Lekkervurige kaggelstories 1

Liewe Seegogga jy het gevra – nou vertel ek maar:

As enige persoon my aan die einde van 2011, my annus horribilis, sou vertel het dat ek vandag die lekker kaggeltannie van Poloniekwane en Limpopo sou wees, dan het ek  soos ‘n hiëna, my uitasem gelag.

Vroeg in  2012 kom Rots van Limpopo se wilde weste, daar naby die Botswana grens waar hy kunsmis smous, terug en vertel my ons gaan kaggels en braais verkoop. Ek is die duiwel in, want hoe kan hy sommer net so iets by ‘n braaivleisvuur aanvang sonder om met my te konsulteer en te praat? Hoe kan hy nou onse oudaggeld sommer so in 3mm staal omsit! Die aankoop van die kaggel- en braai agentskap het oorname van ‘n vrag voorraad behels.

Jinne, ek het my lewe deur vir ‘n baas en  ‘n begrotingsteiken gewerk. Rots wou aanvanklik dat ons  saam met die vorige eienaar in vennootskap gaan, maar die sou nie deug nie. Voor ek my oë uitvee is ons (lees ek) alleeneienaars. Jinne ek lees en leer soos blits van skoorstene, aspanne, dempers, weerhane, die wat draai en die wat vas is. Ek leer van venturi-plate en staaldikte en gasregulasies.

Ek gil en veg en baklei met verskaffers en ek byt op my tande wanneer kontrakteurs en veral Ingelse-, Indiër-, ryk geërfde Nasionalistiese Afrikanermans en nuwe tenderpreneurs die winkel instap en my soos Koekie Hol, die adminmeisie behandel. Kan nou nog nie glo hoe beterweterig mans kan raak as ‘n vrou bekwaam en geletterd oor braais en kaggels kan  raad gee nie.

Gelukkig het ek hier en daar my strepies verdien met weldeurdagte advies, goeie berekenings en die regte eenheid vir die regte redes. Die arrogantes het gelukkig verdwyn of hulle houding verander en ons reputasie vir uithaler diens, hulpvaardigheid, kundigheid,  en veral nasorg, het soos ‘n lekker vuurtjie versprei.

Ondersteuners en beïndruktes in die boubedryf, ‘n handvol argitekte wie nie hulle boumeesterskap as alfa en omega beskou nie en vele tevrede kliënte se aanbeveling hou nou al vir  amper sewe jaar die deure oop.

Die besluit om meer as een verskaffer se produkte te bemark, was een van die beste besluite ooit.  Dit bring stadsgoete hier na ons geweste, en is die moeite werd. Om te sien hoe verbaas iemand is om mooi en kwaliteit in die nywerheidsgebied van Poloniekwane te kry, en hulle hoef nie Gauteng toe te voeter om iets wat nuut en modern is, vir hulle droomhuis  aan te koop nie.

.Die foto’s hierbo is van my gunsteling kaggels: Die Nero Frame en die vrystaande Umlilo biobrandstofkaggels van Signi Fires, die Bogenan Gogh Slow Combustion dubbelkantige ingeboude kaggel van Heatwave en die lieflike Mary met rooi keramiek teëls van Palazzetti in Italië, en ook die betroubare BOgen Goya met roesrooi getooi van Heatwave se Bogen reeks.

Ek het onlangs my hysbak-toespraak verkort:  Ons maak dit ons besigheid om jou die regte vuur te help aansteek- We make it our business to help you light the right fire

Annerdag vertel ek van noodoproepe en mense wat nie die gebruikersgids en instruksies lees nie….

As jy wil weet hoe om die regte kaggel te kies – my heel eerste blog was daaroor:

https://lekkervurigeaffere.blog/2015/10/30/hoe-kies-ek-die-regte-kaggel-2/

Grom, al wil jy brul

36882346_2232934596739974_7257631892785070080_n

Nee kyk, my bid en geduld word beproef. Ek werk so hard om my bekkie mooi rooibostee geverf toe te hou, maar fokkit tog! Ek wil nie onderlangs grom nie, ek wil brul!

Dit begin gister. ‘n Asseblief-ek-is-in-nood-oproep. Die vreeslikste storie van kinders en opleiding en unforms en werk wat gaan verloor word. Ek ruik vis, maar vra so ewe vir al die papierwerk, dat ek die situasie kan takseer. Die ondersoekende joernalis in my slaap nooit regtig nie. Of miskien is dit dat te veel mense my al soos ‘n toffie gekou het, en dat ek moeg vir natlekspoeg is…

Ek bel die potensiële werkgewer anoniem, en warimpel, die vreeslike storie aan my opgedis, is net dit, ‘n storie. My bloed borrel so effens – ek is nog te lamboudia na die varkgriep om in volbloed woede uit te tier. Ek bel die pleiter terug.  My leeuin stert swiep so heen en weer terwyl ek met afgemete woorde laat weet ek kan ongelukkig nie R10 000 uitleen nie. Vir niemand nie. Punt.

Vroegoggend kry ek ‘n oproep van ‘n persoon wat met ‘n moeilike installasie sukkel, kan ek help raad gee. Natuurlik, ek gee nie om om my kennis te deel nie, ek gee nie om dat jy werk wat ons toe oë kan doen, self mee sukkel nie. Kom gerus en kry gratis les. Dis tog net my tyd, en my winkel het nie inkmoste nodig nie.

Die persoon arriveer ‘n ruk later. Ek maak die deur oop, en wragtig, sy selfoon lui. Ek moet vir tien minute aanhoor hoe vies hy vir so en so se @@(#(A$(%+% en @@##&&$&$&$***)$$# is. Ek stap kantoor toe, want my bloed borrel weer. Hy kom soek  my na sy gesprek klaar is.

Man, ek het net daar vir hom vertel hoe ongeskik hy is om my om hulp te vra en dan my tyd ook nog te kom mors. Nodeloos om te sê, my kind kruip agter ‘n deur weg, my personeel verdwyn om hoeke en die man staan bloedrooi van skaamte en gaap soos ‘n barber uit die modder. Die askies tuimel uit sy droë mond

Ek aanvaar sy verskoning, gee raad, en toe hy uitstap groet ek so vriendelik soos altyd. “Jammer Tannie” was toe genoeg om my stert se swiep tot bedaring te bring.

Sal maar sien wat die res van die dag inhou.

 

 

Tot wedersiens Trix

trix kotze

“Trixie is gisteroggend dood,” My oud-kollega Lynne se oproep ruk jare se onthou oop.

My hart pyn, dis nie net sommer iemand wat ons vooruit is nie. Dit is ‘n aardse engel, ‘n verpleegster in murg en been, ‘n gelowige mens, onse Trix.

Ons paaie kruis in die middel 1990’s, toe die hospitium wat ek vir Kansa bestuur het, nie permanente personeel kon beskostig nie, en ons met ‘n oorlewingsplan om ‘n span ad hoc verpleegsters op die dienssrooster te plaas. ‘n Klomp formidabele pas-afgetrede verpleegsters het hulle by ons liefdestaak kom aansluit.

Onder hulle: Suster Trix Kotze.  Nie ‘n haar uit sy plek, silwergrys en statig stileer en die mond altyd ‘n sagte pienk gekleur en kyk, daardie epoulette op haar skouers het jy respek voor gehad. Haar kollegas, Srs Anntejie Nel, Yvonne Terreblanche, Peet Minnaar het saam met Trix gesorg dat die hospitium soos ‘n goed geoliede masjien loop. En die dissipline ten spyt, is  liefde en meeleweing en emaptie vir kankerpasiënte en hulle families in oordosis uitgedeel.

Nooit  was ek as bestuurder ooit bekommerd oor die Departement van Gesondheid se jaarlikse inspeksie vir ons privaathospitaallisensie nie. Met Trix en span aan roer van sake is hospitaal administrasie en daaglikse take van die hoogstaande gehalte uitgevoer.

Trix het alles voluit gedoen. Van verpleeg, tot ma- en oumawees vir haar kroos. Ek onthou hoe liefdevol sy haar eggenoot Boet destyds deur die trauma van diabetes en amputasie onderskraag het.

My werk om die rande te laat klop om ons projek staande te laat bly, was nie moeilik nie. Dit was danksy Trix en die uithaler verpleegsters maklik om vir mense te kon vertel, nee ek kon dit met openheid bely, dat daar by onse hospitium, alle mense saak maak tot hulle heel laaste asemteug.

Om daagliks asseblief en dankie te se as professionele bedelaar was ‘n plesier. Ek het dit vir aardse engele gedoen. Saam het ons vir honderde kankerpasiënte en hulle families dit moontlik gemaak om laaste dae met waardigheid en omgewe van opregte omgee, saam te spandeer.

Dis lank gelede en jare later, maar die tye saam met hierdie spesiale vrou en haar kollegas sal altyd my beste jare bly. Ons was vreesloos, begeesterd en geseën om saam by die trappies na die Hemel te werk.  Ons het ook soms verskil, maar altyd was ons groter doel die wenner bo ons eie egos!

Trix, ek weet ‘n engelskare het gejuig toe ons Jesus Sy arms vir jou oopgegooi het om jou styf teen Sy hart te druk. Jy was Sy hande en hart hier tussen ons. Tot wedersiens.

Hemelse drukkies en ‘n mandjie

20180516_081413Die atmosfeer in my feëverhaal is ietwat bewolk en mistig sedert gisteroggend. Soveel so, dat Rots en Bab en ek so bietjie stywenekkie met mekaar is. Tot die honde grom vir mekaar.

Ja, die dinges spat en breek soms in sprokiesland los, glo my. Dis maar net ‘n adres van gewone mense hier op die ondermaanse en net die stukkie van die spieël wat dikwels gewys word.

Ek is besonder sensitief omdat ek nie kan glo dat die geliefde vrou van Sondag wat troetelbederf pedi en voetgemaseer die naweek in is en sulke wollerige pantoffels vir ma-dag uit haar pakkie gehaal het, Dinsdag die drol in die paleis se drinkwater is nie. Maar nou ja, ons bly nie in die hemel nie, ons reis soontoe.

Met ‘n nerfdungeit nog in die lug, na daar weer onder gebed ons swak voorbeeld, sonder bespreking van wat die swak voorbeeld veroorsaak het, vergifnis voor gevra is, begin hierdie Woensdag. Ek kan nie. Vergewe my. Wat ek die graagste sal wil hê is dat ons uitpraat sodat ons nooit weer hierdie “underlying issue” hoef te sorteer nie. So die rit per Legend om ekonomie te gaan pleeg is maar stil.

So kom ons by die Lekkerwinkel aan, ek druk die paniekknoppie in plaas van die alarm. Ons is skaars oop, of die eerste vrag kunsmis word gelewer, daar is vragte te laai, kaggels om te gaan herstel (onthou laat ek eendag vir julle wys hoe om nie met ‘n kaggel te werk nie). Dis bedrywig.

Op die kamera-monitor sien ek vir Regina, ons straatkioskvrou van oorkant die pad, by die hek. Vetkoek-Regina wat haar Checkerstrollie, met haar potte en panne en gasbottel en skottels en meel, by ons bêre en water by ons tap. Regina wat die ontvanger is van al ons “ek-is-klaar-met-die” klere en skoene kry. Wat vir die eerste keer ‘n bra dra, omdat sy kom vra het. Sy het ‘n plastieksak in haar hand.

Die telefoon lui, en ek gaan met my werk aan. Regina oombliklik uit my kop. My ander kind, Bessie wat vir ons kantoor skoonhou en sorg dat ek nie mal word van koffiekoppies in kantore en leë toiletrolle in die badkamers nie, kom sê om die kantoordeur se hoek, iemand wil my sien.

Ek kyk op. Regina, met haar blink gesig, met rook van vanoggend se opstaanvuur soos parfuum wat kleef, staan met die einste plastieksak voor my.

“Happy mother’s day,” en haal die handgemaakte mandjie uit die sak.  Ek gaan aan die snik, en sy kom gee my die grootste liefhê druk. Ek sit in trane lank na sy weg is, sit en kyk hoe sy die trollie hek uit, oor die pad stoot om in die koue onder haar handgemaakte kiosk loop vetkoek bak om te sorg vir kos op haar tafel.

20180516_081407

Bessie kom kantoor in. “Jy is mooi, moenie huil nie,” en sy hou my styf vas. Jinne, kyk net hoe word ek met liefhê omvou.

My selfoon biep, ‘n Whatsapp bid-vriendin stuur ‘n video. Luister gerus. Hy is onderaan die inskrywing.

My bekaf Rots kom in en sien die mandjie. “‘n Moedersdag persent,” sê ek. Hy kyk my so skuins aan en buk af en gee my die drukkie wat ek al gisteroggend wou gehad het.

‘n Aangetroude tante met wie ek nie baie kontak het nie, maar van die min mense is wat my kleintyd saam met my beleef het, en weet dat my bynaam Rina is, stuur ‘n omgee SMS.

Soos Amore van Tjailatyd so gereeld sê: “Toe-val-Lig.”

Die son breek deur die mis wat Poloniekwane en my hart omweef het.

Die warmte klop kleinbekeer hier in my binneste. Ons Here se liefde leef in en deur mense. Dis daar, en al sien mense om jou nie al jou seer en versugtinge raak nie, Hy hoor die onhoorbare en sien die onsienbare. Sy liefde ken geen perke nie.

Here, dankie, dat U liefde in Regina en my heen en weer vloei. Dankie dat U liefde tussen my en Bessie vloei. Dankie dat hulle my ma noem. En dankie dat U liefde vir Rots en Bab en my ook ewig hou, selfs wanneeer ons nie baie van mekaar hou nie.  Dankie dat U my kom wys ons dun jammer-vir-myselfgeite moet wyk, daar is net tyd en plek vir oopbek-en loshande liefde.  Dankie vir whatsapp en smse waar ek besef, dis U, dis U!

My Bybelvers van die dag het nou net op die selfoon arriveer:

15“En dan die saad wat in die goeie grond geval het … Dit is daardie mense wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur geraak is. Hulle begin dadelik leef soos God dit wil hê. In alles wat hulle sê of doen, borrel hulle geloof eenvoudig uit. Hulle geloof lewer van dan af heeltyd vrugte op.”

As-jy lesse op ‘n Maandag

 

14433174_10154541449277905_8192391096028952651_n

Dit was een van daardie chaotiese dae, nee wag , dis Maandag van ‘n vol week.  Blogger Una het haar dag gekanselleer. Ek kon nie. Tussen die hoelaboela en wikkel kom die vier interessante goete hieronder so oor my rekenaarskerm aangesweef.

Nogal motiverend. Ek laaik. En toe dink ek “there, but for the grace of God, go I.”  Nie meer nie, beslis nie meer nie.

Die foto hierbo is myne – my pols met die komma-punt, omdat my lewe vol tweede kanse uit genade is. Goed het gebeur, maar my nie uitgewis of tot stilstand soos ‘n punt gebring nie. Nee, meer dikwels laat asemhaal, soos ‘n kommapunt, want nog meer volg.

Die woorde:”Chariti de theo eimi ho eimi – by the undeserving grace of God, I am what I am.”  – Paulus se wyse woorde. (Oor die armband sal ek annerdag vertel)

Kyk nou die lesse oor die eter gekomen:

  1. As jy weer dink jy het ‘n gemors van jou lewe gemaak….

31948089_10160159242400447_8264073460452425728_n

2. As jy dink jou lewensstorie in nikswerd….

wp-1525623035408461099103.jpg

3. As jy wil inpas/aanpas/skik/minder outentiek as jouself probeer wees…..

31947668_10156258512207567_8572152035825156096_o

4. As jy onpas/uitpas/mispas voel….

31960708_1727353524013396_3896718115630743552_n

 

 

Abigail

Haar naam is Abigail. Sy stap by die Lekkerwinkel in, met die mooiste tafeldoeke, lopers en skinkbordlappe. Alles self gemaak en ontwerp. Ek koop ‘n allermooie ronde tafeldoek.

Sy val in trane op die grond neer. Ek help haar op. “No, you are an artist,” sê ek vir haar.

“No madam, I do this because of scarcity. To keep living,” kom die stil antwoord.

My hart is stukkend, al  lyk my eetkamertafel nou grênd. Ek bid en rasieleier nou vir Abigail.

Here, daar is soveel swaar, maak ons engele vir mekaar.

CollageMaker_20180312_144202229.jpg

Waarna jy soek, soek ook na jou…

24785401_1710051799026913_2165353082811654114_o Ek is gistermiddag vodde gewerk, en blaai blaaskanstyd sommer so deur die Vuisboek. Boem! Tref die Hanli Kotze skepping my! Sy het die mooi net twee minute vantevore gepos op haar muur met ‘n te koop boodskap. Ek het nog nooit so vinnig geskarrel om iemand te bel nie!

Ek het haar mooi kuns en woorde in LÉÉF tydskrif leer ken. Toe op ‘n dag bt my gunsteling gallery vier afdrukke gekoop en laat raam.  Jare gelede in Potgietersrus, het ek  in ‘n oudhede/kunswinkel ingestap  en daar tref ek “Jan en die boontjierank” aan. Hy hang in my gang, daar waar ons baie verbyloop en inloop, en hy praat en gee jou drukkies en herinner ons ewige huis is nie hierop die ondermaanse nie.

Vier afdrukke met die mooiste mooi woordwonders soos net Hanli kan, stil my verlange na my geliefde Camdeboo en Great Expectations huis so ver daar in Graaff-Reinet.  Die een skildery se woorde: Ons huisie wag oopmond….. ag, ek pak sommer.

En so neffens die ablusie/dinkplek/troon, bokant die mooi groen Ouma emmer en koos, hang vier plekmatjies met Hanli-woordkuns.

My liefde het na baie

draaie op die highway beland

Jy bou vir my ‘n baksteenhuis

na my verre reis

voel ek tuis”

en

“Jy bring vlerke vir my woorde

‘n oseaan om in te vlieg

En ek reis

      ek reis

na ‘n plek met space

Ek het toe ek Soek-soek opraap, die geleentheid om met haar te gesels oor wat my so ontroer dat ek die skildery wil koop. Lekker dat sy wil weet.

Dit is my kinderlike oortuiging dat vir ons, elke-haar-getelde lieflinge, is daar met Sy wonderbare hand ragfyn bedraad al die boeke en kuns en mense wat inspireer en wanneer die tyd reg is, jou pad kruis . Daai heilige toeval, daai onverwagse geluk, ‘serendipity’ soos die Ingelse sê. Daardie oomblikke is dikwels klein bekeer momente, soos Izak de Villiers een Pinkster in Polokwane vir ons geleer het.

Gister het God vir Hanli en my weer laat paaie kruis. Sy pas Soek-soek klaar geskilder en ek diep onder die indruk van genade wat ek weer die week ervaar het.

Terwyl ons so oor die telefoon gesels, voel dit asof Hy sommer so ons hare deurmekaar vryf en sê: “A, my kinders, dis hoe julle saam moet loop en My eer.”

Met lekker warm harte het ons mekaar gegroet. Soek-soek kom Maandag by my bly. Ek het klaar hangplek in my kantoor sodat ek deur my werkdag sal kan opkyk en onthou van stormsee en engele en genadevissies en heilige toeval.

Wit truie en asemhaal

sngrywoman

Vanoggend se dagoordenking laat ons lees uit Psalm 63, en Stephan Joubert vertel dat ons daarteen moet waak om nie ons Springbokkleure in kerm en kla te verwerf en die ou truitjie tot skifsels dra nie. Te lekker blindesambok die woorde vir ons.

Ons hoort aan ‘n wenspan beduie die wyse man.  Ons hempies sneeuwit van vergifnis en ewige liefde. Whoohoo, kleinbekeer my hart warm. Ons pak heel vrolik die pad dorp toe om ons deel vir die zupta-ekonomie en SARS te pleeg. Entrepreneurskap is rerig nie meer grappies nie.

As jy die nou pad kies, dan knyp die kontantbetalers (lees: kom ons vergeet van BTW) en afslagsoekers gedurig aan jou siel. Vergeet goeie diens, etiek, morele waardes. Nee, almal mag eise stel, net nie jy nie. Dit tel niks dat jou besigheid aan sewe arm gesinne ‘n heenkome bied en kos op hulle tafels hou nie. Geen afslag of krediet vir jou nie ou katta, betaal, betaal… Oeps, daar is die Spingboktrui in kla amper oor my kop.

Man, ek het nog nie eens koffie gemaak nie, toe storm hier ‘n kliënt in wat vier maande gelede vir ‘n braai betaal het. Rots onthou nie dadelik hoe ons reëlings met lewering  werk nie, en ons vra dat die man net vir ons kans gee om die faktuur en so op te soek, ons sal bel om verder te reël.

Flippit, sê nou daar is by die verkeerde adres afgelaai, pieker ek by myself.  Ek soek vervaard deur dokumente en verlig kom ons agter hulle wou eers klaar bou voor die braai installeer word. Ek wil nog na die telefoon reik toe die deurklokkie lui. Die braai ou se vrou storm in.

“Ek vat julle polisie toe!”

Die woede en onredelikheid voes die vrou se perfek gegrimeerde gesig op. Daar is niks mooi hier nie.

Ons sneeuwit truie rafel so om ons lywe uit, dit kos wange byt om om nie daai Springboktrui oor die kop te trek en ook vuil te speel nie. Ek bid vir krag en kalmte terwyl die woede woorde oor ons spoel en deur die winkel skal.

Nooit in my lewe gedink dat ek vir ‘n kos-op-my-bord sal skreeu: “Hou nou dadelik op – haal asem!”

Klaarblyklik is Mevrou nie gewoond dat iemand haar vasvat nie. Sy hap soos ‘n vissie uit die dam. Haar woorde droog op. Of so dink ek. Met die volgende asemteug trek sy weer los.

“Hou op! Haal wragtag nou asem!”

Ek praat mooi en ferm. Eindelik kom ons besoeker tot bedaring en ons kan verduidelik. Ons skud blad en sy storm weer by die deur uit. Die motorbande sal vervang moet word.

Ek sit en skrywe die oggend uit my uit en is dankbaar dat my woedejare verby is. Hierdie tierwyfie se naels is stomper, die helleveeg se rooi kapsel is met grys getemper. Moet net nie met my Rots en Bab sukkel nie, dan kan ek lekker vurig vies word.

Dankie Vader vir meer behoefte aan die wit trui wat vir altyd gedra kan word. Dankie, dankie. Ag siestog, laat die kwaai vrou nie te veel hardepad moet loop om vrede met haarself te vind nie. Sela.