En daar haal ek op 22 November 2018 my skryf doelwit. Dankie Scrapy en Cecelia en die #NaNoWriMo2018 uitdaging. Ek het ‘n daaglikse skryf gewoonte aangeleer binne 22 dae! Hier waar ek sit is 100 bladsye van wedervaringe, belewenisse en onthou. Soet en suur. Blydskap en seer. 

Ek beloof vandag myself, dit gaan nie verander nie. Terwyl ek tyd vir myself en my woord passie gemaak het, het ek steeds ekonomie bedryf, self met my liefies by die Lekkerwinkel vooruit beplan, steeds my gesin lief gehad en alles is wel. Die wêreld draai nog rustig op sy as, die son kom op en gaan onder. Ek mag maar.

My geloof -sterker, my droom – meer werklik as ooit. Ek sien genade in my skryfsels, wonderwerke in my eie lewe beleef. My hart bruis hier binne my. 

My Bybelversie vir die dag biep op my foon toe ek die doelpaal bereik. Rêrig. Ek lag en bid: “Dankie, Vader! Ek kan vertel van U grootheid en goedheid en liefde.”

Jesaja 12:4 – 2 Kyk, God het ons kom red. Ons stel ons vertroue in Hom, ons is nie meer bang vir Hom nie. Die Here ons God maak ons sterk en beskerm ons. Hy is ons verlosser.” 3 Soos ’n fontein met vars, helder water ’n dors mens laat jubel van vreugde, so sal julle jubel oor die verlossing wat kom. 4 Dan sal julle sing: “Loof die Here en eer sy Naam. Vertel vir die volke van alles wat Hy gedoen het. Vertel vir hulle hoe wonderlik Hy is. 5 Sing tot eer van die Here, want Hy het verstommende dinge gedoen. Gaan vertel dit vir die hele wêreld.”

Amen.