Tata Toto

toto1

Toto 2011

toto

Toto

Jou naam kom van ‘n Latynse woord wat volledig (“whole”) beteken en spruit uit die keffertjie van die beroemde “Wizard of Oz”-fliek. Daar is gespekuleer dat die fliek se Toto en Dorothy die fisiese en geestelike in die mensdom simboliseer het. Die arme hondjie wat Toto in die fliek gespeel is was nie geliefd nie, Salmon Rushdie het in sy boek oor die fliek bely in “I couldn’t stand Toto. I still can’t.” Toto is “that yapping hairpiece of a creature, that meddlesome rug!”

Dankie tog jy het net jou naam met die brakkie in gemeen! Jy wat op my voete saam met jou boetie, Oscar, slaap terwyl ek skrywe. Jy wat onder die beddegoed bly lê en ek verplig is om die bed bo-oor jou op te maak, jy wat my nie eens los om alleen badkamer toe te gaan nie. ‘n Ewige teenwoordigheid met net liefde in jou kraalogies.

Die afgelope tien jaar kry jy en jou boetie Oscar ons by die hek. Laf en vrolik. Elke middag hol Oscar voor die kar uit en jy duik windmaker die beddings in. Op soek na daai muis of voëltjie om te kan vang. Spoghans Toto.

Vir tien jaar, week in en uit sonder enige voorval was dit jou ritueel en ons verwagting. As ons stop en die deur gaan oop sou jy in die kar klouter en natbek soene uitdeel en dan wag dat ons afpak en die kar finaal intrek – jy ry saam tot in die motorhuis.

Vir wat moes jy altyd op die jag uit wees? Waarom moes daar gistermiddag wragtig na al die jare ‘n voëltjie uit die bedding opvlieg en jy agterna, onder die bakkie se wiele in?

Ag my stinkasempie, ek is so jammer. Wat ‘n ongeluk. Jy by deurhaal verby seergekry en ons harte vol hoekom en seer.

Ek troos my dat jy voluit vrolik geleef het tot daardie oomblik. Ek is jammer dat jou seer so groot was dat ons die veearts vir genade vir jou moes vra.

Gaan hol lekker en vry daar by die vir-altyd-tuin. Blaf liefdegroete vir Rufus, Seuntjie, Cindy, Mandy, Frikkie, Waaksaam. Julle het ons lewens ryk gemaak.

Jou mensma

Pynlike tiktok

 

time2.JPGRots leef geruime tyd al met chroniese pyn. In die nek. Sy arms lam. Benewel deur pynmedikasie.

Dit danksy oorkwotering en die ewige bybetaal. Ons wag nou tyd af met ‘n nuwe mediese fonds en baie beter ingelig om daar waar daar kwaliteit mediese sorg bekostigbaar beskikbaar is vir ‘n oplossing te gaan soek.

Hy slaap sy dae om want die pynmedikasie kap hom flou.  Dit frustreer ons mateloos – die gewag vir tyd om verby te gaan, en tyd vermors.

Ek dink hy sou graag die horlosie wou terugdraai tot voor rugby sy baas was. Lekker ou sportbeserings wat  op jou oudag kom liederlike komplikasies veroorsaak. Ironies.

My skoonvader is skaars na aftrede aan longkanker oorlede. Net toe hy die vrug van sy arbeid moes geniet. Dis ‘n albekende storie, die swakker word, afgetakel word, wanneer jy jou blaaskans kry.

Dit herinner my aan Miss Helen Martin se Uilhuis. Die twee kinders wat die kerktoring se horlosiewysers met tou vasbind en hou vir ‘n vale…

Time Owl.jpg

Die dood het ‘n vaste afspraak met elkeen van ons. Ek dink die wat ‘n blitsafspraak kry is gelukkig in die sin dat jy nog voluit leef, en dan is dit verby. Whoosh. Net so. My pa het nog gelag toe is hy oor die eindstreep.

Aan die anderkant, diegene wie ‘n bespreek-die-datum-ek-sien -jou-daar kennisgewing kry is op ‘n manier geseënd. As die dood langsamerhand nader kom, het die persoon regmaak tyd. Afsluit tyd.

Na die jare wat ek saam met engele by ‘n hospitium gewerk het, kan ons elkeen getuig van vreedsame sterftes, omdat mense geleende tyd gebruik het om lief te hê, te vergewe, verhoudings heel te maak.

Ek dink vandag ook baie aan Johnny Clegg. By uitstek ‘n voluitmens. Hy is onlangs met prosaatkanker gediagnoseer. Hoe ver versprei en so, die weet ek nie.

Hy leef steeds voluit en het ‘n wêreldkonsertreis op sy bord. Hy sit  nie in die wagkamer en wag tot die dood nou kom nie.

Die lirieke van  sy  “King of time” vertel egter van die menslike sug om tyd te kon uitkoop, om goed anders te kon gedoen het.

 King Of Time

Johnny Clegg

Oh libambe ilanga lingatshoni
Oh libambe ilanga
King of time
Oh libambe ilanga lingatshoni
Hold the line
Oh libambe ilanga
Shield the mind
Oh libambe ilanga lingatshoni
Will be fine
Oh libambe ilanga

Aww sashela intombi

She remembers things
I said long ago
We are trapped in the past
The future won’t flow
If i could travel back in time
The heart will never break
Change the past
And fix my mistakes
We could wake up
To a brand new day

Whilsting our troubles away
If i could speak to the king of time
He could erase and rewind
If i could only go back to that day
Maybe will find our way

 

Ek huil vandag oor jou Biebs

Nokia Erna 142

Dis vandag ses jaar Biebs. Ses jaar gelede het ek jou by jou mooi huisie in Bosveldpark kom oplaai. Viets uitgevat in jou mooi ligpienk langbroekpak en pêrels om die nek en aan die ore, jou lippe ligpienk en die grys haredos mooi en blink. Jy het self jou huis gesluit, rustig in ons vuurwa geklim, kierie opgevou en ons pepermente en kaasstrooitjies vir my, het jy tussen die sitplekke uitgepak. Selfvoldaan jou hande op jou skoot gevou en vir my so skuins gekyk. “Kom ons ry.”

Ai my liefste Biebs, ek wens ons het die rit nie gemaak nie. Dit was 28 November 2011. Ons het gery dat die slim dokters wat jou met jou slukprobleme gehelp het, ‘n eksperimentele stent kon verwyder. Min het ons geweet dat alles, van die sekonde dat jy uit jou huis gestap het, die laaste van ‘n string dinge sou wees.

Jy sou nooit weer huistoe kom nie, jy sou nie Kersfees en Nuwejaar saam met ons wees nie.  Dis miskien goed so, want ons het alles voluit gedoen, ek en jy. Half het nie gewerk nie. Dit sou jou ondergang beteken het om ‘n halwe lewe te lei.

Ek onthou soos gister hoe jy moedig probeer eet het. Hoe jy rustig verklee het in die dagsaal, want ons is mos nou-nou klaar. Ek onthou die verslaenheid en seer toe die dokters kom sê hulle kan die stent nie verwyder nie, hy is vasgegroei. Onverklaarbaar. (Maar Biebs, jy het miskien vermoed…daar was verdunde peroksied in jou yskas, maar ek kan nie bewys dat dit die vinnige vergroeiing en verstrengel van jou slukdermwandvlies in die stent in veroorsaak het nie.)

Die vriendelike dokter het sy chirurgvriend aan ons voorgestel. “Tannie, ons sal moet opereer. Ek kan nie sê dit gaan ‘n sukses wees nie. Daar kan drastiese gevolge wees.” Biebs, jy het kalm vir hom gekyk, en toestemming gegee om te probeer red wat te redde is. Kersfees lê voor en daar is planne.

Ek is ewig dankbaar dat ek jou in die rolstoel vir jou laaste koppie tee geneem het, dat jy die Beeld rustig geblaai het en dat ons om die hospitaal gaan stap het, en jy vir oulaas my plantkennis probeer uitbrei het.

Ag Biebs, al die laastes tablo gereeld as ek so na jou verlang.

Toe die gordelroos jou daardie Februarie van 2011 platslaan en jy ylend van die koors nie weet wie ek is nie, en my met jou ma verwar, het ek jou belowe ek sal jou nie versaak nie. Naomi en Rut het Rots vir ons gespot. Skoonma en skoondogter was ons lankal nie meer nie. Jy het my langer geken as my geboortema!

Daar het die laastes begin – Ma-dag, verjaardag saam met jou kroos, jou suster se verjaardag. Ag sal ek daardie rit vergeet. Ons is skaars op die pad toe jy so naar word, en ek baklei en wil omdraai. Hoe koppig jy was en hoe ons ‘n halfuur langs die pad gesit het, albei gewip en jy my dreig dat jy een van die seuns sal bel om jou te vat as ek nie gaan nie. Hoe ons maar net voor Pretoria-Noord lipstiek opgekikker het en met stywenekkies die kuier gaan kuier of niks makeer.

Ek mis jou spesiale liefde – oral in die koskaste en yskaste was daar lekkerte vir al jou seuns, kleinkinders en jou skoondogters. Jy het geweet wat elkeen se kinderhart verbly. Ek sal nooit die tuppertjie met die gestoofde perskes voor regs in die yskas vergeet nie. Jy het so goed geweet ek skaai so in die verbygaan ene!

Ek mis om saam met jou op die stoep tee te drink, om saam met jou oor ‘n boek te gesels. Deksels, ek mis tot ons koppe stamp.

Ek luister musiek en sweer jy en Maxie sit op die dak en saam luister. Dit maak my hart warm.

Dis vandag wat die engele jou kom haal het. Ek onthou toe jy my die aand voor jy weg is gevra het om Psalm 23 vir jou te lees, hoe jy jou wang vir my gehou het en toe vir my gewys het ek moet gaan slaap.

Vanoggend sesuur is dit ses jaar gelede en hoor ek weer die selfoon lui, hoor hoe die suster sê ek moet gou maak. Maar jy was reeds weg Biebs. Hulle het my vertel jy wou nie dat ons in die nag gepla word nie.

Immer met jou kinders se beste belange besig, self na jou dood:

“Liewe kinders en kleinkinders. Die heel belangrikste ek kan julle almal nie genoeg bedank vir julle liefde, hulp, bedagsaamheid en ondersteuning na Pappa se dood nie. Sonder julle kinders se by-stand sou ek nie kon staande bly en aangaan nie. Ek sê net elke dag dankie vir ons Hemelse Vader vir al die onverdiende gunste en gawes wat ek kan geniet. Baie liefde Mamma, Ouma Biebs.”

(Brief aan haar testament vasgeheg en reeds in 2004 geskryf.)

Met al jou kinders gaan dit goed. Ouboet het amper by jou uitgekom, ‘n dom bestuurder het ‘n u-draai gemaak…maar jy weet hy herstel goed. Jou kleinkinders is almal hard aan die woeker en werk, jou agterkleinkinders is die fraaiste en ek reken ons het ‘n sportster in ons midde.

Ek mis jou vreeslik vandag. My oë se krane is gebreek.

Nokia Erna 161.jpg

 

Lê-jou-eier: Gee my vir ‘n boom, asseblief

 

Tombstone-Digital-Stamps-plain

Niks – want ek is nie daar nie. Ek is huistoe, by my Pa.

My lyf, wel dis ‘n ander storie.

My gesin sal na my heengaan ‘n briefie aan die testament kry, wat so lui:

“My liefstes

As julle hierdie lees, is ek vooruit huistoe. Onthou net, niks begrafnis- en grafdramas nie. Ons het mos saam genoeg aan ontsteltenis beleef rondom doodgaanwense wat nie volvoer is nie.

Die lyf waarin ek hier op aarde in geleef het moet julle veras, of verys. Ek het gehoor mens kan nou ‘n liggaam laat verys* en verkrummel.  Of liewer, Kry een van daai boom “pods”*, en ‘n boom wat by Great Expectations sal aard. Een wat sterk sal staan en skadu op ‘n  warm Karoo somerdag sal maak om koelte en skuiling te bied. Of as julle nie lus is nie, maak ‘n gaatjie met die grondboor by die peperboom in Great Expectations se werf, en gooi my as daarin. Bemesting vir die skaduboom. En as die kaktus so mooi blom, onthou.

20170317_082045

Ek sal dan kan, soos ek in my liefhê vir julle, en julle vir my, skuiling teen die wêreld se aanslae en die lewe se seer gebied het, vir die boom voed om stilte en skadu te bied vir iedereen wat teen sy stam kom leun of kom sit.

Onthou my as die een wat die klein dinge met groot liefde gedoen het. Die botter op elke hoekie van die brood gesmeer. Nee, onthou soos julle wil, of nie.

Leef julle lewe voluit, daai strepie tussen begin en einde, hy tel.  Onthou net: as die begin begin, begin die einde.

Liefde altyd

Rina-ryni-ma-ena-edna-mother-sharofski

NS. Ek was altyd lief dat ek nooit deur julle op my noemnaam genoem is nie. Vele rolle in ‘n vol lewe. Ja, toe, ek wou net vir oulaas my sê inkry. Hehe.

Na- naskrif (Amper vergeet ek)

Burial pod of Capsula Mundi coffin

biodegradable-burial-pod-memory-forest-capsula-mundi-3

biodegradable-burial-pod-memory-forest-capsula-mundi-8

Ek sou  egter verkies om in my Karootuin, ‘n boom te word. Sê nou net my buurboom en ek baklei oor ‘n sonkolletjie…..

Bevriesing tot bemesting

 

So – veras of verys, die uitkoms is dieselfde.

Stof tot stof, as tot as, deel van die siklus van lewe en dood.

Gee my vir ‘n boom  groot asseblief.

In ons Karootuin, asseblief.

____________________________________________________________________________________________

Copy & Paste die volgende paragraaf onderaan jou blog:

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.