Sedert my nie-Special Star-inskrywing vroeër, is my onthouboks se slot gebreek. Ek blaai deur soveel wonderlike en soms hartseer herinneringe oor my jare betrokke by die Theunis Fichardt Hospitium (vir kankerlyers, deur elke fase van die vreeslik siekte, ten bate opgerig), is deur wonderlike, dinamiese gemeenskapsleiers van die destydse Pietersburg (vandag die bedrywige Polokwane) ‘n waarheid gemaak.
Daar is soveel sorg en denke in die pragtige plek ingesit, selfs die gebou het simboliese betekenis gehad. Dink aan Sanlam se logo- twee hande wat ‘n skat toeskulp. Nou die Hospitium se vloerplan lyk soos twee oop hande wat ‘n diamant vashou – oop hande kan gee en ontvang. Is die nie mooi nie?
Reeds het julle veneem van hoe in die diepkant ingegooi ek was toe ek die bestuurspos by die hemelpoort aanvaar het. Die begroting het nie geklop nie, en klomp drastiese besluite moes die plek se voortbestaan verseker. Maar alles het ten goede meegewerk.
Ons het diep spore saam met baie mense geloop. Daar is soveel stories. Die Moslem wat op sy sterfbed vir Jesus om hulp gevra het. Die ouma wat ‘n trui gebrei het en aan die lewe vasgehou het tot haar lieflingkleindogter dit kon aanpas, en 24-uur later is die mooi vrou oorlede. Daar is honderde wonderlike stories, maar ook baie hartseer stories. Soos die skatryk, geharde sakeman wat wou weet as hy R100 000 skenk, of die breingewas nie maar sal weggaan nie.
Ons het saam met hom ‘n besonder tweedekans pad geloop. Hom oortuig dat hy sake met mense moet regmaak. Dat hy moet vrede maak. Hy het, en dit was wonderlik om die stroom mense wat maar beswaard sy kamer binne is, met betraande oë, daar uit te sien kom. Hy het in vrede gesterf, en die engele wat in die hospitium gewerk het, se aandeel in sy stuk genade, kan nie misken word nie.
Op ‘n dag skakel die superintendent van die Provinsiale Hospitaal. Daar is ‘n hawelose man, reeds in ‘n koma. Pankreaskanker. Het ons ‘n bed vir hom. Kodetaal, vir ons weet hy gaan sterf, maar ons weet nie wanneer nie. Natuurlik het ons plek – dis hoekom die hospitium daar is.
‘n Ruk later stop die ambulans. ‘n Hopie bene, foetus-opgekrul wor op die draagbaar ingedra. Goudgeel, swak en broos soos ‘n afvlerk voëltjie. Hy het ‘n hospitaaljurk aan. Daar is nie bagasie nie, net ‘n verslete Checkerssak met ‘n id-boek, ‘n opgebruikte tandeborsel en ‘n verslete stel klere. Die mens is stokalleen. Ons weet wie hy is, maar verder niks. Ons sif deur die sak, kyk in die hemp- en broeksakke vir enige kontaknommers. Agter in sy identiteitssboekie kry ons ‘n papiertjie met ‘n telefoonnommer. Die verpleegsters probeer verniet hom gemaklik kry. Hy bly in ‘n bondeltjie ingetrek, asof hy vasklou aan die lewe.
Ek besluit om ‘n kans te waag en die nommer te skakel. ‘n Man antwoord. Ek vra of hy ons pasiënt ken. Die man vloek my dat die see my nimmer sal afwas. Ek hoor hoe hy die telefoon neergooi. Ek wip my by my posbusrooi hare verby. Ek bel terug en die vloeker tel op.
“Het jou @@@##$#$#$#$# nou opgeraak,” vra ek kwaai.
“Ekskuus, dis net ‘n skok,” antwoord hy my. “Ons dag hy is al jare dood. Dis my broer, hy het jare gelede verdwyn…”
Ek verduidelik wat aangaan. Die man verstaan dat ons nie kan sê hoe lank sy broer nog sal leef nie. “Gaan sê vir hom ek en sy baba-boetie is oppad. Ons sal so 12uur vannag daar wees. Sal jy vir hom sê?”
Ek belowe, en stap dadelik na die sterwende man se kamer. Bewegingloos lê hy opgekrul. Ek gaan fluister saggies in sy oor: “Ons het jou broers opgespoor. Hulle vra jy moet wag.”
Die verpleegsters en ek staan en sien wonders gebeur. Die komatose mens begin ontspan, hy krul letterlik los. Ons help sy stram lyf uitstrek, ons besluit om hom te was en skoon pajamas uit die noodkas te haal.
Ons gesels met hom, ons herhaal sy broers se name, vertel hom hulle kom. Trane loop uit die hoeke van sy oë. Hy hoor ons! Sy oë gaan egter nie oop nie.
Ons los hom nie ‘n sekonde alleen nie, gesels, lees Bybel, bid vir hom en dat sy broers veilig sal reis. Hy lyk soos ‘n nuwe sikspens – geskeer, hare gewas, naels geknip. Die ure tik stadig om.
Net voor twaalf die nag is daar ‘n motor by die veiligheidshek. Dis die broers. Ons verwelkom hulle. Woeste ouens met sulke vereelte hamme vir hande. Hulle staan stil in die deur. Oë vol trane. “Jou bliksem,” sê kleinboet, “ons wonder al jare oor jou.”
Ons verduidelik dat hy in ‘n koma is, maar dat ons oortuig is hy kan hulle hoor.
“Gesels met hom, asof hy by julle is,” sê die nagsuster. “Sal jy by ons bly”, vra die ouer man vir my. Ek knik en offer koffie en toebroodjies. Nodig om my trane te gaan sluk.
Toe ek met die skinkbord uit die kombuis kom, hoor ek ‘n gelag en geklets uit die kamer kom. Die twee broers sit weerskante van die bed, elk met ‘n hand wat hulle komatose broer vashou. Trane lek uit die hoeke van ons pasiënt oë. Hy weet hulle is by hom. Ek sê stil dankie vir genadetyd.
Hulle vertel onthoustories,van jaagtogte met warmgemaakte enjins, visvangstories en kleintyd se kwajongstreke. Ek luister en bid dat die res van die pasiënte se slaapmedikasie die geswets en gelag verdoof!
Kort voor drie-uur, begin die pasiënt te roggel. Dis nie meer lank nie. Die broers huil, ons troos. Ten minste is hulle herenig, al was dit net vir ‘n paar uur. ‘n Groot hand reik weer na myne. “Bid vir ons asseblief.”
Ons lees vir hulle Psalm 23. “Die Here is my Herder…..”, ons bid om die beurt, vir die sterwende man, sy broers, en dank vir die genadetyd saam. Hy sterf voor ons die laaste amen sê. Hy lyk so vredig, sy hande in die van sy broers.
Dankbaar is ek na soveel jare nog dat ons getuie van ‘n wonderwerk en liefdevolle genade kon wees.
Sit ek nou met ñ knop in my keel en trane loop my wange af. So lief vir hierdie stories. Voel elke keer of ek ook daar staan.
LikeLiked by 1 person
Wow…
LikeLike
Reblogged this on Geloof droom skryf and commented:
Hierdie is net te wonderlik om nie te deel nie. Dankie dat ek jou onthou stories kan deel “lekkervurigeaffêre”
LikeLiked by 1 person
Soos Elane kan ek ook net sê “WOW “!!!!
LikeLiked by 1 person
Ek lees heerlik! I like!!!
LikeLiked by 1 person