
“Life is mostly froth and bubble; Two things stand like stone: Kindness in another’s trouble, Courage in your own.”
Adam Lindsay Gordon
Dis nou vir my mooi gestel. Broos is ons ou lewentjies hier op die ondermaanse. Skuimpies en seepborrels oppie waters van die stormsee van die lewe. Dan hier, dan daar, dan sommer so weg.
Belangrik dan om te weet daar is iets groter en beter. Dat selfs die ou wat so arglistig sy opinies oor jou uitskree, die ou wat die grootte van sy aardse skatte bo alles stel en minderes verguis, hulle is ook maar skuimpies en seepborrels en kry nie ventertjies om hulle groot ego’s en aardse skatte saam te neem na die annerkant toe nie.
Om meelewing te betoon as ander om jou swaar trek en om moedig jou stryd te bly stry en te onthou dat hierdie net tydelik is en dat hope genade vir ons beskikbaar is, daai is die dinge wat saak maak.
Ek is al weke vrot siek. Dis ‘n gehoes en aardig voel van epiese omvang. Ek voel aansienlik beter, want daar is mense – julle weet wie julle is – wat eie eina ten spyt, vir my rasie lei en bemoedig. Dis nou my soort skuimpies en seepborrels. Voëltjies van enerse vere wat oor die eter soos fyn spinnerakke in mekaar se lewens ingeweef is.
Daar is ‘n Afrika spreuk: Wanneer spinnerakke verenig, kan hulle ‘n leeu vastrek.

Dis nou wat my formidabele maats vir my gedoen het. Omdat hulle ware mensch-heid bedryf. Meelewing deur jou eie einas heen. Sonder hulle sou Niek en Bloubekruip die afgelope weke my siel beetgekry het, sou ek handdoek ingegooi het.
Dankie – julle weet wie julle is. Vir moed inpraat, vir raad, vir die Whatsapp as ek te stil raak. Ons Skepper se belofte aan Abraham oor vir altyd, en Sy Seun se liefde voorbeeld is lewend in julle omgee. Dit is Sy hande en troos deur julle wat my moed gee en in staat stel om meelewend teenoor ander naby my te kan optree al voel ek goor.
Broos in ons mensheid, sterk in ons meelewing en glo. Saam bind ons moeilikheid vas, en leef voluit al is ons broos.
(Die draadspinnerak en spinnejaster hang in die venster van my skryfkamer om my te laat onthou)
Jy praat in my hart in vanoggend want ek wil handdoek ingooi…net stilletjies onder die water in verdwyn en hoop vir vrede. Bly jy voel beter!!!
LikeLike
Hou vas my hand, kom ons swem saam.
LikeLiked by 1 person
Jy is reg, Vuurvliegie. Hier is werklik mense hier wat die toppunt van mensch-heid is. Soms kan ek nie glo hoe mense wat mekaar nog nooit ontmoet het, so ‘n band van omgee kan vorm vir elkander.(Sjoe waar kom ek nou aan hierdie outydse woord?😄😄)
Ek is bly dit gaan beter. Stuur vir Bloubekruip warmplek toe met my swarthond kort op sy hakke.
LikeLiked by 1 person
🤗🌻💝
LikeLiked by 1 person
Ek en ma is gek oor jou draad spinnerak en spinnejaster. Ons is baie lief vir spinnekoppe. 😀
Ons hoop ook dat jy regtig al baie beter geword het en nie meer so baie hoes nie. Ma sê dis goor as dit so gaan. Ek sal nie weet nie want ek was nog nie siek nie en Ma sê ek beter ook nie, want dan sal haar hart gaan staan. So ja, ek bly maar gesond. 😀
Geniet die naweek en bly maar warm hoor. Ma sê baie water, liefde en hoendersop is die regte ding as mens siek is. 😘
LikeLiked by 1 person
More Rambo, dis Milo hier. Goeie stertswaaai nuus. Ons ma is stukke beter, sy praat nou net met so heserige stem. Maar sy is vol energie en het muffins gebak en is besig om bonesop te kook. Die B12 en potaschloried aanvillings het ingeskop. Ons is almal blaf bly! Gooi vir ons ‘n klippie in die see. Bosveldblaf groete.
LikeLiked by 1 person
More Milo. Ek is so baie bly om dit te hoor. Ek hou ook nie daarvan as my ma nie lekker voel nie. Ek kan sien julle is baie lief vir haar.
Sy moet maar haar stem rustig hou en daai muffins klink baie lekker. Ek is ook baie lief vir muffins. Die bonesop klink tog te lekker. Julle moet dit geniet hoor. 😀
Ek sal so maak wanneer ons netnou gaan loop op die strand. Geniet julle dag en baie seegroete van die kant af. xxx
LikeLiked by 1 person