Sosiale kommentaar of misdaadgeleentheid

“Was jy daar toe mense in Menlyn asof van nêrens, oral om die roltrappe en mezzanine ‘n Meksikaanse golf uitgevoer het en die sentrum byna tot stilstand gebring het? Hulle is so vinnig uiteen!”

Susan Brits, eienaar van Susie Boetiek, was ooggetuie van die eerste blitsskare in Suid-Afrika  op 16 Junie 2007 in die Menlyn winkelsentrum, Pretoria.

Eenhonderd mense het vyf minute lank vir geen ooglopende rede ‘n Meksikaanse golf uitgevoer en daarna uitmekaargegaan.

“ Flash mob” – blitsskare, flitsskare, kitsskare, skielike skare, blitsbende

Wikipedia beskryf ‘n kitsskare as ‘n groep wat volgens instruksies op ‘n gegewe tyd in ‘n publieke ruimte bymekaarkom, iets ongewoon doen vir ‘n kort tydsbestek en dan weer vinnig uitmekaargaan. Hulle word gewoonlik georganiseer met die hulp van die Internet of ander digitale kommunikasie instrumente (soos selfone) of netwerke. Die mense wat aan sodanige aksie deelneem is gewoonlik nie persoonlik aan mekaar bekend nie.”

Wasik_Crowd liefdesmat

Bill Wasik (in die verligte kol) staan met lede van die eerste kitsskare om die “liefdesmat”

Vroeg in 2003 het ‘n groep mense in New York  e-posse ontvang van  themobproject@yahoo.com en is genooi om byeen te kom om aan ‘n lukrake aksie deel te neem met die uitsluitlike doel om mense te verwar.

Bill Wasik, senior redakteur van Harper’s Magazine het dit beplan. Dié poging was egter onsuksesvol. Die winkel wat geteiken sou word, is vooraf ingelig en sekuriteit- en polisiebeamptes het die winkel met valkoë bewaak.

Die eerste suksesvolle blitsskare is eers op 17 Junie 2003 by ‘n Macy’s afdelingswinkel in New York byeengebring. Met lesse geleer na die mislukte poging is deelnemers eers na vier kroeë gestuur en vandaar het deelnemers finale aanwysings, en ook waar hulle sou toeslaan, ontvang.

hyatt

 Skematiese voorstelling – Hyatt kitsskare

Meer as eenhonderd mense het rondom ‘n mat op die negende vloer van die afdelingswinkel saamgedrom. Die kitsskare is aangesê om op navraag te sê dat hulle saamwoon en op soek is na ‘n “liefdesmat” (“love rug“) en dat alle aankoopbesluite gesamentlik geneem word. Lewendige besprekings het vir tien minute plaasgevind en die groep het daarna uiteengegaan.

‘n Ander kitsskare, ook deur Wasik georkestreer,  was ‘n groep mense wat  in die voorportaal  en mezzanine van die Hyatt hotel vir 15 sekondes hande geklap het.  Hierdie aksie het negatiewe gevolge gehad. Kort na die kitsskare uiteen is, het die gereg met loeiende sirenes opgedaag. Hotelgaste het die starende spul mense as bedreigend beskou.

Wasik vertel in ‘n artikel dat die blitsskare konsep wys mense is op soek na die volgende “next big thing.” Hulle sal by byeenkomste en funksies opdaag, maar nie noodwendig in die rede vir die byeenkoms belangstel nie. Hulle wil deel van die toneel wees. Hy het bevind dat die begeerte om nie uitgesluit te voel nie mense motiveer.

Soos met byna alles in die lewe, is die donker sy van ‘n oënskynlik onskadelike, spontane aksie gou ontbloot.  Kitsskares met een doel voor oë het gou kop uitgesteek: kitsrowe (flash robs). Tydens ‘n kitsroof sak ‘n groot groep jongmense saam op ‘n winkel toe, dwaal rond en sal dan eensklaps voor die voet goedere neem en uit die besigheid stap, sonder om te betaal.

Die eerste kitsrowe is  in April 2009 aangemeld toe twintig mense ‘n boetiek in Dupont Circle in Washington DC binnegestroom het en binne sekondes daar uit is met $20 000 se voorraad.

Na 40 tieners onlangs ‘n winkel geteiken het, het die polisie daarin geslaag om 15 vas te trek. Tydens  ondervraging het een van hulle  vertel dat  dit vroeër via ‘n sosiale netwerk beplan en koördineer is. Die winkeleienaar vertel: “Daai dekselse kinders het my vir ‘n kitsroof geteiken en $10 00 se voorraad in 60 sekondes gesteel. Daar was niks wat ek kon doen nie.”

Die Amerikaanse Kleinhandel Federasie berig dat 10 % van besighede bevestig dat hulle slagoffers van kitsskarerooftogte was.

Bill Wasik, kitsskares se vader, reken dat kitsrowe soos ‘n meme is wat die kinders navolg.(‘n Meme is `n verskynsel versprei deur  middel van die Internet in die vorm van `n prentjie, video, hutsteken  of `n eenvoudige woord of frase.)

“Dit is vir my moeilik om te glo dat kinders ‘n kitsskare se kersliedjieuitvoering op YouTube sien en besluit: ‘Haai, ons moet dit doen, maar eerder mense beroof pleks van sing!’ Moontlik het hulle soos ek in 2003 toevallig daarop afgekom en besef dat tegnologie mense kan koördineer om op dieselfde plek en tyd byeen te bring,” het hy in ‘n onderhoud gesê.

Kitsroofbendes steel minder waardevolle items en gebruik nie geweld nie. Hulle hoor daarvan by vriende, of sien dit op YouTube en kry dan die geleentheid om self deel te neem, sonder om aan enige gevolge te dink.

Die netwerkkrag van die Internet word so op sy mees negatiewe aangewend. Susan Brits sal nie glimlag as haar boetiek deur ‘n kitsroofskare getakel word nie.