Stompies

Ons sit by jou roudiens. Die kerk is stampvol.

Verslae en seer sit jou vrou en kinders; jou ou moeder, ineengekrimp van leed; jou stukkende broers met hulle vroue en kroos; familie, vriende en kennisse.

Die Dominee vertel hoe oomblikke ‘n mens se lewe onherroeplik verander. Hoe sy eie broer se dood  in ‘n motorongeluk veertig jaar gelede, sy lewe vorentoe vir altyd ander ingekleur het.

Hy vertel ons van tye in die wêreld se geskiedenis, wat die mensdom vir altyd verander het. WO I, WO II met die atoombomme, 9/11 toe Twin Towers inmekaargestort het, en nou ook in ons struikelende, bloeiende demokrasie.

“Ons het ons onskuld verloor”, tuimel Dominee Groenghoen se woorde deur my kop.

My vriend, het jy dit besef toe jy jou besluit geneem het. Het jy? Die krater wat jou dood in ons midde gaan sink? Die onskuld wat sou verdwyn?

Ek sit so,  en skielik is ek weer by my ma se graf, by Pieterjan se graf, by Louretta se graf. Almal tye waar ‘n ander se oomblik-besluit almal om hulle se lewe in seer hoekoms verander het.

Net toe ek in die hoekom gat wil inval, lees Dominee sy teks. In die middel van die diens. Hy lees uit Romeine 8: 31-39 (1983)

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe:
 
“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape behandel word.”Vgl. Ps. 44:23
 
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.