Ek het nie gesoek nie, maar gekry

eserendipity

serendipity

ˌsɛr(ə)nˈdɪpɪti/

noun

  1. the occurrence and development of events by chance in a happy or beneficial way.

    “a fortunate stroke of serendipity”

    synonyms: chance, happy chance, accident, happy accident

Serendipity is my gunsteling Engelse woord.  Wikipedia verduidelik in Nederlands: “Serendipiteit is het vinden van iets onverwachts en bruikbaars terwijl je op zoek bent naar iets totaal anders.”

Ek stem nie saam nie. Vir my is dit die bidsprinkaan wat net vir jou kom bid, die liewenheerbesie wat op jou kom sit, die beste van toeval. Ek het nog nie die regte Afrikaanse woord teëgekom nie. Ek soek hom al jare. Dis nie geluk nie, dis nie toeval nie. Dis nie rerig gelukkige ongelukke nie, maar miskien tog.

Ek reken egter ‘serendipity’ is ‘n Liewe Jesus-woord. Ek reken dit het meer met heilige intervensie, niks met geluk te doen nie. As jy na geluk opsoek is, speel die Lotto.

In my lewe het heilige toeval, die ‘serendipity’- soort,  al ‘n yslike rol gespeel.

Ek verjaar op Oujaarsdag. As my ma vier ure kon uithou, was ek ‘n hele jaar jonger…ag, ja! Dan was my pa ook nog Engels en my ma Afrikaans – so ek het maar so in albei tale leer praat en lees. “I speak both tales deliciously.”  Ek tel vandag nog makliker in Engels!

My verhouding met boeke is ook vroeg gevestig en op vyfjarige ouderdom kon ek al goed lees. Enid Blyton se Noddy reeks was van kleins af kosbare skatte.

My ouers was baie pragmaties oor Kersfees en my geboortedagvieringe. So kry ek vir Kersfees,  net voor ek ses word, ‘n King James kinderbybel. So mooi blou boek. Honderde bladsye dik, met illustrasies.

Adam en Eva en vyeblare en die slang, Noag en die ark, Josef se kleed, Moses en die brandende bos, die vlug deur die Rooi See, Jona en die vis, Jesus se geboorte, Sy kruisiging. Ek lees van Kersdag tot op 31 Desember die hele boek deur, en vra of ek darem iets op my verjaardag ook kan kry.

Almal lag, want hoe kan ek nou daai dikke boek deurlees? My liefiemense hou toe Bybelvasvra met my. Ek vertel in groot detail vir hulle klomp stories, reg uit die Bybel.

Ons was nie juis kerkmense nie, maar ek onthou gebed by ete en met slapenstyd.  Ek onthou Sondae wat ek met my geel rokkie en wit sandale buite die kerk afgelaai is om Sondagskool toe te gaan, alleen. Pa het sy issues gehad, maar hy het my nooit gekeer nie.

Die Afrikaanse kerk wou my nie doop omdat my pa ‘n Methodis was. Rerig. Dit was in ‘n ou klein dorpie, gelukkig het my ouma-hulle se dominee nie dié byltjie te kap gehad nie, en die watertjies is eindelik oor my voorkop gesprinkel.

Op hoërskool was my pa baie omgekrap toe ek ‘n kerkseminaar kies bo ‘n familiesaamtrek. Maar hy het my laat begaan. In standerd nege op Kokstad, is ek die enigste aannemeling. Stokalleen deur katkisasie en al wat ek van die aanneemdiens onthou is die bewing van my slaprandhoed.  

Maar ek moet sê, die alleen deurwerk van die katisasieboek, en ook nêrens om weg te kruip wanneer dominee vrae gevra het, het vir my ‘n geloof gebou op sterk fondasies.

Net voor my rekordeksamen sterf ons pa aan ‘n hartaanval. Die weke en dae rondom die trauma is ‘n waas. Helder in my onthou is hoe ek Fil 4:13:’Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee’ as anker gebruik het. Dit het my staande gehou deur eindelose trane, gesprekke, koppies tee maak, studeer, vraestelle skryf.

Twee weke na my pa oorlede is, moet ons matrieks ons Engelse mondelinge eksamen aflê. Die inspekteur is laat, en op die ou einde word net twee van ons gekies om die praat te praat. Ek volledig tweetalig en die arme seun wat nog steeds net “yes” en “no” kan sê. In die skoolbiblioteek, met die sonstreep wat stofmyte laat dans, praat ons ons harte uit. Die inspekteur dring aan dat ek  ook ‘n onvoorbereide toespraak moet hou, die gemiddeld vir ons klas is volgens hom te hoog. Ek trek my skouers op en sê dis maar goed so. Wat kan jy maak? 

Die onderwerp:”What does your father do for a living.” Dit slaan vir ‘n oomblik die wind uit my seile. My hart klop in my keel en ek gryp vas aan my anker: “Ek is tot alles in staat, ek is to alles in staat…”

Ek trek daar weg en vertel my pa doen op die oomblik niks, hy is dood. Ek reken hy sit heerlik vir ewig met sy tone in die seesand met sy skewe kuif, sy pyp aan die stop met kersietabak. Die inspekteur se oë het gerek, maar hy het my laat begaan. Ek het my ou hartjie uitgepraat oor my saagmeulbestuurder pa, my skaakspelende pa, my klassieke musiekliefhebber pa, my kunstige, slim pa wie se lewe op 42 opgeraak het. 

En raai, die ou inspekteur moes maar ons hoë gemiddeld toeken, ek het nie my klasmaats in die steek gelaat nie. My half-Engels grootword en my sterk geloofsbelewenis was geen toeval nie! 

Ek stem saam met die verduideliking hieronder – ‘Serendipity’ is eerder kreatiewe ontginning van iets onvoorsien, omdat jy met wysheid toegerus is. Ons Vader het mos alles klaar uitgedink lank voor ons gebore is!

serendipity-is-the-way-to-make-discoveries-by-accident-but-also-by-sagacity-of-things-one-is-not-in-quote-1

NS. Hierdie is ‘serendipity’ aan die werk tot by my matriekjaar. In die veertig jaar wat hierop volg het ek vele asemsnak ervarings. “Serendipitously” gebless.  En ek weet as jy mooi rondkyk, gaan jy ook oorvloed van ‘serendipity’ in jou lewensloop sien!

 

 

 

 

Dit was toe vandag

My dierbare Rufus en liefste Seuntjie

Al ‘n lang ruk, ‘n jaar om die waarheid te sê, weet ons hierdie dag sou kom. Die dag wat ons moet laat gaan. Die dag wat julle julle laaste botterbroodjie kry, die laaste keer dat julle in die kombuis wakker word, die laaste dag van lusteloos staan voor die kosbak, die ure se bly lê, die nie meer sien en teen alles vasloop. Die laaste rit saam in dorp toe, ons laaste oomblikke saam by die veearts.

Ons kon hierdie dag nie keer nie, want ons het julle belowe dat julle waardigheid en gemak die belangrikste is. Ons behoeftes aan julle s’n ondergeskik. Om my seer te besweer daarom hierdie brief:

My dierbare hondekinders.

Dankie, dat julle ons lewe verryk het. Dat julle ons onvoorwaardelik lief gehad het, ons vertrou het en ons soos goud opgepas het.  My hart is stukkend, maar ek weet ook dis beter dat julle nou by die ewige huis vir ons wag. Saam met Miss Mandy, Cindy, Waaksaam, Pippie, Frikkie, Natasha, Patricia, Jumbo, Witvoet, China en Toontjies. Al die viervoete wat spore in ons lewens gelaat het.

Rufus, al het jy dikwels Shrek se was in jou ore gehad, was jy die liefste, uitbundigste en terglustigste van jou hondeboeties. Jy het reg tot in my siel se wegsteekhoekies kon kyk. Dankie dat jy saam met my wyn-ys gedeel het. Ek gaan aande op die stoep mis. Dankie dat jy met ‘n smak van jou bek altyd gewys het wanneer ‘n bederfhappie vir jou lekker was.

Wat ek ook nie sal vergeet nie is: Dat jy die leer ottoman as joune opgeëis het. Dat jy niks gekou het en nooit ooit in die huis gepiepie het nie. Dat jy saam met ons koffie en beskuit kom eet het, vanoggend vir oulaas. Dat jy gister nog op die naat van jou rug, my plek op die bed kom opeis het.

Dankie dat jy al die slange vir ons uitgewys het, ons kom roep het as daar fout was. Hoe trots jy was as jou mens pa die slang doodgemaak het en jy lyf swaaiend saamstap om die ondier weg te gooi.

Onthou jy toe jy die dag die ystervark vasgekeer het en vol penne ons kom haal het om te wys waar die gedierte is? Hoe gefrustreerd jy was tot ons by die turksvye uitgekom het!  Hier, hier het jou lyftaal gewys. My Boenoes, die penne wat ons uit jou gehaal het staan in ‘n bak, in ons kantoor. Ons sal nie vergeet nie.

Ek kon nog nooit avokadopeer eet sonder om te onthou hoe dodelik siek jy as babahond was omdat jy die goed skil en pit en al opgevreet het, want jou Seuntjie boetie suig dan so lekker daaraan.  

Ja my ou Rufus, jy het net ses motor ritte gehad, elkeen epies – toe jy saam met Rots weg van jou ma is om ons s’n te kom word, drie keer vir siekte, verhuising – een keer, en vandag die laaste keer – veearts toe.

Ek sal nie vergeet hoe jy my in die oë gekyk het toe ons by die veearts uit geklim het en rustig saam gestap het, gestaan het om die verkeer te aanskou, die son vir oulaas op jou lyf. Waardige ou yster, jy het toegelaat dat ons jou op die rooi kombers laat lê, met jou tjommie van baie jare net langs jou. 

My Liewe Seuntjie, my uitskot brakkie – die lelike enetjie in die werpsel met die oorbyt, perfek vir ‘n bal, en aandag afleibaar soos min. Jy met jou half stom blaffie wat tot die beeste laat wonder het. O, jy was darem lief om by ons koppe op die kussing te slaap, jou ingewurm op die kleinste plekkie om net by ons te wees. Daai spoggerige spierwit stert wat jy so rond kon swaai. Hoe jy die ander boeties se speelgoed versteek het. Hoe jou ronddra van jou kos ons soos ouers met Lego in die huis laat voel het. 

Jy wat jou boeties leer sokker speel het. Onthou sal ek vir ewig daardie dag in 2010 toe jy soos ‘n  Beckham en Messy daai wit en swart sokkerbal die grasperk vol beheer het, tot die ander se frustrasie. Dat geen bal van enige grootte of vorm jou baas was nie, dat jy tennisballe deurgekou het en sokkerballe laat afblaas het. Laduma!

My dierbare ou keffertjie, wat altyd geraas het, al het jy die besoekers reeds nou net verwelkom. Ek gee ook nie om dat jy  liewer vir kuiermense was as vir my. Die kuiermense het darem weggegaan, dan was dit ons.

Ou Seuna, ek is ook nie kwaad dat jy merke gemaak het en jou Yorkie boeties dieselfde geleer het nie. Die ‘pro-biotic’ sproei maak korte mette daarmee. 

Ek gaan mis hoe jy by die tafel, om net tog eerste aandag te trek vir die botterbroodjie en oorskiet vleisie, pen-orent kom sit, asof jy voorheen ‘n meerkat was. Hoe jy soos ‘n wafferse brandwag op die stoele se rugleunings geklim het en by die deur uitgetuur het om seker te maak ons word nie onverhoeds betrap nie.

En ja, karnallie, ek weet hoe dikwels het jy sommer buite gaan blaf het, dat die ander net kon uithol, sodat jy die beste plek op my skoot kon kry. Koda gaan mis dat jy sy speelgoed so versteek dat hy heeldag daarna soek! Oscar gaan mis om by jou lepel te lê. Ag hoe besef ek nou jy was die baas van die bende!

Ons huil, en sal nog baie lank oor julle rou, maar ons bid dat daar waar julle vanoggend bygekom het, daar reuse grasperke is en sokkerballe. Dat albei van julle sterk en vry en vrolik is.

Die volmaakte ewige Rufus en Seuntjie. Speel lekker en onthou ons. Sê groete vir die ander tot ons julle weer sien. 

Liefde

Julle mens ouers en sussie 

NS. Daar is mense wat sal opinies hê dat ons nie reg gemaak het om ons twee bejaarde honde vanoggend te laat uitsit nie. Elkeen het reg tot sy eie mening.

Ons is tyd geleen met Rufus, wat ‘n jaar ekstra tyd gegun is en soos goud opgepas is sedert die veearts verlede jaar kankervergroeisels uitgesny het, en  vir ons die x-strale van sy heupe gewys het. Geleende tyd, dit was dit. Ons ou Seuntjie – het blind geword, gestress en tjankerig as hy teen alles vasloop.

Vir wat en hoekom sal mens nou hulle deur lewende hel wil sit? Oor jou hart gaan breek? Nee wat, hulle het ons te veel van onvoorwaardelik liefhê geleer om nou aan eie gevoelens en gemis te dink.

Ek lees vandag “Euthanasia is often not so much a question of artificially ending a life, but of determining when to cease arifiially extending a life.” Sela.

Ons gesin gaan hulle twee se lewens saam met ons vier, en vir altyd onthou. Hulle was kosbaar.

 

 

Ligvoets uit die onthouboks

 

Mum-Love-Tattoo

My dogter van ‘n anner-mamma berispe my: “Ek hoop as Tannie weer blog is dit vroliker.”

Ek besef, mens kan maklik in ‘n gekerm en kla, teregwysing en prekerigheid verval. So ongesiens. So ek gaan dan nou my as ingesê beskou, en bietjie ligvoets hier op die lekkervurigeffêre tekere gaan.

Dis nog onthouboks stories, daar van die hospitium waar ek my beste jare geslyt het. Daar is rykes, armes, snobs en plebs, mooi en lelik – deur die ses kamertjies. As pasiënt of as familielid of vriend.

Die verpleegpersoneel, en ook die bestuurspan, het baie keer ons wangvleise moes deurbyt om nie histeries aan die lag te gaan nie. Ons moes menige kere ons lag sluk.

Daar is drie staaltjies wat ek goed onthou:

Die eerste het met vloekwoorde en fondsinsameling te make gehad. Ek was maar dun gevernis as dit by takt kom, en kon sommer gou op die fokkit-karretjie klim as ek my vererg het.

So ewe diplomaties kom vertel my liewe boekhouer kollega een oggend vir my die grappie van Mev Bez Valley en Mev Sandton wat saam in die kraaminrigting beland.

Dit gaan so: Mev Sandton lê daar met ‘n pels jakkie, in pêrels en diamante bedruip en vertel vir Mev Bez Valley dat sy al die pragtige goed gekry het by haar geliefde man om dankie te sê vir al die kindertjies gebaar. “That’s nice, that’s nice, that’s nice…” kom dit van Mev Bez Valley.

“Wat het jy gekry by jou man”,  vra Mev Sandton hovaardig.

“O, ‘n keurige taalgebruik kursus,” kom dit droogweg.

“Hoe so?”

“Nee, ek ek het geleer om te se ‘that’s nice’  in plaas van fokkit…”

Ek neem dit ter harte – dié wysheid wat met my gedeel is. Van daardie oomblik hoor jy oral in die gange, ‘that’s nice’. Daar word ook natuurlik baie gegiggel by die uitspreek van die woorde.

Ek onthou kort hierna ‘n vroeg-oggend personeelvergadering.  ‘n Bankbestuurder-omie stap sommer so in. Ons vra of ons kan help en hy verduidelik dat hy vir ‘n potjiekos-kompetisie wil inskryf namens ons mooi fasiliteit. Ons sê dankie. Hy vra so ewe dat ons dan nou asseblief vir hom die inskrywingsfooi en die geld vir die bestanddele moet gee. Voor ek my kon keer glip dit by my mond uit:”That’s nice.”

Die span verdwyn soos kokkerotte uit die vertrek en ek hoor net die geskater in die gange. Ek en Oom Bank bly alleen oor. Ek het maar verduidelik die vergadering was klaar, die dat die personeel verdwyn het, en nee-dankie gesê vir sy goedhartige offer. Toe sy kar se stoffies om die draai verdwyn het ek die span bymekaar geroep en vertel hoe gaaf hulle was met ‘n “that’s nice.” Ons het gelag dat trane rol daardie dag.

Die tweede groot lag gebeur toe ons weer ‘n provinsiale hospitaal pasiënt oorneem. Dis ‘n jongerige man, maar daar is omtrent nie plek aan sy lyf waar daar nie ‘n tatoeëermerk is nie. Hy is in ‘n koma, en die verpleegsters was besig om hom te bad en skoon aan te trek. Ons was in die kantoor besig met verslae.  Die suster aan diens kom die kantoor ingestorm. Sy is bloedrooi in die gesig, skoon kortasem.

Ons vra besorg of alles reg is. Sy kan amper nie ‘n woord uitkry nie.

“Julle wil nie glo nie, sy Watsenaam is ook getatoeëer!”

“Sy wat…?”

“Jy weet, man.”

Ons trek haar siel so bietjie uit.  “Wat sê dit,”  vra ons.

“Moeder…”

Ons moes buitentoe hol om nie die hospitaaltjie se dak te laat lig nie.

Ek kan nou nog nie glo nie. Sou sy liefde vir sy moeder gerek en gekrimp het???

My laaste lag met ‘n traan storie is van gewone mense, maar effe dun vernis. Klomp broers en suster en aanhangsels. Die moeder van die gesin lê op sterwe.

So kom die hele familie laat een Vrydagaand laaste respekte bewys. Ouma sy tyd is min. Familie dwaal oral in die gebou rond. Hier en daar hoor ons die begin van “As Ma sterf “-rusies. Ai, boedels bring maar die lelik in mense uit.

Nietemin, al die bloedbroers en susters is by Ouma in haar laaste minute. ‘n Swaer en skoonsuster het buite by die ambulans ingang, waar meeste voertuie parkeer is, gaan rook.

So, terwyl ons die familie in die laaste hartverskeurende oomblikke bystaan, hoor ons kort kort ‘n toeter. Sulke kort geluide, maar nogal aanhoudend Toet, toet, toettoetttttt, skel dit deur die geween.

Twee van die personeel stap buite toe, netnou is daar diewens of iets. Dit was toe of iets. Skoonsussie en swaer, stomend op die voorsitplek van ‘n motor! Ja, ek jok nie! So terwyl Ouma groet vir altyd, het die twee besluit om van naderby kennis te maak!

Fluit, fluit, my storie is uit.

Hoop jy smaail, Mielinda!

 

 

 

 

 

Tuimeldroër oorlewing

broom

Ken jy daai dae wat die bollie die waaier tref? As die elke dag se oorlewing en gemoedsbekakking tot die mag drie jou na Putsonderwater lei, en jy weet, hier moet jy nou verby? In die lewenstuimeldroër gesmyt en die siklus word elke vyf minute verander? Jy voel soos die besem en stof tegelyk!

Ons is midde-in so fase, my gesin en ekke.

Rots het verlede week sy beursie met bestuurderslisensie, geweerlisensie, identieteitsboekie, kredietkaarte, bankkaarte verlê. Ons noem dit maar so, want ons weet nie waar die insident sou plaasgevind het nie, en ons weet nie of ‘n opportunis iets met die verdwyning te make het nie.

So, in die hel van burokrasie en swak diens moes my arme man spring. Sewe ure by binnelandse sake, met slegs die sekuriteitswag wat behulpsaam is. Hy oorleef dit en het darem nou ‘n tydelike Identiteitsdokument.

Die volgende dag is dit die oggend by die bank, meer as 108 bladsye moet ingevul en geteken word, want die rekenaar wil nie die begunstigdes van die ou profiel na die nuwe oorplaas nie. Die pragtige vrou help die gryskop omie te mooi.

Moedig pak hy die lisensiekantore by ons stad se Mislikepaliteit aan. Hy word dokumente in die hand gestop en beveel om in ‘n kamertjie agter in die ry te val, toe hy by die toonbank kom, 45 minute later, snou die klerk hom toe dat hy in die verkeerde ry is. Omdat die lied nie verder gaan, begin hy weer van voor af, agter in ‘n volgende kamer se ry.

Toe hy ure later by die motor uitkom, besef hy met ‘n skok dat hy die swart vouleêr met al sy nuut-verworwe tydelike dokumente iewers laat lê het! Gelukkig vir hom het ‘n gawe toetsbeampte dit veilig gehou!

Sommer net moedeloos, want sien, Rots moet ook nog lam ter slagting hospitaal toe. Maandag gaan hy geopereer word. En die mediesefonds wil nie noodsaaklikhede per die spesialis se kwotasie goedkeur nie.

Teen gister se einde toe ons boekhouer ons ook vra om papiere vir SARS te teken en die beleggingsmaatskappy my ondervra oor hoekom ek geld wil onttrek, en twee kliënte basies vir ons vertel hoe ons ons produkte aan hulle moet verkoop, toe kook die gemoedere oor. Daai aaklige ‘daar is iemand in jou binnekring dood’– emosie oorweldig ons albei.

Toe ry ons baie stil huistoe en gaan braai ons maar en skink ‘n glasie so op die Dinsdagaand. Raak rustig en kry ‘n goeie nagrus in.

Vanoggend uit Fillipense 4 Die Boodskap, praat ons Vader reguit met ons:

4Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. 5Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug.

6Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel.
Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. 7Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.
8Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel. 9Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel.”
So kom maar Putsonderwater, en wêreld! Bind maar een arm agter my rug, met my God kry ek alles verrig. En ek gaan nog glimlag ook. My Pa sê ek mag.

Rots en Bab voel ook so.

Ons is reeds halfpad deur vandag, en steeds is klomp goed in die lug en nuus oor die bybetalings vir die operasie is sleg en ons sien net hier en daar lig. Maar dis alles onder beheer, want daar is waarlik ‘n vredigheid oor ons wat alle verstand te bowe gaan!

Mooi, mooi oor seer

Wound Care

“Keep it closed for the first few
days, months, sometimes even years
bandaged against the oxygen of consciousness.
The cut’s too deep, not ready for the
sting of alcohol wipes or saltwater tears.

You’ll know when the time is right,
when the wind that once rattled
your bones with thoughts of
lions, tigers, and bears, oh my
becomes the breath that can save you,

when the wound is ready
for full exposure
to the depths of its darkness
and the edges of healing light.”

Author: Kaveri Patel | Artist: Daria Petrilli
~ The Artists Project ~

Ek laaik

laaik

Ek laaik in geen spesifieke volgorde:

  • Martelise Brink en Mathys Roets wat meer doen as wat ek en duisende ander met al ons mobiliteit kan. Wat ‘n lewensdrif en -lus het wat aansteeklik is. Wat volkome mens is en die wêreld vierkant in die oë kyk en nooit spookasem verkoop of verskonings maak nie.
  • Bobby en Karlien van Jaarsveld wat mense se mening oor hulle ‘n koekhou geslaan het met hulle Via-program. ‘In jou skoene’. Eish, die twee het soos daai ou plaashekke wat so terugklap het, monde gesnoer, deur regtig-egtig ‘n verskil te maak.
  • The Voice South Africa – Lira, Khan, Bobby en Karen as beoordelaars en ander top-artieste wat met koestering en opbouende kritiek sang talent in ons land ontgin. Lief net alles – die etos van die projek veral.
  • Vrydae wanneer ons die winkel sluit, ons werkers by die bus aflaai en ons ry die dertig plus kilometer huistoe ry. Ons ry die pad elke dag heen en weer, maar Vrydae se uit ry is net lekker verby. Om te weet daar lê twee dae saam met my Rots en my brakke, tussen die vier mure wat ons huis noem. Ons een-twee-drie-blok-onsself-plek. Om te kan musiek, lag, gesels, braai, laat slaap, skrywe, kuier as die kind(ers) kom.
  • Graaff-Reinet, en veral ons Great Expectation kothuis. Die kaktusse in die tuin, saam met die granaat, vy , reuse peperboom en die witstinkhout wat wortelskiet. Die Vallei van Verlatenheid waar jy vir ewig sien en die Here se hand jou hare saam met die wind deurmekaar vryf.
  • My Kindle Fire- my sondige, sonde plesier met honderde boeke wat manlief nie sien nie, en vismotte nie kan bykom nie. Ek kan ook boeke aan mense leen sonder om vriendskappe te beëindig oorlat hulle my boeke donkieoor vou en bemors, of nog erger, nie terug gee nie.
  • ‘n Vuis vol hartsmense is ook op my laaiklys- julle weet wie julle is. Dankie dat julle my laaik nes ek is. Wat van my hou al weet julle alles van my. Ons trap nie drumpels deur nie, maar die land weet as ons die dag by mekaar uitkom, is dit net tande en lag en kwetter!
  • My Bab se oproep en sy sê: “Ek is lief vir Mamma.” Ek laaik dat sy ‘n fantastiese, kreatiewe, beginselvaste vroumens is. Ek laaik nie dat my skoonseun nog nie opgedaag het nie. Ek laaik wel hoe sy met oortuiging vertel dat hy moontlik die spermpie is wat dit nie gemaak het nie…ai! Ek hoop liewer hy is net ver om ‘n draai besig om sy perd se hoef  reg te maak…ek gaan hom ‘n groot drag slae gee omdat hy so tydsaam is!
  • My sielemaat, my beste-este vriend, my minnaar, my Rots. Sjoe, ek kan nie tel tot hoeveel ek hom  lief-laaik nie! Al maak hy my gek, al druk hy al te dikwels my moermeter se knoppies dat jy niet boute en moere en @(*&^*%@&^# hoor vlieg. Hy lief-laaik my hakieshart, my aweregse siel, dubbelken en ouma-boude. Dis al 33 jaar, dit voel nog nuut.
  • Myself. Sowaar. Na al die jare. Dit was harde pad en daar moes maar hard aan my binnekant gewerk word. Maar ek laaik kwaai hoe die timmerwerk uitgekom het.

My grootste laaik is:

Ons Skepper – Vader, Seun en Heilige Gees. Ek laaik-lief-respek en verwonder my  tot hartkloppens toe oor die onvoorwaardelike, weer en weer, vir altyd liefhê wat Hy vir ons het, dat Hy ons gemaak het en ons van onsself en menswees leer. Ek laaik dat Hy so groot is dat gister se son vir vanaand se maan en sy op haar beurt weer vir more se son van Sy grootheid vertel.  Lees hoe mooi is Die Boodskap se vertaling van Psalm 19 hieroor:

Psalm 19: 1- 5

 Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm

As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal.
Sy eer is oral in die lug opgeteken. 
In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het.
Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.
Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.
Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie.
Hulle boodskap word versprei sonder klanke.
Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie.
Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien,
is vol van sy eer.
As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het.

Dankie Regina

IMG-20170514-WA0011Dis ma-dag. Boodskappe vlieg oral op die Vuisboek, die e-pos en slimfoon rond. Dis goed so. Mooi foto’s en fensie gediggies en gedagtes oor vrouwees en ma-wees, roompies, sepies,serpe, tjoklits en rose en brekfis in die bed is menige ma se voorland vandag.

Hier op Waterval is dit Rots en my brakkekinders wat saam met my die dag begroet. My enigste Bab bel. “Lief vir jou Mamma.” Dis meer as genoeg, want saam met haar is elke dag ‘n geseënde ma-dag.

Ons lê in, en luister radio-kerk. Christina Landman preek by die mense van Eersterus en Marabastad. ‘n Geweste waar daar swaarkry in groot emmers uitgedeel word. Sy praat oor Rut en Naomi.

Ter agtergrond skets sy die storie. Toe Naomi haar man en seuns verloor is sy om en by dertig. Haar skoondogters, Rut en Orpa ook pas weduwees sou omtrent vyftien wees. Jong vroue haweloos gelaat.

Naomi besluit om na haar tuisland terug te keer. Die skoondogters gaan saam. Naomi probeer hulle keer. Orpa draai om, die bekende omgewing vir haar die regte keuse. Rut kies om die onbekende aan te pak en gaan saam met haar skoonma.

“Jou land is my land, jou God is ook my God.”

Toe die twee Bethlehem inkom, is die plaaslike vroue daar om hulle terug te verwelkom. Maar Naomi is verbitter. “Noem my Mara.” Regte Ta Rapie geword. Haar keuse.

Rut, darenteen, gaan aan met lewe. Sy bedel, sy werk, sy maak keuses en bo alles behou sy haar waardigheid. Toe Boas haar vra wie sy is, sê sy: “Ek is Rut.”

Hard en duidelik preek Christina Landman my hart oop.  Vroue moet baie keuses maak. Ons maak ook baie foute.

As swaarkry voor ons deur kom krap, kan ons Ta Rapie en Naomi wees, en net opgee. Soms mag jy vir ‘n oomblik saam met hulle sit. Maar net vir ‘n wyle.

Wees soos Rut – kies om te lewe. Kies om nie vals sekuriteit te soek by tydelike oplossings, swak verhoudings, minderwaardigheid en verkragting van beginsels nie.

Ons moet liewer die pad aandui vir ander vroue soos Rut. So mooi stel Christina Landman dit: “Wees kop-oopmakers, gordyn-ooptrekkers.”

Die preek se amen, amen dryf nog soo oor die eter, toe piep my selfoon. Dis ‘n WhatsApp van Regina.

 

Regina

Regina van Perskebult, Seshego. My “I love you”-vriendin wat saam met ‘n klomp Rutte, al die afgelope sewe jaar vir wesies en swaarkry kinders elke skooldag ‘n bord kos gee. Wat kinders sonder grootmense help om toelae vir oorleweing te kry. Wat elkeen, elke dag, self reuse uitdagings soos werkloosheid, armoede, wreedheid en geweld die hoof bied. Ten spyte van al die uitdagings, het hulle nog plek en tyd vir ander se swaar.

Haar moedersdag-boodskap is my oomblik van waarheid. Hier waar ek sit en skryf, smak dit na voorreg en genade. Daar waar sy vanoggend vir my die boodskap gestuur het, is dit koud en hard en tog het sy aan my gedink, en haar ma-dag boodskap het my kop oopgeblaas en die gordyne van die venster van my hart af geruk.

Dankie Regina.

Dankie dat jy kies om Rut te wees.

Ek loop saam met jou.

Jou God is my God.

 

Laaste kans genade

 

Sedert my nie-Special Star-inskrywing vroeër,  is my onthouboks se slot gebreek. Ek blaai deur soveel wonderlike en soms hartseer herinneringe oor my jare betrokke by die Theunis Fichardt Hospitium (vir kankerlyers, deur elke fase van die vreeslik siekte, ten bate opgerig), is deur wonderlike, dinamiese gemeenskapsleiers  van die destydse Pietersburg (vandag die bedrywige Polokwane) ‘n waarheid gemaak.

Daar is soveel sorg en denke in die pragtige plek ingesit, selfs die gebou het simboliese betekenis gehad. Dink aan Sanlam se logo- twee hande wat ‘n skat toeskulp. Nou die Hospitium se vloerplan lyk soos twee oop hande wat ‘n diamant vashou – oop hande kan gee en ontvang. Is die nie mooi nie?

Reeds het julle veneem van hoe in die diepkant ingegooi ek was toe ek die bestuurspos by die hemelpoort aanvaar het. Die begroting het nie geklop nie, en klomp drastiese besluite moes die plek se voortbestaan verseker. Maar alles het ten goede meegewerk.

Ons het diep spore saam met baie mense geloop. Daar is soveel stories. Die Moslem wat op sy sterfbed vir Jesus om hulp gevra het.  Die ouma wat ‘n trui gebrei het en aan die lewe vasgehou het tot haar lieflingkleindogter dit kon aanpas, en 24-uur later is die mooi vrou oorlede. Daar is honderde wonderlike stories, maar ook baie hartseer stories. Soos die skatryk, geharde sakeman wat wou weet as hy R100 000 skenk, of die breingewas nie maar sal weggaan nie.

Ons het saam met hom ‘n besonder tweedekans pad geloop. Hom oortuig dat hy sake met mense moet regmaak. Dat hy moet vrede maak. Hy het, en dit was wonderlik om die stroom mense wat maar beswaard sy kamer binne is, met betraande oë, daar uit te sien kom. Hy het in vrede gesterf, en die engele wat in die hospitium gewerk het, se aandeel in sy stuk genade, kan nie misken word nie.

Op ‘n dag skakel die superintendent van die Provinsiale Hospitaal. Daar is ‘n hawelose man, reeds in ‘n koma. Pankreaskanker. Het ons ‘n bed vir hom. Kodetaal, vir ons weet hy gaan sterf, maar ons weet nie wanneer nie. Natuurlik het ons plek – dis hoekom die hospitium daar is.

‘n Ruk later stop die ambulans. ‘n Hopie bene, foetus-opgekrul wor op die draagbaar ingedra. Goudgeel, swak en broos soos ‘n afvlerk voëltjie. Hy het ‘n hospitaaljurk aan. Daar is nie bagasie nie, net ‘n verslete Checkerssak met ‘n id-boek, ‘n opgebruikte tandeborsel en ‘n verslete stel klere.  Die mens is stokalleen. Ons weet wie hy is, maar verder niks. Ons sif deur die sak, kyk in die hemp- en broeksakke vir enige kontaknommers. Agter in sy identiteitssboekie kry ons ‘n papiertjie met ‘n telefoonnommer. Die verpleegsters probeer verniet hom gemaklik kry. Hy bly in ‘n bondeltjie ingetrek, asof hy vasklou aan die lewe.

Ek besluit om ‘n kans te waag en die nommer te skakel. ‘n Man antwoord. Ek vra of hy ons pasiënt ken. Die man vloek my dat die see my nimmer sal afwas.  Ek hoor hoe hy die telefoon neergooi. Ek wip my by my posbusrooi hare verby. Ek bel terug en die vloeker  tel op.

“Het jou @@@##$#$#$#$# nou opgeraak,” vra ek kwaai.

“Ekskuus, dis net ‘n skok,” antwoord hy my. “Ons dag hy is al jare dood. Dis my broer, hy het jare gelede verdwyn…”

Ek verduidelik wat aangaan. Die man verstaan dat ons nie kan sê hoe lank sy broer nog sal leef nie. “Gaan sê vir hom ek en sy baba-boetie is oppad. Ons sal so 12uur vannag daar wees. Sal jy vir hom sê?”

Ek belowe, en stap dadelik na die sterwende man se kamer. Bewegingloos lê hy opgekrul. Ek gaan fluister saggies in sy oor: “Ons het jou broers opgespoor. Hulle vra jy moet wag.”

Die verpleegsters en ek staan en sien wonders gebeur. Die komatose mens  begin ontspan, hy krul letterlik los. Ons  help sy stram lyf uitstrek, ons besluit om hom te was en skoon pajamas uit die noodkas te haal.

Ons gesels met hom, ons herhaal sy broers se name, vertel hom hulle kom. Trane loop uit die hoeke van sy oë. Hy hoor ons! Sy oë gaan egter nie oop nie.

Ons los hom nie ‘n sekonde alleen nie, gesels, lees Bybel, bid vir hom en dat sy broers veilig sal reis. Hy lyk soos ‘n nuwe sikspens – geskeer, hare gewas, naels geknip. Die ure tik stadig om.

Net voor twaalf die nag is daar ‘n motor by die veiligheidshek. Dis die broers. Ons verwelkom hulle. Woeste ouens met sulke vereelte hamme vir hande. Hulle staan stil in die deur. Oë vol trane. “Jou bliksem,” sê kleinboet, “ons wonder al jare oor jou.”

Ons verduidelik dat hy in ‘n koma is, maar dat ons oortuig is hy kan hulle hoor.

“Gesels met hom, asof hy by julle is,” sê die nagsuster. “Sal jy by ons bly”, vra die ouer man vir my.  Ek knik en offer koffie en toebroodjies. Nodig om my trane te gaan sluk.

Toe ek met die skinkbord uit die kombuis kom, hoor ek ‘n gelag en geklets uit die kamer kom. Die twee broers sit weerskante van die bed, elk met  ‘n hand wat hulle komatose broer vashou. Trane lek uit die hoeke van ons pasiënt oë. Hy weet hulle is by hom. Ek sê stil dankie vir genadetyd.

Hulle vertel onthoustories,van jaagtogte met warmgemaakte enjins, visvangstories en kleintyd se kwajongstreke. Ek luister en bid dat die res van die pasiënte se slaapmedikasie die geswets en gelag verdoof!

Kort voor drie-uur, begin die pasiënt te roggel. Dis nie meer lank nie.  Die broers huil, ons troos. Ten minste is hulle herenig, al was dit net vir ‘n paar uur. ‘n Groot hand reik weer na myne. “Bid vir ons asseblief.”

Ons lees vir hulle Psalm 23. “Die Here is my Herder…..”, ons bid om die beurt, vir die sterwende man, sy broers, en dank vir die genadetyd saam. Hy sterf voor ons die laaste amen sê. Hy lyk so vredig, sy hande in die van sy broers.

Dankbaar is ek na soveel jare nog dat ons getuie van ‘n wonderwerk en liefdevolle genade kon wees.