Dis al Woensdag. Gister het ek en Bab gaan haarstyle op vars by ons liewe haar stilis gaan draai. Daar is altyd lekker lag en gesels. Ons klomp ouer vroue waarvan ek net een uit my jonger jare ken, het gekekkel en gelag. My haarstyl is na iets sagter gesnipper want dis tyd vir ‘n nuwe brilraam. Kan nie meer lekker die lees en middel kyk gedeelte van die huidige loepe so lekker benut nie. Soek kort-kort na die leesbril wat self al antiek is.

Dis grou en mistig en die koue byt aan die boude en kniege. Ek moes vanmore vroegdag al begin middagete berei, want ons loadshit skedule verg dit. Ek kry so suur smaak in my mond omdat ons soos skapies maar die roetines aanpas. Ek maak bruin beskuit aan, want my geliefdes is dit gewoond smorens saam met die eerste koppie boeretroos.

Ons Lekkerspan klok net voor agt in en my liewe Bes kom vertel of ek weet hoe lek die kas waar die groente opwasbak sy woelige lewe leef. “Wanneer het jy dit gemerk,” vra ek en maak die gietyster potte kas onder die wasbak oop. Wat ‘n gemors. Water en roesmerke oral. Sy sê ewe rustig dis al van verlede week af.

MFM…ek vergeet van my versie en t-hemp foto, met al die mooi nastreefbare karaktertrekke, wat ek vanmore na Bybeltyd vir almal wat asemhaal en my omgee ken, gestuur het.

Bron: Bybel Toep

Ek begin sommer tienermoerig huil van kwaad. (Julle wat my ken weet dis my Achilleshiel, die tiener kwaad in my sedert Malat se selfdood) Genoeg is genoeg. Rots kom vertel die elektrisiën kan eers Vrydag na ons krag kom kyk. Die aansit na loadshit, laat ons krag uitskop pleks van aangaan. Dis ‘n storie… loadshit op loadshit ons tot ons die verskil agterkom! Dis bangmaak om so met krag te sukkel. Laat my onveilig voel. My binnekant orkaan sterk ontstig.

Ek vertel my gesin so deur my snot en lelik snik presies hoe ek voel, en dat dit niks persoonlik is nie. Ek wil nie meer so magteloos gedwee net aan ploeter, want laat Gods waters oor Godsakker se gevrektheid is net nie in my gene ingebou nie. Ek is oortuig dat mens liewer altyd jou bes moet trag doen. Al raak dit frustrerend. Ek gaan ‘n mooi mooi wegsmyt waarop ‘n aanhaling mens aanmoedig om jou verwagtinge te temper om rustiger te kan lewe. Ek weet nie daai nie.

Ons sukkel so met kommunikasie, al die veranderinge het almal in die huis met eie aanpas en inpas en ons grom en wys tande. Ek loop die oulike skets raak. Oorweeg dit sterk om dit op ‘n blikplaat te laat aanbring en magnete met elke gesinslid se naam te maak, en dan vroegdag as ons saamtrek vir koffie, kan elkeen sonder praat vertel hoe die weer daar binne is. Miskien leer ons dan om met deernis, geduld en omgee mekaar deur die dae te dra.

My binneweer bly donderweerblou en ek besef ek beter iets daaromtrent doen. Dis pas ‘n nuwe dag en my bloed kook en my siel is brommerig. Basta. Ek gaan haal die mooi geel pot Tjhoko-verf.

Die naam is “Early” – dis sommer net sag en snoesig die kleur. Verf twee blokke van my kamerdeur. Dit laat my gedagtes na ouma en Karoo en veilig gaan. My hart klop stadiger met elke verfkwas haal en die t-hempwoorde “liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld, ” liriek deur my gedagtes. Dankie vir sulke genade as die wêreld mens wil anders stuur.

Rots se rug is yslik seer, en die kamer ruik na Deep Heat, hy lê rustig sodat die moetie en pille hulle werk kan doen, want vanmiddag moet hy ver gaan opmeet vir kaggels. Die bosveldboere met groot huise se vrouens kry koud.

Bab sit met oorfone en dae beplan en sake doen. Ons virtuele besigheid. Die lekker span werk vandag weg van die werf. Die stil gang van kokonlewe en ekonomiepleeg. Sou dit my nooit verbeel het toe ek in my prille jeug getrou base en korporatiewe eise my mee laat regeer het.

Heel #ToeValLig, kry ek net nou die prentjie op die Vuisboek.

Source: Kez Art

Ek lag kliphard, want ‘n verfkwas en ‘n Bybeldagstuk se foto het vanmore my uitkyk reggehelp. My binne weer van storm tot stilte gebring. Ons ou Buffeltjie Prez en sy bende grypers en kapers en Eishkom kan egter baie bly wees ek beweeg nie in hulle kringe nie.

Hoop julle klein Saterdag verloop vlot.

Groetnis.