Skryf safari: Kom ons speel…

20170428_200313Abrie vra in vandeesweek se skryf safari uitdaging of daar nog bordspeletjies gespeel word en dat ons vertel van speletjies wat ons speel of gespeel het.

Rots en ekke is al jare in ‘n woordestryd betrokke. Nee, man, nie rusiemaaksoort nie. ‘n Scrabbletoernooi wat al oor ‘n dekade strek. Ons speel ten minste twee keer per maand. Meestal op ‘n Vrydag- of Saterdagaand.  Beste uit drie, by die braaivleisvuur met ‘n lekker koue wyntjie in ‘n skottel en die HAT byderhand – net ingeval iemand ‘n nuwe woord probeer skep.  Dit gebeur soms.

Ook geliefd is Thirty Seconds,  Trivial Pursuit en Rummikub.

monopoly

My Bab is lief vir Monopoly speel – sy en vriende hou Monopoly-aande of ander speletjies-aande en kuier so saam.My een swaer het met sy super-Monopoly streke het my totentaal van die spel afgesit. Dit was beter om toeskouer te wees as hy saamspeel. Die blerrie dobbelsteentjies val ook permanent in sy guns! Pfft!

vingerbakatel

Vingerbakatel of vingerbord – was as kind groot pret saam met niggies en nefies en ooms en tantes as ons by Oupa en Ouma gaan kuier het.  Slanngetjies en leertjies en “Pick-up-Sticks is uit die speletjie-compendium houer opgediep. Soms het kullery oorloë tot gevolg gehad en die uitende siepsom-braaiboud en stil sit in hoekies.

My pa, soos ek met die pasafgelope kinder-onthou uitdaging vertel het, was lief om skaak te speel.  Hy het met groot geduld vir my geleer. Ek het nie briljant leer speel nie, maar kan ‘n goeie skuif of twee maak. Jare laas gespeel. Die samesyn, lag en geskerts om so bordspeletjie is sekerlik die grootste aantrekking.

 

cluedo

Ons het ook baie Cluedo gespeel. “It was Colonel Mustard in the Library with a knife” – hehe. As die kinders in die familie bymekaarkom, kan jy ook weet die Uno kaarte sal iewers opduik. Dis ‘n gekwetter en gejil van formaat as daar gespeel word.

 

yunomi

‘n Speletjie wat ons graag saam met vriendinne en niggies speel is Yunomi. Dis vet pret. Spelers kry kans om op lukrake vrae te antwoord oor ‘n mede-speler. Mens is verbaas oor wat ‘n mens weet en nie weet van dierbares! Uiteraard is daar ook dan verkskeie gesprekke wat uit die nuutgevonde kennis ontstaan, en ek kan vertel dat ‘n Yunomi-rondte ure kan neem!

Ai, hoe besef ek skielik dat soveel speletjies oor die jare die gouedraad is waaraan kosbare saamwees en onthou soos juwele skitter.

_________________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

 

 

Tot wedersiens Trix

trix kotze

“Trixie is gisteroggend dood,” My oud-kollega Lynne se oproep ruk jare se onthou oop.

My hart pyn, dis nie net sommer iemand wat ons vooruit is nie. Dit is ‘n aardse engel, ‘n verpleegster in murg en been, ‘n gelowige mens, onse Trix.

Ons paaie kruis in die middel 1990’s, toe die hospitium wat ek vir Kansa bestuur het, nie permanente personeel kon beskostig nie, en ons met ‘n oorlewingsplan om ‘n span ad hoc verpleegsters op die dienssrooster te plaas. ‘n Klomp formidabele pas-afgetrede verpleegsters het hulle by ons liefdestaak kom aansluit.

Onder hulle: Suster Trix Kotze.  Nie ‘n haar uit sy plek, silwergrys en statig stileer en die mond altyd ‘n sagte pienk gekleur en kyk, daardie epoulette op haar skouers het jy respek voor gehad. Haar kollegas, Srs Anntejie Nel, Yvonne Terreblanche, Peet Minnaar het saam met Trix gesorg dat die hospitium soos ‘n goed geoliede masjien loop. En die dissipline ten spyt, is  liefde en meeleweing en emaptie vir kankerpasiënte en hulle families in oordosis uitgedeel.

Nooit  was ek as bestuurder ooit bekommerd oor die Departement van Gesondheid se jaarlikse inspeksie vir ons privaathospitaallisensie nie. Met Trix en span aan roer van sake is hospitaal administrasie en daaglikse take van die hoogstaande gehalte uitgevoer.

Trix het alles voluit gedoen. Van verpleeg, tot ma- en oumawees vir haar kroos. Ek onthou hoe liefdevol sy haar eggenoot Boet destyds deur die trauma van diabetes en amputasie onderskraag het.

My werk om die rande te laat klop om ons projek staande te laat bly, was nie moeilik nie. Dit was danksy Trix en die uithaler verpleegsters maklik om vir mense te kon vertel, nee ek kon dit met openheid bely, dat daar by onse hospitium, alle mense saak maak tot hulle heel laaste asemteug.

Om daagliks asseblief en dankie te se as professionele bedelaar was ‘n plesier. Ek het dit vir aardse engele gedoen. Saam het ons vir honderde kankerpasiënte en hulle families dit moontlik gemaak om laaste dae met waardigheid en omgewe van opregte omgee, saam te spandeer.

Dis lank gelede en jare later, maar die tye saam met hierdie spesiale vrou en haar kollegas sal altyd my beste jare bly. Ons was vreesloos, begeesterd en geseën om saam by die trappies na die Hemel te werk.  Ons het ook soms verskil, maar altyd was ons groter doel die wenner bo ons eie egos!

Trix, ek weet ‘n engelskare het gejuig toe ons Jesus Sy arms vir jou oopgegooi het om jou styf teen Sy hart te druk. Jy was Sy hande en hart hier tussen ons. Tot wedersiens.

Besnor om ‘n verskil te maak.

IMG-20180505-WA0047.jpg

Wiele 500, Grincourt, The Grind, Koffie Zero, Men-o-pause Mafia, Meelbestrooide Sjefs, Romeine in togas, Martelize Brink, Jak de Priester en sy hoenderboer klavier- begeleier, ‘n horde elegant geklede vroue, gegeurde jenewer, lekker kos en heerlike roomys.

Hiedie ry woorde met ek snoer om te vertel van ‘n heerlike herfsoggend ‘n baie goeie saak terwille. Die Wiele 500 projek het gister hulle sesde Dames Tee by Grincourt, buite Polokwane aangebied.

Onder ‘n Reuse markiestent se dak, tussen bosvelddoringbone op ‘n grastapyt het hordes vriendinne om keurig gedekte tafels saamgetrek. Soos alle ander jare is daar ‘n tema. Vanjaar Suurlemoene en Olywe, eg Italiaans.

Die spyskaart reflekteer die tema van geurige filet, slaai, tuisgebakte rolletjies, geurige hoender. Die dekor op elke tafel ‘n houtkratjie met suurlemoene, loof en Sally Williams Nougat. Want saam met die lewe se suur, ook iets soet. Rina en Andre van Grincourt en hulle span, is ‘n skat hier in ons Polokwane. Lieflike plek, oulike mense wat hulle passie uitleef en hulle liefhê wys in elke detail.

Die sameroeper Michelle Engelbrecht,vertel dat mense graag sê:”If life hands you lemons, make lemonade.” Sy reken dat die mense wat baat by die Wiele 500, die wat deur siekte of ongeluk verlam gelaat is, haar anders geleer het:”If life hands you lemons, throw it back and say: ” I don’t want this, and if I find the manager, I”ll burn his house down.” Ons gee luide applous.

Die lieflike, talentvolle Martelize Brink – joernalis, radio omroeper, sjef en resepteboekskrywer, en Mathys Roets, supersanger, is van die gesigte van Wiele 500. Hulle maak seker rolstoelgebonde mense van alle ouderdomme ‘n stoel na behoefte ontvang. Gister is ‘n jong man toegerus met ‘n wedloopfiets.

Ek sit met ‘n knop in my keel toe Martelize sê dat ons so maklik kla. Sy haat haar sterk bo arms. Die jong vrou wat as kind net een oggend wakker geword het en nooit weer kon loop nie. Ek bly oortuig dat hierdie mense, groter lewe as ons wat regop rondloop. Volronde groot lewens.

Dis hoekom ek hierdie projek saam met vriendinne ondersteun. Elke jaar. Die projek bied ons geleentheid om ‘n oggend saam met die mense wat baat by die projek te spandeer. Ons sien en beleef wat ons skenking en etekaartjie vermag. Ons word bedank en kan elke keer verryk en dankbaar daar weggaan.

Maar ons gaan traag weg, want dis lekker onder daardie markiestent. Martelize leer ons pasta maak, ons drink Turkish Delight jenewer, lag vir mekaar se kostuums, sing saam net Jak de Priester en sy hoenderboer klavierspeler.

Kyk hier:

https://mobile.twitter.com/MartelizeBrink/status/992775304740470786

Wat sal ‘n mens sê van hom. ‘n Talentvolle sanger en woordkunstenaar. Ons jil vir Sally Williams, hy lag en vermaak ons met Reenboog oor Suid-Afrika, en ‘n lied wat menige pa vir sy dogter se vryer sal wil speel. ‘n Veelsydige, talentvolle, spontane mens

Ag, wat ‘n lieflike onthou was dit vir my en nege liefiemense. Ons bende was daar as die Men-O-Pause Mafia. Gestreep en met swart pette, rooi serpe, swart oë en bloedrooi lipstiek en snorre. Neffens ons tafel was die oggend se besgekleede tafel. Tien sjefs, met meelbestrooide gesigte en al. Bravo!

Daar is baie gelag, en geskerts, maar elke vrou het elke keer as ons met mekaar oogkontak gehad het, een groot porsie medemenslike omgee gestraal. Ons was hier saam om ‘n verskil te maak. Jy kon dit voel. Die liefde en omgee by elke tafel van tien.

NS. Het koffie zero by The Grinder bestel. Dis my weergawe van swart en bitter koffie. Die barista met sy lang hare en snor lag. “Dis nou oorspronklik.” So flirterig terg middeljarige ek: “Mens is nooit te oud om iets nuut te leer nie.” Klink amper hygromanerig. Ek wens so in my enigheid die Towerinne van blogland kon saam met my om die tafel kom sit. Miskien volgende keer.

Hou links verby

Ek lees flussies die volgende raak:”Min mense gee werklik om, die res is net agies.” Dis harde, waar woorde. Die geveinsde belangstelling as daar ‘n storie is, ken baie  van ons alte goed.

Egskeiding, dood, siekte, skade, affairs, geweld, ongelukke, jou lotto meevaller en veral Ta Rapie se erfgeld laat vergete mense blitsig jou nommer onthou en skielik weer in jou handel en wandel belangstel.  Langverlore kennise is skielik in kontak. Familie met wie jy ‘n eon gelede laas gesels het, onthou skielik hoe om jou in die hande te kry.

Ek het ook al  self aan eie bas ervaar hoe, as jy met ‘n projek of in ‘n beroep presteer, daar twee goed gebeur en agies van verskillende foramaat tree na vore.

  • Eerstens is daar mense wat soos ‘n mot na ‘n kers, jou naby wil wees. Jou sukses laat hulle goed voel. Jaag enigsins aan of tree uit die kollig, dan is die mense ook terug in die skadus. Weg. Jy dink jy kan op mense reken, dan staan jy maar bedremmeld eenkant op jou eie. Vra maar die beroemdes wat soos Icarus neergeslaan het…
  • Tweede ding wat gebeur is die besef dat hoë bome lekker koel wind kan vang. Dis lekker daar bo, maar ai toggie net jammer van die aanhoudende, brandende, louwarm gepie grondlangs. Rerig irriterend, daais wat net misgun, wat nie self die moed het om voor te loop en te lei nie. Hulle wat jou nie rerig eers ken nie, maar beter weet. Pffft.

In alle geval, mens word gelukkig met tyd wys en versigtig.  Die min mense wat werklik tel is immers kwaliteitmense en lief vir jou al weet hulle alles van jou. Vrinne en familie met wie jy soos ‘n klein Gideonsbende die lewe op die ondermaanse deurtrap.

Agies hou links verby.

Vir my handvol liefiemense – ek laaik julle kwaai, dankie. Julle is pasgemaak vir my.

27173975_1659769564045736_6310413155767720424_o

 

 

 

Storieklong antwoord al ons vrae

goodbye.gif
Ons moet nou maar aanvaar Storieklong se kop is nie mee te smokkel nie. Hier is sy antwoord op ons pleit/raas/vloermoer oor sy blog se verdwyning. Sela.
“Baie dankie vir die aanpraat, ek hoor daar was selfs sprake dat Tannie Una Bali ‘n blog petisie wou loods, maar ek sal nie Die man met die Hoed, Korrelkop Kahuna, Plaasjuppie en Storieklong wees indien ek nie ‘n verweer (lees teëpraat) loods nie.
Ek werk al van die huis af sedert 2001 en is al offisieël op my eie sedert Junie 2015. Sosiale media, waarby ek blogs insluit, is dikwels vir dae en selfs weke my enigste kontak met die buitewêreld en soos dit maar is met sosiale media is ‘n mens geneig om slegs jou goeie kant af te neem. DIe Storieklong van die blogs is ‘n nar, aweregs en spaar nie juis die heilige koeie nie. Die regte man met die hoed is pragmaties, ernstig, rigied, buierig en oor die algemeen ‘n kak mens.
Storieklong is nie my eerste blog nie, trouens het ek al telling verloor met al die blogs wat ek oor ‘n tien en ‘n half jaar gebou en uitgevee het. Meeste daarvan in ‘n vloermoer van selfbejammering, minderwaardigheid of sommer plein bedonnerdgeit. Storieklong mag bes moontlik my laaste blog wees, want hy is geskep met die uitsluitlike doel om ‘n vertoonkas te wees van my “greatest hits” versameling. Dit is gewoonlik ‘n teken dat ‘n “kunstenaar”, en ek gebruik die woord losweg, aan die einde van sy/haar loopbaan kom wanneer die “greatest hits” albums hulle verskyning begin maak. Die saadjie is eintlik met die skep van Storieklong al geplant, ek het slegs besluit om die proses wat nog ongeveer 3 maande sou duur, te bespoedig deur die laaste 67 storietjies alles in een slag te publiseer.
In die kunsmatige wêreld van Blog is jy slegs so goed soos jou laaste inskrywing, en vergete sodra jou laaste inskrywing onder van die leeslys/bladsy afskuif. Slegs die regtig goeie skrywers word aktief besoek en opgesoek, en ek tel myself nie onder daardie groepie nie, hoewel daar ‘n handvol van my stories is waarvan ek meer hou as die res. Toevallig is dit ook die stories wat die minste reaksie van ander bloggers gekry het.
Terug by die besluit om uit te tree as Afrikaanse Woordstoot se hoof Hofnar. In ‘n wêreld kronies kort aan tyd is die enigste manier om iets te wen dat jy iets anders moet prysgee. Selfs met verdere opleiding is dit heel onwaarskynlik dat ek myself sal vestig as bogemiddelde skrywer, en daarom wil ek meer van my aandag wy aan my funksionele kuns (lees waddehel is daai ding!?) sowel as die boek wat ek in my professionele kapasiteit wil/moet skryf omdat dié dinge meer in lyn met my persoonlikheid is, en die kanse vir sukses dus groter is. Hierdie besluit is nie soos die voriges in ‘n fit van selfbejammering of enige ander rede gemaak nie. Dit is ook teen die advies van die sielkundige wat my hand vashou in hierdie vreemde nuwe tyd, maar daar is ‘n brawe nuwe wêreld wat wag.
Indien iemand werklik my griffels sou wou bêre vir welke onverklaarbare rede ookal, sal ek dit met graagte in PDF formaat aanstuur. Dalk sal iemand gaaf genoeg wees om my toe te laat as gasskrywer indien ek wel iets skriftelik wou pleeg, maar tot dan: Onthou die Man met die Hoed sien alles, ook wanneer jy jouself nie soos ‘n gentleperson gedra nie.
Ek hoop dat hierdie saak nou as afgehandel beskou kan word. Ek hou nie daarvan dat soveel aandag op my gevestig is nie.
Mooi loop julle mal b(l)oggers”

Groet die Kersfees almal

 

gcx-africa-christmas-tree01

Hoe maak ons met soveel tale in #Lekker SA. Ons leer woord vir woord om in elf tale en vingertaal iets te sê.

So, in die gees van die tyd, kom ons leer twee frases: Seisoengroete en Geseënde Kersfees. Dan kan jy polities korrek of jouself wees. (Grappie)

--languages-south-africa

Watter is jou tale? Ons hier in die Limpopo moet ses van die elf onder die knie kry! (Ek het hulle in rooi gemerk)

English: Season’s Greetings     

IsiXhosa: Imibuliso Yelixesha Lonyaka

Afrikaans: Seisoengroete 

IsiNdebele: Izilokotho Ezihle Zamaholdeni

Sesotho: Ditakaletso tse Molemo

Northern Sotho: Ditumedišo tša Sehla sa Maikhutšo

Setswana: Ditumediso tsa setlha

Siswati: Tilokotfo letinhle kulesikhatsi semnyaka

Xitsonga: Mikateko ya Masiku yo Wisa                                

Tshivenda: Ni vhe na nwaha wavhu’di

 

Hier is Geseënde Kersfees:

English: Merry Christmas

Afrikaans: Gesëende Kersfees

IsiNdebele: Ukresimusi omnandi

Sesotho: Keresemese e monate

Northern Sotho: Mahlogonolo a Keresemose

Setswana: Masego a Keresemose

SiSwati: Khisimusi lomuhle

Xitsonga: A ku ve Khisimusi lerinene

Tshivenda: D’uvha la mabebo a Murena l’avhudi

IsiXhosa: Krisimesi emnandi

 

En hier is die vingertaal

sign language

Oor te veel koek en tinktuur…

Baldessari_Tincture2

In die land Misgund gaan dit maar rof. Almal sukkel om kop bo water te hou. Daar is maar soveel koek om te eet, en die bakker se standaarde het so gedaal dat die koek maar al hoe skrapser raak.

Daar bly ‘n gawe man in die land. Hy is so bietjie anders as die deursnit Misgunner. Hy glo dat as jy die hele koek vir jouself hou, gaan een van twee dinge gebeur:

  • Jy gaan te veel koek vreet en dan braak jy as gevolg van jou vraatsug
  • Die koek gaan sleg word omdat jy te lank neem om die koek op te eet

Die man, genaamd Mededeelsaam, het nie omgegee dat klomp Misgunners van die koek waarvan hy die meeste gehou het, ook wou eet nie. Elkeen sou darem nog ‘n billike snytjie eet.

Maar hy het hom misgis met die etos van Misgund. Iemand wil altyd meer as die ander ou hê, maak nie saak wat of wie in die slag bly nie. Maak nie saak dat Mededeelsaam met sy omgee hart menige Misgunner in nood bygestaan het nie. Dit beteken net mooi niks.

Die rasegte Misgunner kan net oor homself kommer. Die Midas apteek was permanent uitverkoop aan “Ek wil allles hê-tinktuur.” Die tinktuur het mense nogal grootkop gemaak. Prins Misgun die Derde was verslaaf hieraan. Hy het vinnig vergeet hoe Mededeelsaam sy snytjie koek met hom gedeel het toe die nood hoog was. Bogger gevolge, te duiwel met die hemp, baadjie, toekomsdrome wat hy  metterwyl ook Mededeelsaam ontneem, wil hy sommer toe op ‘n dag Mededeelsaam se stoel ook hê. **

Mededeelsaam se hart is gebreek, en hy het maar emigreer na binne. So eenkant die vegtery van die mense in sy land gadegeslaan. Eendag sal niks hiervan saak maak nie, het hy homself getroos. Maar sy gesin se honger oë en vrae was bitter wonde om te dra.

Moedeloos sit Mededeelsaam een goeie dag onder ‘n boom en ‘n man kom verby.

“Mededeelsaam, wat sit jy so, het jy nie werk nie?”

“Nee, ek het nie meer werk nie. Prins Misgund die derde het alles by my weggevat. Ek het nie eers meer ‘n stoel nie,” antwoord Mededeelsaam mismoedig.

“Kom ek vertel jou ‘n geheim. Daar is ‘n nuwe land, jy is ‘n geskite kandidaat. Bring jou geliefdes en kom saam met my,” nooi die vreemdeling.

“Moet ek iets pak, daar is nie veel nie?”

“Nee wat, los alles net so hier. Daar is oorvloed van alles wat jy en jou geliefdes nodig sal hê,” vertel die man vir Mededeelsaam.

Tipies, vra Mededeelsaam:”Kyk, hoe gaan dit hier in Misgund, moet ons hulle nie ook vertel nie? Miskien sal die vegtery ophou.”

“Nee wat, hulle is lankal ingelig, maar weier om sonder al hulle besittings saam te kom, los hulle maar,” sê die man met ‘n hartseer trek.

Mededeelsaam en sy gesin vetrek die nag sommer al na die nuwe land.

Gou is hulle gevestig en gelukkig.

Een goeie dag is daar ‘n geraas by die hekke van die nuwe land. Dis Prins Misgund die derde. Hy is verheug om Mededeelsaam te sien: “Mededeelsaam, maak vir my oop! Kyk ek het al jou goed saam met myne gebring, ek wil dit terug gee. Ek wil saam met julle kom bly…”

Mededeelsaam trek sy skouers op: “Ek het nie die heksleutel nie…”

**Dr. Elsje Buchner van die NG Kerk La Rochelle, Oakglen, Belville het raakgepiets met die oordenking en my op die storie se spoor gesit. Vroegoggendgedagte 16 Oktober 2017

 

Kunswerk op die foto: John Baldessari, “Tincture of a Person Who Wants Everything,” Mixed Media, 1996. Courtesy Jancar Gallery.

 

 

 

 

 

 

 

Lê-jou-eier: Ek kan nie rerig nie

 

Hester se lê-jou-eier uitdaging pak ek met ‘n ompad aan.

Ek het as kind van ‘n Ramblin’ man, wie elke twee jaar ‘n kriewel gekry het, gou geleer dat groot tjommies maak lei net tot seer, tranerige vaarwel wanneer ons vir die hoeveelste keer moet trek. Ook is baie skooljare in die koshuis of buite die dorp saam met Oupa en Ouma spandeer. My kringe het altyd klein gebly. As ek die dag vriende maak – dan is dit soos met my brakke – vir laaaank!

My koshuis kamermaat en ek het vir die eerste ses weke op universiteit nie ‘n woord met mekaar gepraat nie. Ek was obsessief kompulsief netjies; sy het ‘n veer gevoel oor bed opmaak. Ek het wasgoedwas gehaat en het elke ses weke met tasse vuil klere trein gevat huistoe. Tot een naweek, toe maak ek kamer skoon en sy was en stryk.

Ons vriendskap is vandag steeds eerlik en opreg en dikker as bloed. Ons weet alles van mekaar en hou nog steeds van mekaar. Daar is ook oral in die land wonderlike vroue wat ek bevoorreg is om te kan sê dat, al sien ons mekaar nie elke dag nie, is elke wedersiens soomloos, asof ons nooit oor tyd en afstand geskei is nie. Ek tel hulle op my een hand.

My  Rots het oor jare  gesorg dat die verhuis uit bekende omgewings darem stop. Ons woon al meer as dertig jaar in die Noorde van ons land. Ons verhuis nogal so nou en dan in die omgewing – dit hou my treklus, wat ek van my pa geërf het, in toom. Hy het egter ook swaar, want as die onrus groot raak , skuif ek meubels.

Maar terug by die eier-lê.

Vir baie jare was ons ‘n deel van ‘n speelgroepie. My man die nar en baasbraaier. Ekke – was die ensiklopedie vir die kinders en te ernstig vir die vroue. Ons was die ouer mense in die groepie. Toe ons eie kind nog skoolgaande was, was die verskille nie so ooglopend nie. Ons is maar gewone mense. Genoeg is ons mee tevrede. Te veel oorweldig ons.

Die speelgroepie se krose raak groot, hulle besighede ook. Ons behoeftes het net te veel begin verskil.  Metterwyl kom jy agter dat jy so liggies na die kant toe geskuif word. Dan skielik kom jy agter die vriendskap is ‘n eenrigtingstraat en net jou spore is daar getrap.

As die pennie val en  jy kliek hier hoort ek nie meer nie, dan is dit nou maar so. Jy laat los. Jy bel minder, jy wys op die nippertjie afsprake af. Tot alles net op ‘n dag verby is. Dis ‘n seer rouproses, en mens kyk maar hard in jou binneste en probeer voor jou eie deur vee. Tot jy eendag besef dis verskille aan waardes en lewensuitkyk wat die einde van jarelange vriendskap meegebring het. Dit was tyd.

Ek persoonlik hou van die seisoene allegorie – daar is vriende vir sekere seisoene, party lank, party kort, party vlak, party sielsgenote. Sommige vreeslike lesse. Rod McKuen skryf en sing so mooi: We had joy we had fun……

Die volgende eier wil ek lê oor die uitsuigers van jou emosies, jou tyd, jou goedheid. Die laat los ek soos ‘n warm patat. Die suurstofdiewe, jammergatte en projekteerders – dieselle. Mense, van familie tot kennisse, met issues en bagasie maak my baie bang.  Ek bly net weg.

Hoekom?  Want my eie goete en goggas het my moeilike geselskap gemaak vir baie jare. Maar ek het my strooi  hanteer en verwerk. Askies gesê waar ek moes. As ek kan, kan ander ook. So my nonsensmeter is gebreek – ek kan nie. Een kans het jy, dan is dit kismet.

Ons is besonder bevoorreg om kinners van ander ouers ook intiem in ons lewe betrokke te hê, en lief te kan hê. Vir hulle leef ons ten voorbeeld en is rasieleiers op elke tree van hulle lewenspad. Ek skryf hier vir elkeen van julle, leer uit my foute.

My honde is die enigste lojale wesens wat ek ken. Ek het ‘n beste vriend in my Rots en ook my eie kind. Dis ‘n voorreg om so spesiale verhouuding met jou eie kind op gelyke vlak en as ewe-mens te kan hê. Luuks.

Kapow! Ek kan nie verder eier-lê nie!

Want vanoggend….

Ons liewe Vader het deur Stephan Joubert se Bybeldagboek vanoggend my lekker geblindesambok oor hoe met suurstofdiewe gemaak moet word.

Rots lees uit Galasiërs 6 DB:

Help mekaar
1My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.
2Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.
3As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie4Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk5Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.
6Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.
7Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.
9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.

 

Sela.

Gaan heen en wees ‘n goeie rasieleier vir die eendjies in jou dam!

Ns. Behalwe dat die Gees ons lei, het jy ook gesonde verstand gekry om te weet wanneer iets vir jou sleg is, selfs vriendskappe. Hier is sobere raad:

https://www.rd.com/advice/relationships/toxic-friends-signs/1/

 


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

…omdat Hy lief is vir jou.

IMG-20171024-WA0003.jpg Baie keer lees ek iets raak in die Bybel, en deel dit met so klompie mense via Whatsapp. Ek deel omdat ek opgewonde voel, geseënd is en begeesterd voel. Ek verwag nie dat mense my moet antwoord nie. Kry so nou en dan ‘n dankie, moet asseblief nie stop nie. Dis vir my voldoende.

My Rots reken ek moet nie dit te gereeld doen nie “dis nie almal se kopie tee nie.” Jammer om te hoor, ek reken as die Gees jou noop om so te deel, dan luister jy.

Vanoggend stuur ek die verse uit Deutronomium 7 (Die Boodskap) en ek skrywe daarby: “Die Here het jou gekies bloot omdat Hy lief is vir jou”…sjoe. Wat ‘n lieflike wete. Dankie Vader, gee dat my menshart U liefde waardig is. Vergewe my kleingeloof. Amen.”

Ek kry die normale emojicons terug: hartjie, blommetjie, engeltjie, namaste…en so aan. So net na 06h00 bel een van die jongmense in ons lewe – daai kinders van anner ouers. “Tannie, ek is lief vir Tannie en Oom. Dis al.” My keel knop sommer weer van vooraf.

Die oproep is skaars klaar, en die Whatsapp biep. “Weet jy hoe jou boodksappe my help?” Van oor die water doer uit die Ooste kom ‘n vriendin se boodskap.

Dankie Here dat U my gebruik om vir ander van U liefde te vertel en dan U liefhê van oral terug ontvang, spesiaal soos die lieveheerbesie in die son

lucky

 

 

Foonjakkery- dis ‘n (on)ding

 

 

Foonjakkery – die praktyk om jou metgesel of metgeselle te ignoreer om aandag te gee aan jou selfoon of ander mobiele toestel.

(Tele)FOON  + (af)JAKKERY

 

Oukei – dis ‘n eiewoord, kry julle ‘n beter een of vertel my wat is die Afrikaans hiervoor:

 

Image result for phubbing meaning
phubbing  – the practice of ignoring one’s companion or companions in order to pay attention to one’s phone or other mobile device.
  1. “phubbing is just one symptom of our increasing reliance on mobile phones and the Internet.”