Die werf se geelbek lysters (Karoo Thrush) is baie tuis in die tuin en op die stoepe. Lank gelede was die hondekos op die agterstoep, tot ons agterkom rotte en muise van oral kom snags fees vreet. Daar ook het die lysters kom smul aan die Montego Karoo hondekos. Glad nie bang of beangs dat ons op die stoep sit nie, net hulle porsie kos kom haal en rustig weg gehop.
Saam met die kuifkophoutkapper(Crested Barbet) en Janfrederik(Robin-chat) en al die vinke (finches) het hulle onlangs nog aan suet kom smul op die voorstoepie by die swembad. Baie naby kom kossies haal, want hulle weet hulle is veilig by ons.
Die afgelope week het hulle die hondekos net by die agterstevoor deur van die kombuis ontdek. Ek en die hoppertjies het al ‘n paar keer mekaar in die kombuis verras. Albei maak kort omkere en wyk uit mekaar se pad.
Vanmore egter, wis die lyster nie ek is buite by die nethuis besig om die erfenis tamaties wat dorstig tier, nat te maak nie. So kom ek onverwags die kombuis binne en Lyster sit binne in die hondebak aan die smul.
Hy (of sy) vlieg verskrik na binne, die huis in. Fladder beangs en gaan sit moeg op die mandjies bo-op die spenskas. Ek praat rustig en waai met my menopouse lappie dat hy kombuisdeur se kant toe moet vlieg.
Hy kies om tot teen die venster bokant die opwas te vlug. Sit beangs, hartjie kloppend stil, want hy kan buite sien, net nie daar kom nie want die glas ruit is in die pad. Ek kon saggies nader stap, die warm lyfie sag in my hande toevou en agterdeur toe neem. Ek maak my hande oop en daar vlieg hy, vry.
Dit tref my, dat ons ook maar in skrik en bang tye soos die lyster sonder koers verder moeilikheid in vaar. Ons raak nie kalm nie, ons raas en blaas en land moeg teen ‘n nie-uitkom plek.
Ek sien in my gedagtes hoe God rustig staan en vir ons wag om te bedaar. Dan, daar in die moeg geveg, oorgawe oomblikke, as ons stil is en bedaar, kom ‘n antwoord, ‘n oplossing. Nie lotto wen-kaartjie, alles is nou beter nie, maar rustige aanvaarding en oorgawe en berusting. Om in die oomblik te leer, ‘n aha-oomblik te ervaar, en voort te gaan en die les te onthou en bewus te wees van ons Vader se alomteenwoordigheid in ons daaglikse bestaan.
Dis al.
Wees veilig.
Groetnis.
Ns. Die Gras om die swembad is darem nou weer geil en groen. Ons het goeie reën ontvang. Die water val op Waterval.
Hierdie beskrywing is so goed! Dankie dat jy hierdie ervaring met ons deel. It is indeed the small things in life that keep us aware of our human frailties along with giving us hope 🙂
LikeLiked by 2 people
Ek lees op jou blog ook hoe klein dinge eintlik groot goed is. Serendipity is my gunsteling woord. In Afrikaans vertaal ek dit as #ToeValLig.
LikeLiked by 1 person
Wat ‘n pragtige inskrywing, dankie hiervoor!
LikeLiked by 2 people
My plesier- Someone!
LikeLike
Dis so mooi beskryf Vuurtjie. Jy praat groot waarheid. Ons spartel soms so onnodig. Hope liefde
LikeLiked by 2 people
Dankie hiervoor🌻
LikeLiked by 1 person
💝🌻
LikeLike
Ja, dis maar moeilik om altyd kalm te bly en deur rond te hop van woede of angs, maak die saak eintlik net erger. Ek is bly oor julle reën.
LikeLiked by 1 person
Mens leer vasbyt meestal op die swaar manier.
LikeLiked by 1 person
Jy kan dit weer sê, liewe vriendin.
LikeLiked by 1 person
Dis darem nou so mooi … sit, raak rustig en hoor Sy stem. Ek moet my herinner om dit meer gereeld te doen!
LikeLiked by 1 person
Ons almal moet in al die geraas met oop ore na Stilte soek.
LikeLiked by 1 person