Daar staan nog drie – groot hare, geverfde lippe, lang naels en so verveelde kyk na nêrens. Een wragtig besig om ‘n bloedrooi pantie aan te trek! Iets is los in dié bos.

M kyk so skuins na my. “Die lewe is hard, maar ai dis tragies, en aaklig,” sê sy. “Dit is my kind,” antwoord ek.  Gou moet ons konsentreer toe ons die dubbelweg stad in aanpak. Suri help ons na ons bestemming, die Nelspruit Burgersentrum waar hulle stadsteater ook geleë is.

Asem, ‘n uit Engels vertaalde stuk van Reza de Wet, is eerste op ons lys. Ons sit in ry A. “Ons gaan alles eerste sien” terg ek vir M.  Die program waarsku: Geen onder 16 SNL.

Die stel is gestroop, jy hoor die wind loei.  Die spel is boeiend. Hier by ons op die punt, lê Stiaan Bam en kreun – sy rol ‘n kamee wat ons land, die boerenasie, die mans aan die einde van die ABO verteenwoordig. Oorwin, gebroke, sterwend. Op ‘n stadium vlie hy op – poedelkaal. M vertel na die tyd  daai was darem ‘n lang dertig sekondes!

Maar die konteks moet nie uit die oog verloor word nie. Reza de Wet was immers bekend vir donker, diep, gotiese, mistieke simboliek in haar werk.  Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt onder regie van Marthinus Basson, wie ook die vertaling behartig het uit die oorspronklike werk Breathing in, trek jou in die verwikkelde drama in. Die kaal maak nie saak nie, want die boodskap is so sterk.

Asem

Die program verduidelik so:  “Een donker, stormagtige aand gedurende die laaste bitter dae van die  Suid-Afrikaanse oorlog, in ʼn uitgebrande skuur van ʼn plaas lê ʼn gewonde Boeregeneraal wat versorg word deur Anna, ʼn kruiedokter wat oor uitsonderlike magte beskik. Haar aantreklike, maar bloedlose dogter, Annie, is ook besig om te veg vir haar lewe, maar het veel meer nodig as haar ma se konkoksies. Die generaal se dapper en getroue adjudant, gebrei deur die slagveld en die afgryse van die oorlog, staan nou voor ʼn verskriklike keuse en ʼn nuwe onnoembare gevaar. In die wêreld waar mans, in die naam van patriotisme lewens en landskappe vernietig, moet vroue meer subtiele en misterieuse metodes ontwikkel om te oorleef. De Wet verweef digterlik en kragtig ʼn verhaal van liefde in ʼn tyd van vernietiging, wat die alledaagse omskep in die uitsonderlike. Hierdie is ʼn huldigingsproduksie aan die ontslape dramaturg, Reza de Wet – een van Suid Afrika se belangrikste en meer invloedryke toneelskrywers.”

Later die middag is Amper, Vrystaat aan die beurt. Puik tragi-komedie. Ons het op ons voete gamperevlieg toe die drie vroue met ons klaar was.

Antoinette Louw, Milan Murray, Cintaine Schutte het self die teks geskryf en die rolle vertolk. Die verhoog was gestroop aan dekor. Net drie eilandjies elkeen met ‘n enkele gloeilamp, een op ‘n slag aan, as ‘n karakter op haar eilandjie aan die praat is.

Ek sit so en kyk en besef al deel mens dieselle ouers, ons almal uniek onself is. Ek besef ook vervreemding is nie goed nie, maar soms wyl elkeen sy groei moet groei – onvermydelik.

Ons lag en huil vir 60 kosbare minute. ‘n Persoonlike hoogetpunt is waar kleinsus vertel van walvisse wat op die strand uitspoel, en so terwyl hulle wag om te sterwe, sing hulle vir mekaar. “En as enetjie alleen uitspoel, dan sing hy maar vir homself.” Ja, soms moet jy goed alleen in die oë kyk,  en net soms het jy steun. Amper, Vrystaat is waarlik  “ʼn komedie met hart. ‘n Storie met waarheid wat elke mens raak.”

Daisy.jpg

So Ry Miss Daisy.  Wat kan ek sê. Sandra Prinsloo, John Kani  – saam op die verhoog na al die jare. Hulle soen nie in die stuk nie. Hulle is ouer.. ek grap net.

Die stuk is eg-Suid-Afrikaans vertaal. Kudos aan Alfred Uhry. Christiaan Olwagen, wat ook ‘n rol speel, is die regisseur. Ag, en daar tjank ek te lekker – hulle gebruik Cornella se ‘Picking up pebbles’ wat ek net nou die dag vir my ma op my blog geplak het…

Die storie van ‘n oor-die-kleurgrens-heen vriendskap wat strek oor 25-jaar. Dis meesterlik deur die twee ikone vertolk. Ons kon nie lank genoeg staande hande klap en juig nie. Toe ons huistoe ry en M ‘n draai te vinnig kap, sê ek net: “Hoke!” M antwoord laggend:”Ja, Miss Daisy.” Ons skater te lekker van die lag.

Toe ons na die vertoning terug na ons slaapplek gaan, ry ons verby ‘n taverne. Kyk, sowat van luukse motors en ontwerpergeklede mense op die straat het ek lanklaas gesien.  Onder flitsende ligte op die balkon is dansende lywe te sien. Ons verkyk ons terwyl ons stadig verby ry.

‘n Blok verder, omring deur hulle ware, lê straatsmouse saam met bedelaars op die sypaadjie, onder kartonne en slaap. Ja,Suid-Afrika – so oorleef ons in oordaad en armoede, haarbreedtes van mekaar.

Word vervolg….