Lê-Jou-Eier Bloguitdaging: Kaleidoskoop Hoofstuk 2 Keuses

R200

Nou hou jy op met jou gegrens. Dink, dink. Dis frustrerend dat die verdomde bakkie twee kilometer van Petrusburg gaan staan en ‘n pap wiel kry. Dis byna sononder. Nellie wil nie dat iemand haar hier kry nie.

Wat het jy gedink om die reuse tas op wiele te gaps. Ek moet kyk of hier iets anders is om my klere in te pak, verwyt Nellie haarself.

Sy ruk die bakkie se deur oop, trek die sitplek vorentoe en begin vervaard daar rondkrap. Ou koerante, onoopgemaakte pos, en wag, daar is ‘n toksak. Sy kan haar verskoning vir ‘n klerekas daarin oprol. Dan kan die tas en sy ingevoerde inhoud ook sommer net daar bly. Van diefstal wil Nellie nie nou aangekla word nie. Sy moet hier weg, dis die doelwit.

Flippit, wat gaan sy met R500 vermag. ‘n Buskaartjie tot in Bloemfontein? Die gedagtes fladder rond terwyl sy die toksak uitskud.

Drie styfgerolde bondels tuimel grondwaarts. Fok. Dis rolle R200 note so groot soos ‘n man se vuis! Sy lek oor haar droë lippe loer rond of iemand haar en die vonds dophou. Vinnig buk sy om die geld op te tel.

Wie s’n sou dit wees? Wegsteekgeld van Oom Ezra, of Chris s’n? Miskien weet hulle nie eens hiervan nie! Nellie se hart klop vinnig. Sy moet nou hier wegkom.

Sy pluk die duur leertas oop en gooi Tant Krissie se Franse kant ondergoedjies en parfuum eenkant. Rol haar t-hemde en denims en onderklere vinnig op en prop dit in die sak. Dit kan oor haar skouer haak, en twee kilometer draf sy blitsig af.

Sy was darem die Senior landloopkampioen van die distrik Petrusburg. As sy gou maak, kan sy by die busterminus uitkom. Die is elke dag tot 19h00 oop en die daaglikse bus na Bloemfontein vertek kort na sluitingstyd.

Gou draf Nellie die ent dorp toe. Sy voel beter – al het sy die bakkie “geleen”, so ook die tas en onderklere – sal dit darem by die oorspronklike eienaars uitkom.

Sy draai van die teerpad by Kampstraat in, verby #LekkerKuier-gastehuis. ‘n Hond blaf net agter die heining en Nellie skrik. Sy draf met Pretoriusstraat op tot by die Poskantoor op die hoek by Mulderstraat.

Sy koop met haar groente- en eiergeld ‘n eenrigtingkaartjie. Sy besluit sy sal op Bloemfontein haar opsies verder oorweeg. Verder busry of vlieg. Die drie rolle note veilig onder in die toksak. Sy sal dit tel wanneer sy ‘n ordentlike oornagplek gekry het. Wat ‘n gelukskoot!

Sy sit met haar kop agteroorgeleun teen die sagte kopstut van die bussitplek. Haar arms styf om die sak gevou.

Vir jou laat ek nie een oomblik uit my sig nie, dink Nellie. Gou is die dorp se ligte klein flonkerings in die truspieël wat so skuins voor haar sigbaar is.

Die net meer as 80km na Bloemfontein snel verby en gou stop die bus by die Terminus in Parkstraat. Sy klim versigtig uit die bus, en kyk om haar rond. ‘n Minibus wat Airport aandui staan so entjie weg. Sy sien ‘n paar mense drentel soontoe, en besluit net daar sy gaan saam.

Dis net na 21h00 toe die taxi so entjie van Bram Fisher lughawe by die Road Lodge stop. ‘n Moegheid wat met pure verligting te make het, spoel oor Nellie. ‘n Bad, ‘n bed en veral privaatheid om die geld te tel, in die vooruitsig.

In die hotel se ontvangs, draai Nellie vinnig links om na die badkamers te gaan. Sy kan immers nie geld van die rol note daar ten aanskoue van almal by die ontvangstoonbank aftel nie!

Sy tel R1000 af en maak seker al drie rolle lê diep in die sak tussen haar klere. Sy bespreek in as Suné Davel, en handig die kontant vir die verblyf en ontbyt oor. Niemand vra haar identiteitsdokument nie.

In haar kamer gekom, gooi sy die inhoud van die toksak uit. Sy sit die geld onder die kopkussings van die groot dubbelbed. Eers bad en opvars, dan geld tel. Nee, eers kos bestel, dan die res.

Sy bel ontvangs en hulle lig haar in dat sy van ‘n buiteaflweringsdiens gebruik kan maak om kos te bestel, en daar is verversings in die yskas, waarvoor sy more-oggend kan betaal. Sy pluk die botteltjie wyn en ‘n pakkie Lays skyfies uit die yskasduer. Dit sal haar moet deursien tot die volgende oggend.

Na sy gaan stort het skink sy die wyn in die enigste drinkglas en gaan sit kruisbeen voor die kussings op die bed. Sy steek haar hand onder die kussing en haal die drie rolle note uit. Die rekkies word versigtig afgehaal en die note lê opgekrul om haar rond. Sy begin tel en pak die hopies van R2 000 om haar neer. Sy tel R59 000. So dit was R60 000 voor sy verblyfgeld uitgetel het.

Sy wonder tog wie sou dit weggesteek het en hoekom. Is dit oomkoopgeld, wegsteek geld, wonder Nellie. Sy glimlag – dis wegloopgeld vir haar. Depsgeld. Die voorstorie wil sy nie van weet nie. ‘n Nuwe lewe gaan begin. Dis al.

Sy tel R9000 af en sit dit in haar verslete beursie wat nou net kleingeld in het, bêre die rolle weer in die sak. Sy sal voorentoe meer spaarsaam moet wees. Vanaand se lekker veilig en skoon slaap en more se vliegtuig rit is vir haar ‘n belegging in die res van haar lewe.

Sy wens sy kon sommer haar naam verander na Suné Davel, die lugredery sal egter haar identiteitsdokument vereis. Nellie Visagie sal sy vir eers bly.

Sy skrik vroegoggend vervaard wakker. Half vreemd, tot sy onthou. Die pad na vryheid wink.

Gou is sy op en reg om lughawe toe te vertrek. Sy moet die eerste vlug waar ookal heen haal. Die hotel se pendelbussie is leeg so vroegoggend. Sy sit alleen agter en kyk hoe die son oor die winterveld opkom en wonder waarheen is die eerste vlug en hoe laat.

Sy stap die terminaal binne en kyk na die vlugskedule. Haar hart klop in haaar keel to sy die Kulula toonbank nader. Daar is om 9h30 ‘n vlug na Kimberly en om 11h00 ‘n vlug na OR Tambo. Sy doen navraag. Daar is plek op albei. Kimberly is heeltemal te naby voel sy en die kaartjie is duurder as OR Tambo. So, dis Gauteng, Johannesburg, ‘n eenrigting kaartjie, haar vlug na vryheid.

Dis nog vroeg en Nellie besluit om by Bram Fischer Mugg’nBean te gaan ontbyt eet, ‘n bederf met bodemlose koffie. Sy koop ‘n koerant en sit en lees terwyl sy vir haar kos wag.

‘n Bekende stem trek haar aandag. Ag,fok. Dis Chris Viljee. Die Chris Viljee van Brakput, Petrusburg. Daar waar sy vandaan gevlug het. Daar waar sy die geld in die toksak gekry het. Hy praat luid, bombasties soos hy is, op sy selfoon. Almal staar na hom, en hy is onbewus dat sy gesprek ten aanhoor van almal om hom is.

Nellie duik agter die koerant in. Hoe nou gemaak om uit sy pad te bly. Sy luister na die gesprek wat na haar aangesweef kom.

“Die vliegtuig vertrek eers om 11h00 na OR Tambo. Ek sien jou later.”

Nellie se hart klop in haar keel. Sy bid woordeloos dat hy tog nie by die restaurant inloop nie. Verlig sien sy hoe hy op sy hempsak klap. Seker op soek na ‘n sigaret dink sy. Hy stap buitetoe.

Nellie vlieg uit haar stoel op en hol na die Kulula toonbank.

“Kan ek asseblief my kaartjie ruil vir ‘n vlug na Kimberley?”

U kan, daar is nog plek. U sal net moet inbetaal.”

Nellie glimlag styf en haal haar beursie uit.

Dis 09h00 en die hekke gaan oop sodat passasiers aanboord van die Kimberley vlug kan stap. Toe sy so halfpad oor die teer is, verbeel sy haar dat iemand na haar roep.

Sal sy omkyk of aanstryk? Keuses. Keuses.

________________________________________________________________________________________

Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.

InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

The post Bloguitdaging Kaleidoskoop – Die Laaste Strooi appeared first on Dis Ekke.

Wat moet ons maak?

MAdiba

malema-zapiro2-300x205

Rapport vra Sondagoggend of jy ‘n stukkie Madiba wil kultiveer of wil jy jou oorgee aan jou innerlike Malema. Over geset synde: Wil jy iets tot stand help bring of wil jy toenenmend inwaarts migreer na haat?
Die meningstuk se skrywer, sê ook ons moet onthou daar is geen navorsing wat suggereer dat die verbose haters in die meerderheid is nie, hule kry wel “meer lugtyd as gewone mense.” Dis iets om te onthou.
Neffens die Madiba of Malema artikel is ‘n berig wat my onthuts. Die Prez CR sê hy wil liewer ‘n swak president wees, eerder as die vasvatter wat die kosbare ANC geskeur het. Regtig! Bid jou aan. Die organisasie wat nie verby sy bevrydingsretoriek kan groei nie.
Afrika het ‘n lang geskiedenis van bevryding, die afwerp van die juk van kolonialisme. Hier aan die suidpunt van Afrika, verloop dinge egter bietjie anders. Kolonialisme is vervang deur apartheid. Apartheid is in sy spore gestuit deur mense – lede van bevrydingsorganisasies en ook gewone Suid-Afrikaners wat gestem het dat dinge in ons land moet verander. Gerieflikheidshalwe en omdat dit nie die rasse narratief pas nie, word die bydrae maar onder die mat ingevee.
Om alles verder te konfoes, het die bevryders en die verdrukkers om ‘n tafel gekodesa. Die saak uitgepraat, beredder, bemiddel en onderhandel. Daar is hier skietgegee, daar gelos. Daar was belydenisse, daar was kompromieë. Nie een van die manne was lus vir oorlog nie. ‘n Paar ouens het geboue bestorm, bomme geplant, maar dit het halfhartig voorgekom, en is in die kiem gesmoor. O ja, en ons einste Cyril en Roelf Meyer was die prinse van daardie Madiba droom, die reënboognasie – mooi vlag en saamgeflansde volkslied en al.
Madiba se toorkuns het wyd gestrek – almal het saamgedans. Die dansery en welwillenndheid is vergaan, vergete. Skielik voel dit al te vreeslik soos die laat 1970’s en 1980’s van noodtoestande en brandende binnebande en geskreeu oor onreg.
Bevryding van wat, vra jy. Bevryding van politieke leuens en onderhandelde skikkings? Die ontevredenes skree, vloek, stig brand, stroop, dreunising van Kleinmond na Noupoort, Centurion na Kimberly en Koster tot in Polokwane. Oral brandendende buitebande en selfs skole, hospitale en munisipale kantore wat deurloop. Die woede oor leuens, swak dienslewering, nepostisme, korrupsie, noem maar op. Ek sit verslae om die jeugdige, byna hormonale behoefte om dit wat vir jou goed is te vernietig. Hoe brand jy ‘n skool af? Hoe vernietig jy ‘n kliniek, of brand die bus uit wat jou more werk toe moet vat?
Nee wat, die ou wat vertel het ons demokrasie is besig om volwasse te raak, na die effense gegrom by die vorige stembustouery, het ‘n fout begaan. Daai een swaweltjie gaan nie ons somer van grootword bring nie, ons het verval in ons eie lente van onrus en onmin.
‘n Volwasse demokrasie sal geen steen onaangeroer laat om saam te werk om te sorg dat korrupsie geen houvas op enige noodsaaklike en kern diens van ons land het nie. Ons sal raadslede verantwoordbaar hou vir hulle politieke beloftes. By die stembus hard en duidelik politici en lamsak leiers ‘n les leer.
Maar is ons besig daarmee? O nee. Die massa by stil soos stom skape. Ons sit met ons koppe gevolstruis in die sand. Ons wil nie weet nie, ons wil nie weet nie. Iemand anders sal die gemors sorteer. Wel, daar is nie ‘n De la Rey of Madiba wat kan keer dat die wat lawaai maak agter Malema en Andile aan tros nie!
Dis nou Malema en Andile wat danksy klasse geborg deur die Guptas, mooi by Bell Pottinger geleer het om hulle sosiale media teenwoordigheid op die Vuisboek en Twitter so te tooi, dat ons dink hulle is leeus in die arena.(Geheimpie: Hulle is katjies met diep stemme – hulle raas vreeslik, maar as jy naby ondersoek doen, sal jy altyd bekende gesigte om hulle sien. Ek weet nie wie borg die saamry bussie nie, maar ek is oortuig hulle is so min soos die AWB.) Dis hulle opswepery van naiewes wat my sooibrand gee.
Ons lui media moet ook voor stok gekry word. Gaan soek vir ons nuus wat ‘n verskil gaan maak, krap die goeie storie uit, volg die moordsake op, gee terugvoer as die burgemeester nie die riool-probleem oplos nie. Los vir Malema en Andile en Kallie om mekaar op die straathoek te bliksem… help ons om ons land te red. Moenie vir die boggers lugtyd en kolom-sentimeter spasie gee nie! Kom soek gewone Suid-Afrikaners op wat alles in die stryd werp om ‘n beter Suid-Afrika vir ons almal te bou. Ons wag om ons stories te vertel.
Sien, klompe van ons wil hard vashou aan ons stukkie Madiba en staan vas in die geloof dat die Here ‘n doel met elkeen van ons hier aan die suidpunt van Afrika het, anners sou die bote mos maar destyds verbygehou het en ons storie was heeltemal iets anders.
Bêre beslis jou Malema, en kultiveer jou Madiba as jy sou wou. Onthou: Kniel elke dag langs jou bed en bid vir vrede wat in hierdie gek land jou verstand te bowe gaan, want hierdie pad sal ons moet loop. Dit gaan baie van ons vra, dit gaan ons toets.
Jesaja 58 vertel vir my onomwonde hoe ons vorentoe kan beweeg. In geloof en met ‘n oop hart en siel gaan ek een voet voor die ander sit, vir leiding en genade vir ons almal vra en in Jesus-liefde optree. My kindskap van God-drieënig, die Vader, Seun en Heilige Gees, is al konstante tot in ewigheid.
Lees hoe mooi word ons vertel wat ons moet maak:
Jesaja 58 7 Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het.
Jou bevryding kom.
8Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm.
9Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom.
Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig.
10Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn.
11Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee. Jy sal wees soos ’n tuin wat goed natgemaak word. Daar sal nooit ’n tekort wees aan water in jou tuin nie.
12Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan. Hulle sal julle die mense noem wat mure weer opbou, wat huise en strate weer regmaak om in te bly.
no body

Oomblik

cropped-son.jpgDaar word oral in ons bos gekap, hard. Liefiemense het weer gister daardie oomblik ervaar. Daardie kits waar die lewe in twee gedeel word. Voor en na die vreeslike oomblik.

Dis die oproep wat niemand wil hê nie se oomblik. Dis die oomblik waar jy die lewenspad sonder ‘n geliefde verder moet stap. Die oomblik van tyding – jou geliefde is dood.

Erger nog is wanner die oomblik onaangekondig op jou afkom. Daardie skielike dood, die ongeluk of die toeval. Dis anders as die afwagtingsoomblik wat kom met die stadige agtertuitgang en ‘n siekbed.

Maak nie saak of jy al voorheen self daardie oomblik beleef het nie. Daar is niks behalwe teenwoordig en meelewing en stom wees wanneer ‘n ander deur daardie gapende vorteks getrek word. Magtelose toekskouer. Niks wat jy doen of sê kan die skok, leegtap en onpeilbare seer minder maak nie.

Dit is oorweldigend. Daardie oomblik. ‘n Tsoenami wat vir jou omslaan en in sy greep om en om en om tol en tot in jou diepste wese ruk. Daar is voortaan jy voor en jy na daardie oomblik. Uiteraard verander daardie oomblik alles – joumenswees, jou lewensuitkyk, soms selfs jou koers.

Ek wil net vir my liefiemense sê: hoewel die oomblik enorm is, daar weer mooi dae en oomblikke sal volg. Sit een voet voor die ander.  Huil, wees hartseer, wees kwaad. Vra hoekom, wees stil, wees alles wat die oomblikke hierna van jou vra.

Weet net, julle is nie alleen nie, en julle geliefde nog minder. Onse Liewe Vader se Seun het die angel van die dood vir ons gewen. Julle het iemand wat huistoe is, ons almal sal  agterna volg. Ons stap saam vorentoe, ons stap saam huistoe.

 

36903038_953962548118223_5428327801553944576_n

Sjoe…

37030237_1681151365267439_4366222302384226304_oWild Geese

You do not have to be good.

You do not have to walk on your knees

for a hundred miles through the desert repenting.
You only have to let the soft animal of your body
love what it loves.
Tell me about despair, yours, and I will tell you mine.
Meanwhile the world goes on.
Meanwhile the sun and the clear pebbles of the rain
are moving across the landscapes,
over the prairies and the deep trees,
the mountains and the rivers.
Meanwhile the wild geese, high in the clean blue air,
are heading home again.
Whoever you are, no matter how lonely,
the world offers itself to your imagination,
calls to you like the wild geese, harsh and exciting –
over and over announcing your place
in the family of things.
~ Mary Oliver

https://www.facebook.com/ContemplativeMonk/

Grom, al wil jy brul

36882346_2232934596739974_7257631892785070080_n

Nee kyk, my bid en geduld word beproef. Ek werk so hard om my bekkie mooi rooibostee geverf toe te hou, maar fokkit tog! Ek wil nie onderlangs grom nie, ek wil brul!

Dit begin gister. ‘n Asseblief-ek-is-in-nood-oproep. Die vreeslikste storie van kinders en opleiding en unforms en werk wat gaan verloor word. Ek ruik vis, maar vra so ewe vir al die papierwerk, dat ek die situasie kan takseer. Die ondersoekende joernalis in my slaap nooit regtig nie. Of miskien is dit dat te veel mense my al soos ‘n toffie gekou het, en dat ek moeg vir natlekspoeg is…

Ek bel die potensiële werkgewer anoniem, en warimpel, die vreeslike storie aan my opgedis, is net dit, ‘n storie. My bloed borrel so effens – ek is nog te lamboudia na die varkgriep om in volbloed woede uit te tier. Ek bel die pleiter terug.  My leeuin stert swiep so heen en weer terwyl ek met afgemete woorde laat weet ek kan ongelukkig nie R10 000 uitleen nie. Vir niemand nie. Punt.

Vroegoggend kry ek ‘n oproep van ‘n persoon wat met ‘n moeilike installasie sukkel, kan ek help raad gee. Natuurlik, ek gee nie om om my kennis te deel nie, ek gee nie om dat jy werk wat ons toe oë kan doen, self mee sukkel nie. Kom gerus en kry gratis les. Dis tog net my tyd, en my winkel het nie inkmoste nodig nie.

Die persoon arriveer ‘n ruk later. Ek maak die deur oop, en wragtig, sy selfoon lui. Ek moet vir tien minute aanhoor hoe vies hy vir so en so se @@(#(A$(%+% en @@##&&$&$&$***)$$# is. Ek stap kantoor toe, want my bloed borrel weer. Hy kom soek  my na sy gesprek klaar is.

Man, ek het net daar vir hom vertel hoe ongeskik hy is om my om hulp te vra en dan my tyd ook nog te kom mors. Nodeloos om te sê, my kind kruip agter ‘n deur weg, my personeel verdwyn om hoeke en die man staan bloedrooi van skaamte en gaap soos ‘n barber uit die modder. Die askies tuimel uit sy droë mond

Ek aanvaar sy verskoning, gee raad, en toe hy uitstap groet ek so vriendelik soos altyd. “Jammer Tannie” was toe genoeg om my stert se swiep tot bedaring te bring.

Sal maar sien wat die res van die dag inhou.

 

 

Sprakeloos

En

Markus Jooste se perde mag nie July nie, maar hy loop steeds skotvry rond.

En

Duduzane Zuma gaan vir bedrog moet pa staan. Wat van die kinders wat dood is oor hy nie sy Porsche kon beheer nie?

En

CR vertel swart tradisionele grond is nie in gedrang nie, en besighede moet deur swart mense bestuur word. As ek aanmeld vir Thuma Mina meneer prez, waarnatoe gaan jy my stuur?

‘n Toebek is ‘n heelbek.

Leef jou streep aka lewe

Dashget-a-tattoo-funeral
Ek is in die onlangse verlede aanhoorder van ‘n argument oor Jack Parow se musiek en lirieke. Een verklaar passievol dat hy die man en sy musiek glad nie laaik nie. “Ek probeer maar my streep dun hou,”  kwinkslag hy. ‘n Ander vriend sê droogweg:”Ons almal het maar strepe.”  En die terugkap: “Party s’n is net breër.” My dogter wat ook nie op haar bekkie geval is nie, raak betrokke en verklaar dat brëe strepe die nuwe swart is.
Ja, vir Jack laaik jy of jy laaik hom nie. Ek luister na die man. Daar is goed wat my nie aanstaan nie, maar kletsrym is sosiale kommentaar, en ‘n mens leer en verbreed jou eie storie deur te luister. Ek is ook gek na Fokofpolisiekar, Valiant Swart, Koos Kombuis. Ek is ook mal oor Coenie de Villiers, Jannie du Toit,  en so aan.
Is my streep nou dun maar diep of is my streep dik en vlak? Ek reken ons almal is maar  gestreep op ‘n manier. Dit maak dat ons onthou om ons nie aan te matig nie! Een streep wat ek nie van hou nie is die een van vooroordeel, van engte en klein denke. Dan gaan ek maar liefs vir kommin. Sela.
Vanmore, toegewikkel in ons sjokolademoussedeken, luister ons Brekfis met Derrich op RSG. “Luister saam na “Tema van jou lied,” nooi hy. Dis Valiant Swart en Jack Parow.
Ons luister. Ons streep vir Afrikaans en menswees  loop dik en diep deur die woorde.

jack-parow-en-valiant-swart-watkykjy

Lees net:

Tema van jou lied

Kom wonder
Kom werklik

Kom sterre verskiet

Kom glimlag

Begin weer jou lewe geniet

Kom wonder

Kom werklik

Kom sterre verskiet

Maak geluk weer die tema van jou lied

Kom moeg,

kom met my,

kom misverstaan

Kom huistoe,

kom alleen,

kom vinnig,

kom saam

Kom happy,

kom hartseer,

kom smile,

kom traan

Kom winter,

kom somer,

kom sonskyn,

kom maan

Kom met my,

kom sonder,

kom sober,

kom klaar

Kom donker,

kom skemer,

kom daglig,

kom vaak

Kom moeder,

kom vader,

kom suster,

kom kind

Kom honger,

kom huilend,

kom verloor,

kom gevind

 

Kom wonder

Kom werklik

Kom sterre verskiet

Kom glimlag

Begin weer jou lewe geniet

Kom wonder

Kom werklik

Kom sterre verskiet

Maak geluk weer die tema van jou lied

Kom binne,

kom buite,

kom plaas toe,

kom stad

Kom hardloop,

kom le rond,

kom hou vas my hand

Kom warm,

kom koud,

kom eensaam,

kom vas

Kom bakhand,

kom vraend,

kom tasse gepak

Kom heemwee,

kom denkend,

kom ouers verras

Kom leeg,

kom volop,

kom geraamtes in die kas

Kom hier,

kom net vinnig,

kom een stuk,

kom as

Kom deur,

kom hientoe,

kom hou vas my hand

Kom wonder

Kom werklik

Kom sterre verskiet

Kom glimlag

Begin weer jou lewe geniet

Kom wonder

Kom werklik

Kom sterre verskiet

Maak geluk weer die tema van jou lied

(Skrywers:  Zander Tyler, Pierre Andre Nolte, Fred den Hartog, Justin de Nobrega)

Ek is dadelik op die tablet en ek google die musiekvideo raak. Dis fantasties! Die video van die twee kunstenaars se optrede is in 2014 opgeneem in die Malmesbury-omgewing, en die res vertel die verhaal van ongewone Weskaapse mense, wat hulle lewenstema uit dans, speel, spring en leef!  Albino’s met mieliepitglimlagte, ‘n seun manalleen in ‘n balletklas, ‘n verlamde valskermspringer, die hulpeloses, haweloses, ‘n vroulike Elvis-nabootser – aan die leef!

Om terug te keer na die streep argument. Ek wil sê maak nie saak of hy dun is nie, hy is daar, maak nie saak of hy breed is nie, hy is daar, maak nie saak of die vlak of diep is nie, ons streep maak deel van ons uniekhied. Ek is so bly liefde vir woorde, liefde vir alleman se storie maak dat my streep inpas by ‘n ander se vlak, diep, smal of breed. Dit maak my ore oop en my oë se uitkyk wyd.

O ja! Onthou: Tussen jou geboortedatum en jou sterfdatum is ook ‘n streep. Dit dui op jou lewe. Ek reken hy moet dik en diep geleef word, want dis jou storie.

Groete van ‘n gesonder lekkervurige ekke, so flikkerig soos ‘n vuurvliegie, maar gesonder.

 

‘n Varkerige, grieperige storie

In my kombuis, so as jy deurstap eetkamer toe, hang ‘n afdruk van ‘n 1858 plakkaat van ‘n pryswennende vark. In my huis is dit nou ekke, die vark in die lekkerbly verhaal, wat raas oor uitstallings, hondepote op die matte, kussings op die vloer en so aan en so aan.

Daar is egter nou ‘n nuwe vark in die storie.

Rots en Bab en ekke en Elisa en Bessie en Mielie en Kokol is die afgelope weke deur die 2018 griep platgetrek. Ons huisdokter diagnoseer die een met bolugweginfeksie, daai een met sensitiewe longe, en die uwe met varkgriep. Ag, ja.

Ons almal praat met so laer stemtoon, neuse toe, loop met pap lywe en grade van koors. Elkeen kry sy dae in die bed, sop en liefde en simpatie. Dis hoe ons rol.

Dokter het vir elkeen sy eie antibiotika, asempompie en hoesstroop. Trap ons uit oor selfmedikasie, en die tannie by ontvangs hou na elke besoek ewe liefies die rekening vir die besoek en moetie. Rooi lippies rooibostee getrek, en jy weet, jy stap nie uit voor jy nie vir Geduld oorhandig het om deur die heen-en-weermasjien gesleep en aan balans verminder word nie.

Net toe ek reken die ergste is verby, begin ek Maandagaand bibber en kramp en naar. Die troon en Ouma se koos en slopemmer, wat meestal naby staan om ons te herinner om dankbaar te wees vir spoeltoilette en riolering, word my geselskap.

Genade, ek kwyl en braak en blaas en…..dis te vreeslik. Sê maar soos die ou lugverfrisser tv-advertensie van jare gelede, “ons is gawe mense, net jammer van die reuke….”

Dis drie dae later en ‘n uitgewaste asvaal weergawe van vurige ekke is hier aan die griffel. Die mediese uitslag, dis maar die griep. Oink.

Dankie Una dat jy kontak maak. Vanoggend rapporteer en pieker ek dat “my ingewande gemoedsbekakking het, letterlik. Ek het krag vir niks, en nog minder is iets vir my oulik of inspirerend. My lyf en skryf is ontwater. Met iets sinvol sal ek later kom speel in Blogland.” Vir dierbare Una is my afwesigheid soos ‘n koeistal. ‘n Ware gemis.

Vanoggend doen betroubare Elsabé Brits in Beeld verslag dat vanjaar se griep nie varkgriep is nie, dis net erg. Ek lê ylend en lam. Is daar weer medisynesmouse wat nuwe produkte bemark en teikens te haal het, en die gevolg dat ons net vol goed geprop word? Is die griep en variteite wat gediagnoseer word maar deel van die seisoen se begrotings? Ek wonder maar net, dis seker die koors. Maar die apteker het ook vertel dat hulle nog nie eers verlede jaar se gogga verstaan nie. As dit so is, daan is medisyne ook maar raai-raai-riepa. O my vy, ek is besig om te verander in ‘n daar-is-‘n-sameswering varkie.

Soos die ou mense gesê het: As jy griep kry, klim in die bed vir drie dae en daarna dokter jy vir sewe dae of ‘n week simptome…dis die vark in die verhaal. Ek gaan nou ‘n gemmertjie drink en hoop vir die beste. Groetnis.