Wat ‘n week. Soveel leerbare oomblikke beleef. Oomblikke van lof, ontdekking, verwondering en vreugde. Ook oomblikke wat maar wankelrig gevoel het, waar beurthoop op vlak -100 amper gewen het.
Beurthoop. Dis Dana Snyman se woord. Hy skrywe in Saterdag se Beeld oor die jaar 2022 en hoe moerig ons vir baie mense was – Julius, Charlize en onse Ramaposie Doringrosie wat ons land en toekoms in die verkeerde bank ingestop het en nou soos ‘n kat op ‘n warm dak rondskarrel. Skaamtelose spul. Pfft. “Die jaar toe baie van ons besef het hoop is moeilik, hoop is nuwe teer in Senekal en ander plekke se strate. Hoop praat nie groot nie. Hoop is iets wat tussen mense gebeur, daar waar woorde en Bybelse liefde mekaar ontmoet. ( “Loadshedding – hopeshedding, beurtkrag- beurthoop”), skrywe onse Dana. Hy is darem ‘n uitstaande woordmaker, en lesleerder van formaat.
Maar nee, ek het beurthoop op sy hoogste verstelling kon terug kry. Dit werk van laag in die minus na hoog in die plusse. Hoe hoër die vlak hoe beter, capiche, capeesh, capisch, capishe ( Kies die spelling wat jy sou verkies)!
Dis Liewe Jesus se verjaar maand. Advent tyd. Op 1 Desember elke jaar, haal ons ons draadboom (dis die Covidtyd se bidboom ook) uit om onse Redder se koms en liefde te vier. Elke dag van die twaalfde maand. Ek leer by twee wonderlike gelowiges die volgende: Dat ons advent-ture (Advent + Avonture) kan beleef. Elke dag. Dat ons moet ophou hardloop sodat ons voetstappe om ons kan hoor. Ander s’n en ook God s’n. Dat ons moet stil raak om te kan hoor. Gaan lees Dan Miller se Sacred Braid blog gerus.
My gunsteling rebel prediker Nadia Bolz-Weber leer my waar ons in die lofprysing orde van die skepping staan. Na aanleiding van Psalm 148 maak sy dit duidelik hoe agter ons in die lofprys ry staan. Dis eers die uitspansel, dan die hemel wesens, dan die elemente en seisoene, dan die see, natuur, voëls, diere, vee en dan die mensdom. So lys Dawid die lof orde. En Nadia met haar aweregse kyk reken ons hoef nie te loof soos die psalmis Dawid nie. Nee, so hard hoef ons nie te probeer nie. Ons kan soos ‘n Holstein koei, deur net haarself – wonderbaarlike geskape en ‘n loflied opsigself – te wees. Haar bestaan is klaar ‘n loflied aan die Bron van haar bestaan. Geasem nes ons.
Sy sluit haar gedagtes so af: “I think the difference is that the cattle don’t get their identity or sense of worth outside of God. Sea creatures aren’t looking to the Dow Jones or their Body Mass Index to know their value. Their value, as ours, rests in their createdness by God. To praise God then is to live fully into the dignity of being God’s children. Perhaps to praise God is to simply look to nothing and no one else to know who we are. Because your being is – in itself – in praise of the one who created you. So let’s all just try less hard.“
Hoe wonderlik om te besef ek is genoeg, ek is geliefd, my lewe ‘n gebroke krom lied, maar nogtans aanvaarde lof in my Vader se oë.
Buite teen die motorhuis muur het ons onlangs ‘n sukkelende pers petrea staangemaak. Het jy geweet vanweë die skurwe stam en blare dit ook ‘sandpaper vine’ genoem word? Sy rank gou al draaiend teen die houtraam wat ons aangebring het. ‘n Houtjie waarop staan “Breek oop” wat Bab in ‘n pakkie vir haar pa se omhulsel gekry het, is ook in die raam aangebring. Breek oop laat die lig kan deurkom en wees hier en nou, vind ek ook danksy Dana wat ‘n YouTube kanaal “Green Rennaissance” aanbeveel. Luister gerus die twee boodskappe van die Kruie koningin en ook ‘n Groot MArico wysgeër. Besonders en duidelik.
Op die teevee het ek drie goed teegekom wat my laat dink het.
Ek is dol op Jan onse Michelin sjef. Sy RSVP program is fantasties. Intieme kuiers en kooksels. Sal hy saam met Stef Bos wys dat daar ʼn ekstra milliliter eierwit onder ʼn vliesie in die eierdop verskuil is. My brein ontplof toe Jan ewe wonder hoeveel miljoen liter eierwit is nie al vermors nie. Sedertdien begin ek die verskuilde eierwit in elke eier benut. Ek haat mors.
Twee mini-reekse het my aandag die afgelope ruk volkome aangegryp.
‘The First Lady‘ gly oor tydlyne heen en vertel die verhale van drie presidentsvroue, by name Elenor Roosevelt, Betty Ford en Michelle Obama. Ek kan nie sê dit sal in almal se smaak val nie, Daar is nie juis gloeiende rensensies oor die reeks nie. Amerika was nie beïndruk nie. Vir my was dit besonders en ‘n aangrypende saamsnoer van die drie vroue se lewens en die verskil wat hulle in die wêreld gemaak het. Michelle Pfeiffer as Betty Ford, lewer wat my aanbetref ‘n puik vertoning. Eerlik, broos en menslik. Betty Ford se woorde by ‘n toekenning plegtigheid: “I lived my moment well,” het in my hart kom lê.
As kind kon ek verlore raak in “Last of the Mohicans” en sulke verhale van die ou wêrelde. Nou wat ‘n wakkerskud verhaal is dié een wat in The English vertel word. Dis nie maklik nie, dis byna surrealisties by tye. Bloedig en wreed en byna digterlik mooi by tye in ‘n wye groot landskap word ‘n verhaal van ras, liefde en mag epies vertel. Emily Blunt vertolk ‘n skitter vertoolking van die heldin op soek na weerwraak. Asem snak mooi. Ek het sommer die laaste episode twee maal gekyk. Die reeks het my aan die wonder oor die mensdom, rassisme, klassisme en die algemene afwesigheid aan omgee en empatie.
Ek hou nou op snoer, met net een laaste gedagte wat ek vandeesweek teëgekom het: “Ek hoop jy sien iets wat almal al ‘n miljoen keer gesien het, en jy sien iets anders. Dit kom uit ‘n boek genaamd ‘300 things I hope‘.
En daar, by my neef se onthou-diens, ontvang ek ‘n wonderlike geskenk. ‘n Neef en niggie van Oudste tante en my moeder het dit ook bygewoon. Hulle laas gesien toe ek in die laerskool, ‘n halfeeu gelede. ‘n Komvandaan- kado in familiebande gestrik. Die bloedverwantskap was tasbaar en vir eenkant ekke ‘n oomblik van verwondering. Ons het spontaan oor ons liefde vir God en ook ons passie vir onse taal en woorde sonder skroom met mekaar gedeel, daar in ‘n kring by ‘n onthou-diens in die son met die wind in ons hare.
Sjoe, my gedagtes is omtrent warrelend in leerbaar-verstelling.
Hoop jy hou kop.
Wees teenwoordig en geseënd.
Groetnis.
Ek verstom my altyd daaraan dat jy so wyd lees, so noukeurig kyk en luister en soveel indrukke opneem van buite jouself. Jy het ‘n besige brein my mater. Het jy vandag se bydrae van Anuscka gelees? https://levensjutters.com/2022/12/04/quote-op-zondag-29-elke-stap-is-een-avontuur. Dit sluit goed aan by jou skrywe. Ek noem dit die “klein dingetjies in die lewe wat belangrik is” – dis wat die lewe ‘n avontuur maak.
LikeLiked by 3 people
Dis maar besig hier binne my. Die wyd lees gee dikwels bevestiging van idees en gedagtes en dra by tot my avonture en ToeValLig oomblikke.💝
LikeLiked by 2 people
This has been an interesting and uplifting read!
LikeLiked by 1 person
Hello Anne. Thanks for visiting. Happy you enjoyed reading it.
LikeLike
Fijn om te lezen, dit blog! En ik sluit me helemaal aan bij wat Hester zegt: zoveel indrukken die jij opneemt en verwerkt… (en ik begrijp hoe dat komt) Mooie synchroniciteit weer, onze woorden over avonturen en stappen en dat wij genoeg en geliefd zijn, zoals we zijn ❤️
LikeLiked by 1 person
PS: Ik begrijp nu ook jouw reactie bij mij beter – ik vermoedde al iets, maar na jouw blog gelezen te hebben snap ik het helemaal
LikeLiked by 1 person
#ToeValLig.
LikeLiked by 1 person
Die Holstein koei is ‘n uitmuntende voorbeeld. Nounet toe ek gou gaan loop het ontdek ‘n pasgebore kalfie in die gras in bure se weiveld. Net sy koppie steek bo lang gras uit. Ma is nie naby nie. Net ‘n ouer kalfie is besig om aan outjie te snuffel. Toe ek terug kom en verby loop het ma-koei kleintjie versigtig na skuiling van struike langs pad geneem. Sy kyk vir my bo-oor struike. Dis die klein dingetjies om jou wat als die moeite werd maak. Mooi bly.
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die deel van jou mooi oomblikke. Hier by my is dit ‘n skoongewaste oggend. Heerlike donderstorm en 14mm reën in die nanag gehad. Verligtibg na snikhete dae.
LikeLiked by 1 person
Ek moet werk!!! Absoluut jou blog se skuld dat ek nie doen nie (lol, ni rerig nie). Maar natuurlik moet ek op al die links gaan klik om weer en nog te lees. Ek staan altyd verstom net soos Hester hierbo
LikeLiked by 1 person
Skuus dat my gewarrel jou afdraaie laat vat. Hoop dit was die verposing werd. 🤗
LikeLike
Altyd
LikeLiked by 1 person
Jy skryf mooi en waar dankie mater
LikeLiked by 1 person
💝🌻
LikeLike