Ek moet hierdie deel. Die weke sedert ek besluit het dat ek fisies my gaan onttrek aan elke dag se gaan ekonomie pleeg, en dae aan skryf toewy, het interessant verloop.

Ek het soos ‘n ter dood veroordeelde begin regpak en skoonmaak. Elke kas in die huis is uitgepak, reg gepak, matte is gewas, vloere geskrop, tuinwerk is gedoen.

Dit was asof ek nes skrop. Of regmaak om die ou ek weg te werk, of om die onvermydelike oomblik wat ek voor die rekenaar in die skryfkamer moet sit en skryf wou uitskuif, wegskuif. Skuldig omdat ek vir myself iets toe-eien.

So pliggie lysie opgestel om my broeiende gewete te sus. Hoe kan jy, mag jy, jy gaan nie regtig nie gaan jy?

Dank die hemele ToeValLig. Ek lees die raak:

“I’ve seen women insist on cleaning everything in the house before they could sit down to write… and you know it’s a funny thing about housecleaning… it never comes to an end. Perfect way to stop a woman. A woman must be careful to not allow over-responsibility (or over-respectabilty) to steal her necessary creative rests, riffs, and raptures. She simply must put her foot down and say no to half of what she believes she “should” be doing. Art is not meant to be created in stolen moments only.” – Clarissa Pinkola Estés (sy van “Women who run with wolves” -respek)

Dankie tog vir die wyse woorde, en daar kom die volgende twee affirmasies kort daarna:

45499188_2285341881749836_1044328822805102592_o45510974_2480450745321690_2105505054260723712_n

Dis nou middel November verby. Ek is steeds besig met die #NaNoWriMo uitdaging en minder as 6000 woorde tussen my en die 50 000 doelwit, met dae om te spaar. Dit reggekry omdat ek uit my eie pad gee pad het! Omdat ek die vreugde van skryf ten volle omhels en plig so aks minder bedryf. Niemand is dood nie, die wêreld het nie gaan staan nie!  Raai nou net.

Dis bewolk hier in die Limpopo maar nog geen reën in sig vir die dorre, droë aarde hier nie.  Die suikerbekkies sit hulle drink beurt en afwag in my vensterraam, my brakke stoei en speel hier agter my stoel, en ek gaan nou woorde string. O, ja, dis my 399e bloginskrywing. Ek onthou hoe beangs was daai eerste publiseer oomblik net so jaar of wat gelede. Dankie vir elkeen wat kom inloer en lees aan my rygsels.