Wonderbaarlik om ‘n rede

Wie is jy? Sit bietjie stil en dink. Jy, jou lewe, jou liggaam, jou hart, siel en gees. Jou plek  hier op aarde. Wie is jy?

Jy is ‘n versameling  van 1000 600-bladsy volumes in God se hande. Dis hoeveel jou genetiese struktuur op papier sou beslaan. Hy skrywe van jou, in jou. Hy hou jou in Sy hand.

Nes boekliefhebbers van ‘n nuwe boek hou, die ruik van die ink in asem,  so word jy in jou Skepper se hande gehou. Die Outeur is stil tevrede met Sy skepsel.

Jou DNA is so kompak dat dit in ‘n ys-blokkie sal pas, en as dit uit mekaar gehaal en aaneen gestring sou word, sal dit vier keer tussen die aarde en die son pas!
Wonderbaarlik, net in jou liggaam. Net jy.
Kou daaraan wanneer jy minderwaardig voel, as mense se woorde en dade jou ineen laat krimp.
Wonderbaarlik is jou Skepper se liefde vir jou.
Jy is ‘n vaatjie waar in Hy Sy beste, nuwe wyn giet. Elke dag, nuut gemaak.  Om weer jou beste te kan wees. Om Sy hart, oë, ore en hande te wees. Soos Mmusi Maimane onlangs gesê het, bring jou emmer en luister en doen wat God jou vra.
Waarom sal mense se woorde dan nou so belangrik wees dat jy nie kan leef nie? Kan hulle tot die son reik of oral wees?
Maar ook: Waarom kyk jy neer op die bedelaar by die robot? Die ongeskikte taxi-bestuurder? Die korrupte politici?  Die vrou wat nie soos jy leef nie? Jou buurman, jou skoonma, al die mense wat jou dwars in die krop steek?
Hulle DNA  pas ook vier keer tussen die aarde en son.
Hulle Skepper huil, Sy hart breek. Want Hy wil dit nie vir Sy skepsels nie. Al die haat, nyd, onmin, korrupsie, gierigheid en selektiewe omgee.
Tree vir almal en jouself in en bid dat almal ook nuwe wyn in leë emmers gegiet kry.
Wees God se hande, oë, ore en liefde.
Bid en doen.
Dis hoekom ons hier is.

Liewe liefde land!

Vanmore is daar ‘n helse gezoem in my kop, en hart. Vurig spoegerig voel ek behoefte aan mondspoel.

En dit begin alles by die liefde.

Ja, daai liefde wat onse Lievenheer ons van leer.

Ek lees ‘n mediteerstuk oor wat groter is – evangelisasie of aanbidding. Nee, ou kinta, nie een van die twee is groter nie, vertel die skrywer my. Die liefde, daai een wat saam met geloof en hoop gaan, daai liefde is die grootste.

Die Boodskap se vertaling van Efesiérs 3:14-17 bevestig dit verder luid vir my.

Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur Sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om  geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op die liefde. Deur ander mense met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het.”

Ware liefde is groter as evangelisasie en aanbidding, laasgenoemde twee vloei natuurlik uit liefde soos God ons opdrag gee om uit te leef.

Ons moet ons opdrag uitleef, naamlik om in geloof, hoop en liefde, die ewigdurende en onvoorwaardelike soort, ons naaste te dien na Jesus se voorbeeld.

Nou verstik ek vreeslik van verstomming hoe balk-in-die-oog daar alweer oral onder mekaar ingeklim word oor plaasmoorde, korrupsie, grondonteiening, politiek, kerk, huwelikke, vriendskappe.

Daar is op Vuisboek en ander mediaplatforms massas met menings. Massas wat slegsê, beledig, laster, vloek, haat.

Ek verstom my vir NG- en ander-kerkers, wat in jare nog nie saamstem oor apartheid se onreg nie, wat nie eensgesind oor gays standpunt wil inneem nie, kerke wat met leë banke en geen ware uitreik, hulle geboue nie met ander wil deel nie, nie die armes op die straathoek ‘n korsie brood sal gee nie.

Húlle klim op die hoogtes en skree met gebalde vuiste oor die omie met die hoed en Bybel in die hand, waag om mense van alle kleure en geure en oortuigings roep om saam te kom bid.

My magtig, hy kan mos maak soos hy in sy hart glo hy dien vir God. Omdat dit nie soos jy lyk, of soos jy dink nie, maak dit nie noodwendig verkeerd nie. Enige aksie is beter as niks doen en skreeu.

Ons is nie een Moses of Elia nie – ons kan nie roem ons is God se vriende met ons dubbele standaarde en oordeel nie. Dankie tog, Sy liefde vir ons is groter as enige foute wat ons kan droom om te begaan.

God het ons almal uniek lief. Hy het ons almal immers lank voor ons onder ons ma se hart begin lewe het, beplan met onvoorwaardelike liefde!

So, Oom Angus – roep gerus die mense saam om op 22 April hulle saam met jou te verootmoedig voor God. Ek is oortuig dit sal God se hart bly maak om 1 miljoen Suid-Afrikaners bymekaar te sien. Hoeveel te meer as 44 Miljoen dit doen – die sluise van God se genade sal verseker op Sy tyd oor ons oopgaan!

Al die dominees, pastore, priesters, ouderlinge, diakens, susters en broers, gelowiges en ongelowiges – gaan asseblief en maak so gou as moontlik ‘n afspraak met jouself en ‘n spieël.

Wees eerlik met jouself oor die daadwerklike verskil wat jy maak om dinge in ons seer, sukkelende land te verander.

Om God se liefde in aksie te wees.

Om die enigste refleksie van Jesus te wees wat iemand miskien ooit sal sien.

Bêre jou leunstoelkritiek , egoïstiese sielsalwing en Pontius Pilatus handewassery  – asof niks met jou te make het nie. Rol jou  ontwerpermoue op en doen iets.

Reik uit na jou huiswerker en tuinier. Weet jy van hulle gesinne, hulle huise. Was jy al in hulle huis? Het jy al saam met hulle huistoe gereis, of soggens vieruur opgestaan sonder kos om agtuur by jou hek en agterdeur in te stap?

Het jy al brood en melk gekoop vir die vier manne wat moedeloos oorkant die inkopeisentrum se parkering sit. Niemand het hulle vir dagwerk kom oplaai nie?

Het jy al jou ekstra baadjie vir die karwag, bewend van die koue, gegee.

Sê jy mooi vir die werksoeker jy het nie werk nie. Sê jy vir hom  sterkte en God seën jou?

Ja, kyk in daai spieël.

Skaam jou.

Ek hou gereeld so vergadering met die spieël.

Ek kom sleg tweede.

Die Vader weet.

Lees weer Efesiërs 3: 14-17

Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur Sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om  geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op die liefde. Deur ander mense met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het.”

Eish. Kan jy dink as al daai veroordelende massas Efesiërs se man staan en liefde uitleef!

Sjoe, die hemel gebeur sommer dadelik op aarde…

sunset

Foto: Erna Maré – Sonsondergang oor Ysterberg, Polokwane 2014

Blomme vir die see

Die laaste dag van ons seevakansie breek aan. Ons pak traag ons voertuig en laai twee leë waterbottels op die agtersitplek. Ons gaan vir oulaas op die strand stap en vir ons liewe Elisa seewater skep, sy het ons laat belowe.

Ons ry ‘n ent deur die mooi buurt met sy seeuitsig wonings, die een se stoep mooier as die vorige en deur die ruigtes, sien jy die branders breek en ruik jy die see. Ons stop by die hoofstrand, dis winderig en betreklik stil. Teen ‘n grasbedekte skuinste met skewe sementtrappe af, en ons is op die strand. Daar is ‘n rotsrif regs voor en ons stap soontoe. Loop al langs die branders se spoellyn en trap maar suutjies. Oral lê bloublasies uitgespoel. Dis hoekom dit so stil is.

‘n Regte mannetjieswind waai ons kuiwe in vreemde style en ons hemde staan bol-  soos seile reg om die groot blou in te vaar. Ons lag te lekker en proe die soutsproei. Almal uitgerus en vrolik. Ons klouter teen die rotse op om by ‘n poel uit te kom en die waterkanne vol te maak.  Gou eers  tuur oor die water en kyk hoe die branders uitspattig teen die rotse breek en seeskuim hoog die lug in spat voor dit op die rotse om ons neerreën.

Ons klouter traag af, en volg Rots wat strompelend met 10 liter seewater aanstap kar toe. Die rit Noord wag op ons. Sy spore op die sand is diep ingeprent. Die son gooi mooi skadu en ek en die kameralens is doenig om die oëverblindery vas te lê.

Ek mis amper die fyn blonde vrou met die bos rooi angeliere wat by ons verbystap, daar na die rotse waar ons nou net saam gelag het. Sy lyk geslote, in haar eie gedagtegang en emosies vas, oë op die rotse en die see gefokus.

afskeid-3

Sy stap oor die nat  sand, al  waar die golwe sopas ons spore uitgewis het , tot by die rotse. Ek kyk hoe sy, blomme in die een hand, wankelrig klouter tot aan die voorpunt van die rotse. Daar waar die golwe teen pletter en seesproei verdiepings hoog die lug inskiet en water maal.

Skynbaar vreesloos, staan sy op die gladde rotse, enkeldiep in die malende, spattende water. Sy gooi die rooi blomme een vir een die see in, die wind bring hulle voor haar voete terug en die see neem haar offer aan. Ek hou my asem op. Dit lyk of sy ook self enige oomblik  meegesleur sal word.

afskeid-2

Wie sou sy so kom gedenk?

‘n Seun wie verongeluk het?

‘n Man, wie se gunsteling visvangplek dit was, en dit nooit weer kon besoek nie?

‘n Dogter wat hier die see ingespring het?

Ons sal nooit weet nie. My hart breek in medelye vir onbekende redes, en ook die o-so  bekende seer en verlange.

Die simboliek om ‘n geliefde te gedenk kan ons verstaan. Was die aksie vervul met bitter, soet, opstandigheid of berusting? Ons sal nie weet nie.

In elke rouproses is die fases ‘n rol van eindelose golwe wat op ‘n mens afspoel, jy moet deur elkeen, totdat jy almal leer ken – woede, vrees, angs, ontkenning, aanvaarding, berusting en vrede met die nuwe bestaan sonder jou liefmens.

Die golwe kom nie in volgorde nie. Die gety is ook nie altyd stormsterk nie, party dae soos tyd aangaan, kom klop hulle saggies om jou voete. Dan raak jy gerus. Op ‘n dag kom spoel hulle jou onverwags  sommer onderstebo.  Nie een mens ervaar dit dieselfde nie.

‘n Mens moet deur sulke dae beur en dit beleef. Jouself kans gee om die emosies te deurleef, die storm uit te woed.

Om die emosies te misken en die golwe te onderdruk is gevaarlik. Dit spoel maalklippe van  seer en onthou binnetoe. Dis naderhand jou borskas vol, en jy verdrink van binne. Dit neem jou op ‘n reis wat net om en om en om in jou woed. Tot mal word toe. Dit beroof jou in-die-lewe geliefdes van jou. Dan wil ek nie eens praat hoe jou eie groei en menswees  uitgehol word nie.

Tot op ‘n dag  wanneer golwe van verlang en wonder hoekom,  jou weer oorspoel en jy hulle laat los. Die onthouklippe uit die maalkolk met sout-sout trane laat uitspoel.  Dit is  ‘n groot storm, maar jy oorleef. Dan skielik word dit stil, en jy weet jy gaan leef. Nie die oorspronklike jy nie, maar ‘n nuwe weergawe. Die een wat weet hoe om storms te kan trotseer.

Wanneer die waters  van seer en gister  skielik opslaan soos ‘n blou,blou storm, en die soutsproei jou  oë laat brand en jou  byna omslaan, onthou dat dit sal verbygaan.

Staan vas soos ‘n geel sonneblom en draai jou kop na die son, ‘n offer in die sekere wete dat die gety gaan draai, die storm gaan wyk, en kalmte en rus sal sag oor jou spoel.

Leef met jou eina saam, dit is deel van jou, en onthou deur blomme in die see te gooi.

afskeid-1