“Vertel my ‘n storie, asseblief.” My kind kyk my vol verwagting aan. “’n Regte storie, van ons mense, waar ons vandaan kom.”

Ons sit op die stoep in die wintersonnetjie, heuningbostee in die hand,‘n onthoukissie vol foto’s op die tafeltjie tussen ons.

“Nou maar goed. Ek begin by die begin wat ek ken. ‘n Storie van een ouma en twee oupas. Ouma en Oupa Oorlog het vier kinders gehad. Saam met Oupa Willewragtag, kom nog twee kinders die familie binne. Altesaam vier meisiekinders en twee seuns – my ouma se kinders, my ma en ooms en tantes.”

“Ek leer Oupa Oorlog nooit ken nie, net sy legende. Die storie gaan so: Oupa Oorlog was ‘n aantreklike donkerkopman met ’n Clarke Gable-kuiltjie in sy ken. In sy weermaguniform met die keps so skuins op sy kop het sy direkte kyk jou deur die spaarkamer gevolg. Sy portret het teen die muur gehang, saam met ander mense wat ek ook nooit geken het nie, my pa se ouers, en so aan.”

Ek teug aan die tee en haal sy mooi foto uit die kissie. Sussa lag. “Amper soos Pappa se naamgenoot en sy vrou!”

Ons het die antieke portret geërf, en die stugge egpaar  hang in ‘n hoekie van die ekstra kamer, daar waar ons min kom.

“Net, so!”

Sy staar intens na die foto. “Wat nog?”

“ Daar is aan ons vertel dat Oupa Oorlog  ‘n brawe soldaat vir ons land was en dat hy in Noord Afrika gevange geneem is. In die kamp het hy van stukkende vliegtuigvoorruite die mooiste harte gemaak, elk met ‘n springbokkop uit ‘n  muntstuk gekerf, daarin vasgesmelt. Dit was hangertjies vir sy vrou en dogters – my ma en haar ousus. Wat hy vir sy twee seuns gemaak het, het ek nooit gehoor nie.

“In die tyd na die oorlog, toe Oupa veilig terug op tuisbodem is,  loop hy  in Pretoria se strate – in volle uniform. Op daardie dag was die militêre polisie op soek na ‘n droster. Klaarblyklik my bloedoupa se doppelganger.

‘Halt!’

“My oupa wis nie dis vir hom wat daar halt geskreeu word nie, en hy stap rustig aan op pad na sy vrou en kinders. Die jongste seuntjie maar ses maande oud.

‘Halt!’

‘Halt!’

“‘n Skoot klap. Oupa val vooroor op die sypaadjie toe die koeël hom in die rug tref. Toe die polisie naderstorm en sy identiteitpapiere sien, kom hulle gou agter hulle het die verkeerde ou probeer stop.

“Oupa beswyk aan sy wond en kry op Naboomspruit ‘n eervolle begrafnis, met ‘n weermag kopstuk. Ek het ‘n foto daarvan hier iewers.”

Ek krap rond en haal die foto van die grafsteen na ‘n gesoek, onder uit die pakkie foto’s.

“Mamma, dis hartseer.” My kind se oë is betraan.

“Regte stories is, my kind. Dit werk nie soos feëverhale nie. Wil jy nog hoor?”

Sy druk my arm saggies. “Asseblief, Mamma.”

Ek skuif reg op my stoel. “So bly my mooi, lang, mollige ouma agter met ‘n baba op die heup en drie grootoogkindertjies aan haar rokspante. Tragies en sleg in die tye na die oorlog. Ouma gaan bly by haar ma, ons Ouma Groot. Meer van haar later in haar eie storie.

“Die familie is nie links nie, die weduwee moet trou en ‘n jaar later, word sy aan ‘n oujongkêrel voorgestel. Vaalblou oë, gitswart Brylcreme kuif en Clarke Gable snorretjie. Hy is agter-agter-vêrlangse familie. Darem nie bloedskanderig naby nie.”

Sussa  lag. “Dankie tog!” Sy weet al van die bye en blomme.

“Nietemin, hulle trou. Gou het  hulle twee dogtertjies. Ouma en Oupa moet hard werk om die huishouding  met ses kinders se pot aan die kook te hou.  Hulle vestig, toe die kinders groter raak op ‘n bosboustasie, in die berge rondom Barberton.”

Ek blaai deur die pak foto’s. “Kyk hier is hulle almal.”

Dit is ‘n mooi foto van die saamgestelde gesin in die Uniegebou se tuin. My ma staan knus langs Oupa Willewragtag. Langs hom, soos Lady Di met die kleuter, staan Ouma met die jongste dogtertjie op haar heup, en neffens haar Tannie Ousus. Voor, met hulle armpies gevou, staan die twee seuntjies, albei met Oupa Oorlog se kuiltjies in die ken by hulle ander kleinsussie

“Mamma, dis ‘n mooi kiekie. Hulle lyk hoopvol en gelukkig.” Sussa vee so oor die foto met haar wysvinger. Asof sy wil uitreik na haar voormense.

Ons sit doodstil.

Die storie vir vandag is klaar.

NS.As  hulle op die foto  maar geweet het:  Ousus sou nie eerste trou nie, maar sy sou drie keer trou. My ma sou nie veertig sien nie. Sy het selfdood gekies, want sy kon my pa se dood nie oorleef nie. Hulle het eerste getrou.

Elke liewe een op die foto het sy of haar eie storie.n Familiesage met baie saamwees, liefde, jaloesie, nyd en struweling. Die hele kaboedel. Net mense wat sukkel om te bestaan! Almal ‘n storie om te vertel.

Hierdie is ons storie uit my perspektief. As een van die ander die storie sou vertel, sal daar sekerlik ander weergawes van dieselfde scenario wees. Dis maar die wese van die mens, so selektief en subjektief soos mens se eie onthou jou toelaat.

Vergeef my as ek tonnelvisie het.