Liewe Seegogga jy het gevra – nou vertel ek maar:
As enige persoon my aan die einde van 2011, my annus horribilis, sou vertel het dat ek vandag die lekker kaggeltannie van Poloniekwane en Limpopo sou wees, dan het ek soos ‘n hiëna, my uitasem gelag.
Vroeg in 2012 kom Rots van Limpopo se wilde weste, daar naby die Botswana grens waar hy kunsmis smous, terug en vertel my ons gaan kaggels en braais verkoop. Ek is die duiwel in, want hoe kan hy sommer net so iets by ‘n braaivleisvuur aanvang sonder om met my te konsulteer en te praat? Hoe kan hy nou onse oudaggeld sommer so in 3mm staal omsit! Die aankoop van die kaggel- en braai agentskap het oorname van ‘n vrag voorraad behels.
Jinne, ek het my lewe deur vir ‘n baas en ‘n begrotingsteiken gewerk. Rots wou aanvanklik dat ons saam met die vorige eienaar in vennootskap gaan, maar die sou nie deug nie. Voor ek my oë uitvee is ons (lees ek) alleeneienaars. Jinne ek lees en leer soos blits van skoorstene, aspanne, dempers, weerhane, die wat draai en die wat vas is. Ek leer van venturi-plate en staaldikte en gasregulasies.
Ek gil en veg en baklei met verskaffers en ek byt op my tande wanneer kontrakteurs en veral Ingelse-, Indiër-, ryk geërfde Nasionalistiese Afrikanermans en nuwe tenderpreneurs die winkel instap en my soos Koekie Hol, die adminmeisie behandel. Kan nou nog nie glo hoe beterweterig mans kan raak as ‘n vrou bekwaam en geletterd oor braais en kaggels kan raad gee nie.
Gelukkig het ek hier en daar my strepies verdien met weldeurdagte advies, goeie berekenings en die regte eenheid vir die regte redes. Die arrogantes het gelukkig verdwyn of hulle houding verander en ons reputasie vir uithaler diens, hulpvaardigheid, kundigheid, en veral nasorg, het soos ‘n lekker vuurtjie versprei.
Ondersteuners en beïndruktes in die boubedryf, ‘n handvol argitekte wie nie hulle boumeesterskap as alfa en omega beskou nie en vele tevrede kliënte se aanbeveling hou nou al vir amper sewe jaar die deure oop.
Die besluit om meer as een verskaffer se produkte te bemark, was een van die beste besluite ooit. Dit bring stadsgoete hier na ons geweste, en is die moeite werd. Om te sien hoe verbaas iemand is om mooi en kwaliteit in die nywerheidsgebied van Poloniekwane te kry, en hulle hoef nie Gauteng toe te voeter om iets wat nuut en modern is, vir hulle droomhuis aan te koop nie.
.Die foto’s hierbo is van my gunsteling kaggels: Die Nero Frame en die vrystaande Umlilo biobrandstofkaggels van Signi Fires, die Bogenan Gogh Slow Combustion dubbelkantige ingeboude kaggel van Heatwave en die lieflike Mary met rooi keramiek teëls van Palazzetti in Italië, en ook die betroubare BOgen Goya met roesrooi getooi van Heatwave se Bogen reeks.
Ek het onlangs my hysbak-toespraak verkort: Ons maak dit ons besigheid om jou die regte vuur te help aansteek- We make it our business to help you light the right fire
Annerdag vertel ek van noodoproepe en mense wat nie die gebruikersgids en instruksies lees nie….
As jy wil weet hoe om die regte kaggel te kies – my heel eerste blog was daaroor:
https://lekkervurigeaffere.blog/2015/10/30/hoe-kies-ek-die-regte-kaggel-2/
Oulik hoor….is dit wa lekket vurig vandaan kom? Miskien kan jy bysit : ‘n vuur in ‘n kaggel is wondetlik maar in die gordyne gaos…kry liefs n kaggel…😉
LikeLiked by 1 person
😉
LikeLike
Hierdie is nou ñ heerlike skrywe; nou verstaan ek jou wêreld ook beter. Om ñ goeie naam in die besigheidswêreld op te bou, is so belangrik, en julle het dit met vlieënde vaandels geslaag.
LikeLiked by 1 person
Ons het ‘n 7kw Amnesti in ons woon/eetvertrek/kombuis. ” Baie goei belegging in huislike atmosfeer en warmte.
LikeLiked by 1 person
Dis nou lekker om te lees…wens ek het nader aan Poloniekwane gebly, dan het ek sowaar ‘n kaggel vir hierdie koue Benoni-yskas kom koop!
LikeLiked by 1 person
Daar is kaggelouens naby jou…
LikeLiked by 1 person
Ek weet, maar klink my lekker om by Lekkervurig ‘n vuurmaakplek te koop.😉
LikeLike
Ek kan dit reël
LikeLiked by 1 person
Dankie…gelukkig is die winter amper verby!😄
LikeLike
Somer is beste beplantyd, hehe. Ek terg net. Groetnis
LikeLiked by 1 person
Ek sien nounet op die nuus, daar is weer ‘n gruwelike kouefront oppad!!☃️☃️
LikeLike
Lyk my ek sal na Polonilanga moet gaan vir ‘n kaggel. Vrek koud in Kaap. Reën vandag weer nadat Julie’ n baie droë maand was
LikeLiked by 1 person
Ek is saam met julle dankbaar vir elke druppel reën. Dis vuurhoutjiedroog hier by ons en die Augustuswinde tier laat die stof op die tande grint. Ns. Polonikwane in Polonipopo Limpopo, Abrie. Die Mapumalanga het nie vrotvleisfabriek nie. 😂😂😉
LikeLiked by 1 person
En daar sit ek die hele Mpumalanga onder kwarantyn! Die oomblik toe ek die epos stuur het ek te laat besef iets klink nie reg. O Pietersburg nou weet ek wat my fout was.
LikeLike
Ek dag jy wil my laat trek – jy weet ons het sedert 1990 al 5 keer van adres verander sonder om te pak….danksy naamsveranderinge! Hehe! Groete
LikeLike
Wel daaroor kan jy ‘n post skryf!!
LikeLike
Jy laat my snaakse goed onthou….is jy my blog mentor/guru/afrigter?
LikeLike
Moontlike titel: Ons trek want die naamgewers is getrek
LikeLike
Bwahaha! Ek sal skryf…
LikeLike
Mal oor die prente. En dis reg, jy ken jou storie, gee hulle gas🌻
LikeLike
Jy is gaaf! Groernis
LikeLike
Dankie 😊
LikeLike