Froth and Bubble – Treena Seymour

“Life is mostly froth and bubble; Two things stand like stone: Kindness in another’s trouble, Courage in your own.”

Adam Lindsay Gordon

Dis nou vir my mooi gestel. Broos is ons ou lewentjies hier op die ondermaanse. Skuimpies en seepborrels oppie waters van die stormsee van die lewe. Dan hier, dan daar, dan sommer so weg.

Belangrik dan om te weet daar is iets groter en beter. Dat selfs die ou wat so arglistig sy opinies oor jou uitskree, die ou wat die grootte van sy aardse skatte bo alles stel en minderes verguis, hulle is ook maar skuimpies en seepborrels en kry nie ventertjies om hulle groot ego’s en aardse skatte saam te neem na die annerkant toe nie.

Om meelewing te betoon as ander om jou swaar trek en om moedig jou stryd te bly stry en te onthou dat hierdie net tydelik is en dat hope genade vir ons beskikbaar is, daai is die dinge wat saak maak.

Ek is al weke vrot siek. Dis ‘n gehoes en aardig voel van epiese omvang. Ek voel aansienlik beter, want daar is mense – julle weet wie julle is – wat eie eina ten spyt, vir my rasie lei en bemoedig. Dis nou my soort skuimpies en seepborrels. Voëltjies van enerse vere wat oor die eter soos fyn spinnerakke in mekaar se lewens ingeweef is.

Daar is ‘n Afrika spreuk: Wanneer spinnerakke verenig, kan hulle ‘n leeu vastrek.

Dis nou wat my formidabele maats vir my gedoen het. Omdat hulle ware mensch-heid bedryf. Meelewing deur jou eie einas heen. Sonder hulle sou Niek en Bloubekruip die afgelope weke my siel beetgekry het, sou ek handdoek ingegooi het.

Dankie – julle weet wie julle is. Vir moed inpraat, vir raad, vir die Whatsapp as ek te stil raak. Ons Skepper se belofte aan Abraham oor vir altyd, en Sy Seun se liefde voorbeeld is lewend in julle omgee. Dit is Sy hande en troos deur julle wat my moed gee en in staat stel om meelewend teenoor ander naby my te kan optree al voel ek goor.

Broos in ons mensheid, sterk in ons meelewing en glo. Saam bind ons moeilikheid vas, en leef voluit al is ons broos.

(Die draadspinnerak en spinnejaster hang in die venster van my skryfkamer om my te laat onthou)