Image result for karen blixen quotes

So kom ek op ‘n vergete Vuisboek-inskrywing af:  Miskien het God die aarde rond gemaak sodat ons nie te ver in die pad af kan sien nie. So bly ons vashou aan Hom in wie ons sekerste vrede en geluk lê (uit die woorde van Isak Dinesen).

Isak Dinesen, die naam lui klokkies.

Karen Blixen

Eers toe ek in my Kindle rondblaai, tref dit my. Dis Barones Karen Christenze von Blixen-Finecke, kortweg Karen Blixen. Sy van Out of Africa-faam. Haar Afrika-memoir het ons jare gelede fliek toe laat stroom. Onthou julle hoe  snakkend na ons asems het Meryl Streep en Robert Redford se vertolkings ons gelaat?

Out-of-africa_Final-web-kopia__1459323306_213.66.160.50

Hoe dit ook al sy, die talentvolle liriese Deense skrywer, het behalwe die naam  Isak Dinesen, en ook soms onder die name Tania Blixen, Osceola and Pierre Andrézel, geskryf.

Ek het ‘n kopie van Babette’s Feast. Dit is in my geboortejaar gepubliseer. 1958.  ‘n Kort kragtige liriese novelle. Dit neem net oor ‘n uur om klaar te lees. Ek het dit tot gister toe nog nooit gelees nie. Die skrywer se mooi woorde, wat my jare gelede inspireer het, spring vanoggend weer voor my in, en so sit ek gisteraand met ‘n koue glas wyn en lees Babette’s Feast. Rots is in die Bosveld, die honde speel. Lekker my-tyd.

Die boek is een van daai lees, en weer lees belewenisse. ‘n Resensent skryf dat, net soos met ‘n grootse skildery, waar jy telkens met die weer kyk iets nuut ontdek, so is dit met Babette’s Feast.

Ek het nog altyd die geloof gehad, dat daar soveel duisende skrywers is, sodat soveel duisende lesers net die boeke wat vir hulle bedoel is kan lees. Ek is heilig oortuig dat elkeen van ons boeke het wat net  jy in jou leeftyd moet lees. Hulle kry vir jou, wanneer die tyd reg is. Stories net vir jou.

Babette’s Feast leer van opoffering en  genade. Die boek is so oud soos ek, maar hierdie harde week, in hierdie lelike ou wêreld waar ons moet probeer bestaan, was dié boek salf vir my siel.

Doen jouself ‘n guns.