
Dis pampoenspooktyd in Mzanzi. Oral in skakerings van rooi, blou, groen, geel sketter ‘n klomp raseriges in gewone mense se ore. Ek sweer hulle luister skelm Erna Sack arias om hulle stemtone te verhef en pampoenspoke te kerf.
Al vir weke op al wat media platform gil die bloues ons moet pasop vir die rooies. Die groengeelswartes vertel al het hulle opgeneuk is hulle steeds bereid om weer te probeer. Ons moet net vertrou en tog net ons kruisie trek. Die rooies gil oor almal en alles.
Al die sketterendes met hul gogga-maak-vir-baba-bang kletsery, is algar net pitte van dieselfde pampoen.
Leë beloftes word soos kaneelsuiker oor pampoene gestrooi. Waar in jou lewe sal alle stemgeregtigde mense op ‘n langnaweek Maandag gaan tou om te stem? Dis om sekere mense wat soos katte op warm dakke tussen die pampoene rondspring van benoudheid te help om aan bewind te bly. En as ons ons kruisies getrek het…gaan Dinsdag ‘n nuwe Mzanzi vir ons bring?
Dis nie koue pampoen nie. Jy beter skrik en kommer. Daar word voorspel dat net ‘n derde van Mzanzi se kiesers by die stembus gaan draai. Gaan iemand rêrig na ‘n luilekker naweek van soetpampoen en braai tuiskom, en voor 21h00 Maandag daai kruisie trek? Hoe minder mense stem, hoe makliker is dit vir sekeres om in die kussings van oorvloed te bly.
Ek dink, hulle dink ons het pampoenbrille op. Kan nie sien wat vlak voor ons is nie.
Dis ‘n vrot pampoengooiery wat my sprakeloos laat en van die wêreld ‘n aardige plek mat om die kort tyd op die ondermaanse gegun te verwyl.
Moenie ‘n pampoenkop wees nie, gaan trek jou kruisie. Dit gee jou bekrekregte om pampoenspookmakers op hulle tone te hou.
Wees ook vorentoe versigtig. Pampoenspooktyd is nie tot allerheiligste nag beperk nie. Dis nou altyddeur sulke tyd.
Daar is ander pampoenspoke wat my bekommer. Dis ook nie koue pampoen nie. Veral die valsnuus-, kanselleerkultuur-, woke-, samesweringsteorie-variëteite vul my met ‘n mengsel van angs en woede.
Fluit-fluit my woordwarrel is uit.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
The post Woordwarrel: Donderdag inspirasievonk 28 Okt 2021 appeared first on Dis Ekke.
Jy slaan die spyker so op die kop Lekkervurig. Ek hoef niks toe te voeg nie – kan maar net my kop knik om te beaam. My bek het gister nog oopgehang toe iemand gesê het hulle “glo nie in hierdie kastige pandemie nie”. Wat is dit wat hulle nie glo nie. Dat daar nie ‘n virus is nie? Dat mense nie doodgaan nie? Dat hospitale nie oorvol is nie? Ek kan dit nie kleinkry nie. Ek sal maar my kruisie gaan trek – uit pure gewoonte, want hoopvol is ek lankal nie meer nie.
LikeLiked by 2 people
Mater, pampoenspoke warrel meer as ons woorde.
LikeLiked by 1 person
Ek voel nes jy, Hester. Pitlose koppe het nie pitte nie
LikeLiked by 2 people
Net so!
LikeLiked by 2 people
Politiek…. aaklig. Wil eerder my kop in sand druk.
LikeLiked by 1 person
Kameel, ek sal jou nou nooit vir ‘n volstruis aansien nie.
LikeLike
Puik verwoord, soos net jy kan! Ja die dêm pampoenpitlose pampoenspoke, wat almal se lewens vergal, omdat daar geen pitte in daai koppe is nie.
LikeLiked by 1 person
Kyk, toe Hester se pampoenspookvonk my tref, toe warrel my pitte🤣✒
LikeLiked by 1 person
Dis nou baie pittig gesê!
LikeLiked by 1 person
🤣🎃
LikeLiked by 1 person
Nou toe daar het ons dit nou! Daardie nuutgevonde pampoenspook stories gee my koue rillings. Hier hou kindertjies en natuurlik hul ouers heerlike pampoenspook dag. Kindertjies wil lollies hê, hul is aangetrek soos pampoenspoke om ou mense bang te maak. Daar is selfs gevra dat die wat saamspeel asb moet aandui dat hul maar kan kom klomp. Die wat nie aandui nie mag nie gesteur word nie. Geen politiek van enige aard nie, net pure plesier.
LikeLiked by 1 person