Bevrydende fotosessie

Erna cartoon

Met my sestigste verjaardag om die draai, is daar nogal binnewêreld liasseerkabinette oop en verskeie bestekopnames aan die gang. Gelukkig is die plek waar ek as mens my bevind al ‘n vreedsame ent ver van daardie eksistensiële skrikoomblik wanneer jy na die gang van tyd kyk, en besef daar is meer lewensjare agter jou as wat potensieël voorlê. Sterretjiedatum in die verskiet, die strepieleeftyd al hoe nader aan die kruisiepunt.

Ongedane emmerskopgoed lê soos klein verwyte. Sielswerk wat broodnodig is, kla my aan. Ek druk hier ‘n laai van verwyt toe, anderkant spring iets anders oop.

My lyf vol plooie en sproete en lemoenskil kla my aan. Die opersasiesnye van my borsbeen tot doer, agter op my rug sny ‘n merk my posbusgluef tot in my middel. Ag, en die hangmagie en ekstra kilo’s. “Jou lankgeit tel nie meer nie ou peertjie! Jy sal moet werk maak! Ja, jy het altyd gespot oor jou nommer agt voete, mevrou. Hulle dra seer,” kla Grietjie Gewete my aan.

“Maar kyk tot waar het hulle jou gedra”, praat ek ewe bekkig terug.  Sedert jong kind-vrou dae  sonder pa en ma deurgetrap tot hier. Hier saam met jou Rots en jou Bab. Hulle is lief vir ons nes ons is. My Liefie Lyf sug. Dis nie waarnatoe sy die gesprek wil laat gaan nie…

Dit is Bab wat my voor ‘n uitdaging te staan laat kom. Sy reël ‘n dag vir vroue om deur ‘n briljante fotgraaf vriendin, Zelda gekiek te word. “Is Ma in?” Ek is so oomblik stil, en die ja is by my mond uit voor ek kon keer.

Die dag van my uurlange fotosessie breek toe Saterdagoggend aan. Soos dit immer met my gaan, sal die aanloop nie sonder uitdagings wees nie. Vrydagaand het daar ‘n tornado se nefie hier in ons geweste kom waai. Die krag al vroegaand af.

Toe ek opstaan, is die krag steeds af. Ek bad en maak klaar en pak die wit hemp, pasjmina, af die skouer blommetjiesbloes, borsels, rooi lipstiek, pollifilla en bliksemgom om ‘n uur vroeër op die dorp iewers lig en ‘n kragpunt te gaan leen om my voorkoms op te kikker. Hierdie sal die eerste en enigte fotosessie wees. ‘n Vrou moet haar beste voet vir so vaslê oomblik voorsit.

My liefste kind en die baas van my hare neem vir onwennige ekke onder hande. Man, ek kyk vir die vrou in die spieël. Vir wat het jy so lank weggekruip. Ek hou van jou. Sy glimlag skalks terug. Ons selfvertroue so op sewe. Ons kan nou nie iets aan die lyf doen nie. Gelukkig is die sessie kop en skouers troos ek. Die vrou in die spieël lyk nie oortuig nie.

Zelda, ons fotograaf maat kom soos ‘n warrelwind die vertek binne. Sy is ‘n besondere mens, mooi van binne en buite. ‘n Kalmte loop saam met haar en ook  innige warmte. ‘n Mens is tuis rondom haar.

Toe die tydelike studio se deur agter ons toegaan, en ek en sy beplan watter hemp, watter serp en so aan, begin vlindertjies saggies in my maag uit formasie vlieg. Wat de hel makeer my om so senuagtig soos vir die eksamen te voel?

“Wat maak ek hier? Is ek besimpeld? Was nog nooit  fotogenies nie, is nie van die slaan-die- remme-aan-beeldskoon nie. Wat dink die kind van jou? Simpel ou vrou,” hol die selfpraat deur my brein.

Sowaar – daar kom sit ou Sannie Selftwyfel dwars, met armpies gevou. Ek raak stil, en Zelda tel dit dadelik op. “Kom tannie, ons kan nie hier binne ‘n bebrilde foto neem nie, kom ons gaan soek sonlig,” en sy sleep my buitentoe.

Ten aanskoue van ander restaurantgangers word ek voor die boom, daai muur staangemaak. “Draai skuins, stoot jou ken uit, haal deur jou mond asem, ontspan die skouers,” praat die lens  met my. Ek maak soos die blondekopkind agter die groot lens sê. “Flip gaan sy die hare in my neus afneem met daai lens,” wonder ek benoud. Ons is gou klaar buite in die skerp sonlig.

In haar kitsateljee wag ‘n eensame kroegstoeltjie. Daai waarop ‘n alleenkunstenaar in die middel van die verhoog sit,  en hulle hele selwe blootlê. So ‘n ronde halo-agtige lig skyn vol daarop. Ek moet my bril afhaal. ‘n Reuse skans verwyder. “Sal tannie asseblief  ook die wit hemp aantrek,” kom die volgende opdrag.

Ou Selftwyfel wil nog stotter, toe kom staan Betsie Bitterpis nader. My oë skiet vol trane. Waar dit vandaan kom weet ek nie. Zelda glimlag sag. Sy het die ook al duisend keer beleef. Daai oomblik waar ‘n vrou deur selftwyfel en minderwaardigheid konfronteer word. “Hoekom wil jy dit doen, wie dink is jy,” sarkasties my binnemens.

Voor ek kan keer vertel ek vir Zelda dis ‘n amper-sestigjarige wat vandag hier staan. Sedert jongvrou-jare ouerloos, en baie dinge beleef. Getroud om die verkeerde redes en die gevolglike egkseiding. Kwaad, seer, byna in die slote beland, ver van God en alles wat reg is geleef, tot inkeer gekom, sielmaat gevind, ma geword, joernalis, skakelbeampte, bedeltannie, presteerder, hoë boompie – baie wind, net jammer van die gepiepie om my enkels…

Kyk hoe vêr het jy gekom, sê Nugter Nellie hier saggies in my siel se oor. Ouerloos deur ‘n opdraande lewenspad, vol kronkels en draaie. Ou Steenbokkie, jy is oukei.  Ek flits vir Zelda ‘n rooibek glimlag. Ek is darem nie te sleg nie.

“Jy moenie my hande afneem nie,” sê ek.

Zelda kyk so vir my. “Wat het die hande gedoen?”  Ek strek my hande uit om na hulle te kyk. Haai, hierdie hande het my pa probeer red, het matriek geskryf, het my ma geklap toe sy nie wou eet en ma-wees nie, het ons bestittings verpak om te verhuis,  het baie boeke vasgehou om graad te vang, het my ma se bloed uit die koningsbloumat probeer was. Het geliefkoos, het slae gegee, het berigte geskryf, koek gebak (al was dit skeef en krom), het mikrofone vashehou en bedelpraatjies aangebied. Hierdie hande het rigting aangewys. Met hierdie hande het ek ook tot hier gekom. Skielik is my hande nie meer lelik  nie.

Ag, ek trek daar weg en maak net soos Zelda sê. Kyk soontoe, lag regtig, hou die hand so, draai links… drapeer die serp so. Voor ek my oë uitveê is die sessie verby.

Ek trek my ou Saterdag-hempie aan en stap uit in die sonlig. Ek voel lig, en vry. Die ek tot hier is nou vasgelê deur Zelda se liefdevolle kameralens. Ek kon nie vir beter terapie vir my middeljarige selftwyfel en verwyt gevra het nie.

Ek gaan bestel ‘n mojito en sluit aan by my jeugdige bende. Na Zelda se Powerful Portrait sessies, doop ons summier onsself die Pow-Wows. Ons lag en kwetter en hulle sit stom as ek van jeugdige onnutsigheid vertel. Ek besef ek is bevoorreg dat hulle nog my deel van hulle geselskap maak. Dat hulle my insluit. Ek kyk vir my lieflike kind, en dank die Here dat hierdie beste vriendin van my onder my hart gegroei het, my bloed is, en my haar ma noem.

Laatmiddag toe die ander se fotosessies ook verby is, reis ek rustig huiswaarts. “Dis tyd om uit jou eie pad pad te gee,” raas ek met myself. Hier is nog lewe om te lewe en avonture om te hê.

Ek laai sommer so in die ry, daar langs die pad, die suurgat suurstofdiewe wat my so dikwels pla, af. Weg is julle, en ek ry stof in hulle oê. Terugpraat kans kry nie een van hulle nie. Grietjie Gewete, Liefie Lyf, Sannie Selfverwyt, Betsie Bitterpis, loop asseblief baie stadig terug, of verdwaal sommer. Ek weet nie of hulle huistoe gaan duimgooi nie. Maar ‘n tydjie sonder hulle sal welkom wees.

By die huis gekom, haal ek my skryfsels oor Sofia uit. My muse wat onder in ‘n laai gebêre is, want “ek het nie ‘n boek in my nie”. Pfft, wat ‘n spul nonsens het ek nie aan myself vertel nie. Almal het ‘n boek in hulle! Ek gaan myne skryf. Al is dit net vir my naastes.

Ek is Steenbok gebore en laat ek ‘n waarheid wat ek tydens die fotosessie ontdek het, deel:  Tipies Steenbok is my leuse klim die berg uit, net jammer daar is altoos vrek baie klippers in die pad wat die berg steiler maak!

Tyd om klippers eerder bergaf te rol, pleks van oor elkeen te wil klim!

Dis my wyse leuse vir die nuwe lewensfase wat voorlê!

Dankie Bab, vir die uitdaging.

Dankie Zelda, vir jou kalm aura en talent! Jou Power Portrait sessies is epies bevrydend.

Aan die res van my Pow-Wow trop: Monique, Vicky, Linda en Truida – dankie dat die ou tannie julle vriendin genoem word!

NS. Fotosessie-terapie word sterk aanbeveel. En nee – ek gaan nie foto’s hier publiseer nie. . . dalk….nee!

Na-NS: “Life will break you. Nobody can protect you from that, and living alone won’t either, for solitude will also break you with its yearning. You have to love. You have to feel. It is the reason you are here on earth. You are here to risk your heart. You are here to be swallowed up. And when it happens that you are broken, or betrayed, or left, or hurt, or death brushes near, let yourself sit by an apple tree and listen to the apples falling all around you in heaps, wasting their sweetness. Tell yourself you tasted as many as you could.” – Louise Erdrich

 

 

 

 

26 Comments on “Bevrydende fotosessie

  1. Ag sal ek nou sommer so snotterig-en-tranerig raak. Dis vir my altyd so lekker hier by jou, ek lees iets vir my hart raak elke keer as ek hierkom draai.

    (Ek is HENG nuuskierig oor jou foto’s, alhoewel ek weet dit kan NET mooi wees. Terloops, ek het so paar jaar gelede vir ‘n Boudoir fotosessie gegaan. Vir my wat (nogsteeds nie heeltemal) vrede met my lyf het nie was dit SO bevrydend)

    Liked by 3 people

  2. Ek sit lekker en trane wegpik. Good for you, veral omdat jy daardie klomp suurstofdiewe afgelaai het. Hierdie was selfs vir my ń bevrydende stuk terwyl ek lees, Lekkervurig, want ek kon jou voel voel.

    Liked by 3 people

  3. Ja natuurlik gaan ons die fotos sien, anders gaan ons dikbek wees. Jy kan jouself so lekker motiveer vir die lewe dat ek net hier sit en my bewende koppie op en af knik – die lewe is nog goed, lekker en mooi. Dankie vir die lekkerlees.

    Liked by 2 people

  4. Hiers nog groeps druk ons wil asb die fotos sien….dalk inspireer dit ons tot aflaai sessies van al ons suurstof diewe. Dankie ek het lekker gelees en tussen jou en Una het julle my nou goed laat tjank vandag

    Liked by 1 person

    • Nee, liewe vriend, watter jaar sal ‘n paraffien model nou ‘n meisie se hare droog kry…hehe. Die boek, ja, daai kraam is nou al vyf jaar lank. Amper mis. Baie dankie vir jou akkolade en aanprysing. Ek gryp die aanmoedigibg aan. Grietnis.🤗

      Liked by 1 person

  5. Erna, jy kan dit nie aan ons, en aan jou, doen om NIE die foto’s te publiseer nie. Ek WEET hulle gaan fantasties wees. Komaan, nuwe jy, wys jouself vir die wêreld! En tipies vrou, loop ek ook soms met minderwaardigheid en allerhande twak. Weet jy dat jy iemand is na wie ek opkyk? Ek wil maar net sê, vir ingeval jy nie weet nie! 🙂 Selfs al het jy my met ‘n fiktiewe spinnekop geterg.

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

No Facilities

Random thoughts, life lessons, hopes and dreams

Leeskring met een lid

Waar ons boeke saam met die seelug inasem

The Bee Writes...

oder auch "Die Bea schreibt" *** expect nothing... not even the unexpected *** erwartet nichts... noch nicht mal das unerwartete

Gedigte wat jou laat dink.

Sien die groot prentjie.

Tokeloshe

I♥2CR8

Kluisenaarsklaviere

Denke oor die wêreld, sy plekke en sy mense

Kruger Theron

Stories met Siel

Daily Manna

By Heart of Worship

Justice's Blog

The fear of the LORD is the beginning of wisdom...The contents of blog ranges from Christian knowledge to my own 'nerdy' posts.

the depth of now

Discovering Istanbul through Storytelling & Photography

Discover

A daily selection of the best content published on WordPress, collected for you by humans who love to read.

Wag 'n Bietjie

Welcome! Come linger a while..

The Sanity Rules

Uncommon common sense

Tannie Frannie

My terapie vir oudword

Ouch!! My back hurts!!

Life according to one of life’s truly gifted naturally born wafflers… an open diary of a Saffer in a different land... life in the greater Dublin & Leinster area. (Since 2011) My quests fuel my dreams… my dreams fuel my quests!!

%d bloggers like this: