heat

My binneste lek alweer deur my oë buitentoe en soos my een kind van ‘n ander mamma so mooi sê: my hartjie kots. My brein fok heeltemal links. Dit voel of ek deur ‘n bus getrap is. Hierdie land maak my siel seer.

Winnie Mandela is dood. Al wat meeste Vuisboekers van haar onthou is die vuurhoutjies en buitebande en Stompie se dood.

Niemand maar niemand wat haar die hel toewens besef wat hulle sê nie. Jy wat hier lees, weet jy van haar vernedering aan ons voormense se hande – hoe sy vir maande, naak, sonder middelle in eensame aanhouding aangehou is. Gestroop aan haar menswees. Ek ween oor ek self in stiksienige onkunde gespot het met die sigaretsmoorder in my asbak. Het dit ‘n winnie genoem, want winnies maak stompies dood.

Here, vergewe my dat ek nagelaat het om my van feite te vergewis. Dat hierdie vrou stukkend maar nie verdelg anderkant uitgekom het, dat sy wel ‘n ma en ouma en groot ouma vol deernis was, dat sy haar skandes en skades en sondes deurleef het en alles ten spyt vir baie vroue moed gegee het om swaar te oorleef. Dat sy vir vroueregte staning help maak het. Omstrede ja, maar is een van ons wat haar dinge wil toesnou sonder fout of smet? Nee, ou katta.

Ons sal hand diep in ons wit en swart bevlekte hartjies moet steek en besef wat ons verlede aan mense gedoen het, en waarom dit vandag nog ‘n impak op ons lewe hier aan die Suide van Afrika het.

Ek snik ook sedert Maandag oor kgopela (gee want ek verdien dit) en armoede en leë beloftes van politici. Dit is hierdie grondredes dat mense soos malmokke die N3 by Mooirivier Plaza onbegaanbaar gemaak het. Dat mense soos redelose zombies op soek na bloed, ‘n vragmotorbestuurder (100% Suid-Afrikaanse burger en iemand wat al 22 jaar die werk doen), byna lewend in die vragmotor verkool het. Ek ys vir die dierlikheid en sonderlinge fiksasie dat hulle werk ontneem word oor swaarvoertuigeienaars ‘uitlanders’ in diens neem en ‘hulle’ werkgeleenthede ontneem.

Soos seerowers van ouds is vragmotors beklouter en van hulle vragte beroof. Asof dit nie genoeg was nie, moet die vragmotors en waens aan die brand gesteek word, en asof dit nie genoeg is nie, word ‘n hardwerkende man se lewe bedreig.

Maandagaand kom die skokkende nuus uit Burgersfort aan die ooste van onse Limpopo. Besetenes, en die nuus bevestig dit nou dat hulle ontevrede is dat plaaslike mense nie by die myn in diens geneem word nie, het ‘n bus met mynwerkers gepetrolbom – vier mans en twee vroue is lewend verbrand, talle ander erg beseer. Here, help ons.

My nuutste vriend CT staan voor my en vra: ” Tannie, waarom haat ons mekaar so?”

“Weet jy, haat kom sommer so maklik uit ‘n kotsende hart. Liefhê verg baie energie, dit verg nadenkendheid, dit verg energie. Dis hoekom – dis makliker om aan haat vas te hou,” sê ek, en ons albei se oë skiet vol trane.

CT is sommer kwaad. “Tannie, ek wil nie ander man se grond vat nie. Ek gaan nie vir sy mense werk skep nie. Ek het my eie om voor te sorg.”

Sy woorde slaat my amper onderstebo. Waaroor dan die grondgrypery van die politici? Hy vertel my hoe sy beste en meeste hulp en ondersteuning as opkomende boer kom van jong Afrikaner mede-boere.

“Huh? Moet ek my ore glo? Ek dag ons is sulke bliksems.”

“Nee, Tannie, laat ek jou vertel, julle” – en hy wys na my wit vel – “is meer Afrika as die Ingelse. Julle is net so verwoes soos ons. Die Engelse…Rhodes se mense, hulle het lelike goed hier met ons almal laat gebeur.”

Ag, as CT en ekke maar saam kon aan bewind kom. Ten minste kyk ons mekaar in die oë en praat, al troos ons mekaar net.

Ek hoor ook gister uit ‘n ander bron ‘n interessante stukkie inligting. Die stam aan wie die eens luisterryke Sapekoe teeplantasie daar in die berge bokant Tzaneen, oorgegee is, is vort terug Pongola toe waar hulle ‘n ander suksesvolle boerdery bedryf. Die teeplantasie is moer toe, en 850 mense werkloos.

Terwyl ek hier sit en skryf, kom Regina, ons plaaslike straatkioskeienaar, die Lekker winkel se werf in gesukkel. Lankal is ek nie meer kwaad oor sy haar onwettige struktuur oorkant my besigheid opgerig het nie. Die vetkoek wat sy maak is smullekker. Ons het vir haar bêreplek vir haar trollie met haar kookmiddelle gemaak, sy gebruik ons badkamer en tap by ons water. Ons klomp vroumense se kerkbasaarklere, die is nou hare. Maak ons ‘n verskil? Hel, ja. Gaan sy keer as die woedende massa eendag hier straat af kom, ek weet nie. Maar dit maak nie saak nie…

Ek reken baie Suid-Afrikaners ly aan PTSD, dis die dat niks normaal voel nie.

O, ja en ek is kwaad vir Rots. Hy het vanoggend weer paternalisties-nasionalisties teenoor my opgetree. Kyk waar het daai benadering ons in Suid-Afrika laat beland.

Ag-nee man, ek is jou vennoot en lewensmaat, nie net ‘n mamma vir jou kind, gesellin, onderdaan en mindermens nie! Dan moes jy maar liewer met iemand uit jou en my ma se geslag getrou het. Pfft.

My hartjie kots minder. My binneste lek nie meer kwaad nie, dit lek seer. Ek gaan ‘n kers brand vanaand. Miskien voel my siel minder genkneus. Hoop jy maak ook so voor jy reageer, want

“…. if God is prepared to be the least of us, among those most scorned, who are we to believe we are better than others?” – Charlene Smith