Hou tyd vas soos die kinders by die Uilhuis van HElen Martins. (Foto: Erna Maré 2011)

Kom loer in, skink ‘n koppie koffie of tee, en mymer saam oor ‘n ding of twee hier by my. Daar is ‘n heerlike sonkolletjie op die stoep. Dis vandag darem windstil, so ons kan bietjie dassie en kuier.

Daar is die week alweer op sy oor. Maandag breek die tweede helfte van 2019 aan. Die winter het gedraai, maar verbeel ek my sy ys kloue is erg diep ingeslaan en ekstra lank? Waar kry ons toue on tyd mee vas te hou? Dis te vinnig. Asof tyd versnel hoe ouer mens word.

Kapow tref woorde

Ons gesin se boekevatgids vanjaar kom uit Stephan Joubert se pen. Waarlik die man kan ‘n Bybelknoop op so eenvoudige manier loswikkel. Vandeesweek leer hy ons van gee. Al het jy niks aan aardse goed om weg te gee nie, het jy meelewing, liefde, erbarming en menslikheid as kosbare gawes om te skenk. Hoor hoe waarsku hy rym-rym oor verknogtheid aan aardse skatte:

“Die laaste ding aan ons wat tot bekering kom is ons beursies…omdat ons die storie glo dat dit wat ons ry, dit wat ons kry en daar waar ons bly (let wel die drie rym met ly)ons groot sekuriteite in die lewe is.” Sela.

Vind uit

Waar wip ek my vir Riki Rick Sondagaand. En ek laaik hom dan nogal as afrigter in Voice SA. Kerkorrel se ‘Gee jou hart vir Hillbrow’ is asemsnakkend mooi deur Tasché Burger vertolk. Sal Riki afhaak hy verstaan nie wat sy sing nie, maar hy kan voel. Fok – Afrikaans ‘n landstaal. Ek is besig om my fanagalo op te knap om meer na Zoeloe te klink, en as ek nie verstaan nie, vra ek, of Google ek. Ek bid dat hierdie fyn steke na alles Afrikaans tog stop. Rêrig, as jy niks kan sê nie, sê dan niks.

Daai digterlike, mooi, seer lied hoort die Thuma Mina kantoor se mantra te wees. So by so, sommer ons stukkende land se volkslied. As ons almal net met oper hand en hart en ore deur die lewe sal gaan en ophou onder voorwaardes van “ek verstaan nie,” “as hulle,” en “ja, maar.”

Viva

Ek vra gedurig verskoning oor Poloniekwane en Malema en Zumpies en ander ondinge wat hier uit my geweste op die land afgedwing is. Maar vandeesweek het die Ndlovu Jeugkoor die Amerikaners op soek na talent bekoor. My beker en die van Limpopo en Suid-Afrika loop oor. Hoor hoe mooi sing hulle “My African Dream” van Vicky Sampson.

Byname?

Ek lees vanmore Peregrine Joynt is in Pierre Edwards se plek as hoof van Affies aangestel. Eerstens geluk aan hom. Dis sekerlik ‘n groot loopbaan ding.

Jinne, kan jy onthou hoe ons arme onderwysers byname gegee het? Cannonball, Koekeloer, Asblik. Siestog Mnr Joynt gaan sekerlik gebuk onder byname: Dagga joint, spliff, jay, doink, reefer, doobie….zol.

Ek sou egter nie daai weg volg as ek Affies ouens was nie. Peregrine valke is die blitsigste gevlerktes met jag vliegspoed van 320km per uur! Hy moet maar Blits of Valk genoem word. Wat van Blitz Jay?Hehe.

Lees woordsnoere

Die afgelope 90 dae het die griepe en piepe vir my platgetrek. Lê en lees is hoe ek oorleef het.

Die volgende wonderlike woorde reg gesnoer kry 10 uit tien in my boek:

Bloedlelie, Jeanette Ferreira – “…duikertjie wip oor die draadheining en gaan houtgerus aan die wei. Kon ek maar Duikers praat en jy Mens, sou jy my kon vertel wat die voor-duikers hierlangs gesien het. Elke kontinent het sy skemers. Afrika s’n dra net swaar aan sy droefheid.”

Die Verevrou – Jan van Tonder – “Die son sak vinnig en lê reeds pens in die sand.”

Spertyd,Elsa Joubert – “Ek weet nie wie U is of wat U is nie. U kan ‘n magtige ster in die hemleruim wees, U kan die son self wees. Maar al weet ek nie waar U is of wie U is nie, al wat ek weet is dat daar ‘n magtige drang in my tot U is…. U vul my soos ‘n droë sloepie langs die kus gevul word as die see opstoot.”

Mythos – Stephen Fry – As jy ooit oor mitologie gewonder het, en jou wil verwonder oor woorde en betekenis oorsprong – lees hierdie puik prettige boek. Ek weet nou meer oor chronies, cornucopia, vulkane, nektar en soveel meer. Ons mensdom en stories kom van ver.

Where the Crawdads sing, Delia Owens – “Autumn leaves don’t fall; they fly. They take their time and wander on this, their only chance to soar. Reflecting sunlight, they swirled and sailed and fluttered in the wind drafts.” en

“I wadn’t aware that words could hold so much. I didn’t know a sentence can be so full.”

The Music Shop- Rachel Joyce – “Jazz was the spaces between notes. It was about what happened when you listened to the thing inside you. The gaps and the cracks. Because that is where life really happened; when you were brave enough to free-fall.”

Ai, lees is lekker. Lees jy ook meer as een boek op ‘n keer? Daar is een by my bedkassie, een in die skryfhoek en twee op die Kindle waarmee ek op ‘n keer my besig hou! My gesin dink ek is gek. Ek hou net daarvan om oral te proe en lees, en weer te lees. Dis soos om by verskillende vriende besoek af te lê.

‘Tsek

My lys kan lank wees, maar ek wil nie derms uitryg nie. Top drie ‘tsekke:

  • Daai vieslike ding wat die hawelose mense so uitmoor. Ag ek hoop hulle vang die duiwelskind gou.
  • Al die vuurspoegers op daai Twitter – die hele spul. Ai, dat klein mensies soveel moeite vir 5 minute van roem doen. Siestog, shame,f…
  • Die bliksems op ons N1 noord en Suid wat weekliks met hulle onbesonne gejaag vir menseslagting sorg.

Baai

Haai, kyk waar trek die tyd. Ek het Vrydag werkies en my hondekinders kla omdat hulle nie aandag kry nie.

Dankie dat jy kom kuier het. Hoop jy het my fladder babbel nie Babels gevind nie!

Groetnis tot ons volgende stoepkuier.