Lê-Jou-Eier: Lek daai bak en leef

 

-my-childhood-memories-sweet-memories

“Jy leef net een keer, lek die bak uit.” Kreatief, lê jou eier kreatief, sê Hester. Mmm, my skryf is op die laaste ruk. Die lood is weg, die ink is droog. Iemand het my bak gevat. Niks lekkerte om te lek nie. Ag ek praat sommer bollie…

Elkeen van ons onthou daardie lekkerte as Ouma roep: “Kom lek die bak uit!” Een kon die lepel aflek, die ander die klitser, en iemand het die bak gekry. Og, as jy weer kyk is dit sjokoladekoek mengsel om die mond, op die wang, in die hare. Vuil vingertjies merk die tafeldoek. Jy begin die koek in die oond te ruik, en saam met die proesel wat jy afgelek het se smaak in jou mond , weet jy groot lekkerte is aan die kom!

Ek lees iewers dat ons lewens so geniet moet word. Want ons tyd hier is kort, ons adres wel ewig elders. Hoe kan mens dan nou nie die bak wil uitlek nie?

Ag, en doen dit met oorgawe soos jou brak jou smiddae groet – oopbek en stertswaaiend, of soos daai seuntjie wat die eerste keer sy tweewielfiets bemeester – oopbek en loshande en in oortreffende trap! Voluit en bokker die gevolge. Meeste kere is daar pleister wat help vir die skrape.

Moet ook nie vergeet om jou bak en die leksel so mooi en lekker as wat jy kan te maak nie! Moenie half-half wees met jou talente en gawes nie. Moenie ingat wees met aardse seëninge nie. Dra die skoene, eet met Ouma se eetservies, gebruik die handoeke. Hoekom, sou jy vra.

Nommer een, ons kry nie Venterwaentjies hemel toe nie.  Laat ek vertel: Ou Ryk  lê op sterwe. Hy is bitter omgekrap, want hy is erg verknog aan sy aardse besittings. Stinkskatryk lê hy dag in en uit en bid en smeek dat hy tog asseblief net ‘n reistas kan saamneem die ewigheid in. Die alewige gebid is erg en Petrus by die pêrelhekke kry eendag van hoogste gesag opdrag om asseblief te reël dat Ryk tog maar ‘n tas mag saambring. Ryk se gebede hemelwaarts stop sommer gou. Langs sy sterfbed is ‘n tas, sy hand styf om die handvatsel geklem. Sy laaste asem blaas hy uit.  By die pêrelhekke is dit besonder beknop toe Ryk met sy tas daar aankom. Die engele en apostels en skares kan nie wag om die aankomeling en sy bagasie te sien nie. Eerstes trek mos maar so aandag.Petrus groet Ryk, en namens almal vra hy of hulle maar kan sien wat Ryk so graag wil saambring. Met groot gebaar maak Ryk sy tas oop. Dit is vol goudstawe gepak. Petrus skreeu van die lag, en almal wil weet wat is so snaaks. Ryk is nogal gewip. “Bwahaha, jy het plaveistene gebring, kyk,” beduie Petrus. Voor Ryk strek ‘n goudgeplaveide pad na die Vader se Troon……daar is baie gelag in die hemel daardie dag.

Nommer twee, jy is veronderstel om te deel want:23722593_1915906705105391_2885544022359290897_n

Jy, skepsel, is veronderstel om jou lewe en middele en talente te deel….sela. Ons is meesterstukke, ieder en elk van ons. Ons is gedigte (Grieks:  Poema) deur ons Skepper geskrywe. Elkeen met talente en gawes. Elkeen gestuur om die kort tyd op die ondermaanse Sy liefde te wys en ervaar. Met alles in jou, maak seker jou mooi bak het iets te lek. Vir jouself en ander. As jy alleen die bak uitlek kan jy goormaag kry. Deel dit.

Nou is dit so dat as jy leksels deel, daar snipperiges en snobberiges gaan wees wat nie van borrelende fonteintjie-jy gaan hou nie. Dis ooraait(erig). Sleg vir jou en vir hulle. Hulle mis uit en jy kry so bietjie seer. Jy moet maar aanhou, en leksels aanhou uitdeel. Moenie iemand se toestemming vra nie. Jou Skepper het jou al die toestemming gegee tot in ewigheid!

Moenie soos ‘n slim dominee gepredik het “die stagnante dam met slykerige bodem wees nie,” nee, borrel van die Lewende Water wat deur jou are bruis. Weet jou Vader staan en juig jou aan, jou prentjie is in Sy brêgboek. “Kyk, kyk, dis My kind,” wys hy trots. (Lees Efesiërs 2 as jy nie weet nie)

Jou leksels is die goeie werke wat jy doen, jou talente en gawes uitleef, jou deel met ander mense.  Doen goeie werke, wat die liefde van God uit straal, as Sy geliefde en jou gawes en drome, Godgegewe.

Wat ‘n wonderlike epitaaf sal dit nie wees nie: “Sy/hy het nie net geleef en die bak alleen uitgelek nie. Nee sy/hy het die mooiste bak gekry en dit tot oorlopens toe gevul met wonderlike dinge, en dit met almal gedeel, sonder skroom of toejuiging.”(Dié het ek op die Google raak gelees oor ‘n vrou in Kanada wat vir haar gemeenskapswerk vereer is.)

Willem Wikkelspies het tereg opgemerk dat die sin van die lewe is om jou gawes te ontdek, en die  doel van die lewe is om dit dan weg te gee. Wees so met jou bak en die leksels.

Deksels. As jy dink jy kan nie – lees hierdie kapow-preek:

2 Korintiërs 4:1-6, 16-17
Die lewe is net ‘n oomblik


Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Voor die sonde in die wêreld gekom het, het niemand almanakke gedruk, horlosies gedra of begraafplase nodig gehad nie. Adam en Eva het in ‘n wêreld sonder tyd gewoon. Daar was nie ‘n begin en ‘n einde nie. Want die mens was na die beeld van God geskape.

Maar toe kom die sonde. Toe rebelleer die mens teen God. En toe verander alles. Die lewe het begin bestaan uit jare, weke, dae, ure, minute en sekondes: meetbaar en telbaar. En daarom sit ons vanoggend hier, broers en susters, met tyd in ons sak, maar hoeveel tyd weet ons nie presies nie. Dit kan dalk dekades wees, dalk jare, of miskien minder. Dalk net ‘n paar weke, dae of selfs net oomblikke. Want ons sakke sal leeg word, en ons tyd sal verbygaan. Ons lewe is net tydelik.

En dit geld vir almal van ons, en vir alles op hierdie aarde. Behalwe vir God. Hoor wat sê Jesus in Johannes 8:58: ‘Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is’. En Jesaja 57:15: ‘Hy wat hoog verhewe is, Hy wat ewig leef … Hy lewe in ‘n hoë en heilige plek’.

En so kan ons aangaan, broers en susters. Kom ek noem u nog ‘n paar voorbeelde: God is van altyd af daar (Ps 93:2); Hy is die Koning vir altyd (Jer 10:10); Hy is onverganklik (Rom 1:23); Hy alleen besit onsterflikheid (1 Tim 6:16); die hemel en die aarde sal vergaan, maar God bly dieselfde (Ps 102:28), en Job 36:26 sê dat die mens eerder al die sout in die oseaan sal kan meet, eerder as om God se jare te bereken.

Dus: volg ‘n boom terug na die saadjie, speur ‘n rok terug tot sy begin in die fabriek, neem ‘n kind terug tot by sy ouers en sy geboorte. Dit kan. Maar speur God terug tot by wat? Of by iets?

Dit kan nie. Nie eers God het God gemaak nie. Daarom sê Jesaja 43:13 ‘nou en vir altyd is Ek God’, en daarom sê Jesus in Johannes 8:58 ‘voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is’. Let mooi op wat Jesus nie sê nie. Hy sê nie voordat Abraham gebore is was Ek al wat Ek was nie. God sê nooit ‘Ek was nie’. Want Hy is. Want Hy is ewig. Hy leef nie in opeenvolgende oomblikke of sekondes nie. Sy wêreld is een groot, ewige oomblik.

Daarom, broers en susters, as ‘n mens ‘n bietjie oor hierdie ewigheid van God wil nadink, sien God die geskiedenis nie as ‘n reeks eeue nie, maar as ‘n enkele foto. Hy vang u en my lewe in ‘n enkele oogopslag vas. Hy sien ons geboorte en begrafnis in een raampie. Hy ken ons elkeen se begin en einde, want Hy het nie ‘n begin of einde nie.

Dit is ‘n mondvol, broers en susters. En daar is ‘n rede voor. Want ons leef so tydgebonde, en die hier en die nou is soms vir ons so oorweldigend dat dit al is wat ons kan raaksien en beleef. Ons dink in terme van tyd, ons leef in terme van tyd. Ons lewe is tyd. En tydgebonde. Daarom is ons begrip van dit wat ewig is, van dit wat ewigheid beteken, so gebrekkig.

Maar die feit van die saak is: al verstaan ons nie wat ewigheid beteken nie, ons besit dit. Al is ons tydelik gebore, in Jesus Christus is ons deur die geloof weer gebore, en so het ons deel van dit wat ewig is geword. Deur die geloof strek ons lewens verby die agterplaas van tyd, en lok die ewigheid by God ons. Ons lewe hier tydelik, maar eendag by God ewig.

Hoe sou ons hierdie twee lewens met mekaar kan vergelyk om iets daarvan te verstaan? Ewigheid sal soveel wees as al die sandkorrels op elke strand in die wêreld (plus nog, want dit is ewig), en ons aardse lewe sal een honderdste van een sandkorrel wees. Of kom ons sê dit anders: in terme van die ewigheid, is ons aardse lewe eintlik net een oomblik. Ons hele aardse lewe. Net een oomblik. En niks meer as dit nie.

Paulus sê presies dieselfde in 1 Korintiërs 4:17. ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering (lui die NAV), dit is maar net ‘n oomblik (lui die OAV): ‘Want ons ligte verdrukking wat net vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewigheid…’.

Wat hierdie opmerking van Paulus merkwaardig maak, broers en susters, is wanneer ons in ag neem hoe sy lewe gelyk het toe hy hierdie woorde geskryf het: ek was dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar, vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry, en een maal is ek met klippe gegooi, drie maal het ek skipbreuk gely, en een maal het ek ‘n dag en nag op die oop see deurgebring. Ek het gevaarlike rivier reise onderneem, was op swerftogte in die woestyn, en was blootgestel aan koue, aanvalle, honger en dors (2 Kor 11:23-25).

En, sê Paulus, dit was alles maar net ‘n oomblik. ‘n Kort sekondetjie. Want as ek dit moet vergelyk met die ewigheid wat wag, was dit eintlik niks. En die moeite werd.

Wat sal gebeur, broers en susters, as ons dieselfde houding teenoor die lewe inneem? Of, kom ek sê miskien eers wat normaalweg ons houding teenoor die lewe is. Wanneer ons swaar kry, wil ons uit die lewe uit. Ons wil hê dit moet verbygaan. So gou as moontlik. Ons wil daaruit. En wanneer ons voorspoed beleef, wil ons hê dat dit moet aanhou. Ons wil nie daar uit nie. So asof dit alles is waaroor die lewe gaan.

Maar wat sal gebeur, broers en susters, wanneer ons besef dat ons hele lewe, of dit nou 50, 60 of 70 jaar is, eintlik maar net ‘n oomblik is in terme van die ewigheid waaraan ons almal deel het? Ons sal in die lewe inklim, met alles wat ons het. Ons sal elke oomblik lewe asof dit die laaste oomblik is.

Ons sal, soos Paulus in vers 1 sê, die praktyke wat nie die lig kan verdra nie, vermy. Ons sal nie met bedrog omgaan (en wat dit alles beteken), en nie die evangelie van God vervals nie (wat dit ook alles beteken; vers 2). Ons sal ons lig in elke stukke duisternis laat skyn (vers 6). En ons sal nie moedeloos word nie (vers 16).

In kort: ons sal elke oomblik (van swaarkry of voorspoed) voluit lewe. Ons sal met alles wat ons het in die lewe inklim. Ons sal nie ophou om goed te doen nie. Ons sal nie een geleentheid laat verbygaan om iets van die vrede, liefde en genade wat God vir ons het, aan ander uit te deel nie. Hoekom nie? Want as ons sal besef: ek lewe hier maar net ‘n oomblik.

Ons het net een oomblik, broers en susters, om betrokke by ander te wees. Ons het net een oomblik om by ons gemeente betrokke te wees. Ons het net een oomblik om vir ons kinders en ander lief te wees. Ons het net een oomblik om onvoorwaardelik te vergewe. Ja, ons het eintlik net een oomblik om te leef. Want die lewe is net een oomblik. Die ewigheid wag, maar hier is ons deel van net een oomblik.

Ek sluit af: Jesus sê in Johannes 11:26 die volgende woorde wat op ons elkeen, op almal wat glo, betrekking het: ‘en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nie sterwe nie’. Wat eenvoudig beteken: ons lewe reeds ewig. Ons sal eendag almal sterwe, maar eintlik ook nie. Ons lewe reeds ewig saam met God. En ‘n gedeelte van hierdie ewige lewe saam met God is ons aardse lewe. Wat, in terme van ons ewigheid by God, maar net ‘n oomblik is. Niks meer as dit nie. Niks minder as dit nie.

Daarom moet ons elke oomblik gebruik. Om goed te doen. Om te lewe. Om bly te wees. Om te vergewe. Om lief te hê. Want voor ons sien, is die oomblik verby. Is die oomblik wat ons lewe is, verby.

Of het ons vergeet hoe kort ‘n oomblik regtig is?
Amen

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=751225

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Veerloos…

Omdat ek vandag ‘n veer voel….

Dis te veel vir my…
– alle  -ismses
– Oom Bob se huisarres
– CR se eierdans oor die JP boek
– Zupta  stropery
– Lewens wat niks werd is nie
– Geld wat min werd is
– Armoedeskepping
Popocatepetl– wat ontplof het
-Flitsvloede in Griekeland
– Aardbewings die wêreld oor
– Die moordmanne – Van Breda, Rhode, daai Griekse outjie van PE en die Patel hier by ons wie se vrou, pa en ma al in die slag gebly het….
en so aan en so voorts….
Ek gaan die dag dom om dans ala die hoennervrou en uitsien na die naweek se stiltetyd en herlaaityd.
Sal Maandag weer ‘n veer probeer voel.
Oor en uit
NS. Dankie, Mielinda, my kind van ‘n anner ma dat jy die hoennervrou uit jou Vuisboek onthoulaai getrek het.

Foonjakkery- dis ‘n (on)ding

 

 

Foonjakkery – die praktyk om jou metgesel of metgeselle te ignoreer om aandag te gee aan jou selfoon of ander mobiele toestel.

(Tele)FOON  + (af)JAKKERY

 

Oukei – dis ‘n eiewoord, kry julle ‘n beter een of vertel my wat is die Afrikaans hiervoor:

 

Image result for phubbing meaning
phubbing  – the practice of ignoring one’s companion or companions in order to pay attention to one’s phone or other mobile device.
  1. “phubbing is just one symptom of our increasing reliance on mobile phones and the Internet.”

 

Wat is jou superkrag? Ek leer nog

My superkrag is hoogs aanpasbaar en plooibaar, en word slegs deur lesse aan eie bas  verwerf.

Oor die jare het ek geleer om ‘n verskeidenheid weergawes van myself vir verskillende mense te wees.  Kalmte in krisisse is aan die voorpunt en dan dat ek, gegewe wat die krisis is, ook dié deskundige is: die dokter, die apteker, die dierekundige, en so aan.

Ek is ook klaarblyklik die mens wat alles vir almal om my gelyk maak. Ek mag weet van geldnood, ek mag weet van hartseer. Ek kan vertaalwerk doen, ek kan krom briewe regskryf, ek kon selfs op ‘n stadium goue eiers lê. Hase uit hoede trek – daai krag

My superkrag het baie aantrekkingskrag gehad. Baie mense het my bewonder.  Dit was asof ek koning Midas was. Die organisasie waarvoor ek gebedel het was beïndruk – hulle het ‘n goue pen vir my gegee. Pfft. Tot ek onderhandel het om flexi-ure te werk. Daai kaait het nie gevlieg nie, en ek is huistoe. Eenkant op die plaas gaan sit en net na my huismense en my honde omgesien.

Die fêns het verdwyn. Ek kry so nou en dan ‘n oproep omdat iemand na al die jare nog onthou ek speak both tales deliciously, onthou ek kon professioneel bedel. Maar ek trek nie meet daai kleedjie aan nie. Hy is motgevreet.

Die wat my superkrag nou benut is ‘n handvol. ‘n Groepie werkloses wat 190 monde daagliks volhou. Dit is goed en lekker. Hulle groei en gedy, omdat hulle self die groot werk doen.  Ek is net rasieleier is en die donateur hou van wat ons regkry.

Ek is ook rasieleier vir my Rots en my Bab, en Mielie en Jurels en Boeta and MM. Ek skreeu my hart uit op die kantlyn van hulle lewe. Baklei soms bietjie ook.En ek is ook die kwaai ma van die kinders van ander ma’s wat vir ons werk.

Ek weet alles – word as Google gebruik deur my mense

Ek alleen mag die toiletrol vervang, die tandepasta vervang, die suikerpot hervul, die nuwe bottel melk in die yskas sit…

Net ek kan hondegemors in die huis opvee.

Dan is daar klomp ander onnoembare takies wat net ek kan doen – naels, hare….jy weet.

O ja, ek ek kan goed my moer strip – dis epies. Ek werk hard om die een te laat gaan.

Mag die (super)krag met jou wees. Ewigheid en daarna. (May the force be with you. Infinity and beyond)

Hehe…die eintlike superkrag is dat ek lekker stories kan spin! En ek vat lank om te leer.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-JouEier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-JouEier: Reëls (2017-08-22) en Lê-JouEier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

Lekkervurig fort

Ek moet berig dat dit hier in die Verre-Noorde so twee ure suid van Oom Bob se domein wild gaan. My brein is effe links gef.., my siel potblou gekneus.

Die skuinsgeit van die week, wat my so links van  Lieve Una op die onderste trap laat neermoer het, het vroeg kop uitgesteek.

Veeleisende kliënte wat meer as hule pond vleis eis, en danksy my goedhartige Rots, dikwels kry, sal sowaar laat weet “hulle klant is met verlof en het hulle nog nie betaal nie, so ons gaan ook nie betaal word alvorens Lord Oom Piet van verlof teruggekeer het nie…” Die gevolg, die hond byt die kat, die kat byt die muis, die muis byt vir Baba, Mama huil saam met baba en pappa skop die hond, en so aan, ensovoorts. Sela.

Maandagaand reën dit in Polosekwane. So 30mm in die stad, en klaarblyklik ‘n wolkbreuk oor een spesifieke huis waar ons onlangs ‘n kaggel installeer het en die kliënt nie ore het nie, en met nat hout vuurgemaak het en die hele kaggel en skoorsteen opgefoes het met soet en hars, en ons alles oor moes doen. Ja, die duiwel is in detail…julle raai reg…daar is ‘n lek. Jo, maar die vrou gee jou nie kans om te beduie jy sal kom regmaak wat verkeerd is, nie. Sy wil ook nie hoor dat daar niks nat in die plafon, in die skoorsteen of binne in die kaggel is nie. Sy wil ook nie hoor dat roes nie sommer binne ure op gietyster vorm nie. Sy wil nie hoor dat jy maar vrede ter wille ‘n versekeringseis ingestel het om die sakie te beredder nie. Lang skreeustorie kort – die vrou sal vir my ook vertel ek makeer en het professionele hulp nodig. Rerig…ek dog my fokjoupilletjies werk!

Toe gister met my klaar is was my siel erg gekneus. Ek moes lank stil gaan sit en onthou ek is meestal die mens wat my honde reken ek is.

Vanoggend kom die nuus. ‘n Boetebessie van die provinsiale soort is by haar huis wederegtelik van haar werksvoertuig ontneem. Nou vertel die leser van krom Afrikaans op die raadlose-SAUK-draadloosstasie “dat ons in Limpopo maar liefs nie moet stop as die spietkops ons afkeer nie, want net nou is dit die skelms!”  Flippit. Gee die blessitse motormaak en registrasienommer, dan weet ons darem vir watter spietkops om weg te ry. Kan julle nou dink as ons almal vir alle spietkops wegry…massa chaos, of nie, want mens sien hulle ook nooit waar hulle nodig is nie.

Nog is het einde niet:  Gister, net buite die Limpôpô se hoofstat, is ‘n voertuig van die buurland van Oom Bob met geweld deur tsotsies afgetrek, een insittende vermoor en die res van alles behalwe die voertuig beroof.

Dan, onderdorp by die grafplaas is nou bekend as mini-Lagos (soos in beset deur Nigeriërs, en net so wetteloos soos hulle moederland) en gereeld hoor jy van skietery en lyke, en brandende voertuie… Gereeld kan jy nie daar ry nie, soms moet jy omdat ou winkels wat jy al jare ondersteun se adres nou in die gevaarsone gesetel is. Dis net kroeks, g’n koeiseuns met blinksterre op die bors wat jou sal red nie. Gaan binne op eie risiko.

My bestuurder van huishoudelike sake sit toe mos nou die kersie op die skuinskoek. Hulle het self nou die aand nie ‘n oog toegemaak nie. Tien huise in hulle Bergnek buurt is met geweld en gewere binnegestorm en spaza-eienaars van inkomste en plasma teevees beroof. Dit was ‘n oorlogsone – geskreeu, gedreig, geweerskote.

My kinders van ander ma’s wat by my werk vertel my dat ons almal maar wakker moet loop, die skelms het ook swaar onder die huidige ekonomiese klimaat en het nie inkomste teikens behaal nie. Hulle moet nou voor Krismis vinnig inhaal, die vakansie lê voor.  Van Dikgale tot Musina, armmanshuis, rykmansbuurt – jy het iets wat iemand anders wil hê.

Wees veilig liewe bloglanders, ek glo die verskynsel in Limpôpô is pandemies.

Ek gaan nou maar my lekkervurige geaardheid vat en ‘n komberstent in my eetkamer bou en maak of Cardbordeaux rooi Liquifruit is – jy weet, met ‘n strooitjie drink. Tjeers.

Of ek sal net inkleur….

blanket-fort-coloring

 

Ns. Nee wraggies – daar het ‘n ou in die riooldam verdrink ook nog…

‘n Relaas oor my Ingelse onnie

 

Nevil ShuteSomerset MMy pa-hulle ontwortel ons aan die einde van 1974, my standerd agt jaar. My sus en ek bly op daardie stadium te lekker by Ouma Stomp en Oupa Faan en word bederf uit ons sokkies uit.

Die aankondiging dat ons Kokstad toe verhuis sodat my pa die saagmeul-bestuurder by Singisi Sawmills in die destydse Transkei kan word, is met snot en trane begroet. Wie hou nou van verandering?

Ek het toe reeds vakkeuses gemaak – Afrikaans, Engels (albei eerstetaal vlak), Duits (standaardgraad), Aardrykskunde, Geskiedenis en Biologie (al drie hoërgraad). So arriveer ek die eerste dag by Hoërskool Grenswag, Kokstad. Dis eintlik ‘n hoër- en laerskool. Daar is 275 kinders in totaal.

Boekhou is ‘n verpligte vak in die Kaapse skole. Die skoolhoof, Meneer Bouwer bulder: “Duits! As jy Duits wil neem, moet jy maar pouses na die Roomse Kloosterskool met jou fiets trap. Hier word nie Duits aangebied nie!”

Misrabel is al hoe ek my tienergemoed onthou. Sommer die plek en my pa gepes. Ek moes, nodeloos om te sê, Standerd 7 en 8 boekhou binne drie weke deurwerk, en tred hou met die standerd nege sillabus. Debiet, krediet, balansstaat. Ek het deurgeskuur. Niks daarvan gehou nie. Die onnie moes maar saam met my tande kners.

Maar o, lekkerte! Die Engelse klas. Mrs Iris M. St John Landmark. Sy is middeljarig, blonde Marilyn Monroe haardos, bloedrooi lippe en lang goedversorgde naels in dieselfde skakering. Blou stilleto hofskoene en ‘n sonbril waarvan die raam by die skoenkleur pas. Og, en sy ruik lekker en sy lag uit haar maag. Sy het Ingels ‘n uiterse plesier gemaak. Self Wimpie en Varkie het “how do you do – I do my best” – uitgehaal op hulle gebroke manier. Nooit, ooit is iemand verkleineer omdat die woorde skeef en krom uitgekom het nie.

Ag, en as Mevrou die gang afswaai, hoe die Calvinistiese stywenekkies geruk het…hehe! Hoera vir jouself wees, het ek altyd haar in my anderste gemoed toegejuig.

Ons is verbied om met ons matriekafskeid te dans. Mev. Landmark het ons kort na die geleentheid na haar huis genooi, ons ouers en skoolhoof is vertel dat dit ‘n speletjiesaand is. Ons het nie vingerbakatel gespeel nie. O, nee. Ons het biljart gespeel, en poker. En ons het sjampanje gekry om ons nuwe toekoms te vier. Sy het musiek aangesit en ons kon skoffel, en twist en later darem so een keer close-dans. Sy het ons soos jong grootmense behandel.

Elkeen ‘n geskenk gekry. My geskenk was ‘n versamelboek met vier Nevil Shute boeke, waaronder “A town like Alice.” Sy het as prys vir my goeie Ingels reeds vroeër vir my Somerset Maugham se versameling kortverhale gegee. Ek was in die wolke.

Haar afskeidsboodskap aan ons was ook besonders: “Fear is not a word. It is an acronym for:

False

Evidence

Appearing

Real.”

So, vir Mrs Iris M St John Landmark wat via Kenya “very colonial,” in my lewe ingeswaai gekom het, is ek ewig dankbaar. Ek skrik, maar bly nie lank bang nie. Hoe kan jy nou bang wees vir goed wat meeste van die tyd nie waar blyk te wees nie!

Danksy haar, hou ek van my aweregse self, het ek my eie styl en ook my eie stem. Nou besef ek waarom Karen Blixen se Out of Africa by my resoneer, en ander groot epiese stories – Mrs Iris M St John Landmark het lewensgroot haar stempel afgedruk, en dit het nooit vervaag nie!

Thank you Ma’am. Jy en styl-ikoon Iris Apfel, val nie ver van die uniekwees boom nie!

Iris Apfel

“There are no rules or regulations. “It’s instinct and gut feeling. I don’t do these things intellectually; if you do, they’re always very stiff. I don’t have rules because I’d only break them. When I used to wear things that were a bit offbeat, people used to always say, ‘Oh, my goodness! Don’t you worry about what people will think?’ and I would say, ‘No, I don’t care at all.’ That’s not my problem. I dress for myself and I hope other people will like it, but if they don’t, it’s their problem, not mine.” – Iris Apfel

Ek kan Mrs Iris M St John Landmark hoor lag, uit haar maag.

 

 

Die onthouboks se slot is alweer los…

052

Ons het in 1987 na die Noord-Transvaal verhuis. Ek was so ontsteld, dat ek vir twee weke, dis ‘n rekord, nie ‘n woord met my ega gepraat het nie. Rerig.

Sien, dit was die dae van die bevrydingstryd, toe landmyne geplant is en daar nog oorlog gevoer is teen al die kleure gevare. My baba was pas ’n jaar oud.

Ons het saam die omgewing van Pietersburg tydens ons heuningmaan beleef. Ons dierbare vriende het vir ons twee drie nagte in die spoggerige Magoebaskloof Hotel se Wittebrood-suite bespreek vir ‘n troupresent. Dit was mistig en reënerig en ons het bokkoors gekry en toe besluit om Pietersburg toe te ry. Ek onthou soos gister die ent pad net na Moira van die ZCC kerk , verby die Universiteit van die Noorde, verlate en vaal.

“As jy my ooit hierheen bring, los ek jou.” Net so vertel ek vir Rots. Dis lelik, dis vuil, dis vaal.

Waha. Bak die lewe my die poets van die eeu.

Drie jaar later, aanvaar Rots ‘n pionierspos by ‘n kunsmismaatskappy. Daai waar jy die enigste ou noord van Pretoria is wat bemark. As joernalis was ek diep bewus van wat op ons landsgrense aangaan, waar daar mense onder polisie en weermag bewaking hulle dagtake moet hanteer.

Ek het ook self gesien wat gebeur as ‘n bom afgaan en jy is in die pad, na ‘n bom by Bethal se landdroskantore geplant is en dit afgegaan het voor die planter weg kon kom. Bloed en vleis en rande net waar jy kyk….grusaam.

Dis nou waarheen my Rots ons wil bring. Ek was tot in stilswye moerig. Hy  gaan maar aan met reëlings. Kry sy nuwe wit Toyota Cressida (met lugversorging), ek met my Golfie met 4×4 x120 verkoeling. (Vier oop vensters en minimum spoed 120km per uur)

Ons ry ‘n paar uur na die verhuisingswa. Vreemde paaie. Bethal, Middelburg, Loskopdam, Groblersdal, Marble Hall, Roedtan. By Zebediela Sitrus draai ons skielik regs af. Die son brand genadelooos en ek is dankbaar dat my Bab saam met haar Pappa in die lugversorgde Cressida reis.  Daar is ‘n damwal so links van die afdraai. Gompies dam, vertel die bord.

A, water. Net die kyk daarna behoort ons koeler  te laat voel, dink ek by myselwers. Toe die pad draai hang my mond oop. Ek begin bitterlik te huil. Dis so droog die dam het afgebrand!

Daar is nie ‘n druppel water te sien nie. ‘n Onlangse veldbrand het die riete vernietig. ‘n Afgebrande dam. My skouer is prikkelrig seer deur die ruit verbrand. Ek huil snot en trane oorlat ek onseker voel oor die toekoms. Gaan ek een van die dae ‘n weduwee wees oor my man daar waar daar terroriste bedrywig is gaan moet werk? My maag knoop oor al die negatiewe gevoelens.

Na so paar kilometer kry ek myself gekalmeer. Ek is mos ‘n sterk baba. Die oorsprong van my naam mos Iers en beteken deursettingsvermoë, en buitendien het ek al in sewe jaar baie erger dinge as ‘n lelike omgewing en droogtes oorleef.

Die huurhuis is aan die eindpunt van die dorp. Tweede laaste huis in Suidstraat op die hoek van Websterstraat.  Aan die oorkant van die straat staan bosveldbome en miershope in gelid. Die eienaar van die huis is nêrens te kry nie. Onthou, daar is nie selfone nie, jy ry poskantoor toe om te bel. Ons kry haar seun in die hande. Sy is uitstedig, hy wis nie waar die sleutels is nie. Ons breek ‘n ruit om die huis oop te kry.

Ons burger in, en die eerste oggend wat Rots om 04H00 met sy toebroodjies en fles koffie my soengroet, gaan sit ek met die pistool en ‘n flits in die gang by my baba se kamerdeur. Daar is nie diefwering of veiligheidsdeure nie. Ag, ek kan nou nog voel hoe benoud ek was. Dan die lang dag se gewag vir Rots om 20h00 tuis te kom.

As daar ‘n kunsmisbestelling is, moet ons sak en pak, baba en al afry poskantoor toe. Daar by die tiekieboks staan hy met ‘n flits en die bestelboek en lees dit vir die streeksekretaresse by haar huis in Pretoria. Sy het dan die volgende dag die wiele aan die rol gesit om die bestelling gelewer te kry. (Dit neem drie maande voor ons ‘n telefoon in die huis kry. ‘n Faksmasjien ook. Sjoe, ons was tegnologies die wêrled om ons vooruit, sommer so!)

Ons is pas ‘n week op die dorp, toe kry Bab mangelontsteking. (Sy was maar twee maande oud toe die onnodige goed begin lol het.) Ons kry nie haar koors gebreek nie. Ons ken niemand nie, en jaag met haar ongevalle toe. Met ons kind en mediese lêer in die hand strompel ons verward die hospitaal in. Dis ysig koud.

Ons Hoëveldse huisdokter het vir ‘n Pieterburgse kollega ‘n briefie geskryf. Die suster bel die man. “Het hulle kontant by hulle?” Ons het nie, die dokter sal dan nie uitkom nie. Ek onthou van my oudste tante wat by ‘n dokter werk. Die suster glimlag. A, Dr P. Hy is sout van die aarde.

Sout van die aarde daag op en gou is hulle met nat lakens en waaiers en drippe besig om my siek-siek kleuter te help. Dis ‘n lang nag. Dr P kom met antibiotika wat hy uit die apteek gaan haal het. Kyk nou mooi na haar, en as sy gesond is haal ons die peste uit. Ons het nooit eers ‘n rekening gekry nie. Dis dertig jaar later, as ek daai anner  dokter in die straat sien word ek naar.

My eerste uittog sonder my kind, net om brood te gaan koop is nie sonder insident nie. Toe ek tuis kom, sit Rachel met die bebloede kleintjie op die agterdeur se trappie. Ek gil, sy wys toemaar. Die ergste is verby. Hule het wegkruiper om die meubels gespeel en Bab het teen die vloeromlysting geval met haar bekkie, en net onder haar onderlip deurgebyt. Gelukkig het ek slim hegpleisters by my tante gekry.  Bab loop vandag nog met die letseltjie.

Baai tot ander keer. Ek het die slot toegekry.

NS. Oor my kindjie se mangelmagie, my joernalistiek, en sy kunsmissmousery, het Rots ons soos gesin volg aan nuwe kennise voorgestel: My kind maak dit, my vrou praat dit en ek verkoop dit! Hehe.

 

Dankie humeur, ek loop alweer weer incognito

So word daar sonder my medewete of toestemming, aankope op Ou Geduldig (alias vir my kredietkaart) gedoen.

Ek het pas twee weke vantevore ewe pliggie sy plaasvervanger vir die volgende vyf jaar by my tak gaan afhaal, en het nog nie eers hom gewoerts-warts tydens ‘n terapie-sessie in die parfuum-afdeling van my gunsteling winkel nie. Hy is nog maagdelik ongeskonde, veilig in my beursie.

Ek het wel vir die verbrande Knysna perd, Buddy, ‘n skenking gemaak.

Verlede Vrydagoggend sit ek en wroeg om seker te maak ek het genoeg kaggels en braais gesmous om my hittige verskaffers en personeel te kan betaal. Die telefoon lui. Dis Geduldig se baas (die bank).

Is ek met aanlynaankope besig vra die stem.

“Gonna nee, ek is besig om te oorleef, dankie”.

‘n Blikslaer het ‘n minuut vantevore R5900 op Geduldig gebruik. Net so. Terwyl die stem met my praat en my inlig dat hulle die kaart blokkeer, kom die aankoop se SMS deur. Later die middag bel die bedrog-afdeling en ek vertel dat ek nie aankope aanlyn gedoen het nie. Die transaksie is intussen teruggeswaai, maar ek makeer die kaart. Geduldig 2022 die Tweede.

Ek bel vanoggend om te hoor waar my kaart is. Die stem vertel dit is by my tak. Nou hier in Polokwane het die dorp al in die 1980’s ‘n stad geword, en brei so uit dat dit Lagos-erig (jy weet groot en uitgesprei soos die Nigeriese stad, en net so korrupperig ook) begin voel. Jy reis amper ‘n halwe dag te GWM om van die nywerheidsgebied na die Inkopiehemel op die bult uit te kom. Jy word so ongeveer elke 500m doodgery of gevloek. Dis wild.

By Inkopiehemel aangekom, gaan ek ewe vol selfvertroue na my persoonlike bankier – ja ek het darem al tot daar gevorder. Hulle het my dan verseker my goete is daar. Wahahha! In Japan miskien, ja!

Dis nou  vyf ure later, by twee takke besoek moes aflê en Geduldig 2022 die Tweede is steeds pinloos, op die uiteinde as gevolg van tegniese probleme. Oor die ander ervarings gaan ek nie ‘n woord rep nie.

Julle onthou ek het gister beduie oor my hormonale Grieks-Italiaanse woede. Al wat ek kan vertel is ek is alweer incognito as ek inkopies doen…

My varkies het my verlaat, die vliëende ape is losgelaat, en ek het nie flippen snesies by my gehad nie.  Ek het epies gesmelt. Demmit.

Ek sal maar liefs eers weer more gaan probeer om die pin te kry. Anders lees julle van my op die betaal-anders-kan-jy-nie-nuus-lees-nie se Vuisboek en jaag hulle intekenaarsyfers op.

Dit is toe waar wat ek Maandag op my Vuisboekmuur geplaas het. My hoop het my beskaam. Vanaand drink ek ‘n skottel wyn en later twee panados. Baai.

Image may contain: 1 person, sitting and text

Deurmekaar geverander

Die verspieder kransswawel kom ‘n maand te vroeg by die somertuiste aan. Toe hy in die voorjaar weggevlieg het, was die stoep sy familie se heiligdom. Die honde was bejaard en die nuwe swart brak ‘n peuter wat net wil balspeel en toutrek.

Nou is die weer verkeerd. Die nuwe nessie se bodem het uitgeval, die hoofhuisnes staan vas en knus, soos die afgelope vier jaar.  Die twee bejaarde honde is heen en Koda is ‘n swart reus van oor die veertig kilogram. Vreemder egter, is dat daar reeds oral tekens van nuwe groei is, maar dis nog winter. Die Augustuswinde moet nog kom en al die spinnerakke weg- en die lentereëns inwaai.

Oral in ons tuin is botsels – die jasmyn is oortrek met ligpienk geurige blomknoppies, die boslelies se helder oranje spat deur die vaalgroen blare, die vinke wil begin nes bou.

Moeder Natuur is menoupouse deurmekaar. Dis al verklaring wat ek het. Ek dink sy voel benoud, verward.

Ek kan nog self onthou hoe ek gevoel het niks gaan ooit weer normaal voel nie. Want ek het besluit duisende van my voorgeslagte het sonder moetie die afsterwe aan hormone oorleef, selfs kaalvoet oor die Drakensberge gevoeter.  Wat maak ons moderne vroue so pieperig…dat ‘n pil vir elke skeet gesluk moet word?  So ek het ‘cold turkey’ gemenopouse.

Dit was baie vreesaanjaend vir almal om my. My humeur was ‘n Grieks-Italiaanse affêre met ‘n emosionele ouderdom van so tussen 18 en 20. Blikslaers, ek het menige dag met donkerbrille en ‘n pruik die wêreld aangepak, bang die ou by die slaghuis, dokter, apteek, bank of selfs in die parkeerterrein herken my as die vuurspewende berg van gister!

In hierdie vreeslike fase, word ons deur ‘n swerm bye getakel. Ons oorleef (sien my blogpos https://wordpress.com/post/lekkervurigeaffere.blog/54) oor die ervaring). My humeur bly erg, ek gaan snik by die psigiater. Niks van die gemoedsbekakkingpilletjies werk nie.

Sy begin bloed toets. Die menopouse is byna klaar wys die uitslag. Sy vra verder uit en pieker en dink om ‘n oplossing te kry. Ek vertel haar van die bysteek insident. Sy vertel my daar is ‘n toestand genaamd “adrenal fatigue” en kortisol, en jou byniere en ‘n hele rits goed.

Lang storie kort, ‘n baie unieke toets word bestel en ek moet in ongevalle op ‘n hartmonitor gekoppel lê, ingeval die toets ‘n negatiewe effek het. Hulle spuit jou so elke halfuur met ‘n dosis iets in, kan nie meer onthou nie. Maar voorkoming is beter as genesing. Die vampiere van die bloedbank en die ongevallespan drom saam, die toets is blykbaar uniek. So daar lê ek, proefkonyn, my eie oorlewing ter wille. Ek onthou dat ek gedink het dit lyk soos Greys Anatomy as die groentjies saam met die slim dokter rondtes doen!

Hulle kom spuit my in. Ek wag, hulle kom loer. Niks gebeur nie. Die tyd vir die tweede inspuiting breek aan, my hartklop rustig, my bloedruk glad nie drukkerig nie. Heel die teenoorgestelde wat die toets moet bereik. Kort na die tweede inspuiting raak ek aan die slaap. Hulle kom skud my ‘n uur later wakker. Ek kan nie vertel hoe salig dit was nie.

Die dokter bel my dae later en vertel dat daar ook nie fout met my byniere en kortisol telling is nie. Ek vertel dat ek so lekker voel. Wat ookal ek daardie dag ingespuit is, het ‘n vernuwende eliksir deur my gestel gespoel. Die woede het bedaar, en nou gebeur die Grieke-Italiaanse woede baie minder, maar wel nog in volle tiener-mode (bloos) wanneer dit gebeur. Die slimdoktervrou sê dit het te make met die trauma van my ouers se dood binne drie jaar van mekaar – eish.

Maar ek het die vertel oor Moeder Natuur byster geraak.

Ek dink Moeder Natuur het so genesende inspuiting van ons aardbewoners nodig. Aarbewoners wat omgee wat in die lug, in die riviere en oseane en op land gebeur. Sy moet voel ons het respek, sy is bemind. Dan sal sy minder deurmekaar voel en nie so kwaai word en die seisoene te gaan staan en verander nie.

Ek dink dis wat moet gebeur. Dan kan ons weer op 1 September Lentedag hou, en nie op 1 Augustus nie!

(Foto: http://www.cartoonaday.com/mother-nature-unleashes-her-anger-on-planet-earth/)