Ontmoet Greta, die Swartoognooi (Thunbergia alata) in my tuin

Nou die nag skrik Rots en ek tegelyk wakker. Hael. Dis ysige stikstofbelaaide korrels wat verwoed op dit plat sinkdak van ons huis neer boender. So skuins en wars en wild. Skielik is ons bewus van die gefladder in die kamer. Dis een van die streepswaeltjies wat onder die venster van ons kamer se sonskerm die afgelope twee jaar bekkie vir bekkie kom nesmaak het. Verlede jaar het ons ‘n swartsak oor die seil gespan om hulle brose huis en kroos te beskerm teen reën en wind. Net verlede week kom Rots met ‘n stuk sink om hulle huisie waterdig te maak. Ag, as ons maar net aan haelkoeëls gedink het…

Ons nanag word ‘n desperate poging om die angsbevange gevlerkte te keer om in haar om en om teen kaste en plafon te beseer. Na ‘n ruk hang sy desperaat moeg teen die gordyn. Ek vou haar sag in ‘n handdoek toe. Ek weet nie wie se hart bons vinniger nie. Ek stap uit en gaan sit die verskrikte gevlerkte in die halfgebreekte nessie neer. Is die nag nou nie al dramaties genoeg nie?

Vroeër die aand het ons gesin self groot skrik beleef. Rots sit nog en geniet sy braaivleis, toe is hy weg. Uit soos ‘n kers, geen asemhaling nie. Bab en ek klap en klop en skreeu, en toe hy lyk of hy bykom, storm ek weg van die situasie buitentoe, gaan sleep die braai onder die afdak in. My skrik van ‘n diep plek toe ek binne 11 maande albei my ouers se heengaan eerstehands beleef het. PTSD in oortreffende trap. Ek staan bewend buite en vertel vir God net daar, nee. Nie nou nie, nie weer nie.

Bab roep my uit my skrik. Rots is veilig in die bed, bleek en moeg. Hy rus die grootste deel van die naweek en is Maandag dokter toe. Dokter vermoed ‘n nano-iets is brein deur, en gee ‘n bloedverdunningsmiddel. Nou sit ons met die nuwe dilemma dat skrape vermy moet word. O jinne, die Watervalbrakbende sal moet maniere leer of alternatiewelik sal Rots vir hom ‘n Michelin-mannetjie pak moet kry ter beskerming.

Terug by die nessie. Sondagoggend so vyfuur, net toe die son opkom, hoor ek hoe die res van die swaeltjie nes grond toe tuimel. Toe ek uitstap lê twee broos eiertjies aan stukke. Ek het somer op die gras gaan sit en lelik snik.

Vir wat deel ek dit hier in my blog, vra jy?

Ek lees oral van mense se seer en bang-alleen. Die Covidpandemie het baie van ons se swarthond helder wakker. My Bloubekruip het vir hele klomp weke soos ‘n wolf gehuil. Gerou, en my deur alle fases van rou saam laat gaan. Ek het al die verliese, afsterwe aan mense, geliefd, bekend en onbekend my geweldig aangetrek. Ek het gehuil, kwaad geword, stil geraak, bang geword, hoekom gevra. Meestal het ek soos Edvard Munch se The Scream gelyk. ( Het jy geweet as mens die onderste helfte van die skildery kry, is die skreeuende se voet op ‘n Lego-blokkie. ;))

Scott Johnston

My gesin self het swaar gehad. Hulle het my laat begaan. Hulle albei hanteer spanning deur hulle gunsteling sport te bedryf. Hulle slaap. Voor die TV, op die bank, in die bed. Heeltyd. Naweek in en uit. Ek is alleen, alleen met geselskap. Ek skryf nie, ek lees nie. Ek bidkers en gee voëltjies kos. Maak tuin nat. Maak kos. Soos ‘n zombie.

Hierdie winter se arktiese winde vol woedende testosteroon het hulle koue asems hier op Waterval besonder baie en erg kom uitblaas. Die palms is verskroei, die petria tot ‘n armsalige stok verskrompel. Van die broodbome het later met verroeste blare gestaan. Laventelbosse het vergaan. Die luiperdbome is nou nog roesbruin geblaar. Bloubekruip baljaar in my gemoed. Oopbek en bokspringend. Ek kwyn, eintlik is dit meer soos ‘n smartlike varkie wroet.

Ons het begin tuin skoonmaak, wegsnoei, en water gee. Stadig het ‘n groen blaar hier, daar en oral begin opslaan. Greta Thunberg, my swartoognooi klimop herrys, die bloureën begin rank, verwoed. Die Irisse blom. Die ou spekboompie waarvan elke blinkvet blaartjie uitgedor het, staan groen getooi en suurstof maak. Die veerkragtigheid van die plantegroei en die uitspattigheid van die suikerbekkies, neushoringvoëls, patryse, duiwe, mossies, vinke, kwikkies, grys visvangers, lysters, byvreters, paradysvlieëvangers, spreeus en selfs die blerrie mynas wat so luid Oerdoe praat, laat lewensblyheid se proppie oopskiet.

Ek hoor hoe Bloubekruip kerm, maar ek lag vir hom, vryf sy kop en sê hy moet maar in sy gaatjie terug klim. Dis tyd om op te kyk, in die son in te tree, jou arms in die lug te gooi en ja sê vir die gawe van elke nuwe dag. Liefs elke uur bewustelik deurgaan as om gillende te staan oor goed waar jy geen beheer oor het nie. Soos Nehemia en die Israeliete van ouds net dit om en voor jou na die beste van jou vermoë te versorg en behoed. Die een met seer wat voor jou kom staan te troos en ondersteun.

‘n Rustigheid kom oor my, en gou volg dankbaarheid. Daar is toe veerkragtigheid in my ou gebeentes opgesluit. Kyk, ek griffel selfs weer!

So wragtig die winde wat kwansuis die reën moet inwaai is adolessente. Hier het gister weer ‘n spul deurgewaai. Die palm skutblare lê soos partytjie versierings na ‘n brassery oor die grasperk gestrooi. Dis net blare en vere en stof op die stoep. Palm takke in die swembad, om die huis. Die meeste palms hier op Waterval is meer as dertig jaar oud. Dit lyk soos ‘n oase prentjie as mens werf toe aanry. Die vallende takke noem ons moordwapens. Kyk, as een van daai jou tref is dit kisboude.

Die stiefmoederlikheid van Moeder Natuur se kinders van die wind, die reën wat maar so terg-terg val, is net tydelik. Die somerreën gaan val. Die hoop beskaam nie.

Waarop ek neerkom is dat alles ‘n tyd, fase het. Raak rustig. Weet al voel dit of jy stiefmoederlik behandel word, as die wëreld vol skeermestonge en na-keffers soos bantams stof op ‘n klein erf opskop, stap buitentoe. Gaan staan in die son. Word stil. Haal asem.

Steek ‘n bidkers aan. Vertel jou geliefde hoé lief jy hom of haar het. Gaan stap met jou brak. Slaap as jy moet. Wees goed vir jouself. Gooi jou swarthond se rug met sy kombersie toe en trek die deur dan dig toe. Gaan soek lig en lag en lewe. Ons kan nie net hoër en hoër pandemiepremies betaal nie. Ons moet leer voluit leef in hierdie vreemde stiefmoederlike tyd. Ons is ook veerkragtig soos die plante, dit vat net bietjie tyd en moeite om dit te besef en te glo.

My Elisa het onlangs met ‘n reuse droë sonneblom uit haar tuin hier aangekom. “Dis vir jou en die voëltjies, en omdat jy vir my agapébrood bak,” sê sy. My hart het sommer tjoklits geklop. Dankie doen dit maar aan my. Elisa het summier oral, en ek bedoel oral sonneblomsaad ingedruk. Hulle staan al so kniehoogte. Een van die dae dans ek met my gesig na die son gekeer nes hulle wat spog in goudgeel gewaad. Kan nie wag nie.

Die streepswaeltjies van die gebreekte nes, kom sit steeds smorens steeds op die vensterraam en kweel, hulle beplan ‘n nuwe huis, die reën moet net kom dat hulle bekkiesvol modder kan invlieg. Ek bid saam daarvoor.

Foto:Erna Maré