Bevrore ertjies

bevrore ertjies

Rots en ek is op die aanloopbaan van oudword. ‘n Nuwe era in ons lewens het aangebreek. Ons is skielik die ouer mense in ons kring.

Ons besef dat ons die houers van die geskiedenis aan vergete geslagte is. Maar die laslap kombers van ons voorgeslagte se lewens aanmekaar geweef is yl en motgevreet. Die jongklomp gaan hulle eie gang en ons spandeer baie tyd alleen saam. Ons twee en die brakke.

Ons het aan sy kant van die familie nog net ‘n kinderlose tante as verbintenis tussen ons en die vorige geslagte.  Aan my kant, ‘n bejaarde eie tante en -oom wat hulle weergawes vir hulle self hou, en dan ander familielede wie hulle eie weergawes bo ander familie s’n verkies. C’est la vie.

Ons onthou van stories van waar ons vandaan kom is yl, die stiksel kom los op plekke, en ‘n paar blokke het al weggeval. Ons onthou is dan ook maar tipies menslik selektief en subjektief.

Maar ek wil nie vandag oor voorgeskiedenis en families griffel nie.

Ek wil vertel van bevrore ertjies, en hoe ons nie ouer word wil hanteer nie.

Ons het nie een nie, maar twee keer met bevrore ertjies te doen gekry. Albei aan my skoonouers se kant van ons saamgestelde familie. Een vrou was ons geliefde Biebs se grasieuse, eksentrieke suster. Die ander ‘n elegante skoonsuster.

Kort na ons Frida Kahlo tante weduwee geword het, het my dienende Martha skoonma, in haar rooi Gholf die pad Pretoria aangepak het om haar suster by te staan. Sy kuier ‘n week of wat, en kort na haar terugkeer bel sy oudergewoonte Sondagaand net na Carte Blanche ( Altyd net as die fliek begin, in die dae voor PVR). Rots antwoord, Biebs doen verslag oor die hele familie – sy was die gom wat ons almal aanmekaar verbind het.

Ek lei af dat sy omgekrap voel, en ek hoor Rots iets van bevrore ertjies sê. Na die oproep, en die fliek vergete, vertel hy dat ons tante sommer ‘n handvol bevrore ertjies uit die vrieskas gryp en dit as ‘n ete beskou! Dis mos kos, reken die nuwe weduwee, en daar is nie skottelgoed of moeite nie. In elk geval is sy alleen, hoekom sal sy moeite doen?

Ons sit en herkou aan die nuus. Biebs is al jare alleen. Sy maak elke dag kos – vleis, rys, groente. Daar is hordes Tupperbakkies met enkelporsie groente, vleis, sop in haar vries- en yskas. Sy bak en kook en op tagtig het sy nog vir die mense in die ouetehuis help kos maak! Niks te veel moeite nie. Voluit. Daar was mense twintig jaar haar junior in die ouetehuis!

Ons koop ‘n huis in Graaff-Reinet en wil vir Biebs gaan wys. Haar seën op ons Karoo-droom was vir ons aller-belangrik. Ons oornag op Bloemfontein, sodat sy haar aangetroude skoonsuster kan sien.

Ons bly in die oulikste gastehuis, met ‘n braaiplek. Die Bloemfonteiners kom kuier by ons. Dis ‘n heerlike onthou-kuier, tot dié weduwee-tante vertel hoe sy haat om haar kombuis vuil te maak net vir haarself. Sy eet sommer ertjies uit die vrieskas, dan bly alles netjies.  Biebs is sommer op die plek omge-ellie. Dis nie hoe jy na jouself kyk nie!

Dis toe net daar dat ons begin dink aan wat ons gaan doen as ons ouer word.

Beslis nie bevrore ertjies nie! Ons twee maak doelbewus moeite om lekker en interessante kos te maak. Al is net net ons twee, en ons belowe mekaar plegtig dat wie ook al alleen sou moet bly, ons Biebs se voorbeeld sal volg.

Nie die sitkamer ‘n wagkamer vir die ewigheid maak nie. Nie gaan sit en van ons lewe ‘n afwagting maak vir die dag van ons hereniging met ons voormense nie.

Nee, saam of alleen: ons gaan die kombuis vuilmaak, in die sitkamer lag en daar buite lewe en nie ophou droom nie. Pyne skete en alles wat met ouer word gepaard gaan, ons gaan die pad voluit loop.

Ons eet Eisbein vanmiddag.

Oppistoep olimpieks

Ek is met my liefie en beste vriend, my Rots, in ‘n woordgeveg betrokke sedert 2012. Ja, regtig. Reine waarheid. Olimpieks op die stoep. Ons hou boek.

Ons skrabeer dikwels, beste uit drie. Op ons stoep.

Die braaivuur brand hoog. Brand uit soos vanaand. Woorde vleg oor die bord ineen. Ons hoor die iPod se mooie musiek skaars. Die ys smelt dat die wyn waterig raak. Die brakke vry verniet om ons knieë vir aandag. Minute word ure.

Hy skud plegtig my hand wanneer ek hom die loef afsteek. ‘n Sportman by uitstek. Ek maak ook so as ek die onderspit delf. Dit gaan oor die saam speel, nie die wen nie.

So het ons in tye van vreugde en soms groot seer, saam, om die tafel op die stoep, onsself in woorde verloor.

Dis ‘n voorreg om nog saam te kan en wil speel.

Oor en uit. Die tweede rondte gaan begin…

NS.  Ek loop voor. 😉

 

Wonderbaarlik om ‘n rede

Wie is jy? Sit bietjie stil en dink. Jy, jou lewe, jou liggaam, jou hart, siel en gees. Jou plek  hier op aarde. Wie is jy?

Jy is ‘n versameling  van 1000 600-bladsy volumes in God se hande. Dis hoeveel jou genetiese struktuur op papier sou beslaan. Hy skrywe van jou, in jou. Hy hou jou in Sy hand.

Nes boekliefhebbers van ‘n nuwe boek hou, die ruik van die ink in asem,  so word jy in jou Skepper se hande gehou. Die Outeur is stil tevrede met Sy skepsel.

Jou DNA is so kompak dat dit in ‘n ys-blokkie sal pas, en as dit uit mekaar gehaal en aaneen gestring sou word, sal dit vier keer tussen die aarde en die son pas!
Wonderbaarlik, net in jou liggaam. Net jy.
Kou daaraan wanneer jy minderwaardig voel, as mense se woorde en dade jou ineen laat krimp.
Wonderbaarlik is jou Skepper se liefde vir jou.
Jy is ‘n vaatjie waar in Hy Sy beste, nuwe wyn giet. Elke dag, nuut gemaak.  Om weer jou beste te kan wees. Om Sy hart, oë, ore en hande te wees. Soos Mmusi Maimane onlangs gesê het, bring jou emmer en luister en doen wat God jou vra.
Waarom sal mense se woorde dan nou so belangrik wees dat jy nie kan leef nie? Kan hulle tot die son reik of oral wees?
Maar ook: Waarom kyk jy neer op die bedelaar by die robot? Die ongeskikte taxi-bestuurder? Die korrupte politici?  Die vrou wat nie soos jy leef nie? Jou buurman, jou skoonma, al die mense wat jou dwars in die krop steek?
Hulle DNA  pas ook vier keer tussen die aarde en son.
Hulle Skepper huil, Sy hart breek. Want Hy wil dit nie vir Sy skepsels nie. Al die haat, nyd, onmin, korrupsie, gierigheid en selektiewe omgee.
Tree vir almal en jouself in en bid dat almal ook nuwe wyn in leë emmers gegiet kry.
Wees God se hande, oë, ore en liefde.
Bid en doen.
Dis hoekom ons hier is.

Wilde als

africanwormwood

Artemisia afra. Wilde Als. Umhlonyane. Lengana.’n Aromatiese krui. Uniek aan Suid-Afrika.

In Europa is sy boetie Artemisia absinthium, Wormwood, verban. Gebruikers of liewer misbruikers, het erg aan krampe en senustelsel skade gely. Suid-Afrika se Wilde Als is gelukkig anti-inflammatories, antisepties en ‘n anti-depressant.

Dit maak sinusse skoon, raak van wurms ontslae. Dis ‘n kuur vir verkoues, oorpyn, rumatiek, jig, reiniging die bloed, en daar is ondersoek na die plant se vermoë om ‘n impak op tuberkulose te hê. Dit is ‘n pynmiddel. Dit hou vlooie weg. ‘n Wonderkuur.

Vandag het iets gebeur op ‘n plaas genaamd Wilde Als. Net buite Bloemfontein. In die middel van die Republiek van Suid-Afrika.

Dit kan nie in ‘n kiekie vasgevang word nie. Die drie kruise op ‘n koppie, 600 luidsprekers, die logistiek van 200 000 voertuie, vliegtuie,  helikopters en mense te voet.

Duisende en  duisende mense trek op Wilde Als saam. Om te bid. Om ‘n kuur af te bid vir ons land en sy mense.

Toe die oom met die hoed bid, waai ‘n warrelwind stof op. Ek glo net soos die eerste bekeerlinge dat God se hart bly was en Hy met die wind oor die skare, Sy genoeë gewys het.

Kyk: https://m.facebook.com/story.phpstory_fbid=789797927842912&id=255425007946876

Daar het op Wilde Als iets besonder gebeur. Nie ‘n kits kuur nie. Maar miskien die begin van ‘n ommekeer.

Dink net, as ons almal vandag ge-wilde als is, gereinig, skoon gemaak.   As ons more uitreik na mekaar. Nee sê vir dis-respek,  omkoop, gierigheid, korrupsie, selfsug.  Ge-wilde als.  Gereinig. Ontsmet.

Ek is vol hoop, maar my wilde als het luise…

“Wilde Als moet gesnoei word,” lees ek in my kruieboek. Daar is werk om te doen.

Laat ons dan nederig wegstap van Wilde Als, Bloemfontein.

Gesnoei aan ego, eie-belang.

Genesende en geneesde wilde alse.

Vir God Drie-enig, in ons vir jou, Suid-Afrika.

Dis tyd.

Lei ons Here.

 

21 April 2017

OVKRUIS

Ek sit op my stoep. Rots braai, die goggavanger klap, en my Yorkie kou naels agter my rug.

Daar is op hierdie oomblik derduisende mense onderweg na Wilde Als,  ‘n plaas buite Bloemfontein. Berigte kom in dat dit ‘n spesiale plek is. Dana Snyman “voel sag”, ‘n hartsvriendin post drie kruise en sê sy het hoendervleis.

More is die dag wat Oom Angus se oproep “It is time” waar word.

Ek bid dat as die ramshorings blaas, daar reën sal val in die Wes kaap,  dat alle voorpraters van ware demokrasie sal saamstaan,  dat die Republiek van Suid-Afrika tot sy volle reg sal kom.

Dat oral more en deur hierdie naweek, daar mense oral op hulle knieë sal bid en leer nederig en ootmoedig wees.

 

 

 

 

 

 

Meer as ‘n storie, salf vir siele

Image result for karen blixen quotes

So kom ek op ‘n vergete Vuisboek-inskrywing af:  Miskien het God die aarde rond gemaak sodat ons nie te ver in die pad af kan sien nie. So bly ons vashou aan Hom in wie ons sekerste vrede en geluk lê (uit die woorde van Isak Dinesen).

Isak Dinesen, die naam lui klokkies.

Karen Blixen

Eers toe ek in my Kindle rondblaai, tref dit my. Dis Barones Karen Christenze von Blixen-Finecke, kortweg Karen Blixen. Sy van Out of Africa-faam. Haar Afrika-memoir het ons jare gelede fliek toe laat stroom. Onthou julle hoe  snakkend na ons asems het Meryl Streep en Robert Redford se vertolkings ons gelaat?

Out-of-africa_Final-web-kopia__1459323306_213.66.160.50

Hoe dit ook al sy, die talentvolle liriese Deense skrywer, het behalwe die naam  Isak Dinesen, en ook soms onder die name Tania Blixen, Osceola and Pierre Andrézel, geskryf.

Ek het ‘n kopie van Babette’s Feast. Dit is in my geboortejaar gepubliseer. 1958.  ‘n Kort kragtige liriese novelle. Dit neem net oor ‘n uur om klaar te lees. Ek het dit tot gister toe nog nooit gelees nie. Die skrywer se mooi woorde, wat my jare gelede inspireer het, spring vanoggend weer voor my in, en so sit ek gisteraand met ‘n koue glas wyn en lees Babette’s Feast. Rots is in die Bosveld, die honde speel. Lekker my-tyd.

Die boek is een van daai lees, en weer lees belewenisse. ‘n Resensent skryf dat, net soos met ‘n grootse skildery, waar jy telkens met die weer kyk iets nuut ontdek, so is dit met Babette’s Feast.

Ek het nog altyd die geloof gehad, dat daar soveel duisende skrywers is, sodat soveel duisende lesers net die boeke wat vir hulle bedoel is kan lees. Ek is heilig oortuig dat elkeen van ons boeke het wat net  jy in jou leeftyd moet lees. Hulle kry vir jou, wanneer die tyd reg is. Stories net vir jou.

Babette’s Feast leer van opoffering en  genade. Die boek is so oud soos ek, maar hierdie harde week, in hierdie lelike ou wêreld waar ons moet probeer bestaan, was dié boek salf vir my siel.

Doen jouself ‘n guns.

Niks kan ons van God se liefde skei

Stompies

Ons sit by jou roudiens. Die kerk is stampvol.

Verslae en seer sit jou vrou en kinders; jou ou moeder, ineengekrimp van leed; jou stukkende broers met hulle vroue en kroos; familie, vriende en kennisse.

Die Dominee vertel hoe oomblikke ‘n mens se lewe onherroeplik verander. Hoe sy eie broer se dood  in ‘n motorongeluk veertig jaar gelede, sy lewe vorentoe vir altyd ander ingekleur het.

Hy vertel ons van tye in die wêreld se geskiedenis, wat die mensdom vir altyd verander het. WO I, WO II met die atoombomme, 9/11 toe Twin Towers inmekaargestort het, en nou ook in ons struikelende, bloeiende demokrasie.

“Ons het ons onskuld verloor”, tuimel Dominee Groenghoen se woorde deur my kop.

My vriend, het jy dit besef toe jy jou besluit geneem het. Het jy? Die krater wat jou dood in ons midde gaan sink? Die onskuld wat sou verdwyn?

Ek sit so,  en skielik is ek weer by my ma se graf, by Pieterjan se graf, by Louretta se graf. Almal tye waar ‘n ander se oomblik-besluit almal om hulle se lewe in seer hoekoms verander het.

Net toe ek in die hoekom gat wil inval, lees Dominee sy teks. In die middel van die diens. Hy lees uit Romeine 8: 31-39 (1983)

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe:
 
“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape behandel word.”Vgl. Ps. 44:23
 
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Mmusi en die rooi emmer

Image result for Mmusi maimane Planetshakers conference 2017 imagesImage result for red bucket images

Ek volg Good Things Guy op Vuisboek. Hy soek, en kry dikwels goeie nuus, positiewe dinge in en om ons land.

Hy plaas oor die naweek ‘n stuk oor  Mmusi Maimane wat by ‘n konferensie van Planetshakers, ‘n diens gelei het. Ja, voor hy opposisieleier in Suid-Afrika geword het was hy ‘n prediker en is nog betrokke by die Liberty Church.

Planetshakers is ‘n internasionale beweging wat twintig jaar gelede gebore is uit pastoor Russell Evans van Melbourne, Australië se persoonlike ontmoeting met God. Die kern van die byeenkomste is om ‘n omgewing te skep waar ander ook God kan ontmoet deur aanbidding en passievolle prediking van God se Woord. Hulle glo dat elke mens geroepe is om in hulle omgewing uit te moet reik om God se koninkryk uit te bou. Daaruit word drome en ondernemingsgees gebore wat ‘n impak op die wêreld het.  Hulle slagspreuk is:”Empower generations, to win generations.”

Mmusi Aloysias Maimane het ‘n inspirerende, besielde preek gelewer.  Elke Suid-Afrikaner moet die boodskap hoor en ter harte neem.

As jy nie lus is nie om te kyk nie:

Lees oor Jesus se eerste wonderwerk, toe hy en sy volgelinge saam met Sy moeder, Maria, ‘n bruilofsfees bygewoon het.  Die wyn het opgeraak. Die gasheer fluister sy kommer aan Maria. Maria gaan heen en gee die kelners opdrag,:”Wat ook al Jesus vir julle sê om te doen, doen dit!”

Nie lank nie, of Jesus gee hulle opdrag om ses water vate van klip vol water te maak.

Joh 2:8 – 10 ABA: “Toe sê Jesus vir hulle: “Skep nou van die water en gee dit vir die hoof-kelner!”  Hulle het die water vir die hoof-kelner gegee.  Die hoof-kelner het geproe dat die water wyn geword het. Hy het nie geweet van waar die wyn kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het geweet. Die hoof-kelner het die bruidegom geroep en vir hom gesê: “’n Mens moet eers die goeie wyn vir jou gaste gee. Later, wanneer die mense baie gedrink het, gee ‘n mens die wyn wat nie so goed is nie. Maar jy het die beste wyn gebêre tot nou toe!”

Mmusi Maimane het die teks voorgehou. Hy en ‘n rooi emmer op die reuse verhoog.

In kort het hy vertel dat ons soos vrolike gaste kan wees, en vir ‘n paar dae praat oor die lekker troue met die goeie wyn op die einde, en dan na ‘n rukkie doodgewoon met ons lewens aangaan, asof niks gebeur het nie.

Of ons kan maak soos die kelners, en gehoorsaam, “wat Jesus vra, doen.”

“Wees emmerdraers, en op die ou einde deel aan wonderwerke! Net een woord van Jesus, en hulle gehoorsaam. Voor dit was daar geen wonderwerke nie.”

Maimane vra die vraag: “Wat dra jy?”

Haat, bitterheid, swaarkry en negatiewe dinge is ‘n emmer met dooie gewig. Dit bring niks goeds mee nie. Sal jou net afsleep na nog swaarkry en seer.

Ons moet lewegewers word. Ons moet met oortuiging na God to gaan met ons emmer vol hoop en planne vir ‘n beter wêreld – in jou omgewing vir beter skole, strate, huise.

Jesus het die water in die vate in nuwe wyn verander, omdat mense geluister het wat Hy vra.

Kom met jou emmer vol hoop, luister wat God jou vra, en doen wat Hy sê!

As jy self wil hoor, luister en raak besield:

http://www.daystar.com/ondemand/legacy-video/?video=5395539744001

Volg die Good Things Guy op Facebook vir inspirasie en goeie nuus: https://www.facebook.com/goodthingsguy/

 

Koda kou hier, daar oral tot in my hart.

“Ma, ek het ‘n hond gekry. ‘n Labrador-Pitbull kruising. Sy naam is Koda, dit beteken vriend in sommige tale.”

“Ma, Koda is te besig vir die woonstel – hy vreet alles op. Ek het hom by die gehoorsaamheid skool gehad, hy is baie slim. Kan hy maar by julle kom bly?”

So kom bly ‘n woelige reus by ons. Gitswart en besig. Besiger as Patricia wat my Bybel opgevreet het, tafelpote gekou het en rondgeloop het. Baie besiger as Pippie die hoendervanger. Albei op die ou end deur kwaadmense geskiet.

Hy is pas ‘n jaar oud en weeg meer as dertig kilogram. Hy het die tafelpoot verder gekou, die stoeptafel ook bygekom.

Ek koop toutrek speelgoed – hy haal dié uitmekaar, hy het my kelim ‘n hoek uitgevreet. Ons raas, ons speel, en lyk soos self-skenders in die proses.  Hy teister sy bejaarde maats. Dit gaan knor-knor. Rots raak moedeloos. “Sy naam moes Koudaar gewees het”, brom hy

Hy klim op my skoot, wis nie hy is groot nie – ‘n baba in ‘n reus se lyf.  Lê op die ottoman  asof botter nie in daai bek kan smelt nie. Kom vra om op die bed te kan uiltjieknip. Kerm soggens wanneer ons koffie drink om by ons te kom lê. Leer saam met ou Rufus vir beskuit vra.

Kyk vir jou met sy  bruin oë. Toor met ons.

“Hy is baie stout.”

“Hy is onopvoedbaar.”

Nee, en nee!

Want sien sy naam beteken eintlik: Mamma se jongste witbroodjie!

Bab het die regte naam gekies, met die verkeerde betekenis.

M   last born mothers pet …   (Africa)
Male
Friend to everyone     (Sioux)
Een van die dae is hy twee, dan gaan die dinge van ‘n baba verby, ek kan altyd ‘n ander mat kry, of nie. Maar vir Koda – ons het net hierdie een beurt. So my Koda moet nou maar raas, raas klaar kou en woel, want een van die dae is hy my groot witbroodjie brak!