IMG-20170514-WA0011Dis ma-dag. Boodskappe vlieg oral op die Vuisboek, die e-pos en slimfoon rond. Dis goed so. Mooi foto’s en fensie gediggies en gedagtes oor vrouwees en ma-wees, roompies, sepies,serpe, tjoklits en rose en brekfis in die bed is menige ma se voorland vandag.

Hier op Waterval is dit Rots en my brakkekinders wat saam met my die dag begroet. My enigste Bab bel. “Lief vir jou Mamma.” Dis meer as genoeg, want saam met haar is elke dag ‘n geseënde ma-dag.

Ons lê in, en luister radio-kerk. Christina Landman preek by die mense van Eersterus en Marabastad. ‘n Geweste waar daar swaarkry in groot emmers uitgedeel word. Sy praat oor Rut en Naomi.

Ter agtergrond skets sy die storie. Toe Naomi haar man en seuns verloor is sy om en by dertig. Haar skoondogters, Rut en Orpa ook pas weduwees sou omtrent vyftien wees. Jong vroue haweloos gelaat.

Naomi besluit om na haar tuisland terug te keer. Die skoondogters gaan saam. Naomi probeer hulle keer. Orpa draai om, die bekende omgewing vir haar die regte keuse. Rut kies om die onbekende aan te pak en gaan saam met haar skoonma.

“Jou land is my land, jou God is ook my God.”

Toe die twee Bethlehem inkom, is die plaaslike vroue daar om hulle terug te verwelkom. Maar Naomi is verbitter. “Noem my Mara.” Regte Ta Rapie geword. Haar keuse.

Rut, darenteen, gaan aan met lewe. Sy bedel, sy werk, sy maak keuses en bo alles behou sy haar waardigheid. Toe Boas haar vra wie sy is, sê sy: “Ek is Rut.”

Hard en duidelik preek Christina Landman my hart oop.  Vroue moet baie keuses maak. Ons maak ook baie foute.

As swaarkry voor ons deur kom krap, kan ons Ta Rapie en Naomi wees, en net opgee. Soms mag jy vir ‘n oomblik saam met hulle sit. Maar net vir ‘n wyle.

Wees soos Rut – kies om te lewe. Kies om nie vals sekuriteit te soek by tydelike oplossings, swak verhoudings, minderwaardigheid en verkragting van beginsels nie.

Ons moet liewer die pad aandui vir ander vroue soos Rut. So mooi stel Christina Landman dit: “Wees kop-oopmakers, gordyn-ooptrekkers.”

Die preek se amen, amen dryf nog soo oor die eter, toe piep my selfoon. Dis ‘n WhatsApp van Regina.

 

Regina

Regina van Perskebult, Seshego. My “I love you”-vriendin wat saam met ‘n klomp Rutte, al die afgelope sewe jaar vir wesies en swaarkry kinders elke skooldag ‘n bord kos gee. Wat kinders sonder grootmense help om toelae vir oorleweing te kry. Wat elkeen, elke dag, self reuse uitdagings soos werkloosheid, armoede, wreedheid en geweld die hoof bied. Ten spyte van al die uitdagings, het hulle nog plek en tyd vir ander se swaar.

Haar moedersdag-boodskap is my oomblik van waarheid. Hier waar ek sit en skryf, smak dit na voorreg en genade. Daar waar sy vanoggend vir my die boodskap gestuur het, is dit koud en hard en tog het sy aan my gedink, en haar ma-dag boodskap het my kop oopgeblaas en die gordyne van die venster van my hart af geruk.

Dankie Regina.

Dankie dat jy kies om Rut te wees.

Ek loop saam met jou.

Jou God is my God.