Photo by Alexey Demidov on Pexels.com

Op die Vuisboek lees ek vanmore Yasmine Lasheen se mooi woorde oor dinge wat mens nie moet verloor nie.

Passie, drome, kinderlike gees, die vreugde in klein dingetjies, nuuskierigheid, verwondering en ook bevraagtekening. Om elke keer wanneer ‘n aanslag kom wat jou seer maak, weer op te staan, op te kyk en altyd vorentoe, vorentoe te beur. Daai pad moet jy loop, daai berg moet jy uit, want ‘n nuwe uitkyk en insig en hoop is daar, daar voor, daar bo.

Midde in ander se projeksies, behoeftes en eise – soms bitterlik uitputtend, selfsugtig, onredelik, skaamkwaad, bitsige venyn en haat – om te onthou dis nie jy nie, dis daai een se seer en eie pad wat teen jou gegooi word. Om te bly spasie gee, respek betoon en empatie te behou.

Ek bid vir genade om my vermoë om – soms skoppend en skreeuend en seer – tog maar aan te pas, te aanvaar en te groei. Dat ek leerbaar sal bly, al maak die skerwe van glas wat skuif baie seer as die Meester die kaleidoskoop van my lewe in ‘n nuwe asemsnakkende mooi patroon skuiwe.

Dis waar ek my vanmore bevind op ‘n soel, bewolkte Vrydag op Waterval. Besig om te kyk hoe die skerwe van my lewe nou lyk.

‘n Neef van my is vroeër vandeesweek oorlede. My bejaarde Tante is gesteun deur my Bab. My kind het gister 4km op die Polokwane Staatshospitaal terrein moes loop na die lykshuis, haar oom uitken om ‘n doodsertifikaat te kry. My tante se dogter en man uitstedig met ‘n operasie, my neef se kinders ook ver. My lieflike kind met haar groot hart vol empatie en respek vir mense om haar, het my ma hart met trots vervul. Dankbaar dat ons haar kon steun en ‘n veilige plek bied na die uitputtende en ontstellende eerste belewenis van afsterwe en wat daarna volg.

Die Karoo meubels en linne en losgoed is terug en in my huishouding teruggekap. Daar staan twee kartondose vol ekstras wat my geliefde werkers van meer as 15 jaar s’n gaan word. Krismisboks vir elkeen, want geld het ons nou nie. Ek is dankbaar dat ons tog steeds kan salarisse betaal en so ons deel vir mense met veel minder as ons, te kan bly betaal.

Ek besef die verlies aan die Karoo droom, het my en Rots se lewens en belange vir die eerste keer in jare op een plek. Ons het so lank hier gewerk en oorleef en in ons koppe en beursies ook elders bestaan. Dit was goed, maar ek moet bely om so kop in die wolke die hier en nou te probeer leef is miskien nie so goeie plan nie.

G’n wonder toe my kaleidoskoop draai, ek erg verwond is. Seer, teleurstelling, skaam oor ons dit nie kon maak werk nie het oor my gespoel.

Vanmore egter, bak ek vir Elisa Agape brood en muffins soos Rots en Bab daarvan hou – vol neute en wortel en appel en piesang en kaneel en neutmuskaat en vanielje. Die huis ruik soos Paasfees en Krismis en genade. Ek het in Covidtyd vol angs oor die toekoms oor Agape brood so gewarrel:

Agape brood
Een koppie lou water,
twee eetlepels gesmelte botter,
drie lepels goue suiker en ’n teelepel sout
lê lekker lepel onder drie koppies broodmeel.

Geur met neutmuskaat en kaneel,
Voeg rosyne by om die kollig te steel.
Die kitsgis word soos seën bo-oor gestrooi.
Die brood masjien se stelling op knie.

Wyl die stofsuier en wasmasjien woeker,
knie die brooddeeg eenkant tjommel-tjommel.
’n Klokkie lui, die twee vroue in die huis se harte klop bly.

Lieflike deeg word later af geknie en
rus in die broodpan vir nog ’n uur se rys.
Bak tyd laat genade en liefde se reuke
die plaashuis omvou.

’n Warm brood in doeke toegedraai
word tjailatyd in ’n rugsak gepak.
Vanaand in die township eet
iemand Agape brood.

©Erna Maré 2020

Dis al twee jaar later, en die brood is my vaste Vrydag ritueel. Watwou angs en wat as. Kyk hier is ons steeds.

Die brakke is blink neus gebad, ons tuin herstel mooi en geliefde kinders kom die naweek kuier, want Rots verjaar Sondag. Sewe en sestig lewensjare vier my skoonma se jongste. Dankbaar vir ons jare saam, ons wensbeentjie saamwees krakerig broos, maar nog heel.

Dis nie net my kaleidoskoop wat seer geskuif het nie. My Rots en Bab is saam in die verskuif aan perspektief en nuwe groei.

Mens is nooit so alleen en verlore as wat jou ego jou kan wysmaak nie. ‘Tsek jou ou liegbek!

My gemoed is kalm, my hart stil en die prentjie om my lyk mooi. Op die Radio Engel se program sing Deon Meiring en Liewe Jesus het my ‘n drukkie kom gee, my hart se warm vertel dit vir my:

Kyk net my vlerke is lende lam
Ek loer oor my skouers en voel hoe ek val
My koers deur die wolke is wankelrig
So dra ek my briewe die uitspansel in

Ek dra my vel al lank
Soos ‘n kleed van onsigbaarheid
En ek dink dit is hoog tyd
So ek vervel myself daar uit
Oe ek voel kaal om te sien hoe ek regtig lyk
Ek sal moet sien hoe ek regtig lyk

Lig spatsels gee vorm aan my lyf
Ek waag dit om weer aan mysеlf te verskyn
Waarskuwing op my koevеrt geskryf
Die briewe hier binne laat breekbaarheid uit

Ek dra my vel al lank
Soos ‘n kleed van onsigbaarheid
En ek dink dit is hoog tyd
So ek vervel myself daar uit
Oe ek voel kaal om te sien hoe ek regtig lyk
Ek sal moet sien hoe ek regtig lyk

Hierdie vlerke is nerf af gevlieg
Maar ek bid dat my vere sal terug kom
Vir my vryheid sal ek daarvoor wag