My hartjie kots

heat

My binneste lek alweer deur my oë buitentoe en soos my een kind van ‘n ander mamma so mooi sê: my hartjie kots. My brein fok heeltemal links. Dit voel of ek deur ‘n bus getrap is. Hierdie land maak my siel seer.

Winnie Mandela is dood. Al wat meeste Vuisboekers van haar onthou is die vuurhoutjies en buitebande en Stompie se dood.

Niemand maar niemand wat haar die hel toewens besef wat hulle sê nie. Jy wat hier lees, weet jy van haar vernedering aan ons voormense se hande – hoe sy vir maande, naak, sonder middelle in eensame aanhouding aangehou is. Gestroop aan haar menswees. Ek ween oor ek self in stiksienige onkunde gespot het met die sigaretsmoorder in my asbak. Het dit ‘n winnie genoem, want winnies maak stompies dood.

Here, vergewe my dat ek nagelaat het om my van feite te vergewis. Dat hierdie vrou stukkend maar nie verdelg anderkant uitgekom het, dat sy wel ‘n ma en ouma en groot ouma vol deernis was, dat sy haar skandes en skades en sondes deurleef het en alles ten spyt vir baie vroue moed gegee het om swaar te oorleef. Dat sy vir vroueregte staning help maak het. Omstrede ja, maar is een van ons wat haar dinge wil toesnou sonder fout of smet? Nee, ou katta.

Ons sal hand diep in ons wit en swart bevlekte hartjies moet steek en besef wat ons verlede aan mense gedoen het, en waarom dit vandag nog ‘n impak op ons lewe hier aan die Suide van Afrika het.

Ek snik ook sedert Maandag oor kgopela (gee want ek verdien dit) en armoede en leë beloftes van politici. Dit is hierdie grondredes dat mense soos malmokke die N3 by Mooirivier Plaza onbegaanbaar gemaak het. Dat mense soos redelose zombies op soek na bloed, ‘n vragmotorbestuurder (100% Suid-Afrikaanse burger en iemand wat al 22 jaar die werk doen), byna lewend in die vragmotor verkool het. Ek ys vir die dierlikheid en sonderlinge fiksasie dat hulle werk ontneem word oor swaarvoertuigeienaars ‘uitlanders’ in diens neem en ‘hulle’ werkgeleenthede ontneem.

Soos seerowers van ouds is vragmotors beklouter en van hulle vragte beroof. Asof dit nie genoeg was nie, moet die vragmotors en waens aan die brand gesteek word, en asof dit nie genoeg is nie, word ‘n hardwerkende man se lewe bedreig.

Maandagaand kom die skokkende nuus uit Burgersfort aan die ooste van onse Limpopo. Besetenes, en die nuus bevestig dit nou dat hulle ontevrede is dat plaaslike mense nie by die myn in diens geneem word nie, het ‘n bus met mynwerkers gepetrolbom – vier mans en twee vroue is lewend verbrand, talle ander erg beseer. Here, help ons.

My nuutste vriend CT staan voor my en vra: ” Tannie, waarom haat ons mekaar so?”

“Weet jy, haat kom sommer so maklik uit ‘n kotsende hart. Liefhê verg baie energie, dit verg nadenkendheid, dit verg energie. Dis hoekom – dis makliker om aan haat vas te hou,” sê ek, en ons albei se oë skiet vol trane.

CT is sommer kwaad. “Tannie, ek wil nie ander man se grond vat nie. Ek gaan nie vir sy mense werk skep nie. Ek het my eie om voor te sorg.”

Sy woorde slaat my amper onderstebo. Waaroor dan die grondgrypery van die politici? Hy vertel my hoe sy beste en meeste hulp en ondersteuning as opkomende boer kom van jong Afrikaner mede-boere.

“Huh? Moet ek my ore glo? Ek dag ons is sulke bliksems.”

“Nee, Tannie, laat ek jou vertel, julle” – en hy wys na my wit vel – “is meer Afrika as die Ingelse. Julle is net so verwoes soos ons. Die Engelse…Rhodes se mense, hulle het lelike goed hier met ons almal laat gebeur.”

Ag, as CT en ekke maar saam kon aan bewind kom. Ten minste kyk ons mekaar in die oë en praat, al troos ons mekaar net.

Ek hoor ook gister uit ‘n ander bron ‘n interessante stukkie inligting. Die stam aan wie die eens luisterryke Sapekoe teeplantasie daar in die berge bokant Tzaneen, oorgegee is, is vort terug Pongola toe waar hulle ‘n ander suksesvolle boerdery bedryf. Die teeplantasie is moer toe, en 850 mense werkloos.

Terwyl ek hier sit en skryf, kom Regina, ons plaaslike straatkioskeienaar, die Lekker winkel se werf in gesukkel. Lankal is ek nie meer kwaad oor sy haar onwettige struktuur oorkant my besigheid opgerig het nie. Die vetkoek wat sy maak is smullekker. Ons het vir haar bêreplek vir haar trollie met haar kookmiddelle gemaak, sy gebruik ons badkamer en tap by ons water. Ons klomp vroumense se kerkbasaarklere, die is nou hare. Maak ons ‘n verskil? Hel, ja. Gaan sy keer as die woedende massa eendag hier straat af kom, ek weet nie. Maar dit maak nie saak nie…

Ek reken baie Suid-Afrikaners ly aan PTSD, dis die dat niks normaal voel nie.

O, ja en ek is kwaad vir Rots. Hy het vanoggend weer paternalisties-nasionalisties teenoor my opgetree. Kyk waar het daai benadering ons in Suid-Afrika laat beland.

Ag-nee man, ek is jou vennoot en lewensmaat, nie net ‘n mamma vir jou kind, gesellin, onderdaan en mindermens nie! Dan moes jy maar liewer met iemand uit jou en my ma se geslag getrou het. Pfft.

My hartjie kots minder. My binneste lek nie meer kwaad nie, dit lek seer. Ek gaan ‘n kers brand vanaand. Miskien voel my siel minder genkneus. Hoop jy maak ook so voor jy reageer, want

“…. if God is prepared to be the least of us, among those most scorned, who are we to believe we are better than others?” – Charlene Smith

16 thoughts on “My hartjie kots

  1. Treinstasies, lughawens, taxi staanplekke, sportbyeenkomste. verkeersknope, rye in staatsgeboue, en inkopiesentrums is ‘n vrugbare teelaarde en onuitputbare bron van vermaak indien die observasie van homo sapiens in sy tuisgemaakte element een van die dinge is wat jou kite wind gee.
    Ons lotjie hier in die land van sorghumbier, putupap en klipdrift is nogal ‘n erg wipperige spul en gaan jy daardie wipperigheid ook sien manifisteer by hierdie plekke waar humanity onvermydelik nader as die aanbevole volgafstand van mekaar af moet bestaan. In die gesproke taal word die yin en yang van hierdie verskynsel bloot afgemaak as vriendelik of kwaai, maar sou jy lank genoeg observeer sal jy opmerk dat die besigheid verskeie fyn nuanses inkorporeer.
    In die eerste fase van wipperigheid word die mond meestal ingespan. Gedurende hierdie fase is niemand nog regtig vies nie en kan die proses eerder as ywerige onderhandeling bestempel word, en is meestal humoristies. Die beskaafde inwoners van die Suide is heelwat meer bedrewe hiermee as hulle Noordelike broers, en word selfs meer so as die stembande ge-olie is met die vrug van die wingerd. Die inwoners van die Noorde is heelwat meer robuust en hulle sal gewoonlik direk na fase twee van wipperigheid beweeg, deels toe te skryf aan die feit dat hulle nie die vlugvoetigheid van tong en verstand het om die Suidelinge te troef nie. Die vrug van die wingerd waarmee hierdie span hul stembande olie is ook heelwat sterker as die tipe wat in die Suide gebruik word.
    Hoewel steeds baie kreatief, soos enige weermag sammajoor, sersant of korporaal sal kan demonstreer, is die beledigings in hierdie fase heelwat meer kru en persoonlik. Die vrou, wat allerweë as die swakker geslag beskou word, se anatomie word ironies hier ingespan om die sterkste beledings te vorm. Die “P” woord..en ek hoop ter harte jy dink nie wat ek dink jy dink nie…hmmm, ou bakleier jy sien ek….ek praat van politikus, word slegs in uiterste gevalle ingespan. Kern oorlog en Jihad is al uitgeroep vir mindere beledigings as om ‘n man wat nie een is nie ‘n politikus te noem. Teen hierdie tyd sal die deelnemers al redelik rooigesig wees van inspanning en die hamerslae van hulle verbale tweegeveg weergalm vir almal om te hoor. Indien gades en vriende die deelnemers nie kan oortuig om ‘n gelykop uitslag te aanvaar nie, of self betrokke raak, eskaleer die proses weereens. Deelnemers het nou verby wipperig gevorder na moerig toe.
    In fase drie word die verbale aanslag van fase twee voortgesit terwyl intimidasie bygevoeg word. Deelnemers blaas hulleself op om so groot as moontlik te lyk, hulle sal mekaar probeer dood staar en stampe en stote mag selfs uitgeruil word. In ekstreme gevalle mag daar selfs ‘n stoeiery ontstaan. Die geheim hier is om jouself as so groot en gevaarlik te projekteer dat jou opponent die aftog sal blaas. Hierdie is ook die heel laaste geleentheid om die vlamme van toorn te blus voor iemand seerkry. Deelnemers is nou beblixemd en daar is nie meer remme nie.
    Fase vier word gekenmerk deur bloedlus en die versugting om die ander party fisieke skade te berokken. Indien nasies by hierdie situasie beland word die verskynsel oorlog genoem en in Pretoria noem hulle dit rugby. Enige ligaamsdeel mag as wapen gebruik word maar byt en houe in die troonkamer waar die juwele gehou word as slegte styl bestempel. Wanneer daardie lyn gekruis word, of wanneer ‘n man geskop word wat reeds op die grond lê, is Queensbury reëls van die tafel af en die poorte van die hel word oopgegooi vir fase vyf. Die doel is nou om te dood en nie net meer om jou teenstander te laat bloei nie. Wanneer ‘n groot groep mense deelneem aan so ‘n gebeurtenis word daarna verwys as industrieële aksie. Om hierdie posisie te bereik kwalifiseer jou ook vir ‘n pos in die Amerikaanse posdiens.
    Daar is een laaste fase na skop, skiet, verspoeg en toyi toyi. ‘n Ding byna te verskriklik om oor te praat. Anders as die gewone manifestasies van woede, word hierdie een gekenmerk deur die mees onheilspellende stilte. Dit is die toorn van ‘n vrou, en jy kan hardloop en jy kan wegkruip, maar dit gaan niks help vir die heil van jou misrabele klein sieletjie nie. Miskien is dit glad nie ironies dat slegs dele van die vrou se anatomie ingespan word as verbale wapens gedurende fase twee nie. Die toorn van ‘n hele vrou is bloot te verskriklik om te aanskou.
    Die moeilikheid is dat met die spoed waarteen ons hedendaags lewe iemand wat van nature wipperig is nie meer die tyd het om in fases kwaad te word soos wat die natuur dit bedoel het nie. Ons vorder van provokasie tot fase 5 (6 vir vroue) sonder om verby begin te gaan en sonder om geleentheid in te samel vir eerbare ontrekking. Hopenlik vang evolusie vinnig op voor ons mekaar heel uitmoor.

    Liked by 1 person

  2. Dit was nog vroegmore en die ryp het dik en wit op die sportveld oorkant die bouterrein gelê toe hy in die grondpad opgestap kom na waar ons langs die bakkies gestaan en koffie drink het terwyl ons spannetjie hulle hande rondom ‘n rokerige vuurtjie opwarm ter voorbereiding van die dag se werk. Hy het tot voor die voorman gestap en die kenmerkende blink helm van die man se kop afgehaal en op sy eie kop gesit, toe na my toe gedraai en en gesê “my naam is Piet, en ek sal die job vat”. Die onttroonde voorman het begin om te protesteer, maar die onmiskenbare outoriteit wat uit Piet se houding gestraal het sowel as die feit dat sy halfslyt klere nie sy duidelike fisiese kragte kon verbloem nie het die nou eks voorman van plan laat verander. Met ‘n skouer ophaal het hy omgedraai en dit was dit.

    Piet was van die eerste dag af my gelyke. Hy het my nooit baas genoem soos die ander nie, altyd op my noemnaam. As voorman had hy geen gelyke nie, en sy outoriteit oor die span was absoluut. Sy brute krag en grootte het hom goed te staan gekom om die enkele uitskieters wat sy gesag durf bevraagteken het onder bedwang te bring, dikwels gepaardgegaan deur ‘n besoek aan die hospitaal deur die ongelukkige uitdager. Ek sal nooit vergeet die dag toe daai windbal Koos Visagie wat die TLB’s aan ons verhuur eendag op die terrein aangery kom nie. Om wat te kom maak kan ek nie eers onthou nie, maar dis was waarskynlik soos gewoonlik net om almal se gatte te kom krap. Net toe hy uit sy bakkie klim kom Piet toevallig daar verbygeloop, en tipies van ons man Koos gee hy vir Piet ‘n lammie op die skouer en verkondig hard genoeg vir die hele site om te hoor ” Bliksem, maar jy is ‘n lekker groot kaffer né? Jy moet vir my kom werk” Piet het omgedraai, Koos (wat ook nie ‘n klein mannetjie was nie) aan sy hemp en broek se gordel opgetel tot bokant sy kop en gesê “Asamblief Bossman, moenie dit weer doen nie” en hom weer neergesit. Almal het nog gelag toe Koos se bakkie in ‘n stofwolk by die site se hek uit is. Dit was ook ‘n lang tyd voor ons hom weer gesien het.

    Brute krag was nie Piet se enigste eienskap nie, hy was ook ‘n intelligente man, en ons het lang gesprekke oor allerhande onderwerpe voor in die bakkie gevoer soggens oppad werk toe en saans oppad huis toe. Hy was die naaste ding wat ‘n witman kon kom aan ‘n swart vriend in daardie donker dae van die laat tagtigs en vroeg negentigs. Ek het hom blyplek aangebied in een van die leë buitegebou op die plaas, en hy het so groot indruk op Lindie en die kinders gemaak dat sy hom genooi het om saam met ons saans aan tafel te eet. Iets wat hy gedoen het sonder om ongemaklik voor te kom, maar slegs as ons nie kuiergaste gehad het nie. Wanneer daar wel gaste was het hy homself uit die voete gemaak, waarskynlik om ons of homself nie in ‘n ongemaklike situasie te plaas nie. Ek het hom met my lewe en die lewens van my vrou en kinders vertrou. Menige naweek as ek uitstedig moes wees vir sake, was dit Piet wat agtergebly het om seker te maak hulle is veilig.

    Dit was juis na so aandete toe ek en Piet een aand op die stoep gaan sit vir ‘n rokie. In die aanloop na die ’94 verkiesings was die pers vol spekulasie oor die moontlikheid van ‘n burgeroorlog. Ek het vir Piet gevra aan watter kant hy sou baklei as daar ‘n burgeroorlog moes uitbreek, en sy antwoord het my tot stilstand geruk. “Aan die kant van die swartmense natuurlik” het hy gesê. Ek onthou ek het ‘n lang relaas gehad oor die redes hoekom die witmense nie voor die voet vermoor moes word nie. Sy antwoord bly my tot vandag toe by “Dit gaan nie oor reg en verkeerd nie, of oor wraak nie. Dit gaan oor lojaliteit teenoor jou soort. Die leeu hou nie op buffels jag omdat dit verkeerd is om die kleintjies en swakkes te jag nie. Die leeu jag buffels omdat dit is wat leeus doen” Ons het nooit weer daaroor gepraat nie, maar dit het my hele perspektief oor veral rassisme permanent verander.

    Die verkiesings het gekom en gaan. Piet het gedeel in die euforie van die ’95 wêreldbeker oorwinning, besigheid was goed en die maande en jare het ongesiens verbygerol. Een oggend ongeveer 02:30 word ek wakker van Piet se dringende geroep uit die gang. Die laaste spinnerakke van slaperigheid het vinnig gewyk voor sy volgende stelling. “Julle moet wegkom, hulle is oppad om die huis aan te val. Gaan deur die huis tot in die garage, vat die cruiser en ry so vinnig as wat julle kan”

    “Piet wat gaan aan, hoe weet jy ons gaan aangeval word?”

    “Ek ken die mense, van hulle was in my SDU. Daarom kan ek hulle dalk lank genoeg flous vir julle om weg te kom, maar julle moet nou gaan”

    Dit is eers toe dat ek opmerk dat Piet ‘n AK47 in sy hande het. Al die dae en weke soms selfs maande op ‘n slag wat Piet soos ‘n groot speld verdwyn het, het skielik sin gemaak. Die besef het soos ‘n loodbal in die krop van my maag kom lê. Ek het opgekyk na Piet toe en hy het my stip in die oë gekyk vir ‘n sekonde of twee, ek wou iets sê…ek moes iets sê…maar Piet het my kortgeknip. “Gaan. Nou!”
    Ek het verby hom geskuur gang af na waar Lindie grootoog in die kamerdeur gestaan het om te kom kyk wat aangaan. “Kry die cruiser se sleutels solank, ek kry die kinders”. In die garage het ek die knoppies gedruik vir die deur om oop te maak en toe die deur groot genoeg oop was het ek my voet plat teen die vloer gedruk. Ons het by die garage uitgeskiet net toe die eerste skote klap.

    ‘n Persoon wat gesoek word vir ondervraging in verband met verskeie terreurdade in die omgewing van Johannesburg en Pretoria is gisteraand in Muldersdrift gedood in wat vermoedelik ‘n mislukte plaasaanval was. Die eienaar die plaas en sy gesin kon na veiligheid jaag en is ongedeerd. Die man was vermoedelik werksaam by die eienaar se bou onderneming en het op die plaas gewoon. . .

    Ek wil vir Riaan Cruywagen skreeu dat dit glad nie is wat gebeur het nie. Dat Piet my vriend was, dat Piet ons lewens gered het. Die ou cliché lui in my ore. Een man se terroris is ‘n ander een se vryheidsvegter…of sy vriend. Ek wil vir Piet vra hoe hy dan sy lojaliteit aan sy soort versaak het te wille van dit wat reg is.

    Liked by 2 people

  3. Jy het die probleme mooi uiteengesit Lekkervurig en een ding wat duidelik na vore kom is onbegrip gekoppel met onverdraagsaamheid. Ek het vandag my dogter vertel van die keer die koerante daarvan vol was dat die destydse polisie ‘n klopjag uitgevoer het by Winnie se huis. As “bewys” van die feit dat sy met die verbanne ANC-beweging heul, het hulle ‘n swart-groen-en-geel beddeken gegekonfiskeer kastig in die kleure van die ANC maar eintlik ‘n doodgewone deken by ‘n kettingwinkel te koop. Volgens ‘n ander bron het die sekuriteitspolisie ‘n punt daarvan gemaak om haar te arresteer elke keer as dit tyd was vir haar kinders om huis toe te kom vir die skoolvakansie. Wat doen so iets aan ‘n mens, veral as jou kinders ook daarby ingesleep word?

    Like

  4. Ek gaan dit sê…soos ek dit wil sê..omdat ek kan….fok…julle praat so na my hart…en ek gaan nie eers ekskuus vra nie….want ek kots ook Lekevurig….saam jou en Storieklong laat my huil…
    Jare terug het my pa vir n swart besigheidsman in Soweto n telefoon gereel…ons gesin het vir n jaar lank elke dinsdagaand n bakkievol vleis,groente,vrugte,lekkers,coca cola gekry. By ons huis afgelewer as dit alreeds donker was. Die bure het gekry.Ons het soos konings geeet. Ek kon nooit verstaan hoekom niemand mag weet waar die oorvloed vandaan kom nie….

    Liked by 1 person

  5. Weet jy, Lekkervurig, ek dink, as ons gaan begin notuleer waar ons almal ‘n verskil maak, sal hier nie genoeg rekenaars wees om al die data te bêre nie, maar ons is mos ordentlik en ons linkerhande moenie weet wat ons regterhande doen nie, maar ai, die opswepers oor die hele spektrum maak my moedeloos.
    Ek moet bieg dat eek ook maar net dit van Winnie weet wat vur my in die koerante vertel is.
    Mooi dag vir jou. Wees lief vir daai Rots van jou. ❤️

    Like

    • Toorts, ek moet sê ek is aan die oopbreek oor my kleinvermoë om werklik iets aan die ashoop wat ons land is, te doen, eerder as notuleer waar ek ‘n verskil maak. Dis waaroor ek trag om te skrywe.Hier in blogland sê ek soos dit is, in die elke dag sorg ek dat links nie weet wat regs doen nie, want ek wil rêrig nie die Fariseër op die straathoek wees nie, liewer die Samaritaan. Ek glo dis ons almal. Rots is my vir altyd, ons pad met sy stywenekkie is net laaaank. Groetnis.🌻🌻

      Like

      • Jajaaa, ek bedoel nie jy notuleer nie. 😁 Wat ek wil sê, is dat hier in ons landjie baaaaaie meer goeie goed gebeur as wat ons ooit kan dink, want so baie vsn ons hele bevolking wil sooo graag hê dit moet werk. Dit word egter nie neergeskryf nie omdat dit onbenullig is of ons is skaam of ordentlik of wat ook al. Dit haal net nie die koerante nie. Ek voel ook dit moet uitbasuin raak, sodat mense sien dis wat gedoen word en ons sodoende mekaar aanmoedig. Ek is baie bly oor hoerdie skrywe van jou. ❤️

        Like

      • Nee man! Dit wat jy geskryf het, was nodig. Jy het my kaat dink dat ek biejie moet gaan kuier by die musiekskool wat vir die kinders van Struisbaai ophef, en die brugkinders van Bredasdorp. Soveel mense het ‘n behoefte om betrokke te raak iewers en weet nie altyd waar nie. Danksy sosiale media raak ons nou bewus daarvan.

        Liked by 1 person

  6. Sy is dood en dit is dit, ek wens haar niks toe nie en se niks oor haar nie, ek wens haar ook nie die hel toe nie en maak nie grappies of bespotting van haar nie – dit is dit.
    Ek stel egter glad nie belang om haar begrafnis by te woon nie…

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s