
Kom loer in, skink ‘n koppie koffie of tee, en mymer saam oor ‘n ding of twee hier by my. Daar is ‘n heerlike sonkolletjie op die stoep. Dis vandag darem windstil, so ons kan bietjie dassie en kuier.
Daar is die week alweer op sy oor. Maandag breek die tweede helfte van 2019 aan. Die winter het gedraai, maar verbeel ek my sy ys kloue is erg diep ingeslaan en ekstra lank? Waar kry ons toue on tyd mee vas te hou? Dis te vinnig. Asof tyd versnel hoe ouer mens word.
Kapow tref woorde
Ons gesin se boekevatgids vanjaar kom uit Stephan Joubert se pen. Waarlik die man kan ‘n Bybelknoop op so eenvoudige manier loswikkel. Vandeesweek leer hy ons van gee. Al het jy niks aan aardse goed om weg te gee nie, het jy meelewing, liefde, erbarming en menslikheid as kosbare gawes om te skenk. Hoor hoe waarsku hy rym-rym oor verknogtheid aan aardse skatte:
“Die laaste ding aan ons wat tot bekering kom is ons beursies…omdat ons die storie glo dat dit wat ons ry, dit wat ons kry en daar waar ons bly (let wel die drie rym met ly)ons groot sekuriteite in die lewe is.” Sela.
Vind uit
Waar wip ek my vir Riki Rick Sondagaand. En ek laaik hom dan nogal as afrigter in Voice SA. Kerkorrel se ‘Gee jou hart vir Hillbrow’ is asemsnakkend mooi deur Tasché Burger vertolk. Sal Riki afhaak hy verstaan nie wat sy sing nie, maar hy kan voel. Fok – Afrikaans ‘n landstaal. Ek is besig om my fanagalo op te knap om meer na Zoeloe te klink, en as ek nie verstaan nie, vra ek, of Google ek. Ek bid dat hierdie fyn steke na alles Afrikaans tog stop. Rêrig, as jy niks kan sê nie, sê dan niks.
Daai digterlike, mooi, seer lied hoort die Thuma Mina kantoor se mantra te wees. So by so, sommer ons stukkende land se volkslied. As ons almal net met oper hand en hart en ore deur die lewe sal gaan en ophou onder voorwaardes van “ek verstaan nie,” “as hulle,” en “ja, maar.”
Viva
Ek vra gedurig verskoning oor Poloniekwane en Malema en Zumpies en ander ondinge wat hier uit my geweste op die land afgedwing is. Maar vandeesweek het die Ndlovu Jeugkoor die Amerikaners op soek na talent bekoor. My beker en die van Limpopo en Suid-Afrika loop oor. Hoor hoe mooi sing hulle “My African Dream” van Vicky Sampson.
Byname?
Ek lees vanmore Peregrine Joynt is in Pierre Edwards se plek as hoof van Affies aangestel. Eerstens geluk aan hom. Dis sekerlik ‘n groot loopbaan ding.
Jinne, kan jy onthou hoe ons arme onderwysers byname gegee het? Cannonball, Koekeloer, Asblik. Siestog Mnr Joynt gaan sekerlik gebuk onder byname: Dagga joint, spliff, jay, doink, reefer, doobie….zol.
Ek sou egter nie daai weg volg as ek Affies ouens was nie. Peregrine valke is die blitsigste gevlerktes met jag vliegspoed van 320km per uur! Hy moet maar Blits of Valk genoem word. Wat van Blitz Jay?Hehe.
Lees woordsnoere
Die afgelope 90 dae het die griepe en piepe vir my platgetrek. Lê en lees is hoe ek oorleef het.
Die volgende wonderlike woorde reg gesnoer kry 10 uit tien in my boek:
Bloedlelie, Jeanette Ferreira – “…duikertjie wip oor die draadheining en gaan houtgerus aan die wei. Kon ek maar Duikers praat en jy Mens, sou jy my kon vertel wat die voor-duikers hierlangs gesien het. Elke kontinent het sy skemers. Afrika s’n dra net swaar aan sy droefheid.”
Die Verevrou – Jan van Tonder – “Die son sak vinnig en lê reeds pens in die sand.”
Spertyd,Elsa Joubert – “Ek weet nie wie U is of wat U is nie. U kan ‘n magtige ster in die hemleruim wees, U kan die son self wees. Maar al weet ek nie waar U is of wie U is nie, al wat ek weet is dat daar ‘n magtige drang in my tot U is…. U vul my soos ‘n droë sloepie langs die kus gevul word as die see opstoot.”
Mythos – Stephen Fry – As jy ooit oor mitologie gewonder het, en jou wil verwonder oor woorde en betekenis oorsprong – lees hierdie puik prettige boek. Ek weet nou meer oor chronies, cornucopia, vulkane, nektar en soveel meer. Ons mensdom en stories kom van ver.
Where the Crawdads sing, Delia Owens – “Autumn leaves don’t fall; they fly. They take their time and wander on this, their only chance to soar. Reflecting sunlight, they swirled and sailed and fluttered in the wind drafts.” en
“I wadn’t aware that words could hold so much. I didn’t know a sentence can be so full.”
The Music Shop- Rachel Joyce – “Jazz was the spaces between notes. It was about what happened when you listened to the thing inside you. The gaps and the cracks. Because that is where life really happened; when you were brave enough to free-fall.”
Ai, lees is lekker. Lees jy ook meer as een boek op ‘n keer? Daar is een by my bedkassie, een in die skryfhoek en twee op die Kindle waarmee ek op ‘n keer my besig hou! My gesin dink ek is gek. Ek hou net daarvan om oral te proe en lees, en weer te lees. Dis soos om by verskillende vriende besoek af te lê.
‘Tsek
My lys kan lank wees, maar ek wil nie derms uitryg nie. Top drie ‘tsekke:
- Daai vieslike ding wat die hawelose mense so uitmoor. Ag ek hoop hulle vang die duiwelskind gou.
- Al die vuurspoegers op daai Twitter – die hele spul. Ai, dat klein mensies soveel moeite vir 5 minute van roem doen. Siestog, shame,f…
- Die bliksems op ons N1 noord en Suid wat weekliks met hulle onbesonne gejaag vir menseslagting sorg.
Baai
Haai, kyk waar trek die tyd. Ek het Vrydag werkies en my hondekinders kla omdat hulle nie aandag kry nie.
Dankie dat jy kom kuier het. Hoop jy het my fladder babbel nie Babels gevind nie!
Groetnis tot ons volgende stoepkuier.
Ag hoe lekker het ek nie hier by jou weer gekuier nie!
Ai, jou foto van die Uilhuis laat my so verlang na daardie dorpie. Ek kyk ten minste een keer per week na huis wat te koop is daar.
En ja, HOE KAN IEMAND NIKS VERSTAAN WAT IN AFRIKAANS GESê OF GESING WORD NIE? Soos in niks? Rerig? Sulke goed maak my minder lus om handjies te vat en bruggies en reenbogies te bou.
Gaan loer gou op Maroela Media oor die haweloses. Laat my tog wonder. Is dit HY? Of net iemand anders?
LikeLiked by 1 person
Hallo Mater! Ek het nogal aan jou gedink toe ek die foto kies. Ek gaan darem Augustus vir ‘n week na my geliefde Graaff-Reinet.
Ek sal gaan lees. Dis vir my vreeslik dat weerloses so uitgelewer is.
LikeLiked by 2 people
Dankie vir die heerlike kuier. Dis nou die tweede keer die week dat ek die titel “Where the crawdads sing” raaklees. Dis dan ‘n moet lees. EK moet sê, daai koortjie van Liempawpaw het my hartjie warm laat klop…..
LikeLiked by 2 people
Crawdads is puik, liries en spannend Daai kinners kan sing. Dankie vir die saamkuier. 🌻
LikeLike
Dit is pragtig geskryf, ek hou van die woorde wat voel of dit nuutskeppings is. Bybelknoop, dit voel goed op die tong, skuus, dei taaljuffrou hou van mooi.
Jitte jong, regtig? Dit is hier somer, uiteindelik, die son het klaar begin terugdraai om die dae weer korter te maak/ Hoe gaan die weer volgende week lyk?
Ek gaan nie verduidelik nie, maar dit is waarom ek Rebusfontein toe getrek het. En baie daar gaan kuier. Baie mense wil vertel dat die Satan lustig was, daarom is hulle nie meelewend en liefdevol nie. En die geskenke is, soos jy skryf, gratis en verniet om oral uit te deel. Ek het ‘n eed so in die stilligheid geneem, daai geskenke is bo-aan my geskenkelys vir almal om my.
Ai, Vuurvliegie, die stukkende volkslied pla my ook. Die stukkend is in die twee gedeeltes ingebou, die een is dag, die ander een hard. Daar begin die wortel van die kwaad, mens kom tot by ‘n punt en dan struikel jy.
Byname vir onnies, nou meot ek lag. Ons het vreeslikes gegee, China (wat as ek nou daaraan dink veel eerder Kazakh gelyk het), hemelbesem (arme juffrou) en ek wat so wraggies op ‘n stadium moes hoor dat ek Poccahontas is. Seker nie belediging nie, wat ‘n oulike fliek. Maar nie as opgeskote seuns so van mens praat nie.
Sien, dit is daai jaagduiwels wat in beheer van die land is en die wette oortree wat my weer de hoenders in maak. Wat van voorbeeld stel? Mens staan betyds op en ry rustig na jou werk. Dit is tyd vir besinning. Nie om te kyk hoe vinnig jy bo-oor ander kan ry nie.
Sal ons twee nou die Twitterding die week so saam oor wonder. Ek het genoeg gehoor hoe mense wat in beheer van die land is vergeet dat al wat ander sien die chip op hulle skouers is. Uitlokkers. Ek het my Twitterrekening gestaak en nou het ek vrede. Hoe voel ek oor Twitter? Dit is ‘n inskrywing vir ‘n ander dag.
Groetnis, druk hulle sommer ook namens my. Ek verlang na my natneusies.
LikeLiked by 2 people
Christa, dankie. Dis so lekker om gedagtes te ruil, en te besef die kropstekers is wat dit is. Ons gaan blykbaar aanstaande week nog meer bibber. Ek bid maar die voorspellings word nie waar nie.🌻
LikeLiked by 1 person
😳
LikeLike
Jasse nodig, of net baadjies?
LikeLike
Ek reken jy sal koue sekerlik jasse en musse spel. Ons bosvelders bibber wanneer dit onder 20gradeC is.😉🤗
LikeLiked by 1 person
En stewels met spykers onder, amper soos hokkie stewels. Nee, ek sal koud kry, dink ekke. Die kwik hier is hoog, dit is middelsomer
LikeLiked by 1 person
Ek onthou daai een foto van jou met die pels mus of kraag. Moet sê ek sal dit nie maak nie.😉
LikeLiked by 1 person
Mens doen, versigtig
LikeLike
🤣😂
LikeLike
Vuurvliegie, jy skryf weer vuurwarm! Ek geniet jou speel met woorde en hoe jy dink.
My swaer was ‘n skoolhoof en sy bynaam was H2O….by navraag sê die stoudterds vir hom, dit staan vir Helse twee Ore!
LikeLiked by 1 person
Hallo my maat. So lekker dat jy kom inloer. Ek lag nou so lekker. Kinders is darem karnallies.😂😂😂🤣🤣
LikeLiked by 1 person
Ons kinders se skoolhoof se bynaam was Dunlop. Sy heup was mankoliekig en hy het so hinke-pink geloop. Volgens die kinders…dan lop hy hier, dan lop hy daar!
LikeLiked by 2 people
😂😂🤣🤣🤣
LikeLike
Daai woordsnoere is moooooooiiii!
Ek voel soms soos vreemdeling in Jerusalem as ek goed lees soos jou noem van haweloses…. ek het geen TV of radio en kry nie nuus. So ek sal OP bakkiesboek moet gaan soek vir Maroela media na die storie en bietjie nuus opvang…
Lekker om by jou te lees
LikeLiked by 1 person
Ek dink jy is beter af. Die ou wêreld is siek en stukkend. Dankie dat jy kom stoepsit het.🌻
LikeLike
Stoepsit saam met jou, lekker koffie en ‘n boerbeskuit is yti jimil yt..
LikeLiked by 1 person
Ek het huis varsgebak vandeesweek.🤗😉
LikeLike
Yeah, rk bly nog n rukkie..
LikeLiked by 1 person
Welkom….meer as welkom.
LikeLike
Dankbaar, diep dankbaar
LikeLike
Jy is weer jou ou self? Ons Lekkervurigeaffêre? Ek laaik dit.
LikeLiked by 1 person
Haai, dis so lekker, al my maters kom kuier op die stoep! 90 dae se floute was genoeg, die heesheid moet nou maar aankarring, maar stil kan ek nie meer nie! 😉
LikeLike
Dis lekker stoepsit hier by jou.
LikeLiked by 1 person
Frannie. Jy magneet my.
LikeLiked by 1 person
Jou woordsnoere is so pragtig en daar is niks lekkerder as om in daardie sonhoekie te gaan sit saam met al die dierekinders en dit te lees nie. Hulle gee tog die lekkerste soene. 😀
Dankie vir die lekker kuier. Ek geniet. 😀
LikeLiked by 1 person
Ek verwonder my soms aan die manier waarop jy woorde rondgooi en saamsnoer, Vuurvliegie. ‘n Kuier word ‘n belewenis op jou stoep.
LikeLiked by 1 person
Hallo Hestermaat, ek het na jou verlang. Dis so lekker om te weet ek het maats wat my rygsels geniet.
LikeLiked by 1 person
Ek sit lekker saam met jou op die stoep en lees lekker ♥
Die video is so positief en dan het hulle nog mooi kostuums ook 😉
LikeLiked by 1 person
Bly jy het kom kuier! Groetnis
LikeLiked by 1 person