24785401_1710051799026913_2165353082811654114_o Ek is gistermiddag vodde gewerk, en blaai blaaskanstyd sommer so deur die Vuisboek. Boem! Tref die Hanli Kotze skepping my! Sy het die mooi net twee minute vantevore gepos op haar muur met ‘n te koop boodskap. Ek het nog nooit so vinnig geskarrel om iemand te bel nie!

Ek het haar mooi kuns en woorde in LÉÉF tydskrif leer ken. Toe op ‘n dag bt my gunsteling gallery vier afdrukke gekoop en laat raam.  Jare gelede in Potgietersrus, het ek  in ‘n oudhede/kunswinkel ingestap  en daar tref ek “Jan en die boontjierank” aan. Hy hang in my gang, daar waar ons baie verbyloop en inloop, en hy praat en gee jou drukkies en herinner ons ewige huis is nie hierop die ondermaanse nie.

Vier afdrukke met die mooiste mooi woordwonders soos net Hanli kan, stil my verlange na my geliefde Camdeboo en Great Expectations huis so ver daar in Graaff-Reinet.  Die een skildery se woorde: Ons huisie wag oopmond….. ag, ek pak sommer.

En so neffens die ablusie/dinkplek/troon, bokant die mooi groen Ouma emmer en koos, hang vier plekmatjies met Hanli-woordkuns.

My liefde het na baie

draaie op die highway beland

Jy bou vir my ‘n baksteenhuis

na my verre reis

voel ek tuis”

en

“Jy bring vlerke vir my woorde

‘n oseaan om in te vlieg

En ek reis

      ek reis

na ‘n plek met space

Ek het toe ek Soek-soek opraap, die geleentheid om met haar te gesels oor wat my so ontroer dat ek die skildery wil koop. Lekker dat sy wil weet.

Dit is my kinderlike oortuiging dat vir ons, elke-haar-getelde lieflinge, is daar met Sy wonderbare hand ragfyn bedraad al die boeke en kuns en mense wat inspireer en wanneer die tyd reg is, jou pad kruis . Daai heilige toeval, daai onverwagse geluk, ‘serendipity’ soos die Ingelse sê. Daardie oomblikke is dikwels klein bekeer momente, soos Izak de Villiers een Pinkster in Polokwane vir ons geleer het.

Gister het God vir Hanli en my weer laat paaie kruis. Sy pas Soek-soek klaar geskilder en ek diep onder die indruk van genade wat ek weer die week ervaar het.

Terwyl ons so oor die telefoon gesels, voel dit asof Hy sommer so ons hare deurmekaar vryf en sê: “A, my kinders, dis hoe julle saam moet loop en My eer.”

Met lekker warm harte het ons mekaar gegroet. Soek-soek kom Maandag by my bly. Ek het klaar hangplek in my kantoor sodat ek deur my werkdag sal kan opkyk en onthou van stormsee en engele en genadevissies en heilige toeval.