Vroeg in 1990 kry ek gemoedsbekakking.
Van die jy-moet-Denmar-toe-soort.
My arme man en kind kyk soekend na die afwesige weergawe van my. Hulle oë vra waar is ons besige, hardlopende, laggende geliefde?
Ek wil ook weet, en ek wil ook nie weet nie.
Ek word een Saterdagoggend in Maart by die inrigting afgelaai. My gesin kan nie verder as ontvangs kom nie. Hulle groet en die suster aan diens maak my leêr oop.
My Rots het alles ingevul.
Die mediesefonds het reeds my verblyf goedgekeur.
Die huisdokter het al reeds laat weet dat die graad van bekakking erg is.
Ek wonder of hy vertel het dat ek sommer van die huis af weggery in die middel van die nag. Hulle het my eers twee dae later opgespoor. Ek het my man gebel en hom en ‘n vriend onder ‘n bloekomboom in die Long Tompas ingewag. So ewe.
Gevlug en omgedraai. Dankie tog vir omdraai.
Ek word na ‘n sesbedkamer geneem. Vier paar oë kyk belangeloos op as ek my tas neersit by die bed – wat vir die volgende weke my hawe sou word. My kamermaats, sielsiekgenote.
Ek is nog besig om uit te pak, toe ek kom haal word. “Jou dokter wil jou sien.”
Hulle vat nie nonsens nie. Ek stap ‘n lang gang af, uit in die sonskyn en deur ‘n tuin met ‘n reuse Jakarandaboom wat sy skadu kol-kol oor die grasperk gooi. Die mooi ontglip my.
Die dokter is rustig, en hy gesels, en trek vraag vir vraag goed uit my uit.
Na baie ure en dae praat ek naderhand self.
Die Prozac het so na tien dae ingeskop, en ek het verlore slaap ingehaal.
My gelukkige kinderjare, my pa se hartaanval, my ma se selfmoord, my egskeiding, my loopbaan, my huwelik met my Rots en my pragtige dogtertjie – alles word op die tafel tussen ons uitgepak.
Wat jaag my in hierdie swart donker grot in?
Wat maak dat ek van die lig wegdraai?
Wat, wat?
Die dokter skryf een middag op my notaboek, onder my inkopielysie (Watte en Pienk Pears aanrol), wat ek die naweek vir Rots wil gee:
“The moving Finger writes,
And having writ, moves on –
Not all your piety, nor wit
shall lure it back to cancel half a line” – Rubayat
Op ‘n rare middag uit, gaan soek ek en my vriendin, Gouwsblom, Exclusive Books deur. Die dun bundel is die Rubaiyat of Omar Khayyam.
Met ons volgende afspraak stoot ek die pers sagtebandboek oor die dokter se tafel. “Ek het dit gekry,” vertel ek trots. Die dokter skryf voor in: “We are not what we think we are, but what we think, we are! – Onbekend.”
Die bundel is al donkieoor gelees, sy rug al voos van blaai en blaai en lees en lees. Woorde waaran ek vashou wanneer die blouhond met die gisters wat verby is aangehardloop kom en my nooi om om te draai en te kyk. Dan kan ek braaf vir hom vertel: “‘Skuus Bloubekruip, daai is als verby, en ek kan niks doen om dit te verander nie. Waai nou maar. Voertsek.”
Ek loop die lewenspad met die brak, Bloubekruip, immer agter my aan. Baie dae is ek net bewus van hom, soms sien ek sy skaduwee. My gesin weet waarom ek soms skielik alleen by die huis wil bly, weggekeer van alles en die son. Daai tye sit hy stip vir my en kyk en lok my uit.
Dan maak ek tee en sit op die stoep en lees op die erdeplaat teen die muur:“The Moving Finger writes; and having writ, Moves on: nor all thy Piety, nor Wit shall lure it back to cancel half a Line. Nor all thy Tears wash out a Word of it.”
Bloubekruip draai dan dikbek om en wyk uit na ‘n donker hoekie. Ek hoor die visvanger roep, en ek voel die son op my tone en kyk hoe die Barbertonse madeliefies met hulle koppe na die son hulle geel en rooi en pienk uitsing. En ek weet ek sal aangaan.
Dis in my lewensritme ingebou, en ek het geleer om dit te aanvaar. My geliefdes leef saam met my en die spook van ou Bloubekruip en al sy wat-asse en gisters. Hulle is lief vir my nes ek is, en ek vir hulle.
Die nuwerwetse gemoedsbekakkingmoetie werk gelukkig baie beter as daardie jare se afstomper van emosies. Bloubekruip hou nie hiervan nie en is meestal net ‘n glimmer.
Ek voel so jammer vir die sielkundige wat my aan Omar Khayyam se dertiendeeeuse wysheid en Prozac en terapie voorgestel het.
Hy het ‘n paar jaar gelede selfmoord gepleeg.
Shoe…..ek het nie woorde nie.. Dankie vir die deel Tannie Erna
LikeLike
so leer ons ekeen onsself ken
LikeLiked by 1 person