laaik

Ek laaik in geen spesifieke volgorde:

  • Martelise Brink en Mathys Roets wat meer doen as wat ek en duisende ander met al ons mobiliteit kan. Wat ‘n lewensdrif en -lus het wat aansteeklik is. Wat volkome mens is en die wêreld vierkant in die oë kyk en nooit spookasem verkoop of verskonings maak nie.
  • Bobby en Karlien van Jaarsveld wat mense se mening oor hulle ‘n koekhou geslaan het met hulle Via-program. ‘In jou skoene’. Eish, die twee het soos daai ou plaashekke wat so terugklap het, monde gesnoer, deur regtig-egtig ‘n verskil te maak.
  • The Voice South Africa – Lira, Khan, Bobby en Karen as beoordelaars en ander top-artieste wat met koestering en opbouende kritiek sang talent in ons land ontgin. Lief net alles – die etos van die projek veral.
  • Vrydae wanneer ons die winkel sluit, ons werkers by die bus aflaai en ons ry die dertig plus kilometer huistoe ry. Ons ry die pad elke dag heen en weer, maar Vrydae se uit ry is net lekker verby. Om te weet daar lê twee dae saam met my Rots en my brakke, tussen die vier mure wat ons huis noem. Ons een-twee-drie-blok-onsself-plek. Om te kan musiek, lag, gesels, braai, laat slaap, skrywe, kuier as die kind(ers) kom.
  • Graaff-Reinet, en veral ons Great Expectation kothuis. Die kaktusse in die tuin, saam met die granaat, vy , reuse peperboom en die witstinkhout wat wortelskiet. Die Vallei van Verlatenheid waar jy vir ewig sien en die Here se hand jou hare saam met die wind deurmekaar vryf.
  • My Kindle Fire- my sondige, sonde plesier met honderde boeke wat manlief nie sien nie, en vismotte nie kan bykom nie. Ek kan ook boeke aan mense leen sonder om vriendskappe te beëindig oorlat hulle my boeke donkieoor vou en bemors, of nog erger, nie terug gee nie.
  • ‘n Vuis vol hartsmense is ook op my laaiklys- julle weet wie julle is. Dankie dat julle my laaik nes ek is. Wat van my hou al weet julle alles van my. Ons trap nie drumpels deur nie, maar die land weet as ons die dag by mekaar uitkom, is dit net tande en lag en kwetter!
  • My Bab se oproep en sy sê: “Ek is lief vir Mamma.” Ek laaik dat sy ‘n fantastiese, kreatiewe, beginselvaste vroumens is. Ek laaik nie dat my skoonseun nog nie opgedaag het nie. Ek laaik wel hoe sy met oortuiging vertel dat hy moontlik die spermpie is wat dit nie gemaak het nie…ai! Ek hoop liewer hy is net ver om ‘n draai besig om sy perd se hoef  reg te maak…ek gaan hom ‘n groot drag slae gee omdat hy so tydsaam is!
  • My sielemaat, my beste-este vriend, my minnaar, my Rots. Sjoe, ek kan nie tel tot hoeveel ek hom  lief-laaik nie! Al maak hy my gek, al druk hy al te dikwels my moermeter se knoppies dat jy niet boute en moere en @(*&^*%@&^# hoor vlieg. Hy lief-laaik my hakieshart, my aweregse siel, dubbelken en ouma-boude. Dis al 33 jaar, dit voel nog nuut.
  • Myself. Sowaar. Na al die jare. Dit was harde pad en daar moes maar hard aan my binnekant gewerk word. Maar ek laaik kwaai hoe die timmerwerk uitgekom het.

My grootste laaik is:

Ons Skepper – Vader, Seun en Heilige Gees. Ek laaik-lief-respek en verwonder my  tot hartkloppens toe oor die onvoorwaardelike, weer en weer, vir altyd liefhê wat Hy vir ons het, dat Hy ons gemaak het en ons van onsself en menswees leer. Ek laaik dat Hy so groot is dat gister se son vir vanaand se maan en sy op haar beurt weer vir more se son van Sy grootheid vertel.  Lees hoe mooi is Die Boodskap se vertaling van Psalm 19 hieroor:

Psalm 19: 1- 5

 Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm

As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal.
Sy eer is oral in die lug opgeteken. 
In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het.
Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.
Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.
Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie.
Hulle boodskap word versprei sonder klanke.
Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie.
Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien,
is vol van sy eer.
As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het.