Oogwink oomblikke

Dit was ‘n rustige oggend in Oktober. Vol sonskyn en belofte. Die bloedrooi papawers skyn broos deursigtig en bewe liggies in die bries. Die harige stamme soos een wat hoendervlies kry. Bye zoem besig. ‘n Voorteken wat ek miskyk.

“Wat ‘n mooi foto sal dit nie wees nie,” dink ek by myself en hardloop om my kamera te gaan haal.

Kort voor lank lê ek plat op my maag. Die vars gesnyde gras ruik soos oopgesnyde waatlemoen. Ek stel die kamera en lens op makro. My hart klop warm en deur die zoemlens spring die bye, goudblink met ragfyn vlerke in superspoed en die broos fyne rooi blomme op hulle groen stele, in fokus. Die sluiter kliek, kliek, kliek. Salig.

“Haai, jy kan nie nou foto’s staan en neem nie. Ons kuiermense is netnou hier,” roep my man uit die kombuis. Traag pak ek op. Die foto’s moet wag tot later.

Ons dominee en familie kom kuier om die plaas se geskiedkundige landmerke te kom besigtig. Dit is ook dominee se skoonpa se 77e verjaardag.

Die plaas, Eersteling, is die plek waar die eerste werkende goudsmeltery in die 1870s in die destydse Transvaal in werking gestel is. Die Eersteling monument, oorblyfsels van die smeltertoring en verskeie skagte, is op die plaas te sien. Ons is bevoorreg om op die besondere plaas te kan woon.

Hier word ook met suurlemoene geboer. Dit is van hier waar mevrou Dominee suurlemoene ontvang, en die heerlike suurlemoenstroop maak wat sy ten bate van die gemeentekoffers verkoop. Sy wou ook graag aan haar ouers die boord  wys.

Ek stap by die agterdeur in om die kamera weg te sit. Die vars gebakte skons en rooibostee vul die huis met daai regte, egte plaaskombuis-reuk. Bloedrooi, stroperige tuisgemaakte aarbeikonfyt glinster soos juwele in die konfytpotjie. My eerste oes se opbrengs. In die kombuisvenster geraam staan die Ysterberg fier teen die blou lug. ‘Rondom Jerusalem staan daar berge…’ kom die psalm se woorde by my op.  Min wetende wat ‘n paar uur later daar vir ons sou wag.

Ons gaste arriveer en na tee, skons, lekker gesels en skerts, klim ons in die bakkie. Ons neem water saam en oudergewoonte hang my menopouselappie oor my skouer. (As daai oond in my binneste aanskakel en die sweet stroom, is die blou handdoekie my beste maat!)

Na ‘n  verposing  by die smeltertoring en ‘n relaas oor die interessante herkoms van die graniet – al die pad van Aberdeen in Skotland – en hoe die Boere in die Anglo- Boereoorlog probeer het om die toring met osse en kettings om te trek omdat dit kwansuis die Engelse help wen het, ry ons rustig deur die boord.

‘n Paar kilometer bokant die boord kom ons aan by die mynskag.  Só klim Dominee, Mevrou, Skoonpa, en ek uit. Ons bewonder die pragtige uitsig oor die gebied. Skoonma het in die voertuig bly sit.

Ons gesels oor die koekepanne en ander toerusting wat net so daar bly lê. Dominee merk op dat dit besonder droog is, en ons lag toe sy skoonpa sê ons moet geduldig wees, Paul Kruger verjaar binnekort en dan sal die reën kom.

Op die ingewing van die oomblik klouter Skoonpa en Mevrou Dominee laggend die skag op. Dominee neem  ‘n foto van die twee daar hoog bo-op die toring, en skreeu skielik dat hulle moet afkom. Daar is bye. Ons almal stol vir ‘n oogwink en adrenalien ruk ons al vier in beweging.

Ek hol bakkie toe en weet hier is groot moeilikheid. Daar zoem reeds bye om my. Ek is allergies vir bysteek. Ek klap met my lappie en spring in die bakkie. Hulle klits my agter in my nek. Skoonma snik histeries.

Dit was angsvolle oomblikke toe die twee vinnig teen die smal leer moes afkom met Dominee wat probeer help, terwyl die swerm briesende bye hulle toesak en aanval, en hulle toe ook nog na die bakkie toe moet hardloop.

Dominee, in ‘n poging om die swerm woedende bye van Mevrou en Skoonpa weg te lok, hardloop van die voertuig af weg en moes noodgedwonge agtergelaat word. Hy moes al sy hardloopvermoë dié dag  inspan! Gelukkig dat ek my lappie vir hom kon gooi!

Ek moet die bakkie in trurat ‘n ent afdraand laat ry voor ek die pad huis toe kon aandurf. In my paniek met die kwaai bye zoemend om ons koppe, kan ek om die dood toe nie die bakkie in viertrek gesit kry nie. Ek bid: “Liewe Jesus, stuur  ‘seblief vir engel Gabriël. Ek het vier mense se lewens in my hande.”

Ek sit die bakkie in eerste rat en trap die brandstofpedaal met mag en mening. Klippers spat soos die wiele tol en dank Vader, ons kom die bult uit. Skuins voor ons hardloop die dominee met bye agterna!

‘n Nagmerrie rit van bykans vyf kilometer oor slote en klippe volg toe Mevrou Dominee se pa erg allergies op die bysteke reageer en sy bewussyn verloor. Sy, haar ma en ek so al met die bestuur, moes ook bye wat in die voertuig beland het, se aanvalle afweer.

Uit noodweer spuit ons onsself en mekaar met die water wat ons saamgeneem het nat. Dit is asof die bye oorgee. Dis nou nog so een of ses wat nog moeilik is. Die oom is doodsbleek langs my, sy kop skud heen en weer as ek oor die waterkere deur die boord jaag.

Ek kon my man per selfoon inlig oor die komende drama en hy het ons  by die huis ingewag met ‘n adrenalieninspuiting (hy self is ook allergies vir bysteek). In sy haas om die bewustelose oom in te spuit, dien hy per abuis ‘n dosis adrenalien vir homself in, en is binne oomblikke self wasbleek en bewend.

Daar is gelukkig ‘n tweede spuit en dié word in die doodsbleek en bewustelose Skoonpa se bobeen toegedien. Genadiglik skrik hy oombliklik wakker, waarna Pieter vir Dominee gaan soek en hom so drie kilometer weg van die aanvalstoneel in die suurlemoenboord kry – ‘n paar bysteke, maar grootliks ongedeerd  met my lappie om sy kop!

Danksy flink reaksie op ‘n noodoproep is daar gou ambulanse en mediese hulp op die plaas.  Ons krap meer as 100 angels uit arme Mevrou Dominee. Skoonpa word aan ‘n hartmonitor gekoppel en ‘n drup word toegedien. Ons kry almal ‘n inspuiting.

Die konvooi van vier ambulanse vertrek met loeiende sirenes hospitaal toe. By ongevalle aangekom en ons almal in ‘n ry in die noodkamer, draai die dokter aan diens om na my en my man: “Julle het die oom se lewe gered. Julle het almal se lewens gered. Julle is helde.”

Mevrou Dominee is erg deur die bye toegetakel maar wonder bo wonder het sy nie allergies gereageer op die oordosis bygif nie. Ek is nou nog verstom dat vier antihistamientablette my allergiese reaksie gestuit het en dink nog steeds daar was genade  betrokke. Ons twee het ‘n hele ruk daarna nog die gevolge van die drama aan ons lywe gevoel. Skoonpa is na ‘n nag in die hospitaal ontslaan. Verder het niemand skade, buiten groot skrik, van die episode oorgehou nie.

Ek weet nie dat ons soseer helde was nie, ek weet wel ‘n klomp dinge het op die regte oomblik gebeur, en dit was nie toevallig nie.  Ek glo dat ons beskerm en versorg was. Adrenalien en skok laat mens kalm deur ‘n krisis kom en die skrik is yslik groot na die tyd. Dit het ook so gebeur. Weke na die tyd bars ek sommer so in trane uit van pure verligting.

Ons verneem ook na die tyd dat die swerm ‘n week voor ons aanval werkers by die skag toegetakel het. Die hitte en droogte, die rede vir hulle aggressie.

Dié 77e verjaardag sal nie gou vergeet word nie, en wat elkeen betrokke was sal onthou, is die besef dat al kan situasies binne ‘n oogwink verander, die Here goed en groot en genadig is.

Die ander groot les wat ons uit die episode geleer het, is dat mens nie rusies onklaar moet laat nie. Die oom en tannie was vies vir mekaar en het so effe dikbekkerig by ons aangekom. Tydens die rit, met die oom bewusteloos neffens my, het ek die heel tyd gehoor hoe die tannie bid en smekend vra dat die oom nie moet doodgaan nie, en hoe sy aan die oom se skouer vashou en net vergifnis vra en prewel hoe jammer sy is.

Ek is opreg bly dat die oom wakker geword het en dat hulle mekaar weer in die oë kon kyk en wat ook al gehaper het, saam met die nagmerrie agter hulle kon sit en hulle lewe geniet.

In my huis maak ons sedertdien moeite om struweling en krapperigheid uit die weg te ruim. Ons doen meer dinge saam, want ons weet nie wanneer ons saamwees sal eindig nie.

NS.Dominee, Mevrou, Skoonpa en Skoonma is regte mense, en hierdie is ‘n ware relaas

Die papawer- en byefoto’s is toe mooi! Kyk maar self.

NS. Dit is met ontstemming dat ek verlede week verneem dat Dominee en Mevrou albei hard teen ernstige siekte moet veg en dat Skoonpa kort na nuwejaar oorlede is. Hy het na die bye se aanval nog ses jaar geleef.

“Dis in tye soos hierdie dat jy besef wat God se genade beteken.  Ons kan aangaan met die lewe,” laat Dominee my per epos weet.

byepapawer2

7 thoughts on “Oogwink oomblikke

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s